LUKAS 1:5-17

LUKAS 1:5-17 Die Boodskap (DB)

My verhaal begin by Sagaria. Hy was ’n priester en ’n lid van die priesterlike diensgroep van Abia. Dit was in die tyd toe Herodes die koning van Judea was. Sagaria se vrou was Elisabet. Sy kom uit Aäron se nageslag. Hulle was twee goeie mense wat God se voorskrifte gehoorsaam het. Hulle het nooit ’n voet verkeerd gesit nie. Sagaria en Elisabet was kinderloos, want Elisabet kon nie kinders hê nie. Hulle albei was ook al baie oud. Op ’n dag, toe dit Sagaria se beurt was om as priester in God se tempel in Jerusalem diens te doen, het die lot op hom geval om wierook op die altaar te gaan brand. Terwyl Sagaria in die tempel daarmee besig was, het ’n groot skare buitekant gebid. Skielik het ’n engel aan hom verskyn, daar aan die regterkant van die wierookaltaar. Sagaria het hom boeglam geskrik. Maar die engel het hom gerusgestel: “Moenie bang wees nie, Sagaria. God het jou gebede verhoor. Jou vrou Elisabet gaan binnekort ’n seun hê. Noem hom Johannes. Hy gaan nog groot vreugde in jou lewe bring, ook in baie ander mense se lewe. God het hom uitgekies vir ’n baie belangrike taak. “Johannes mag nooit wyn of sterk drank drink nie. Die Heilige Gees sal reeds van voor sy geboorte af by hom wees. Johannes sal baie Israeliete wat in sonde leef na die Here hulle God toe terugbring. Sy belangrikste werk sal wees om te sê dat die Here na sy volk toe op pad is. Hy sal dit doen met dieselfde krag en oortuiging as die profeet Elia van ouds. Johannes sal maak dat pa’s en seuns weer in vrede met mekaar leef. En hy sal mense wie se harte so hard soos klip is, terugkry op die regte pad. So sal hy die Israeliete voorberei vir die Here se koms.”

LUKAS 1:5-17 Bybel vir almal (ABA)

Herodes was die koning van Judea. In daardie tyd was daar 'n priester, Sagaria. Hy was een van die priesters van Abia se groep. Hulle het by die tempel gewerk wanneer dit hulle beurt was. Sagaria was getroud met Elisabet. Sy was van die nageslag van Aäron. Sagaria en Elisabet het gelewe soos God wou hê, en hulle was gehoorsaam aan al die wette van die Here. Maar hulle het nie kinders gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Hulle altwee was ook al baie oud. Dit was eendag die beurt van Abia se groep priesters om die werk in die tempel te doen. Die priesters het altyd lootjies getrek om te sien wie moes ingaan om die wierook-offer te bring. Dit was toe Sagaria wat moes ingaan in die gewyde kamer van die tempel van die Here. Toe Sagaria ingaan om die wierook-offer te bring, het al die mense buite gebly en gebid. 'n Engel van die Here het gekom en hy het aan Sagaria verskyn. Die engel het regs van die wierook-altaar gestaan. Sagaria het groot geskrik toe hy die engel sien en hy het baie bang geword. Maar die engel het vir hom gesê: “Sagaria, jy moenie bang wees nie, God het geluister na jou gebed. Jou vrou Elisabet sal 'n seun kry, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal baie bly wees en baie ander mense sal bly wees wanneer hy gebore word, want hy sal belangrik wees vir die Here. Hy mag nie wyn of bier drink nie. Die Heilige Gees sal in hom wees vandat sy ma swanger geword het. Hy sal baie Israeliete laat terugkom na die Here hulle God. Johannes sal 'n profeet van God wees. Hy sal dapper en sterk wees, soos Elia. Hy sal vrede maak tussen pa's en hulle kinders. Hy sal ongehoorsame mense laat doen wat God wil hê. Dan sal hulle 'n volk wees wat reg is om God te dien.”

LUKAS 1:5-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAR was in die dae van Herodes, koning van Judéa, 'n sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd. En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand. En die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer. Toe verskyn daar aan hom 'n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan. En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees; want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.

LUKAS 1:5-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die tyd van koning Herodes van Judea was daar 'n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou. Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd. Op 'n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand. Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid. Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar 'n engel van die Here aan hom. Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here 'n volk voor te berei.”

LUKAS 1:5-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die tyd toe Herodes koning van Judea was, was daar 'n priester uit die diensgroep van Abia met die naam Sagaria. Sy vrou was uit Aäron se nageslag, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei •regverdig in die oë van God en het onberispelik volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here geleef. Hulle was kinderloos, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei van hulle al op ver gevorderde leeftyd was. Toe Sagaria op 'n keer tydens sy diensgroep se beurt voor God tempeldiens gedoen het, is hy volgens priesterlike gebruik deur die lot aangewys om die heiligdom van die Here binne te gaan en die reukoffer te bring. En die hele menigte van die volk was besig om op die tyd van die reukoffer buite te bid. 'n Engel van die Here het toe aan hom verskyn en aan die regterkant van die altaar vir die reukwerk gestaan. Sagaria was ontsteld toe hy hom sien, en vrees het hom oorval, maar die engel het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal vir jou geboorte gee aan 'n seun, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef, en baie mense sal bly wees oor sy geboorte. Inderdaad, hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy sal glad nie wyn en gegiste drank drink nie , en hy sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie van die kinders van Israel na die Here hulle God laat terugkeer. Hy sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring, en ongehoorsames na die denkwyse van •regverdiges, en só 'n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak. ”

LUKAS 1:5-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daar was in die dae van Herodes, die koning van Judéa, 'n sekere priester met die naam van Sagaria, uit die afdeling van Abië; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. En hulle was altwee regverdig voor God en het onberispelik in al die gebooie en verordeninge van die Here gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, want Elisabet was onvrugbaar, en hulle was albei nou reeds in die jare siek. En dit het gebeur dat terwyl hy die priesteramp beklee het voor God volgens die volgorde van sy baan, Volgens die gebruik van die priesteramp was sy lot om wierook te brand wanneer hy in die tempel van die Here ingegaan het. En die hele menigte van die volk het buite gebid ten tyde van die reukwerk. En 'n engel van die Here het aan hom verskyn wat aan die regterkant van die reukaltaar staan. En toe Sagaria hom sien, was hy ontsteld, en vrees het op hom geval. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor; en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. En jy sal blydskap en blydskap hê; en baie sal bly wees oor sy geboorte. Want hy sal groot wees in die oë van die Here en geen wyn of sterk drank drink nie; en hy sal vervul word met die Heilige Gees, selfs van sy moeder se skoot af. En baie van die kinders van Israel sal hy hulle tot die HERE hulle God bekeer. En hy sal voor hom uit gaan in die gees en krag van Elía, om die harte van die vaders tot die kinders te bekeer en die ongehoorsames tot die wysheid van die regverdiges; om 'n volk gereed te maak vir die Here.

LUKAS 1:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit het alles begin by ’n Joodse priester, Sagaria, gedurende die tyd toe Herodes koning van Judea was. Hy was lid van die diensgroep van Abia. Sy vrou, Elisabet, het ook uit die priesterlyn van Aäron afgestam. Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God: hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom. Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was. Eendag was Sagaria besig om God in die tempel te dien, want sy diensgroep was dié week aan diens. Volgens die gewoonte van priesters is hy deur die lot aangewys om die heiligdom in te gaan en wierook op die altaar te brand. Terwyl die wierook gebrand het, het ’n groot skare buite gestaan en bid. Terwyl Sagaria in die heiligdom was, verskyn ’n engel van die Here aan hom, regs van die wierookaltaar. Sagaria het hom lam geskrik toe hy die engel sien. Maar die engel sê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het jou gebed gehoor en jou vrou, Elisabet, sal vir jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Julle sal vreugde en jubelende blydskap hê en baie mense sal saam met julle bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy moet nooit aan wyn of sterk drank raak nie en hy sal nog voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie Israeliete oortuig om om te draai na die Here hulle God toe. Hy sal die gees en krag hê van Elia, die profeet van ouds, om voor die Here uit te gaan, om pa’s met hulle kinders te versoen, om ongehoorsames op die regte pad te bring en om só vir die koms van die Here ’n volk gereed te maak.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid