LUKAS 1:26-38

LUKAS 1:26-38 Bybel vir almal (ABA)

Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël gestuur na die stad Nasaret in Galilea. God het hom gestuur na 'n meisie wat verloof was aan Josef. Josef was 'n man van die nageslag van koning Dawid. Die meisie se naam was Maria, en sy was 'n maagd. Die engel het na Maria toe gegaan en gesê: “Ek groet jou. God is goed vir jou. Ja, die Here is by jou.” Maria het baie groot geskrik toe sy hoor wat die engel vir haar sê en sy het gewonder wat dit beteken. Die engel het vir haar gesê: “Maria, jy moenie bang wees nie, want God is goed vir jou. Jy sal swanger word en jy sal 'n seun kry. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees, die Hoogste God sal Hom sy Seun noem. Die Here God sal Hom laat regeer soos sy voorvader Dawid. Jesus sal altyd regeer oor die nageslag van Jakob. Hy sal nooit ophou om Koning te wees nie.” Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan ek 'n kind kry? Ek het nog nooit by 'n man geslaap nie.” Die engel het vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal op jou kom en die krag van die Hoogste God sal soos 'n skaduwee oor jou wees. Daarom sal God sê die Kind wat gebore word, is heilig, Hy is die Seun van God. Maria, daar is 'n vrou, Elisabet, in jou familie, sy is oud en sy kon nooit kinders kry nie, maar sy sal ook 'n seun kry. Sy is nou ses maande swanger. God kan alles doen, daar is niks wat Hy nie kan doen nie.” Maria het gesê: “Ek sal doen wat die Here wil hê. Die Here kan met my doen wat jy gesê het.” Toe het die engel weggegaan van haar.

LUKAS 1:26-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie. En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan.

LUKAS 1:26-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. Kyk, jy sal swanger word en aan 'n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. ” Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal •Seun van God genoem word. “Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.

LUKAS 1:26-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die sesde maand is die engel Gabriël van God gestuur na 'n stad in Galilea met die naam van Nasaret, Aan 'n maagd wat verloof is aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar ingekom en gesê: Wees gegroet, jy wat baie goed is, die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy ontsteld oor sy woord, en het haar in gedagte gehad watter groet dit sou wees. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal in jou skoot swanger word en 'n seun baar, en jy moet hom JESUS noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word, en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee. En hy sal vir ewig koning wees oor die huis van Jakob; en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe sal dit wees, aangesien ek geen man ken nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu; daarom sal ook die heilige wat uit jou gebore sal word, die Seun van God genoem word. En kyk, jou niggie Elisabet, sy het ook swanger geword van 'n seun in haar ouderdom; en dit is die sesde maand met haar wat onvrugbaar genoem is. Want by God sal niks onmoontlik wees nie. En Maria sê: Hier is die slavin van die Here; laat dit my wees volgens u woord. En die engel het van haar af weggegaan.

LUKAS 1:26-38 Die Boodskap (DB)

In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël na Nasaret toe gestuur, ’n dorp in Galilea. Hy moes ’n belangrike boodskap na ’n meisie toe neem wat daar gebly het. Haar naam was Maria. Sy het nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad nie. Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die nageslag van koning Dawid. Toe Gabriël by Maria aankom, het hy haar gegroet en gesê: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!” Maria was baie verbaas oor sy woorde. “Wat is aan die gang?” het sy haar afgevra. Die engel het haar egter gou gerusgestel: “Moenie bang wees nie. God het ’n wonderlike verrassing vir jou. Hy het jou uitgekies vir ’n spesiale taak: jy sal binnekort begin verwag. Een van die dae sal jy ’n Seun in die wêreld bring. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees; so belangrik dat Hy die Seun van die allerhoogste God genoem sal word. Die Here God sal Hom aanstel om te heers oor die koninkryk van sy voorvader Dawid. Jesus sal vir altyd oor Israel regeer. Sy koningskap sal nooit ophou nie; nooit nie.” Maria vra toe benoud vir Gabriël: “Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by ’n man geslaap nie.” Daarop antwoord hy: “Moenie jou bekommer nie. Die Heilige Gees sal hiervoor sorg. Die Allerhoogste se krag sal ’n Kind in jou verwek. Hierdie Kind wat van God af kom, sal die Heilige genoem word, die Seun van God. “Ek het nog goeie nuus vir jou: Elisabet, ’n familielid van jou, verwag ook. Soos jy weet, is sy al baie oud. Tog sal sy een van die dae ’n seun hê. Sy is al ses maande swanger. Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.” Toe sê Maria: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.” Daarna het Gabriël vertrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid