LUKAS 14:16-24

LUKAS 14:16-24 Die Boodskap (DB)

Jesus draai na hom toe en sê vir hom: “Weet jy, eendag het ’n ryk man ’n groot feesmaal gehou en baie mense uitgenooi. Omdat daar baie voorbereidings was, het hy met die gaste afgespreek dat hy hulle sou laat roep sodra alles gereed was. So gesê, so gedaan. Later, toe die kos reg was, stuur die man een van sy helpers om al die genooides te laat weet: ‘Julle kan nou maar kom, die tafels staan gelaai met die heerlikste kos. Laat die fees begin.’ “Maar toe gebeur daar ’n snaakse ding. Al die genooides het skielik kop uitgetrek. Die een het gesê: ‘U moet my asseblief verskoon. Ek het so pas ’n stuk grond gekoop. Nou moet ek gou gaan kyk hoe dit lyk.’ “’n Ander een het gesê: ‘Ek het ’n klompie osse gekoop en moet gou gaan kyk hoe dit met hulle gaan.’ “Nog ’n ander een het gesê: ‘Ek het pas getrou. Daarom kan ek nie vandag by u ete wees nie.’ “Die helper het toe teruggekom en vir sy werkgewer vertel dat niemand meer kon kom nie. Die man was woedend daaroor. Nadat hy so ’n rukkie gestaan en dink het, sê hy toe vir sy helper: ‘Kom ons maak ’n ander plan. Alles staan mos gereed. So, waarom sal ons dan nie feesvier nie? Gaan nooi gou almal wat jy in die hande kan kry. Maak nie saak wie hulle is of waar hulle bly nie, gaan nooi hulle uit. Gaan haal die armes en al die siekes wat daar in die agterstrate tussen die asblikke slaap. Sê vir hulle hulle moet dadelik na my feesmaal toe kom.’ “Die helper is toe daar weg. Na ’n ruk kom hy met ’n groot klomp mense terug. Hy het vir sy werkgewer gaan sê: ‘Meneer, ek het gedoen wat u vir my gesê het om te doen. Hier is nou baie mense vir u feesmaal. Maar weet u, daar’s nog plek oor.’ “‘Nou ja, dan moet jy nog mense gaan soek,’ sê die huisheer. ‘Gaan keer almal voor wat met die hoofpad hier naby verbyry. Ja, en gaan ook daar na die winkelsentrum toe. Keer almal voor wat jy raakloop en smeek hulle om na my fees toe te kom. Moenie nee vir ’n antwoord vat nie. Hou aan totdat hulle ja sê. Sleep hulle saam met jou hierheen terug as dit moet. My huis moet vol word. Maar daardie ander spul wat genooi is, sal nie hulle monde aan my kos sit nie.’”