LUKAS 13:22-30

LUKAS 13:22-30 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het deur baie stede en dorpies geloop toe Hy na Jerusalem gegaan het. Oral waar Hy gekom het, het Hy vir die mense geleer. Iemand het vir Hom gevra: “Here, sal God net 'n paar mense red?” Jesus sê toe: “Julle moet hard probeer om by die klein deurtjie in te gaan, want Ek sê vir julle: Baie mense sal die deur soek om in te gaan, maar hulle sal dit nie kry nie. Die tyd sal kom wanneer die eienaar van die huis sal opstaan en die deur sal toesluit. Dan sal julle buite staan en begin klop aan die deur. Julle sal sê: ‘Meneer, maak oop die deur vir ons.’ Maar die eienaar sal vir julle sê: ‘Ek ken julle nie, ek weet nie van waar julle kom nie.’ En dan sal julle sê: ‘Maar ons het saam met jou by die tafel gesit en geëet en gedrink, en jy het vir die mense in ons strate geleer.’ Maar die eienaar sal vir julle sê: ‘Ek ken julle nie, ek weet nie van waar julle kom nie. Julle almal moet weggaan van my, julle het gedoen wat verkeerd is.’ By die plek waarnatoe julle gaan, sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn. Julle sal vir Abraham, Isak en Jakob en al die profete sien daar waar God Koning is, maar God sal julle uitgooi buitetoe. Die mense sal van die ooste en die weste kom, en van die noorde en die suide, en hulle sal saam met God eet daar waar Hy Koning is. Julle moet dit goed verstaan: Baie mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees, en mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees.”

LUKAS 13:22-30 Die Boodskap (DB)

Terwyl Jesus op pad was Jerusalem toe het Hy langs die pad by die dorpe en die klein plekkies aangegaan en die mense daar gaan leer. By een van hierdie plekke het iemand Hom gevra: “Here, hoeveel mense gaan ’n plek kry in God se nuwe wêreld? Seker maar min?” “Ja, jy is reg. Baie mense sal probeer om daar in te kom, maar hulle gaan dit nie maak nie. Dit is nie maklik om daar in te kom nie. Daarom moet jy jou inspan as jy daar wil inkom. Doen jou uiterste bes. Want baie gaan probeer om daar in te kom, maar min mense gaan dit maak. “Kom Ek gebruik ’n beeld om vir julle te verduidelik wie almal in my nuwe wêreld plek gaan kry. Weet julle, Ek is soos Iemand met ’n groot huis. Daar is natuurlik oorgenoeg plek in my huis vir almal wat doen wat Ek sê. Maar op ’n dag gaan Ek my huis se deur sluit. Dan sal baie mense wat nog buite staan, probeer inkom. Hulle sal aan die deur klop en uitroep: ‘Here, Here, U het van ons vergeet. Ons staan nog buite. Maak asseblief vir ons oop!’ “Maar Ek sal van binne af antwoord: ‘Gaan weg! Ek weet nie wie julle is nie. Hier’s nie plek vir julle nie.’ “Dan sal hulle antwoord: ‘Maar onthou U ons dan nie meer nie? Ons het saam met U geëet en feesgevier. Toe U hier by ons op die aarde was, het ons oral agter U aangeloop.’ “Dan sal Ek antwoord: ‘Ek het nie die vaagste idee wie julle is of waarvandaan julle kom nie. Gee dadelik pad, julle goddelose spul! Hier in my huis is daar nie plek vir julle nie.’ “Waarheen dink julle moet daardie mense dan gaan? Na die doderyk toe, natuurlik. En daar is dit een groot hartseerspul. Veral vir dié van julle wat onder die misverstand verkeer dat julle ’n plek gaan kry in God se nuwe wêreld. Weet julle hoe verskriklik dit gaan wees as julle al die groot name uit julle geskiedenis, vir Abraham en Isak en Jakob en die profete, daar in God se wêreld sien, maar julle self moet buite staan? Julle sal huil en skreeu van die pyn. Maar dan is dit natuurlik te laat. Van oor die hele wêreld sal mense na God se nuwe wêreld toe stroom terwyl julle spul wat gedink het dat net julle daar gaan plek kry, dit nie sal maak nie. “Uiteindelik sal al die rolle omkeer: mense wat nou agter in die ry van die lewe staan omdat hulle My volg, sal daar baie belangrik wees. Maar diegene wat nou belangrik is, sal geen plek in God se nuwe wêreld hê nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid