LUKAS 11:37-52

LUKAS 11:37-52 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by sy huis te kom eet. Toe Jesus daar kom, het Hy dadelik by die tafel gaan sit. Die Fariseër het dit gesien en hy was verbaas omdat Jesus nie eers sy hande gewas het voordat Hy by die tafel gaan sit het nie. Die Here het gesien die Fariseër is verbaas, en Hy sê vir hom: “Julle Fariseërs maak ook die buitekant van bekers en borde skoon, maar julle is heeltemal sleg binne-in julleself en julle wil altyd meer en meer goed hê. Julle is baie dom. God het nie net julle buitekant gemaak nie, Hy het ook julle binnekant gemaak. Daarom moet julle van die kos wat in julle bekers en op julle borde is, vir die arm mense gee. As julle dit doen, dan wys julle dat julle binne-in heeltemal rein is. Fariseërs, dit sal sleg gaan met julle, want julle gee tiendes, ook van kruisement en wynruit, ja, van elke soort kruie. Maar God wil ook hê julle moet reg doen aan mense en julle moet goed wees vir hulle, maar julle doen dit nie. Julle moet dit doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie. Fariseërs, dit sal sleg gaan met julle, want julle wil op die belangrikste plekke in die sinagoges sit, en julle wil hê die ander mense moet julle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom. Dit sal sleg gaan met julle, want julle is soos grafte wat 'n mens nie kan sien nie. Mense loop bo-oor die grafte, en hulle weet dit nie en hulle word onrein.” Toe kla een van die skrifgeleerdes en hy sê vir Jesus: “Meneer, wanneer U hierdie slegte dinge sê oor die Fariseërs, dan praat U ook sleg van ons, die skrifgeleerdes.” En Jesus sê: “Skrifgeleerdes, dit sal met julle ook sleg gaan, want julle wil hê mense moet dinge doen wat vir hulle baie moeilik is. Hulle moet gehoorsaam wees aan die wette wat julle maak, maar julle doen niks om hulle te help nie. Dit sal sleg gaan met julle, want julle maak die grafte van die profete mooi, maar dit is julle voorouers wat die profete doodgemaak het. Julle voorouers het die profete doodgemaak en julle maak die grafte van die profete mooi. Dit wys julle dink wat julle voorouers gedoen het, is goed en reg. En so word dit waar wat God gesê het: ‘Ek sal profete en apostels na my mense toe stuur, maar die mense sal party van die profete en apostels laat swaarkry en die mense sal party van hulle doodmaak.’ Vandat die wêreld begin het, het mense profete vermoor, en God sal die mense wat nou lewe, daaroor straf. Hulle het begin by Abel. Hulle het hom vermoor en hulle het aangehou om profete te vermoor totdat hulle ook die profeet Sagaria vermoor het. Hulle het hom vermoor tussen die altaar en die tempel. Ja, Ek sê vir julle, die mense wat nou lewe, sal swaarkry omdat hulle voorouers die boodskappers van God vermoor het. Skrifgeleerdes, dit sal sleg gaan met julle, want julle het die sleutel van die deur weggegooi. Dit is die deur waar julle moet ingaan om God te leer ken. Julle gaan self nie in by daardie deur nie, en julle keer ook die mense wat daar wil ingaan.”

LUKAS 11:37-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN onderwyl Hy besig was om te spreek, het 'n sekere Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet; en Hy het ingekom en aan tafel gegaan. En toe die Fariseër dit sien, het hy hom verwonder dat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie. Maar die Here sê vir hom: Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid. Onverstandiges, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie? Maar gee wat daarin is, as aalmoes, en dan is alles vir julle rein. Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is soos grafte wat onherkenbaar is, en die mense wat daaroor loop, weet dit nie. Toe antwoord een van die wetgeleerdes en sê vir Hom: Meester, as U só spreek, beledig U ons ook. En Hy sê: Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle lê laste op die mense wat swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met een van julle vingers aan nie. Wee julle, want julle bou die grafte van die profete, en julle vaders het hulle gedood. Julle gee dus getuienis vir die werke van julle vaders en het saam welbehae daarin, want hulle het hul gedood en julle bou hul grafte. Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg, sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af, van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag. Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder.

LUKAS 11:37-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem. Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie. Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid. Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie? Gee liewer wat in die bekers en borde is, vir die armes, dan sal alle dinge vir julle rein wees. Maar ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en elke soort kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie. “Ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplek in die sinagoges en om op straat eerbiedig begroet te word. Ellende wag vir julle, want julle is soos onherkenbare grafte waaroor die mense loop sonder om dit te weet.” Toe sê een van die wetgeleerdes vir Jesus: “Meneer, as u so praat, beledig u ons ook.” Daarop antwoord Hy: “Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die laste te dra nie. “Ellende wag vir julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor. So bewys julle dat julle die dade van julle voorvaders goedkeur, want húlle het die profete vermoor en júlle bou die grafte. Daarom het Die Wysheid van God gesê: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, maar hulle sal sommige van hulle doodmaak en ander vervolg.’ So is die huidige geslag dan skuldig aan die bloed van al die profete wat vergiet is van die skepping van die wêreld af: van die bloed van Abel af tot by die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die tempel doodgemaak is. Ja, Ek sê vir julle, hulle bloed sal van die huidige geslag geëis word! “Ellende wag vir julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie, en dié wat wel wou ingaan, vir hulle het julle verhinder.”

LUKAS 11:37-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Tydens Jesus se redevoering het 'n •Fariseër Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het by sy huis ingegaan en aangeleun om te eet. Die Fariseër was verbaas om te sien dat Jesus Hom nie voor die ete laat was het nie. Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is julle vol inhaligheid en boosheid. Dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie? Gee liewer die inhoud vir liefdadigheid, dan sal alles vir julle skoon wees. Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en allerhande soorte kruie, maar julle verwaarloos die reg en die liefde vir God. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat. Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplekke in die •sinagoges en om op die markpleine begroet te word. Wee julle, want julle is soos ongemerkte grafte waaroor die mense loop sonder om dit te besef.” Een van die wetskenners het Hom geantwoord: “Meester, as u dit sê, beledig u ons ook.” Daarop het Hy gesê: “En ook julle wetskenners, wee julle, want julle belas die mense met ondraaglike vragte, en self raak julle nie met 'n vinger aan die vrag nie. Wee julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor. Julle is dus getuies wat die dade van julle voorvaders goedkeur, want hulle het die profete vermoor, en julle bou hulle grafmonumente. Om hierdie rede het die Wysheid van God gesê, ‘Ek sal profete en •apostels na hulle stuur, maar hulle sal sommige doodmaak en vervolg.’ Daarom sal vir die bloed van al die profete wat sedert die grondlegging van die wêreld vergiet is, vergelding van hierdie geslag geëis word – van die bloed van Abel tot by die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die heiligdom om die lewe gebring is. Ja, Ek sê vir julle, dit sal van hierdie geslag geëis word. Wee julle, wetskenners, want julle het die sleutel van kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie, en diegene wat wou ingaan, het julle verhinder.”

LUKAS 11:37-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En terwyl Hy spreek, het 'n sekere Fariseër Hom gesmeek om saam met Hom te eet; en hy het ingegaan en aangesit om te eet. En toe die Fariseër dit sien, het hy hom verwonder dat hy nie eers voor ete gewas het nie. Toe sê die Here vir hom: Nou maak julle Fariseërs die buitekant van die beker en die skottel skoon; maar jou binneste is vol verskeuring en boosheid. Julle dwase, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook gemaak wat binne is nie? Maar gee liewer aalmoese van wat julle het; en kyk, alles is vir julle rein. Maar wee julle, Fariseërs! want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en allerhande kruie, en gaan die oordeel en die liefde van God verby; Wee julle, Fariseërs! want julle is lief vir die boonste stoele in die sinagoges en groete op die markte. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes! want julle is soos grafte wat nie sigbaar is nie, en die manne wat daaroor loop, weet dit nie. Toe antwoord een van die wetgeleerdes en sê vir hom: Meester, so sê U smaad ons ook. En hy sê: Wee julle ook, wetgeleerdes! want julle belas die mense met laste wat swaar is om te dra, en self raak julle die laste nie met een van julle vingers aan nie. Wee julle! want julle bou die grafte van die profete, en julle vaders het hulle doodgemaak. Waarlik, julle getuig dat julle die werke van julle vaders toelaat, want hulle het hulle wel doodgemaak, en julle bou hulle grafte. Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en sommige van hulle sal hulle doodmaak en vervolg. Sodat die bloed van al die profete, wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af, van hierdie geslag geëis mag word; Van die bloed van Abel tot die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die tempel omgekom het; voorwaar Ek sê vir julle, dit sal van hierdie geslag geëis word. Wee julle, wetgeleerdes! want julle het die sleutel van kennis weggeneem; julle het self nie ingegaan nie, en die wat besig was om in te gaan, het julle verhinder.

LUKAS 11:37-52 Die Boodskap (DB)

Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het een van die Fariseërs vir Hom gesê: “Kom eet by my.” Jesus het saam met hom na sy huis toe gegaan. Daar aangekom, het Jesus dadelik aan tafel gaan sit sonder om sy hande te was. Die Fariseër was verstom hieroor. Jesus sê toe vir hom: “Ja, julle spul Fariseërs laat My dink aan mense wat net die buitekant van ’n beker en ’n skottel skoonmaak, maar die binnekant so vuil los. Julle is so verskriklik skoon en netjies op die oog af, maar binne-in julle wemel dit van die kwaad en van slegte dinge. Julle dwase! Weet julle nie dat God ons nie net met ’n buitekant gemaak het nie, maar ook met ’n binnekant? Hoekom gee julle nie ook julle binnekant vir Hom nie? Dan is julle regtig silwerskoon, binne en buite! “Ek waarsku julle spul Fariseërs: swaar tye wag op julle wanneer julle die dag voor God moet gaan staan. Julle werk die tiendes wat julle aan God gee tot op die laaste sent korrek uit. Maar wanneer dié dinge gedoen moet word wat regtig vir Hom saak maak, skitter julle in julle afwesigheid. Ek praat van dinge soos om te sorg dat reg en geregtigheid geskied en om met julle hele lewe te wys dat julle God liefhet. Ek sê nie die ander dinge wat julle doen, is verkeerd nie. Maar dit is niks werd as julle nie ook daardie dinge doen wat regtig vir God saak maak nie. “Swaar tye wag nog vorentoe op julle spul. In die godsdienstige byeenkomste hoef ’n mens nie eens na julle te soek nie. Julle sit mos daar op die belangrikste plekke waar niemand julle kan miskyk nie. En dis tog te lekker vir julle om in die winkels of op straat so eerbiedig deur almal gegroet te word. “Swaar tye wag nog vorentoe op julle spul. Julle laat My dink aan ’n klompie weggesteekte grafte waarop almal trap sonder dat hulle dit besef. Julle is eintlik morsdood - julle steek dit net baie goed weg.” Een van die kenners van die wet wat saam met Jesus aan tafel was, het Hom skielik onderbreek: “Kyk, jy mag miskien ’n soort leermeester wees, maar nou raak jy beledigend. Jy is nou ook besig om my en my kollegas wat wetskenners is hier voor almal aan te vat.” Jesus sê toe vir hom: “Daar wag ook groot probleme op julle spul kenners van die Bybel. Ek sal vir julle sê hoekom. Julle skryf dik boeke vol moeilike godsdienstige reëls en stop dit dan in mense se hande en sê: ‘Gaan doen dit tot op die letter van die wet.’ Maar julle kan self nie eens alles doen wat op bladsy een van julle eie boeke geskryf staan nie. “Ja, swaar tye wag vorentoe op julle, want julle rig groot grafstene op vir al God se boodskappers van weleer. En tog is julle die nageslag van die einste mense wat hulle vermoor het. Die appel val nie ver van die boom nie, nè? Julle is elkeen maar net soos julle pa’s en oupas. Hulle het God se boodskappers een vir een doodgemaak, en nou bou julle grafte vir hulle almal. “God het al lankal gewaarsku dat so iets sou gebeur. Hy het gesê dat Hy sy boodskappers en sy apostels na julle toe sou stuur, maar dat hulle doodgemaak en vervolg sou word. Daarom sal elke druppel bloed van elke boodskapper van die Here van julle spul geëis word. Ja, Ek bedoel dit! Daar reg van die begin af, van Abel af tot by Sagaria wat by God se huis dood is, sal elke profeet se bloed van julle geëis word. “Swaar tye wag vorentoe op julle spul kenners van die wet. Want julle het die sleutel van die deur wat na God se wêreld toe lei, weggegooi. Julle weet nie meer hoe om daar uit te kom nie. En dan staan julle boonop nog in die pad van ander wat probeer om by God uit te kom.”

LUKAS 11:37-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Jesus klaar gepraat het, het een van die Fariseërs Hom na sy huis genooi vir ’n ete. Hy het dus ingegaan en sy plek aan tafel ingeneem. Sy gasheer was verbaas om te sien dat Hy plaasneem sonder om eers die seremoniële reiniging volgens Joodse gebruik na te kom. Toe het die Here vir hom gesê: “Julle, Fariseërs, is so versigtig om die buitekant van die koppie en bord skoon te maak, maar binne-in is julle nog smerig – vol inhaligheid en gemeenheid! Dwase! Het God nie die binne- sowel as die buitekant gemaak nie? Gee dus vir die behoeftiges wat binne die koppie en die bord is, en julle sal oral skoon wees. “Maar ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle is nougeset om ’n tiende van selfs die kleinste deel van julle inkomste te gee, maar julle vergeet heeltemal van regverdigheid en die liefde vir God. Julle moet regverdigheid en liefde beoefen, maar sonder om die tiendes na te laat. “Ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle hou van die ereplekke in die sinagoges en om eerbiedig gegroet te word wanneer julle deur die markpleine loop! Ja, ellende wag vir julle! Want julle is soos versteekte grafte in die veld. Mense loop daaroor sonder om te weet van die korrupsie waaroor hulle loop.” “Leermeester,” sê ’n wetskenner, “U beledig óns ook met wat U nou gesê het.” “Ja,” het Jesus geantwoord, “ellende wag ook vir julle, wetskenners! Want julle belas mense met onmoontlike godsdienstige eise, en julle lig nooit ’n vinger om die las te verlig nie. “Ellende wag vir julle! Want julle bou grafte vir die profete wat julle voorouers lank gelede vermoor het. So bevestig julle dat julle die dade van julle voorouers goedkeur. Húlle het immers die profete doodgemaak, maar júlle bou hulle grafte op. “Dít is wat God in sy wysheid oor julle gesê het: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, en hulle sal sommige doodmaak en ander vervolg.’ “En julle van hierdie geslag sal verantwoordelik gehou word vir al God se profete van die skepping van die wêreld af – van die moord van Abel af tot die moord van Sagaria wat tussen die altaar en die heiligdom vermoor is. Ja, dit sal sekerlik teen julle gehou word. “Ellende wag vir julle, wetskenners! Want julle verberg die sleutel tot kennis vir die mense. Julle gaan self nie die koninkryk binne nie, en julle verhinder ander om in te gaan.”