LEVITIKUS 7:29-34
LEVITIKUS 7:29-34 Bybel vir almal (ABA)
“Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer iemand vir die Here 'n ete-offer bring, dan moet hy 'n deel van die vleis vir die Here offer. Hy moet self die vet en die bors van die dier vir die Here gee. Die bors moet 'n beweeg-offer vir die Here wees. Die priester moet die vet op die altaar verbrand, en Aäron en sy seuns moet die bors kry. Julle moet die regter-boud van die ete-offer ook vir die priesters present gee. Die priester wat die bloed en die vet van die ete-offer verbrand, moet die regter-boud kry, want Ek het die bors van die beweeg-offer en die boud geneem van die Israeliete en Ek het dit vir die priester Aäron en sy seuns gegee. Die boud is 'n present, dit is 'n deel van die ete-offers, en die Israeliete moet dit altyd gee.
LEVITIKUS 7:29-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Spreek met die kinders van Israel en sê: Hy wat aan die HERE sy dankoffer bring, moet self aan die HERE die gawe uit sy dankoffer bring; sy hande moet die vuuroffers van die HERE bring: die vet met die bors moet hy bring; die bors, om dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE te beweeg. En die priester moet die vet op die altaar aan die brand steek, maar die bors kom Aäron en sy seuns toe. Julle moet ook die regterboud aan die priester as hefoffer gee uit julle dankoffers. Hy wat uit die seuns van Aäron die bloed van die dankoffers en die vet offer, aan hom kom die regterboud as deel toe. Want die beweegbors en die hefboud het Ek van die kinders van Israel uit hulle dankoffers geneem en dit aan Aäron, die priester, en aan sy seuns gegee as 'n deel wat hulle vir ewig toekom van die kant van die kinders van Israel.
LEVITIKUS 7:29-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand vir die Here 'n maaltydoffer aanbied, moet hy self uit sy maaltydoffer 'n offer aan die Here bring. Hy moet dit met sy eie hand as vuuroffer vir die Here bring. Hy moet die vuuroffer, die vet van die bors, saam met die bors bring en dit in die teenwoordigheid van die Here heen en weer beweeg as 'n beweegoffer. Die priester verbrand dan die vet op die altaar, maar die bors kom Aäron en sy seuns toe. “Julle moet die regterboud van die maaltydofferdier as 'n offergawe aan die priester gee. Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed en die vet van die maaltydoffers hanteer, het aanspraak op die regterboud as sy aandeel. “Die Here het die bors van die beweegoffer en die boud wat as offergawe gebring is, uit die maaltydoffers van Israel gevat en dit aan die priester Aäron en sy seuns gegee. Dit is 'n vaste instelling vir die Israeliete.
LEVITIKUS 7:29-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Praat met die Israeliete en sê, ‘Wie sy maaltydoffer vir die HERE bring, moet self die deel van sy maaltydoffer wat aan die HERE behoort, in die heiligdom inbring. Met sy eie hande moet hy die offergawe vir die HERE indra; die vet moet hy saam met die borsstuk indra. Die borsstuk moet hy indra om dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer te beweeg. Die priester moet die vet op die altaar verbrand. Die borsstuk kom Aäron en sy seuns toe. Die regterboud van julle maaltydoffers moet julle as •wydingsgeskenk aan die priester gee. Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed van die maaltydoffer en die vet naderbring, hy kry die regterboud as sy deel. Want die borsstuk, wat die gewyde gawe is, en die regterboud, wat die wydingsgeskenk is, het Ek uit die Israeliete se maaltydoffers geneem en aan die priester Aäron en sy seuns gegee as die deel wat hulle altyd by die Israeliete moet kry.
LEVITIKUS 7:29-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Spreek met die kinders van Israel en sê: Wie sy dankoffers aan die HERE bring, moet sy offer aan die HERE bring van sy dankoffers. Sy eie hande moet die vuuroffers van die HERE bring, die vet met die bors, dit moet hy bring, dat die bors as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg kan word. En die priester moet die vet op die altaar aan die brand steek, maar die bors moet aan Aäron en sy seuns behoort. En die regterskouer moet julle aan die priester as hefoffer gee van die slagoffers van julle dankoffers. Hy onder die seuns van Aäron wat die bloed van die dankoffers en die vet bring, moet die regterskouer vir sy deel hê. Want die beweegbors en die skouer het Ek van die kinders van Israel van die dankoffers af weggeneem en dit aan die priester Aäron en aan sy seuns gegee as 'n ewige insetting uit die kinders van Israel.
LEVITIKUS 7:29-34 Die Boodskap (DB)
die volgende opdrag aan die Israeliete gegee: “’n Persoon kan vir die Here ’n offer bring om sy goeie gesindheid teenoor die Here te bewys. Hy moet dan die deel daarvan wat vir die Here gegee word, in sy hand vat en dit nader bring sodat dit vir die Here verbrand kan word. Hy bring die vet van die dier se bors en die bors self en hou dit na die Here uit. Die dienaar by die tent verbrand dan die vet op die altaar. Die bors self gaan na Aäron en sy mense toe. Julle moet die regterblad van die dier wat julle vir die Here offer om julle goeie gesindheid teenoor Hom te bewys as ’n spesiale porsie aan die dienaar afstaan. Die regterblad van die dier behoort uitsluitlik aan die dienaars uit Aäron se familie wat die bloed en die vet van die offer by die altaar hanteer. Ek het die bors wat vir My geoffer word en die blad wat aan My opgedra word, by die Israeliete weggevat uit die deel van die offers wat hulle mag eet, en Ek het dit uitsluitlik vir die dienaars uit Aäron se familie en hulle gesinne gegee. Dit is ’n reël vir die Israeliete wat nooit verander mag word nie.
LEVITIKUS 7:29-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Gee hierdie verdere instruksies vir die Israeliete: Wanneer jy ’n maaltydoffer vir die HERE bring, bring ’n deel daarvan as ’n spesiale gawe vir die HERE. Gee dit vir Hom met jou eie hande as ’n vuuroffer vir die HERE. Bring die vet van die dier, saam met die bors, en gee dit vir die HERE deur dit voor Hom op te lig. Die priester sal dan die vet op die altaar verbrand, maar die bors sal aan Aäron en sy seuns behoort. Jy moet die regterboud van die maaltydoffer as ’n gawe aan die priester gee. Die regterboud moet altyd aan die priester wat die bloed sprinkel en die vet van die maaltydoffer offer, gegee word. Ek het die bors en die regterboud vir die priesters bepaal. Dit is hulle deel van die maaltydoffers wat die Israeliete bring. Dit is ’n vaste instelling.