LUKAS 1:68-75
LUKAS 1:68-75 Bybel vir almal (ABA)
Ons prys die Here, die God van Israel, want Hy het na sy volk toe gekom en Hy het hulle vrygemaak. Hy het vir ons 'n sterk Redder gestuur, 'n Man van die nageslag van koning Dawid, sy dienaar. Die Here het belowe Hy sal dit doen. Sy gewyde profete het dit lank gelede gesê. Die Here red ons van ons vyande en van die mense wat vir ons haat. Hy het nou gedoen wat Hy vir ons voorvaders belowe het toe Hy gesê het Hy sal goed wees vir hulle. Hy het onthou dat Hy 'n gewyde verbond gemaak het met hulle. Die Here het vir ons voorvader Abraham belowe dat Hy ons sal red van ons vyande. Hy het gesê ons sal nie bang wees nie, ons sal Hom aanbid, ons sal net vir Hom dien en altyd lewe soos Hy wil hê.
LUKAS 1:68-75 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, en 'n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg — soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af — redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat, om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink, aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.
LUKAS 1:68-75 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. 'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid. So het die Here dit reeds van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou. Met 'n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe.
LUKAS 1:68-75 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig. 'n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg, soos Hy reeds lank gelede by monde van sy heilige profete beloof het – verlossing van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat. Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys en sy heilige verbond in gedagte te hou, die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het , sodat ons, gered uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees sou dien, en al ons dae voor Hom in heiligheid en •geregtigheid kan leef.
LUKAS 1:68-75 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geloofd sy die Here, God van Israel; want Hy het sy volk besoek en verlos, En Hy het vir ons 'n horing van verlossing opgerig in die huis van sy kneg Dawid; Soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete, wat bestaan het vandat die wêreld begin het: Sodat ons gered kan word van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat; Om die barmhartigheid te vervul wat aan ons vaders beloof is, en om aan sy heilige verbond te dink; Die eed wat hy aan ons vader Abraham gesweer het, Dat Hy aan ons sou gee, dat ons, wat verlos is uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, In heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.
LUKAS 1:68-75 Die Boodskap (DB)
“Loof die Here, die God van Israel! Hy het na sy volk toe gekom. Hy het hulle kom verlos. God het ’n magtige Redder na ons toe gestuur. Hierdie Redder kom uit die nageslag van Dawid, die kneg van die Here. Die Here het al lankal belowe dat Hy dit sal doen. Die profete wat Hy gestuur het om sy wil bekend te maak, het daaroor gepraat. God het belowe dat Hy ons sal red uit die hand van almal wat ons haat en dat Hy ons sal oorlaai met sy goedheid. Dit alles het Hy in sy spesiale ooreenkoms met ons voorvaders belowe. God het sy beloftes onthou; ook daardie plegtige belofte aan Abraham: God het onthou dat Hy ons van ons vyande sal red sodat ons Hom voluit kan dien, sonder enige vrees of kommer - elke dag van ons lewe.
LUKAS 1:68-75 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Prys die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk opgesoek en hulle gered. Hy het vir ons ’n magtige Redder gestuur uit die koninklike geslag van sy dienaar Dawid, soos Hy lank gelede deur sy heilige profete beloof het. Nou sal ons van ons vyande gered word en van almal wat ons haat. Hy was genadig teenoor ons voorvaders en Hy het sy heilige verbond met hulle onthou, die eed wat Hy teenoor Abraham ons voorvader gesweer het dat Hy sou sorg dat ons, gered van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien in toewyding en geregtigheid vir altyd.