LUKAS 1:34-37
LUKAS 1:34-37 Bybel vir almal (ABA)
Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan ek 'n kind kry? Ek het nog nooit by 'n man geslaap nie.” Die engel het vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal op jou kom en die krag van die Hoogste God sal soos 'n skaduwee oor jou wees. Daarom sal God sê die Kind wat gebore word, is heilig, Hy is die Seun van God. Maria, daar is 'n vrou, Elisabet, in jou familie, sy is oud en sy kon nooit kinders kry nie, maar sy sal ook 'n seun kry. Sy is nou ses maande swanger. God kan alles doen, daar is niks wat Hy nie kan doen nie.”
LUKAS 1:34-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.
LUKAS 1:34-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?” Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. Niks is vir God onmoontlik nie.”
LUKAS 1:34-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal •Seun van God genoem word. “Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.”
LUKAS 1:34-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Maria vir die engel: Hoe sal dit wees, aangesien ek geen man ken nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu; daarom sal ook die heilige wat uit jou gebore sal word, die Seun van God genoem word. En kyk, jou niggie Elisabet, sy het ook swanger geword van 'n seun in haar ouderdom; en dit is die sesde maand met haar wat onvrugbaar genoem is. Want by God sal niks onmoontlik wees nie.
LUKAS 1:34-37 Die Boodskap (DB)
Maria vra toe benoud vir Gabriël: “Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by ’n man geslaap nie.” Daarop antwoord hy: “Moenie jou bekommer nie. Die Heilige Gees sal hiervoor sorg. Die Allerhoogste se krag sal ’n Kind in jou verwek. Hierdie Kind wat van God af kom, sal die Heilige genoem word, die Seun van God. “Ek het nog goeie nuus vir jou: Elisabet, ’n familielid van jou, verwag ook. Soos jy weet, is sy al baie oud. Tog sal sy een van die dae ’n seun hê. Sy is al ses maande swanger. Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.”
LUKAS 1:34-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.” Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word. Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand, want niks is onmoontlik vir God nie.”