LUKAS 1:1-25

LUKAS 1:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

AANGESIEN baie onderneem het om 'n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is, soos hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het, het ek ook dit goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe, sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is. DAAR was in die dae van Herodes, koning van Judéa, 'n sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd. En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand. En die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer. Toe verskyn daar aan hom 'n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan. En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees; want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei. Toe sê Sagaría vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is 'n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd. En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring. En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie. En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef. Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy 'n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan. En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg en gesê: So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem.

LUKAS 1:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Baie mense het reeds hulle hand daaraan gewaag om 'n verhaal saam te stel oor dit wat onder ons tot vervulling gekom het, soos die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het. Daarom, geagte Teofilus, het ook ek dit goedgedink om self alles stap vir stap van voor af noukeurig te ondersoek en dit in volgorde vir u neer te skryf, sodat u vir seker kan weet dat die onderrig wat u oor hierdie gebeure ontvang het, betroubaar is. In die tyd toe Herodes koning van Judea was, was daar 'n priester uit die diensgroep van Abia met die naam Sagaria. Sy vrou was uit Aäron se nageslag, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei •regverdig in die oë van God en het onberispelik volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here geleef. Hulle was kinderloos, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei van hulle al op ver gevorderde leeftyd was. Toe Sagaria op 'n keer tydens sy diensgroep se beurt voor God tempeldiens gedoen het, is hy volgens priesterlike gebruik deur die lot aangewys om die heiligdom van die Here binne te gaan en die reukoffer te bring. En die hele menigte van die volk was besig om op die tyd van die reukoffer buite te bid. 'n Engel van die Here het toe aan hom verskyn en aan die regterkant van die altaar vir die reukwerk gestaan. Sagaria was ontsteld toe hy hom sien, en vrees het hom oorval, maar die engel het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal vir jou geboorte gee aan 'n seun, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef, en baie mense sal bly wees oor sy geboorte. Inderdaad, hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy sal glad nie wyn en gegiste drank drink nie , en hy sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie van die kinders van Israel na die Here hulle God laat terugkeer. Hy sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring, en ongehoorsames na die denkwyse van •regverdiges, en só 'n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak. ” Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek dit weet? Want ek is al oud, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd. ” Daarop antwoord die engel hom: “Ek is Gabriël , wat in die teenwoordigheid van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap vir jou te bring. Ek sê vir jou: Omdat jy my woorde, wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan, nie geglo het nie, sal jy stom wees. Jy sal nie kan praat nie, tot op die dag waarop hierdie dinge gebeur.” Die volk het ondertussen vir Sagaria gestaan en wag, en was verbaas dat hy so lank in die heiligdom talm. Maar toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle besef toe dat hy 'n visioen in die heiligdom gesien het. Hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. Toe sy tempeldiens verby was, het hy huis toe gegaan. Hierna het sy vrou Elisabet swanger geraak. Sy het haar vyf maande lank afgesonder en gesê: “Dit is wat die Here in hierdie dae vir my gedoen het: Hy het na my omgesien deur die minagting van die mense van my weg te neem. ”

LUKAS 1:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Geagte Teofilus, baie mense het al geskryf oor alles wat gebeur het toe Jesus op die aarde gelewe het. Hulle het alles uitgevind by die mense wat van die begin af by Jesus was en wat self alles gesien het. Hulle het ook die mense uitgevra wat die goeie boodskap oor Jesus gebring het. Ek het ook alles uitgevind wat die mense weet oor Jesus se lewe op die aarde en ek het lank daaroor gedink. Nou het ek besluit om alles vir jou te skryf soos dit gebeur het, alles wat ek weet. Daarom kan jy seker wees dat die dinge wat jy geleer het, waar en reg is. Herodes was die koning van Judea. In daardie tyd was daar 'n priester, Sagaria. Hy was een van die priesters van Abia se groep. Hulle het by die tempel gewerk wanneer dit hulle beurt was. Sagaria was getroud met Elisabet. Sy was van die nageslag van Aäron. Sagaria en Elisabet het gelewe soos God wou hê, en hulle was gehoorsaam aan al die wette van die Here. Maar hulle het nie kinders gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Hulle altwee was ook al baie oud. Dit was eendag die beurt van Abia se groep priesters om die werk in die tempel te doen. Die priesters het altyd lootjies getrek om te sien wie moes ingaan om die wierook-offer te bring. Dit was toe Sagaria wat moes ingaan in die gewyde kamer van die tempel van die Here. Toe Sagaria ingaan om die wierook-offer te bring, het al die mense buite gebly en gebid. 'n Engel van die Here het gekom en hy het aan Sagaria verskyn. Die engel het regs van die wierook-altaar gestaan. Sagaria het groot geskrik toe hy die engel sien en hy het baie bang geword. Maar die engel het vir hom gesê: “Sagaria, jy moenie bang wees nie, God het geluister na jou gebed. Jou vrou Elisabet sal 'n seun kry, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal baie bly wees en baie ander mense sal bly wees wanneer hy gebore word, want hy sal belangrik wees vir die Here. Hy mag nie wyn of bier drink nie. Die Heilige Gees sal in hom wees vandat sy ma swanger geword het. Hy sal baie Israeliete laat terugkom na die Here hulle God. Johannes sal 'n profeet van God wees. Hy sal dapper en sterk wees, soos Elia. Hy sal vrede maak tussen pa's en hulle kinders. Hy sal ongehoorsame mense laat doen wat God wil hê. Dan sal hulle 'n volk wees wat reg is om God te dien.” Sagaria het vir die engel gesê: “Hoe sal ek weet dat dit sal gebeur? Ek is 'n ou man en my vrou is ook baie oud.” Die engel het vir hom gesê: “Ek is die engel Gabriël, ek werk vir God. God het my gestuur om met jou te praat en vir jou hierdie goeie boodskap te bring. Die boodskap wat ek vir jou gebring het, is waar. Dit sal gebeur. Maar jy het my nie geglo nie, en daarom sal jy stom wees en jy sal nie kan praat nie, tot die dag wanneer hierdie dinge sal gebeur.” Die mense het buite gewag vir Sagaria en hulle het gewonder hoekom hy so lank in die tempel bly. Toe Sagaria uitkom, kon hy nie met die mense praat nie, en hulle het besef God het iets met hom laat gebeur in die tempel. Hy het vir hulle met sy hande gewys dat iets met hom gebeur het, en hy het stom gebly. Toe die priesters van Abia se groep klaar gewerk het by die tempel, het Sagaria teruggegaan na sy huis. Kort daarna het sy vrou Elisabet swanger geword, en sy het vyf maande lank nie uit die huis gegaan nie. Sy het gesê: “Die Here het my gehelp, Hy het gesien ek is hartseer. Hy het geweet die mense spot my omdat ek nie kinders het nie. Nou het Hy dit verander, niemand sal my nou meer spot nie.”

LUKAS 1:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hooggeagte Teofilus! Daar is baie wat onderneem het om 'n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is. In die tyd van koning Herodes van Judea was daar 'n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou. Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd. Op 'n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand. Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid. Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar 'n engel van die Here aan hom. Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here 'n volk voor te berei.” Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.” Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring. Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” Intussen het die volk vir Sagaria gestaan en wag en begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly. Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle kom toe agter dat hy in die tempel 'n gesig gesien het. Hy het net aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan. Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê: “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”

LUKAS 1:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Aangesien baie in die hand geneem het om 'n verklaring uiteen te sit van die dinge wat sekerlik onder ons geglo word, Net soos hulle hulle aan ons oorgegee het, wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die woord was; Dit het ook vir my goed gelyk om, nadat ek van die eerste keer af alle dinge volmaak gehad het, in orde aan u te skrywe, uitnemende Teofilus, Sodat jy die sekerheid kan weet van daardie dinge waarin jy onderrig is. Daar was in die dae van Herodes, die koning van Judéa, 'n sekere priester met die naam van Sagaria, uit die afdeling van Abië; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet. En hulle was altwee regverdig voor God en het onberispelik in al die gebooie en verordeninge van die Here gewandel. En hulle het geen kind gehad nie, want Elisabet was onvrugbaar, en hulle was albei nou reeds in die jare siek. En dit het gebeur dat terwyl hy die priesteramp beklee het voor God volgens die volgorde van sy baan, Volgens die gebruik van die priesteramp was sy lot om wierook te brand wanneer hy in die tempel van die Here ingegaan het. En die hele menigte van die volk het buite gebid ten tyde van die reukwerk. En 'n engel van die Here het aan hom verskyn wat aan die regterkant van die reukaltaar staan. En toe Sagaria hom sien, was hy ontsteld, en vrees het op hom geval. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor; en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. En jy sal blydskap en blydskap hê; en baie sal bly wees oor sy geboorte. Want hy sal groot wees in die oë van die Here en geen wyn of sterk drank drink nie; en hy sal vervul word met die Heilige Gees, selfs van sy moeder se skoot af. En baie van die kinders van Israel sal hy hulle tot die HERE hulle God bekeer. En hy sal voor hom uit gaan in die gees en krag van Elía, om die harte van die vaders tot die kinders te bekeer en die ongehoorsames tot die wysheid van die regverdiges; om 'n volk gereed te maak vir die Here. En Sagaria sê vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? want ek is 'n ou man, en my vrou is in jare siek. En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan; en is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie blye boodskap te verkondig. En kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie, tot op die dag dat hierdie dinge gedoen sal word, omdat jy my woorde, wat vervul sal word op hulle tyd, nie glo nie. En die volk het Sagaria gewag en hulle verwonder dat hy so lank in die tempel vertoef het. En toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie, en hulle het bemerk dat hy 'n gesig in die tempel gesien het; En dit het gebeur dat, sodra die dae van sy bediening verby was, het hy na sy eie huis gegaan. En ná daardie dae het sy vrou Elisabet swanger geword en haarself vyf maande verberg en gesê: So het die Here met my gedoen in die dae waarin Hy my aangesien het, om my smaad onder die mense weg te neem.

LUKAS 1:1-25 Die Boodskap (DB)

Baie mense het al ’n verhaal geskryf oor al die groot dinge wat onlangs onder ons gebeur het. Hulle het gebruik gemaak van inligting wat aan ons deurgegee is deur mense wat al hierdie dinge self meegemaak het en wat God al van daardie tyd af getrou dien. Ek het besluit om ook oor al hierdie gebeure aan u te skryf, hooggeagte Teofilus. Ek verseker u dat ek deeglik navorsing oor hierdie groot verhaal gedoen het sodat ek alles reg aan u kan oorvertel, presies net soos dit gebeur het. U sal deur die loop van my verhaal agterkom dat alles wat u in die kerk geleer het, die volle waarheid is. My verhaal begin by Sagaria. Hy was ’n priester en ’n lid van die priesterlike diensgroep van Abia. Dit was in die tyd toe Herodes die koning van Judea was. Sagaria se vrou was Elisabet. Sy kom uit Aäron se nageslag. Hulle was twee goeie mense wat God se voorskrifte gehoorsaam het. Hulle het nooit ’n voet verkeerd gesit nie. Sagaria en Elisabet was kinderloos, want Elisabet kon nie kinders hê nie. Hulle albei was ook al baie oud. Op ’n dag, toe dit Sagaria se beurt was om as priester in God se tempel in Jerusalem diens te doen, het die lot op hom geval om wierook op die altaar te gaan brand. Terwyl Sagaria in die tempel daarmee besig was, het ’n groot skare buitekant gebid. Skielik het ’n engel aan hom verskyn, daar aan die regterkant van die wierookaltaar. Sagaria het hom boeglam geskrik. Maar die engel het hom gerusgestel: “Moenie bang wees nie, Sagaria. God het jou gebede verhoor. Jou vrou Elisabet gaan binnekort ’n seun hê. Noem hom Johannes. Hy gaan nog groot vreugde in jou lewe bring, ook in baie ander mense se lewe. God het hom uitgekies vir ’n baie belangrike taak. “Johannes mag nooit wyn of sterk drank drink nie. Die Heilige Gees sal reeds van voor sy geboorte af by hom wees. Johannes sal baie Israeliete wat in sonde leef na die Here hulle God toe terugbring. Sy belangrikste werk sal wees om te sê dat die Here na sy volk toe op pad is. Hy sal dit doen met dieselfde krag en oortuiging as die profeet Elia van ouds. Johannes sal maak dat pa’s en seuns weer in vrede met mekaar leef. En hy sal mense wie se harte so hard soos klip is, terugkry op die regte pad. So sal hy die Israeliete voorberei vir die Here se koms.” Sagaria was heeltemal uit die veld geslaan oor die engel se woorde. “Dit klink te goed om waar te wees. Hoe weet ek u praat die waarheid? Ek is dan al stokoud. My vrou ook. Sy kan mos nie meer kinders hê nie.” Toe sê die engel vir hom: “Besef jy nie met wie jy te doen het nie? Kyk, ek is Gabriël. Ek staan voltyds in God se diens. Hy het my spesiaal na jou toe gestuur met hierdie goeie nuus. Maar omdat jy my nie wou glo nie, sal jy stom wees tot op die dag dat jou seun gebore word. Tot dan sal jy nie ’n woord uitkry nie. Alles wat ek vir jou gesê het, sal binnekort waar word; presies op die tyd wat God bepaal het.” Intussen het die skare wat buite gewag het dat Sagaria hulle moet kom seën, ongeduldig geraak. “Hoekom kom hy dan nie uit nie?” het hulle onder mekaar gevra. Toe Sagaria uiteindelik buitetoe kom, kon hy glad nie praat nie. Die skare het agtergekom dat hy ’n visioen gesien het, want hy het aanhoudend met sy hande vir hulle beduie wat gebeur het sonder om ’n woord uit te kry. Toe Sagaria se verpligtings daar in die tempel klaar was, het hy teruggegaan na sy huis toe. Nie lank daarna nie het Elisabet begin verwag. Sy was so bly daaroor dat sy vir vyf maande lank eenkant gaan bly het, weg van almal af. “Die Here het ’n wonderwerk aan my gedoen,” het sy gesê. “Hy het gesorg dat mense nou nie meer agteraf met my sal spot omdat ek nie kinders kan hê nie.”

LUKAS 1:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hooggeagte Teofilus: Baie mense het probeer om ’n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het as inligtingsbron die verhale gebruik wat die eerste ooggetuies en dienaars van die Woord aan ons oorgelewer het. Nadat ek al hierdie verhale van voor af noukeurig ondersoek het, het ek besluit om ’n getroue samevatting daarvan vir u neer te skryf. Dit is om u te verseker van die betroubaarheid van alles wat u geleer is. Dit het alles begin by ’n Joodse priester, Sagaria, gedurende die tyd toe Herodes koning van Judea was. Hy was lid van die diensgroep van Abia. Sy vrou, Elisabet, het ook uit die priesterlyn van Aäron afgestam. Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God: hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom. Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was. Eendag was Sagaria besig om God in die tempel te dien, want sy diensgroep was dié week aan diens. Volgens die gewoonte van priesters is hy deur die lot aangewys om die heiligdom in te gaan en wierook op die altaar te brand. Terwyl die wierook gebrand het, het ’n groot skare buite gestaan en bid. Terwyl Sagaria in die heiligdom was, verskyn ’n engel van die Here aan hom, regs van die wierookaltaar. Sagaria het hom lam geskrik toe hy die engel sien. Maar die engel sê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het jou gebed gehoor en jou vrou, Elisabet, sal vir jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. Julle sal vreugde en jubelende blydskap hê en baie mense sal saam met julle bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy moet nooit aan wyn of sterk drank raak nie en hy sal nog voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie Israeliete oortuig om om te draai na die Here hulle God toe. Hy sal die gees en krag hê van Elia, die profeet van ouds, om voor die Here uit te gaan, om pa’s met hulle kinders te versoen, om ongehoorsames op die regte pad te bring en om só vir die koms van die Here ’n volk gereed te maak.” Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek weet dat dié dinge gaan gebeur? Ek is al ’n ou man en my vrou is ook al op gevorderde leeftyd.” Toe sê die engel: “Ek is Gabriël. Ek staan in God se eie teenwoordigheid. Hy het my gestuur om die goeie nuus aan jou te bring! En omdat jy nie geglo het wat ek sê nie, sal jy nie kan praat nie, totdat die kind gebore is. Want my woorde sal op die bestemde tyd beslis waar word.” Intussen het die mense vir Sagaria gewag om uit te kom, en hulle het begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly. Toe hy uiteindelik uit die tempel kom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle het afgelei dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. Hy het aanmekaar vir hulle beduie en stom gebly. Hy het by die tempel gebly totdat sy diensbeurt om was, en toe is hy huis toe. Kort daarna het sy vrou, Elisabet, swanger geword en sy het vir vyf maande in afsondering gegaan. “Hoe goed is die Here!” het sy uitgeroep. “Hy het die skande van my kinderloosheid van my af weggevat!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid