LUKAS 1:26-56

LUKAS 1:26-56 Bybel vir almal (ABA)

Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël gestuur na die stad Nasaret in Galilea. God het hom gestuur na 'n meisie wat verloof was aan Josef. Josef was 'n man van die nageslag van koning Dawid. Die meisie se naam was Maria, en sy was 'n maagd. Die engel het na Maria toe gegaan en gesê: “Ek groet jou. God is goed vir jou. Ja, die Here is by jou.” Maria het baie groot geskrik toe sy hoor wat die engel vir haar sê en sy het gewonder wat dit beteken. Die engel het vir haar gesê: “Maria, jy moenie bang wees nie, want God is goed vir jou. Jy sal swanger word en jy sal 'n seun kry. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees, die Hoogste God sal Hom sy Seun noem. Die Here God sal Hom laat regeer soos sy voorvader Dawid. Jesus sal altyd regeer oor die nageslag van Jakob. Hy sal nooit ophou om Koning te wees nie.” Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan ek 'n kind kry? Ek het nog nooit by 'n man geslaap nie.” Die engel het vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal op jou kom en die krag van die Hoogste God sal soos 'n skaduwee oor jou wees. Daarom sal God sê die Kind wat gebore word, is heilig, Hy is die Seun van God. Maria, daar is 'n vrou, Elisabet, in jou familie, sy is oud en sy kon nooit kinders kry nie, maar sy sal ook 'n seun kry. Sy is nou ses maande swanger. God kan alles doen, daar is niks wat Hy nie kan doen nie.” Maria het gesê: “Ek sal doen wat die Here wil hê. Die Here kan met my doen wat jy gesê het.” Toe het die engel weggegaan van haar. Nie lank daarna nie het Maria haastig na 'n stad in Judea gegaan, na 'n plek op die berge. Sy het in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Toe Elisabet hoor dat Maria haar groet, het die baba wat binne-in haar was, geskop. Die Heilige Gees het in Elisabet gekom en sy het opgewonde gesê: “Maria, die Here seën jou, meer as vir al die ander vroue. Hy seën ook die kind wat in jou is. Dit is vir my wonderlik dat jy na my toe gekom het, jy, die ma van my Here. Toe jy my groet en ek jou stem hoor, was die kind binne-in my baie bly, en hy het geskop. Jy sal gelukkig wees, want jy het geglo dat die Here sal doen wat Hy vir jou belowe het.” Toe het Maria gesê: Ek prys die Here met my hele hart. My hart is bly oor God wat my red. Hy het my gesien en gehelp, vir my, sy nederige dienaar. Van nou af sal al die mense sê ek is baie gelukkig, want God wat alles kan doen, het wonderlike dinge vir my gedoen. Sy Naam is heilig. Hy sal altyd goed wees vir die mense wat Hom eer. Hy het gewys Hy is sterk. Hy het die hoogmoedige mense weggejaag na al die kante toe. Hy het konings laat ophou regeer, maar Hy het mense wat nie belangrik is nie, belangrik gemaak. Hy het vir honger mense genoeg kos gegee, maar vir die ryk mense het Hy niks gegee nie. Hy het sy volk Israel gehelp, Hy het onthou dat Hy belowe het om goed te wees vir hulle, vir ons voorvaders, vir Abraham en sy nageslag, vir altyd. Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly, en toe het sy teruggegaan na haar huis.

LUKAS 1:26-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie. En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan. EN in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na 'n stad van Juda; en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet. En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees en het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom? Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word. EN Maria het gesê: My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker; omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam. En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees. Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog. Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur. Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink — soos Hy tot ons vaders gespreek het — aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid. En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe.

LUKAS 1:26-56 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?” Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. Niks is vir God onmoontlik nie.” Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan. Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul en het hard uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer. Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog; behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur. Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.” Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

LUKAS 1:26-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. Kyk, jy sal swanger word en aan 'n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. ” Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal •Seun van God genoem word. “Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan. In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na 'n dorp in Juda. Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet. Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul en het hardop uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot! Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe ek jou groet hoor, het die kindjie in my moederskoot van uitbundige blydskap opgespring. En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word. ” Maria het toe gesê: “My siel loof die Here, my gees jubel oor God my Verlosser, want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien. Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam. Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan hulle wat vir Hom ontsag het. Kragtige dade verrig Hy met sy arm. Die denke van hoogmoediges verwar Hy, heersers ruk Hy van hulle trone af, en geringes verhoog Hy. Hongeriges versadig Hy met goeie gawes, en rykes stuur Hy met leë hande weg. Sy dienskneg Israel het Hy bygestaan, deur sy ontferming in gedagte te hou, soos Hy dit aan ons voorvaders beloof het, aan Abraham en sy nageslag, vir ewig.” Maria het ongeveer drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

LUKAS 1:26-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die sesde maand is die engel Gabriël van God gestuur na 'n stad in Galilea met die naam van Nasaret, Aan 'n maagd wat verloof is aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar ingekom en gesê: Wees gegroet, jy wat baie goed is, die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy ontsteld oor sy woord, en het haar in gedagte gehad watter groet dit sou wees. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal in jou skoot swanger word en 'n seun baar, en jy moet hom JESUS noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word, en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee. En hy sal vir ewig koning wees oor die huis van Jakob; en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe sal dit wees, aangesien ek geen man ken nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu; daarom sal ook die heilige wat uit jou gebore sal word, die Seun van God genoem word. En kyk, jou niggie Elisabet, sy het ook swanger geword van 'n seun in haar ouderdom; en dit is die sesde maand met haar wat onvrugbaar genoem is. Want by God sal niks onmoontlik wees nie. En Maria sê: Hier is die slavin van die Here; laat dit my wees volgens u woord. En die engel het van haar af weggegaan. En Maria het in daardie dae opgestaan en haastig na die gebergte gegaan, na 'n stad van Juda; En hy het in die huis van Sagaria ingegaan en Elisabet gegroet. En dit het gebeur dat, toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die baba in haar skoot opgespring; en Elisabeth was vervul met die Heilige Gees: En sy het met 'n groot stem uitgespreek en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot. En waar kom dit vir my vandaan, dat die moeder van my Here na my toe sou kom? Want kyk, toe die stem van u groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot gespring van blydskap. En geseënd is sy wat geglo het, want daar sal uitvoering wees van die dinge wat van die Here aan haar gesê is. En Maria sê: My siel maak die Here groot, En my gees het hom verbly in God, my Verlosser. Want hy het die geringe eiendom van sy diensmaagd aanskou, want kyk, van nou af sal al die geslagte my geseënd noem. Want Hy wat sterk is, het groot dinge aan my gedoen; en heilig is sy naam. En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag oor die wat Hom vrees. Hy het krag met sy arm getoon; hoogmoediges het Hy verstrooi in die verbeelding van hulle harte. Die magtiges het Hy van hulle stoele neergesit en geringes verhef. Hy het die hongeriges met goeie dinge vervul; en die rykes het Hy leeg weggestuur. Hy het sy kneg Israel gehol, tot gedagtenis aan sy goedertierenheid; Soos Hy met ons vaders gespreek het, met Abraham en met sy nageslag tot in ewigheid. En Maria het omtrent drie maande by haar gebly en na haar eie huis teruggekeer.

LUKAS 1:26-56 Die Boodskap (DB)

In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël na Nasaret toe gestuur, ’n dorp in Galilea. Hy moes ’n belangrike boodskap na ’n meisie toe neem wat daar gebly het. Haar naam was Maria. Sy het nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad nie. Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die nageslag van koning Dawid. Toe Gabriël by Maria aankom, het hy haar gegroet en gesê: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!” Maria was baie verbaas oor sy woorde. “Wat is aan die gang?” het sy haar afgevra. Die engel het haar egter gou gerusgestel: “Moenie bang wees nie. God het ’n wonderlike verrassing vir jou. Hy het jou uitgekies vir ’n spesiale taak: jy sal binnekort begin verwag. Een van die dae sal jy ’n Seun in die wêreld bring. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees; so belangrik dat Hy die Seun van die allerhoogste God genoem sal word. Die Here God sal Hom aanstel om te heers oor die koninkryk van sy voorvader Dawid. Jesus sal vir altyd oor Israel regeer. Sy koningskap sal nooit ophou nie; nooit nie.” Maria vra toe benoud vir Gabriël: “Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by ’n man geslaap nie.” Daarop antwoord hy: “Moenie jou bekommer nie. Die Heilige Gees sal hiervoor sorg. Die Allerhoogste se krag sal ’n Kind in jou verwek. Hierdie Kind wat van God af kom, sal die Heilige genoem word, die Seun van God. “Ek het nog goeie nuus vir jou: Elisabet, ’n familielid van jou, verwag ook. Soos jy weet, is sy al baie oud. Tog sal sy een van die dae ’n seun hê. Sy is al ses maande swanger. Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.” Toe sê Maria: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.” Daarna het Gabriël vertrek. Maria was so opgewonde oor die goeie nuus wat sy gehoor het dat sy dadelik besluit het om by Elisabet te gaan kuier. Hulle het in ’n dorp in die heuwels van Judea gebly. Toe Maria daar by Sagaria se huis aankom, het sy ingestap en vir Elisabet gaan groet. Net toe Elisabet Maria se stem hoor, het die kindjie binne-in haar vol vreugde begin beweeg. Elisabet is toe met die Heilige Gees vervul. Sy het hardop uitgeroep: “Maria, jy is so bevoorreg in God se oë. Tussen al die vroue op aarde het God juis vir jou uitgekies vir ’n baie spesiale taak. Jy gaan ’n baie belangrike Kind in die wêreld bring. Wie is ek dat jy, die moeder van die Here, hier na my toe kom? Weet jy, die oomblik toe ek jou stem gehoor het, het die kindjie binne-in my van vreugde opgespring. Hoe gelukkig is jy nie, Maria! Jy glo alles wat die Here vir jou gesê het - jy glo dat dit waar sal word.” Maria het toe gesê: “Ek maak die Naam van die Here groot. Ek juig oor God. Hy is my Redder. Ek is glad nie belangrik nie, ek is maar een van God se diensmeisies; tog het Hy my raakgesien. Van nou af sal my naam op almal se lippe wees. Alle geslagte sal sê dat ek die gelukkigste vrou op die aarde is, want die Almagtige het groot dinge aan my gedoen. Hy is heilig. Daar is niemand soos Hy nie. Sy goedheid hou aan van geslag tot geslag. Die Here het magtige dinge gedoen. Hy het maar net ’n beweging met sy hand gemaak, dan het groot dinge gebeur. Almal wat te veel van hulleself dink, het Hy oor die aarde verstrooi. Magtige heersers het Hy van hulle trone afgestamp, en nederige mense belangrik gemaak. Honger mense het Hy by ’n feesmaal laat aansit terwyl die rykes met leë hande moes wegstap. God het sy volk Israel baie jammer gekry. Hy het nooit sy beloftes vergeet wat Hy aan hulle gemaak het nie. Hy het sy goedheid oor hulle uitgestort, presies net soos Hy aan Abraham belowe het - aan hom en aan sy hele nageslag. Ja, God se beloftes is vir altyd waar.” Maria het amper drie maande by Elisabet gebly. Daarna het sy na haar huis toe teruggegaan.

LUKAS 1:26-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, ’n dorp in Galilea, gestuur na ’n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef, ’n afstammeling van koning Dawid. Gabriël het aan haar verskyn en gesê: “Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!” Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken. “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën! Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!” Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.” Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word. Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand, want niks is onmoontlik vir God nie.” Maria het geantwoord: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.” Toe het die engel weggegaan. ’n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het. Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet. Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul. Sy het met ’n harde stem teenoor Maria uitgeroep: “Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek! Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor! Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.” Maria het geantwoord: “Ek prys die Here. Ek juig in God my Verlosser! Want Hy het omgesien na sy nederige diensmeisie, en nou sal geslag na geslag my geseënd noem. Want Hy, die magtige Een, het groot dinge vir my gedoen. Heilig is sy Naam! Sy ontferming strek van geslag tot geslag oor almal wat Hom eer. Sy kragtige arm doen geweldige dinge! Hy verstrooi die trotse en hooghartige mense! Hy het prinse onttroon en nederiges verhef. Hy het dié wat gebrek ly, met goeie dinge versadig, en die rykes met leë hande weggestuur. Hy het sy dienaar Israel gehelp! Hy het nie sy belofte vergeet om ontferming te bewys nie. Want Hy het ons voorvaders beloof – vir Abraham en sy kinders – om vir altyd goed te wees teenoor hulle.” Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en toe is sy huis toe.