LUKAS 11:5-13

LUKAS 11:5-13 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het vir hulle nog meer geleer oor gebed. Hy het gesê: “Dink aan 'n goeie vriend van jou, 'n vriend vir wie jy enige iets kan vra. Jy gaan in die middel van die nag na jou vriend toe en jy vra vir hom: ‘My vriend, leen asseblief vir my drie brode, want 'n ander vriend van my het nou skielik by my aangekom. Hy het ver geloop, en ek het niks wat ek vir hom kan gee om te eet nie.’ ” Jesus vra toe vir hulle: “Wat dink jy sal jou goeie vriend wat in sy huis is, antwoord? Sal hy sê: ‘Jy moenie vir my pla nie. Ek het al klaar die deur gesluit, en my kinders is saam met my in die bed. Ek kan nie nou opstaan en vir jou brood gee nie.’ Dink julle hy sal dit sê? Nee, Ek sê vir julle, hy sal dadelik opstaan en vir jou die brood gee. Hy sal opstaan en vir jou alles gee wat jy nodig het, omdat jy sy vriend is. Hy sal dit vir jou doen omdat jy sy vriend is. En as hy dit nie dáárom doen nie, dan sal hy dit doen omdat jy aangehou het om te vra. Daarom sê Ek vir julle: Julle moet aanhou bid, dan sal God vir julle gee. Julle moet aanhou soek, dan sal God vir julle gee wat julle soek. Julle moet aanhou klop, dan sal God die deur vir julle oopmaak. Elke mens wat aanhou bid, sal ontvang. Elke mens wat aanhou soek, sal kry. Elke mens wat aanhou klop, vir hom sal God die deur oopmaak. Wanneer 'n seun vir sy pa 'n vis vra, dan sal sy pa nie vir hom 'n slang gee nie. En wanneer die seun vir sy pa 'n eier vra, dan sal sy pa nie vir hom 'n skerpioen gee nie. Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir julle iets gee wat nog beter is. Hy wil die Heilige Gees uit die hemel gee vir die mense wat dit vir Hom vra.”

LUKAS 11:5-13 Die Boodskap (DB)

Daarna het Jesus vir sy volgelinge ’n verhaal vertel: “Stel julle die volgende toneel voor: ’n vriend kom onverwags in die middel van die nag by ’n man se huis aan. Hy staan toe dadelik op en nooi hom in. Hy wou vir sy vriend iets te ete gee, maar ontdek toe daar is nie ’n krieseltjie kos in sy huis nie. Hy stap toe gou oor na ’n ander goeie vriend van hom en klop hom wakker. ‘Ag, ek is verskriklik jammer om jou so laat in die nag lastig te val. Maar ’n goeie vriend van my het uit die bloute daar by my aangekom. En my huis is dolleeg. Ek het nie ’n stukkie kos om hom aan te bied nie. Kan jy my nie met drie broodjies uithelp nie?’ Wel, wat dink julle was die reaksie van hierdie ander vriend toe hy in die middel van die nag wakker geklop is? Dink julle hy het daar uit sy bed geskree: ‘Gee pad! Die deur is gesluit. My vrou en kinders slaap lankal. Ek gaan definitief nie nou opstaan om vir jou ’n brood te gee nie’? “Nee, natuurlik nie. Goeie vriende help mekaar. Ek sê vir julle, hierdie man sal dadelik opstaan en vir sy vriend brood gee. Ook al doen hy dit nie omdat hulle vriende is nie, sal hy dit doen omdat hy die man jammer kry wat so laat in die nag kos kom soek. “Weet julle, God is net soos hierdie vriend. Daarom sê Ek vir julle: vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan. “Wie van julle wat ’n pa is, sal vir julle kind ’n slang gee as hy julle ’n stukkie vis vra om te eet? As hy vir ’n eier vra, gee julle hom mos nie iets boos soos ’n skerpioen nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal selfs die Heilige Gees met sy groot krag gee aan almal wat ernstig tot Hom bid.”