LEVITIKUS 25:13-55
LEVITIKUS 25:13-55 Bybel vir almal (ABA)
In hierdie Hersteljaar moet elkeen teruggaan na sy grond. Wanneer julle iets aan ander Israeliete verkoop of wanneer julle iets by hulle koop, dan moet julle nie mekaar laat swaarkry nie. Wanneer julle 'n stuk grond koop, dan moet julle tel hoeveel jaar verby is ná die Hersteljaar, en wanneer julle dit verkoop, dan moet julle tel hoeveel maal julle nog koring sal afsny tot die volgende Hersteljaar. As dit baie jare is, dan moet julle meer betaal, en as dit min jare is, dan moet julle minder betaal, want julle koop net die koring-oes tot die volgende Hersteljaar. Julle moenie mekaar laat swaarkry nie, julle moet julle God respekteer en dien. Ek is julle God die Here. Julle moet aanhou om te doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit. As julle dit doen, dan sal julle veilig woon in die land. Daar sal dan baie koring wees wat julle kan afsny. Julle sal meer as genoeg hê om te eet, en julle sal veilig woon in die land. Julle vra miskien: ‘Wat sal ons eet in die sewende jaar as ons nie mag saai of koring mag afsny nie?’ “Ek sal vir julle baie kos gee in die sesde jaar, die koring-oes sal genoeg wees vir drie jaar. Wanneer julle weer saai in die agste jaar, dan sal julle nog tot die negende jaar kan eet van die koring-oes in die sesde jaar. Julle mag nie grond verkoop sodat dit altyd aan die nuwe eienaar behoort nie, want die land behoort aan My, julle is vreemdelinge en bywoners by My. Iemand moet grond kan loskoop oral in julle land. As een van julle arm word en hy verkoop van sy grond, dan moet sy naaste losser kom en hy moet die grond loskoop wat sy familielid moes verkoop. Miskien het die persoon nie 'n losser nie, maar hy kry genoeg geld om homself los te koop. Dan moet hulle tel hoeveel jaar verby is nadat die persoon die grond verkoop het, en dan moet hy vir die persoon wat die grond gekoop het, betaal vir die jare wat oorbly tot die volgende Hersteljaar. Daarna kan hy teruggaan na sy grond. As die persoon nie genoeg geld kan kry om die grond terug te koop nie, dan moet die persoon wat die grond gekoop het, dit hou tot die volgende Hersteljaar. Dan moet die grond weer behoort aan die eerste persoon, en dan mag hy teruggaan na sy grond. “Wanneer iemand 'n huis verkoop in 'n stad wat mure het, dan kan hy die huis loskoop in die eerste jaar nadat hy dit verkoop het. As hy nie die huis terugkoop in die eerste jaar nie, dan kan die persoon wat dit gekoop het, en sy nageslag, die huis altyd hou. Die eerste eienaar kry nie weer die huis in die Hersteljaar nie. Daar is nie mure om party dorpe nie. Die huise in daardie dorpe staan in die veld. Die eerste eienaar van so 'n huis kry weer sy huis in die Hersteljaar. Leviete kan die huise in hulle stede altyd terugkoop. Wanneer 'n Leviet sy huis in 'n Levietestad verkoop het en hy kan dit nie loskoop voor die Hersteljaar nie, dan moet hy die huis terugkry in die Hersteljaar. Die huise in die Levietestede moet altyd aan die Leviete behoort. Die Leviete mag nie die weiveld rondom hulle stede verkoop nie, dit moet altyd aan hulle behoort. “Wanneer een van julle arm word en hy kan homself nie help nie, dan moet jy hom help om aan te hou lewe, hy moet soos 'n vreemdeling of 'n bywoner by jou woon. Jy moenie vir hom rente laat betaal wanneer jy vir hom geld leen nie, en as jy dit doen, dan moet jy hom nie te veel laat betaal nie. Jy moet jou God respekteer en jy moet die ander Israeliet help om aan te hou lewe. Jy moenie vir hom rente laat betaal wanneer jy vir hom geld leen nie, en wanneer jy vir hom kos gee, dan moet jy hom nie te veel laat betaal nie. Ek is julle God die Here, Ek het julle uit die land Egipte gebring om vir julle die land Kanaän te gee en om julle God te wees. “Wanneer een van julle so arm word dat hy homself aan jou moet verkoop, dan moet jy hom nie vir jou laat werk soos 'n slaaf nie. Hy moet vir jou soos 'n dagloner of 'n bywoner wees, en hy moet vir jou werk net tot die Hersteljaar. Dan mag hy en sy kinders weggaan van jou, hulle mag teruggaan na sy familie en na die grond wat aan sy voorvaders behoort het. Want die Israeliete is my dienaars wat Ek uit die land Egipte gebring het. Jy mag nie 'n Israeliet verkoop soos jy 'n slaaf verkoop nie. Jy moenie kwaai regeer oor 'n ander Israeliet nie, jy moet jou God respekteer. “Jy mag slawe en slavinne koop van die ander volke rondom julle en ook van die bywoners, die vreemdelinge by julle, en van hulle families wat in julle land gebore is. Julle mag slawe hê wat julle so gekry het, en julle kinders mag die slawe erf en hou so lank soos hulle lewe. Julle mag slawe hê wat julle so gekry het, maar julle mag nie kwaai oor ander Israeliete regeer nie. 'n Vreemdeling of 'n bywoner by julle het miskien genoeg geld, of 'n Israeliet word miskien so arm dat hy homself moet verkoop aan die vreemdeling of sy familie. Dan mag iemand die Israeliet loskoop. Een van sy broers moet hom loskoop, of sy oom of sy neef of 'n ander familielid moet hom loskoop, of as hy dit self kan doen, dan mag hy dit doen. Hy en die man wat hom gekoop het, moet tel hoeveel jare dit is vandat hy homself verkoop het en soos 'n dagloner vir die man gewerk het, tot die Hersteljaar, en dan moet hy betaal om vry te word. As dit baie jare is tot die Hersteljaar, dan moet hy baie betaal om vry te word. As daar nie baie jare oorbly tot die Hersteljaar nie, dan moet hy net betaal vir elke jaar. Hy moet wees soos 'n dagloner wat in daardie jare vir die vreemdeling gewerk het. Jy moet kyk dat die vreemdeling nie hard regeer oor die Israeliet nie. As iemand hom nie losgekoop het voor die tyd nie, dan moet hy en sy kinders vry word in die Hersteljaar. Dit is wat julle moet doen, want die Israeliete is my dienaars, Ek het hulle uit die land Egipte gebring. Ek is hulle God die Here.”
LEVITIKUS 25:13-55 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan. Daarom, as jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste koop, moet julle mekaar nie verdruk nie; volgens die getal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar 'n oes is, moet hy dit aan jou verkoop; volgens die groter aantal jare moet jy die koopprys daarvan vermeerder, en volgens die kleiner aantal jare moet jy die koopprys daarvan verminder, want hy verkoop aan jou die aantal oeste. Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God. En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land. En die land sal sy vrug gee, en julle sal volop eet en veilig daarin woon. En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie? — dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer. En in die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrings eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrings hiervan inkom, moet julle die oue eet. DIE grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is. Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat. As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het. En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing, moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan. Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan. En as iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet daar reg van lossing wees tot die end van die jaar dat dit verkoop is; 'n jaar lank moet daar reg van lossing wees. Maar as dit nie gelos word voordat 'n hele jaar verby is nie, moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir altyd die eiendom van sy koper bly vir sy geslagte; in die jubeljaar sal dit nie vry word nie. Maar die huise van die dorpe wat rondom geen muur het nie, moet by die veld van die land gereken word; daar moet reg van lossing voor wees en in die jubeljaar moet dit vry word. Wat die stede van die Leviete aangaan, die huise in die stede wat in hulle besit is — vir die Leviete moet daar 'n ewige reg van lossing wees. En as iemand van die Leviete dit sal los, moet die huis wat verkoop is, naamlik in die stad van sy besitting, in die jubeljaar vry word; want die huise in die stede van die Leviete is hulle besitting onder die kinders van Israel. En die weiveld om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is 'n ewige besitting vir hulle. En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos 'n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe. Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe. Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie, en jou eetware mag jy nie teen wins gee nie. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om julle die land Kanaän te gee, om julle God te wees. En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie. Soos 'n dagloner, soos 'n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien; dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan. Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos 'n mens 'n slaaf verkoop nie. Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees. Wat jou slaaf of jou slavin aangaan wat aan jou sal behoort — van die nasies wat rondom julle is, van hulle mag julle 'n slaaf of slavin koop. En ook van die kinders van die bywoners wat by julle vertoef — van hulle mag julle koop en van hulle geslag wat by julle is, wat hulle in julle land verwek het; en dié sal vir julle 'n besitting wees. En julle mag dié aan julle kinders ná julle nalaat as 'n erflike besitting; vir ewig mag julle hulle laat dien. Maar oor julle broers, die kinders van Israel, die een oor die ander — oor hom mag jy nie met hardheid heers nie. En as 'n vreemdeling of bywoner by jou vermoënd word, en jou broer by hom verarm en hy homself aan 'n vreemdeling of bywoner by jou verkoop, of aan 'n familielid uit die geslag van 'n vreemdeling, dan moet daar vir hom, nadat hy hom verkoop het, reg van lossing wees; een van sy broers kan hom los, of sy oom of sy oom se seun kan hom los, of een van sy naaste bloedverwante uit sy geslag kan hom los, of as hy dit kan bekostig, kan hy homself los. En hy moet met sy koper reken van die jaar af dat hy hom aan hom verkoop het, tot die jubeljaar toe. En die prys waarvoor hy hom verkoop het, moet wees volgens die aantal jare; soos 'n dagloner sal hy dan dié tyd by hom gewees het. As daar nog baie jare is, moet hy volgens hulle sy losprys uit die geld waarvoor hy gekoop is, teruggee; en as daar maar min jare tot die jubeljaar toe oor is, moet hy daarmee rekening hou; volgens dié jare moet hy sy losprys teruggee. Soos een wat van jaar tot jaar loonarbeider is, moet hy by hom wees; hy mag nie met hardheid oor hom voor jou oë heers nie. En as hy nie op dié wyse gelos word nie, moet hy in die jubeljaar vrygelaat word, hy en sy kinders saam met hom. Want die kinders van Israel is my knegte; my knegte is hulle wat Ek uit Egipteland uitgelei het. Ek is die HERE julle God.
LEVITIKUS 25:13-55 Afrikaans 1983 (AFR83)
“In die hersteljaar moet elkeen sy grond terugkry. Wanneer julle grond verkoop of koop, moet julle mekaar nie uitbuit nie. Die koop- of verkoopprys moet bepaal word volgens die aantal oeste wat die stuk grond kan oplewer tot die volgende hersteljaar. As dit lank voor die volgende hersteljaar is, moet die prys hoër wees, maar as daar min jare oor is, moet die prys laer wees, want in werklikheid word alleen die opbrengs tot die volgende hersteljaar verkoop. Uit eerbied vir julle God mag julle mekaar nie uitbuit nie. Ek is die Here julle God. “Julle moet my voorskrifte nakom en my bepalings gehoorsaam. As julle dit doen, sal julle sonder sorge in die land kan woon. Die grond sal goeie oeste lewer, en julle sal oorgenoeg hê om te eet sodat julle sonder sorge in die land kan woon. Julle kan julle miskien afvra waarvan julle elke sewende jaar moet leef, aangesien julle nie mag saai of 'n oes insamel nie. Ek sal aan julle oorvloed gee in die sesde jaar sodat die oes groot genoeg sal wees vir drie jaar. Wanneer julle in die agste jaar weer saai, sal julle nog steeds die oes van die sesde jaar gebruik. Julle sal selfs genoeg hê totdat julle in die negende jaar die oes insamel. “Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My. Verder moet die reg om grond terug te koop, oral en altyd geld. Wanneer 'n Israeliet deur armoede verplig was om van sy grond te verkoop, moet die naaste manlike familielid dit vir die eienaar terugkoop. Wanneer daar nie iemand is wat dit kan terugkoop nie, kan dit gebeur dat die persoon later self genoeg geld bymekaarmaak om die grond terug te koop. Die aantal jare wat verloop het sedert die kooptransaksie moet dan in berekening gebring word en die oorspronklike eienaar moet die koper slegs uitbetaal vir die seisoene wat nog oor is tot die volgende hersteljaar. Die oorspronklike eienaar kan dan weer sy grond in besit neem. As hy egter nie genoeg geld bymekaarkry om die grond terug te koop nie, bly die koper in beheer daarvan tot die volgende hersteljaar. In die hersteljaar moet hy die grond ontruim en die oorspronklike eienaar moet dan weer sy grond in besit neem. “Wanneer iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet hy 'n volle jaar lank die reg behou om dit terug te koop. As hy nie binne een jaar van hierdie reg gebruik maak nie, verval sy aanspraak op die betrokke huis en word dit die wettige eiendom van die koper en sy erfgename. 'n Woonhuis in 'n ommuurde stad val dus nie terug in die hersteljaar nie. Woonhuise in dorpe wat nie mure om het nie, geld as deel van die platteland: die oorspronklike eienaar het die reg om dit enige tyd terug te koop, en in die hersteljaar val dit terug na hom. In die Levietestede het die Leviete die onvervreembare reg om woonhuise waarvan hulle die oorspronklike eienaars was, terug te koop. Wanneer 'n Leviet 'n huis wat hy in 'n Levietestad gekoop het, terugverkoop aan die oorspronklike eienaar wat nie 'n Leviet is nie, moet die huis in die hersteljaar terugval na die Leviet, want die huise in die Levietestede moet in Israel die eiendom van die Leviete wees. Die weiveld om die Levietestede mag nooit verkoop word nie, want die Leviete het 'n onvervreembare reg daarop. “Wanneer 'n mede-Israeliet só in die skuld raak by jou dat hy nie kan betaal nie, moet jy hom help soos jy 'n vreemdeling of 'n bywoner sou help, en hom by jou aan die lewe hou. Jy mag hom geen rente van enige aard laat betaal nie. Uit eerbied vir jou God moet jy jou mede-Israeliet by jou aan die lewe hou. As jy aan hom geld leen, moet dit dus rentevry wees, en as jy aan hom kos verskaf, moet dit teen kosprys wees. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het om Kanaän aan julle te gee en om julle God te wees. “Wanneer 'n mede-Israeliet in jou omgewing só in die skuld raak dat hy hom aan jou verkoop as slaaf, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie. Jy moet hom soos 'n dagloner of soos 'n bywoner behandel. Hy moet tot die hersteljaar in jou diens bly. Dan moet hy en sy afhanklikes as vry mense teruggaan na hulle familie en hulle familiegrond toe. Omdat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het, is hulle my dienaars. Daarom mag hulle nie as slawe aan iemand verkoop word nie. Uit eerbied vir julle God mag julle ook nie so 'n mede-Israeliet hard behandel nie. Julle moet die slawe en slavinne wat julle nodig het, by die nasies rondom julle koop. Julle mag ook die kinders van bywoners koop wat tydelik tussen julle woon of van bywonerfamilies wat al geslagte in die land is. Sulke slawe is julle wettige eiendom wat deur julle aan julle kinders bemaak kan word as besittings en wat lewenslank hulle slawe sal wees. Julle mag egter nooit van julle mede-Israeliete slawe maak nie. “Wanneer 'n vreemdeling of 'n bywoner in julle land ryk word, en 'n mede-Israeliet raak by so iemand in die skuld sodat hy hom as slaaf moet verkoop aan die nie-Israeliet of dié se nageslag, het die Israeliet die reg om vrygekoop te word. Een van sy broers of 'n oom of 'n neef of 'n ander manlike familielid kan hom vrykoop. As so 'n slaaf genoeg geld bymekaarkry, kan hy homself vrykoop. In so 'n geval moet die bedrag waarteen hy as slaaf verkoop is en die getal jare van die tyd af dat hy verkoop is tot die volgende hersteljaar toe, in berekening gebring word. Hy moet dan krediet ontvang vir die jare wat hy reeds diens gedoen het en as dagloner sy skuld afgewerk het. As dit lank voor die hersteljaar is, sal die vrykoopprys dus 'n groot deel van die oorspronklike verkoopprys uitmaak. As daar net 'n paar jaar oor is voor die hersteljaar, sal die vrykoopprys slegs 'n klein deeltjie van die oorspronklike verkoopprys wees. Hy het soos 'n dagloner jaar na jaar vir die nie-Israeliet gewerk. Jy moet sorg dat hy nie hard behandel word nie. As hy nie voor die tyd vrygekoop word nie, moet hy en sy afhanklikes vrygelaat word in die hersteljaar. Dit moet gedoen word omdat die Israeliete my dienaars is. Hulle is my dienaars omdat Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.”
LEVITIKUS 25:13-55 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘In hierdie jubeljaar moet elkeen van julle terugkeer na sy erfgrond. Wanneer julle iets aan 'n volksgenoot verkoop of uit die hand van 'n volksgenoot iets koop, mag julle mekaar nie uitbuit nie. Jy moet van jou volksgenoot koop volgens die getal jare ná die jubeljaar; ja, volgens die getal oesjare moet hy aan jou verkoop. Hoe meer die jare wat oorbly, hoe hoër sy koopprys; hoe minder die jare wat oorbly, hoe laer sy koopprys, want die getal oeste is wat hy aan jou verkoop. Julle volksgenote mag mekaar nie uitbuit nie. Jy moet ontsag hê vir jou God, want Ek, die HERE, is julle God. “ ‘ Julle moet my vaste voorskrifte uitvoer en my beslissings moet julle nakom. Voer dit uit sodat julle veilig kan woon op die grond. Die grond sal sy vrug lewer en julle sal meer as genoeg eet en veilig daarop woon. En as julle vra: “Maar wat moet ons in die sewende jaar eet, as ons dan nie mag saai en ons oes insamel nie?” In die sesde jaar sal Ek oor julle my seën gebied en dit sal 'n opbrengs vir drie jaar lewer. In die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrengs eet tot die negende jaar; tot daardie jaar se oes inkom, sal julle die ou opbrengs eet. “ ‘ Die grond mag nie onherroeplik verkoop word nie, want aan My behoort die grond. Ja, julle is •vreemdelinge en bywoners by My. Met enige grond wat julle geërf het, moet julle die terugkoop van die grond toestaan. “ ‘ Wanneer jou broer verarm en van sy erfgrond moes verkoop, moet sy losser wat die naaste aan hom is, kom en die verkoopte deel van sy familielid loskoop. Wanneer iemand nie 'n losser het nie en hy kan dit bekostig wanneer hy genoeg bymekaargemaak het vir die terugkoop, moet hy die jare bereken vandat dit verkoop is en die balans teruggee aan die man aan wie hy dit verkoop het. Hy moet dan terugkeer na sy erfgrond. As hy egter nie genoeg bymekaar kan maak om dit aan hom terug te gee nie, bly die deel wat verkoop is in die besit van die een wat dit gekoop het tot die jubeljaar. In die jubeljaar moet dit loskom en mag die man na sy erfgrond terugkeer. “ ‘Wanneer iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, sal die reg van terugkoop geld totdat 'n jaar verloop het ná die verkoop daarvan. Die reg van terugkoop sal vir 'n volle jaar geld. As dit egter nie losgekoop word voordat 'n volle jaar verloop het nie, word die huis wat in die ommuurde stad is, onherroeplik oorgedra na die een wat dit gekoop het vir sy nageslag. Dit kom nie los in die jubeljaar nie. Huise in dorpies wat nie 'n muur rondom het nie, moet as deel van die saailande van die omgewing gereken word. Die reg van terugkoop moet daarvoor geld en in die jubeljaar kom dit los. “ ‘ Wat die stede van die Leviete betref: Vir die huise in die stede wat hulle erfdeel is, sal die reg van terugkoop altyd vir die Leviete geld. Wanneer een van die Leviete so 'n huis loskoop, moet die verkoopte huis loskom in die jubeljaar, al is dit in die stad waar hy 'n erfdeel het. Die huise in die stede van die Leviete is immers hulle erfdeel onder die Israeliete. Die weiveld van hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is vir altyd hulle erfgrond. “ ‘ Wanneer jou broer verarm en by jou in die skuld raak, moet jy hom ondersteun soos 'n vreemdeling en bywoner, sodat hy by jou kan leef. Moenie van hom rente eis of uit hom wins maak nie; jy moet vir jou God ontsag hê en jou familielid moet by jou leef. Jou geld mag jy nie vir hom teen rente gee nie en van jou kos mag jy nie vir hom teen wins gee nie. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het om aan julle die land Kanaän te gee, om vir julle 'n God te wees. “ ‘ Wanneer jou broer wat by jou is, verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie. Soos 'n dagloner, soos 'n bywoner moet hy by jou wees. Tot die jubeljaar moet hy by jou werk, maar dan moet hy en sy kinders saam met hom, vry van jou af weggaan. Hy moet terugkeer na sy familie, na die erfgrond van sy voorouers moet hy teruggaan, want hulle is my slawe wat Ek uit Egipteland laat wegtrek het. Hulle mag nie as slawe verkoop word nie. Jy mag hom nie aan geweld onderwerp nie. Jy moet ontsag hê vir jou God. “ ‘ Wat betref jou slawe en slavinne wat jy nodig het – uit die nasies om julle, uit hulle mag julle slawe en slavinne koop; en ook van die kinders van bywoners wat by julle verblyf het, uit hulle en hulle families wat by julle is, mag julle die kinders wat hulle in julle land verwek het, koop. Hulle is dan julle erflike eiendom. Julle mag hulle aan julle kinders ná julle nalaat as erflike besit. Julle mag hulle vir altyd slawewerk laat doen. Maar wat julle broers die Israeliete betref, die een mag nie die ander aan geweld onderwerp nie. “ ‘Wanneer 'n vreemdeling of bywoner by jou besittings bymekaarmaak en jou broer verarm by hom en verkoop homself aan 'n vreemdeling, 'n bywoner by jou, of aan 'n nasaat van 'n familie vreemdelinge, dan behou hy die reg van terugkoop nadat hy verkoop is. Een van sy broers moet hom loskoop; of sy oom of sy neef aan vaderskant moet hom loskoop; of 'n bloedverwant uit sy familie moet hom loskoop; of hy maak dalk genoeg bymekaar sodat hy homself kan loskoop. Hy moet dan, saam met die een wat hom gekoop het, die jare bereken vanaf die jaar wat hy aan hom verkoop is tot die volgende jubeljaar. Die geldwaarde van sy verkoopprys moet ooreenstem met die getal jare, asof hy in dié tyd 'n dagloner by die man was. As daar nog baie jare oor is, moet hy in ooreenstemming daarmee van die geld waarvoor hy gekoop is, terugbetaal vir sy loskoop. Maar as daar min jare oor is tot die jubeljaar, moet hy dit bereken. Ooreenkomstig daardie jare moet hy terugbetaal vir sy loskoop. Soos 'n dagloner moet hy jaar ná jaar by hom wees. Hy mag hom nie geweld aandoen terwyl julle toekyk nie. En as hy nie op hierdie manier losgekoop word nie, moet hy in die jubeljaar vry weggaan, hy en sy kinders saam met hom, want aan My behoort die Israeliete as slawe. Hulle is my slawe wat Ek uit Egipteland laat wegtrek het. Ek is die HERE julle God.’ ”
LEVITIKUS 25:13-55 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die jaar van hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan. En as jy iets aan jou naaste verkoop of iets uit jou naaste se hand koop, mag julle mekaar nie verdruk nie. Volgens die aantal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop, en volgens die aantal jare van die vrugte wat hy aan jou moet verkoop; Volgens die menigte van jare moet jy die prys daarvan vermeerder, en na die geringheid van jare moet jy die prys daarvan verminder; want volgens die getal van die jare van die vrugte verkoop hy aan jou. Julle mag mekaar dan nie verdruk nie; maar jy moet jou God vrees, want Ek is die HERE jou God. Daarom moet julle my insettinge doen en my verordeninge onderhou en dit doen; en julle sal veilig in die land woon. En die land sal sy vrugte gee, en julle sal versadig eet en veilig daarin woon. En as julle sê: Wat sal ons in die sewende jaar eet? kyk, ons sal nie saai en ons opbrings nie insamel nie; Dan sal Ek my seën oor jou gebied in die sesde jaar, en dit sal drie jaar lank vrugte dra. En julle moet in die agtste jaar saai en nog van ou vrugte eet tot die negende jaar toe; totdat sy vrugte inkom, moet julle van die ou voorraad eet. Die grond sal nie vir ewig verkoop word nie, want die land is myne; want julle is vreemdelinge en bywoners by My. En in die hele land van julle besitting moet julle die land loskoop. As jou broer arm geword het en van sy besitting verkoop het, en as iemand van sy familie kom om dit los te koop, moet hy loskoop wat sy broer verkoop het. En as die man niemand het om dit te los nie, en self in staat is om dit te los; Laat hy dan die jare van die verkoop daarvan tel en die oorskot teruggee aan die man aan wie hy dit verkoop het; dat hy na sy besitting kan terugkeer. Maar as hy dit nie aan hom kan teruggee nie, moet wat verkoop is, in die hand van hom bly wat dit gekoop het tot die jubeljaar; en in die jubeljaar moet dit uitgaan, en hy moet na sy besitting terugkeer. En as iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet hy dit binne 'n hele jaar nadat dit verkoop is, loskoop; binne 'n volle jaar mag hy dit los. En as dit nie binne 'n volle jaar gelos word nie, dan moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir ewig vasstaan vir hom wat dit gekoop het in sy geslagte; dit mag nie in die jubeljaar uitgaan nie. Maar die huise van die dorpe wat geen muur rondom het nie, moet gereken word as die veld van die land; hulle kan losgekoop word, en hulle moet in die jubeljaar uittrek. Nieteenstaande die stede van die Leviete en die huise van die stede van hulle besitting, mag die Leviete te eniger tyd loskoop. En as iemand van die Leviete koop, moet die huis wat verkoop is en die stad van sy besitting in die jubeljaar uitgaan; want die huise van die stede van die Leviete is hulle besitting onder die kinders van Israel. Maar die grond van die weiveld van hulle stede mag nie verkoop word nie; want dit is hulle ewige besit. En as jou broer arm word en saam met jou in verval geraak het; dan moet jy hom uitlos; ja, al is hy 'n vreemdeling of 'n bywoner; dat hy by jou kan woon. Neem geen rente van hom of vermeerder nie; maar vrees jou God; dat jou broer by jou kan woon. Jy mag hom nie jou geld op woeker gee nie, en jy mag hom nie jou lewensmiddele leen om te vermeerder nie. Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland uitgelei het om aan jou die land Kanaän te gee en om jou God te wees. En as jou broer wat by jou woon, arm word en aan jou verkoop word; jy mag hom nie dwing om as slaaf te dien nie. Maar as 'n dagloner en as 'n bywoner moet hy by jou wees en jou dien tot die jubeljaar. En dan sal hy van jou weggaan, hy en sy kinders saam met hom, en na sy familie teruggaan, en na die besitting van sy vaders terug. Want hulle is my dienaars wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie as slawe verkoop word nie. Jy mag nie met strengheid oor hom heers nie; maar jy moet jou God vrees. Jou slawe sowel as jou slavinne wat jy sal hê, moet uit die nasies wees wat rondom jou is; van hulle moet julle slawe en slavinne koop. En van die kinders van die vreemdelinge wat onder julle vertoef, van hulle moet julle koop en van hulle geslagte wat by julle is wat hulle in julle land verwek het; en hulle sal julle besitting wees. En julle moet dit as 'n erfdeel vir julle kinders ná julle neem, om hulle as 'n besitting te erf; hulle sal vir ewig julle slawe wees; maar oor julle broers, die kinders van Israel, mag julle nie met hardheid oor mekaar heers nie. En as 'n bywoner of vreemdeling by jou ryk word, en jou broer wat by hom woon, arm word en homself aan die vreemdeling of bywoner by jou of aan die stam van die vreemdeling se familie verkoop, Nadat hy verkoop is, kan hy weer losgekoop word; een van sy broers mag hom loskoop: Of sy oom, of sy oom se seun, mag hom los, of enigeen van sy familie wat aan hom familie is, kan hom los; of as hy in staat is, kan hy homself loskoop. En hy moet met hom wat hom gekoop het, afreken van die jaar dat hy aan hom verkoop is tot die jubeljaar; en die prys van sy koop moet wees volgens die aantal jare, volgens die tyd van 'n dagloner met hom. As daar nog baie jare agter is, moet hy volgens hulle die prys van sy loskoop weer gee uit die geld waarvoor hy gekoop is. En as daar maar min jare oor is tot die jubeljaar, dan moet hy saam met hom reken, en volgens sy jare moet hy hom die prys van sy loskoop teruggee. En soos 'n jaarlikse dagloner sal hy by hom wees, en die ander een sal nie met strengheid oor hom heers voor jou oë nie. En as hy in hierdie jare nie losgekoop word nie, moet hy in die jubeljaar uitgaan, hy sowel as sy kinders saam met hom. Want vir my is die kinders van Israel dienaars; hulle is my dienaars wat Ek uit Egipteland uitgelei het: Ek is die HERE jou God.
LEVITIKUS 25:13-55 Die Boodskap (DB)
In die hersteljaar kan elkeen teruggaan na die grond wat hy vantevore besit het. As julle in ander jare grond aan mekaar verkoop of van mekaar koop, moet julle mekaar nie verkul nie. As jy by iemand grond koop, moet jy uitreken hoeveel jare al verbygegaan het na die laaste hersteljaar. As jy dit aan ’n ander verkoop, moet jy bereken hoeveel jare se oes daar nog oor is na die volgende hersteljaar toe. Hoe meer jare oor is, hoe hoër is die koopprys. As daar minder jare oor is, is die verkoopprys soveel minder. Eintlik is dit nie grond wat jy koop en verkoop nie, maar die aantal oeste wat dit kan oplewer. Uit respek vir jou God moet julle mekaar nie bedrieg nie. Ek is tog die Here, julle al twee se God. “Hou by die reëls wat Ek gegee het. Volg my voorskrifte en lewe volgens hulle. Julle sal dan in die land kan bly sonder dat daar iets is wat julle bangmaak. Die land sal goeie oeste gee. Julle sal altyd genoeg kos hê om te eet tot julle genoeg gehad het. Julle sal hier woon sonder bekommernis. “Moenie staan en wonder waar julle kos gaan kry in die sewende jaar as julle nie mag saai of die oes mag insamel nie. Ek sal julle in die sesde jaar so voorspoedig maak en die oes so groot laat wees dat dit drie jaar lank sal hou. Julle sal in die agtste jaar saai, maar nog steeds kan eet van die oes wat in die sesde jaar ingekom het. Julle sal selfs daarvan kan eet tot die oes van die graan wat julle in die agtste jaar gesaai het, eers teen die negende jaar begin inkom. “Grond mag nooit vir altyd verkoop word nie, want dit behoort eintlik aan My. Julle is bloot vreemdelinge en mense wat tydelik op my grond bly. Wanneer en waar ook al julle in die land grond verkoop, moet daar altyd ooreengekom word dat die oorspronklike eienaar dit kan terugkoop. Wanneer een van jou landgenote bankrot speel en sy erfgrond moet verkoop om sy skuld te betaal, moet sy naaste familielid kom en dit vir hom terugkoop. As iemand nie so ’n familielid het nie, en hy kry dit reg om self genoeg geld bymekaar te kry om sy grond terug te koop, moet hy uitwerk hoeveel tyd verbygegaan het vandat hy die grond verkoop het en hoeveel gebruiksjare daar nog vir die koper oor is tot die volgende hersteljaar. Sodra hy betaal het, kan hy weer teruggaan na sy grond toe. As hy nie genoeg geld bymekaar kan kry nie, bly die grond in besit van die een wat dit gekoop het tot by die hersteljaar. In die hersteljaar mag die oorspronklike eienaar teruggaan na sy eiendom. “Iemand wat ’n woonhuis in ’n stad verkoop wat ’n veilige muur om het, behou vir een volle jaar die reg om dit terug te koop. As hy nie sy reg om terug te koop binne daardie jaar gebruik nie, word die huis die permanente eiendom van die koper. Dit word deel van sy boedel. Dit word nie teruggegee in die hersteljaar nie. Huise in dorpe wat geen veiligheidsmuur om het nie, is deel van die platteland. Die persoon wat dit verkoop het, mag dit terugkoop. In die hersteljaar gaan dit terug na sy oorspronklike eienaar. “Leviete het vir altyd die reg om in die stede wat aan hulle behoort die huise wat hulle verkoop het, terug te koop. ’n Huis in ’n Levietestad wat verkoop is, maar nie teruggekoop is nie, moet gedurende die hersteljaar teruggaan na sy oorspronklike Levitiese eienaar toe. Die huise in Levitiese stede is die permanente eiendom van die Leviete in Israel. Die weivelde in die buitewyke van hulle stede is nie te koop nie. Dit is hulle onvervreembare erfgrond.” “As een van die ander Israeliete agteruit begin boer en hy raak so diep in die skuld dat hy nie meer daar kan uitkom nie, moet jy hom help. Staan hom by soos jy iemand wat van ’n ander land af kom, of iemand wat by jou woon, sou help om aan die lewe te bly. Jy moenie rente vra of heffings bysit by die geld wat hy van jou geleen het nie. Uit respek vir jou God moet jy na hom omsien. Jy moenie rente vra op die geld wat jy vir hom leen nie. Jy moet ook nie vir hom kos gee en ekstra geld daarvoor vra nie. Ek is tog die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het, juis om Kanaän aan julle te gee om dit te besit en om julle God te wees. “As ’n ander Israeliet so diep in die skuld raak dat hy verplig word om homself as ’n slaaf aan jou te verkoop om sy skuld te betaal, moet jy hom nie soos ’n slaaf behandel en hom slawewerk laat doen nie. Jy moet hom behandel soos iemand wat tydelik in jou diens is, of soos ’n werknemer wat in jou huis woon. Laat hy in jou diens bly tot in die hersteljaar. Hy en sy kinders moet dan van jou af weggaan en as vry mense terugkeer na hulle familie en hulle erfgrond toe. Die mense wat Ek uit Egipte laat wegtrek het, dien net vir My. Hulle mag nooit aan ander mense as slawe verkoop word nie. Omdat jy ontsag moet hê vir jou God, mag jy nie hardhandig baasspeel oor dié wat vir jou werk nie. “Jy mag wel manlike of vroulike slawe besit wat vir jou werk. Jy moet hulle by julle buurvolke gaan koop. Jy mag ook die kinders van buitelandse werkers wat by jou woon en die kinders van hulle families wat in jou land gebore is, vir slawe aankoop. Hulle word deel van jou roerende goedere. Jy kan hulle in jou testament aan jou kinders bemaak as hulle eiendom. Hulle is lewenslank hulle slawe. Een Israeliet mag egter nie ’n ander Israeliet met geweld oorheers nie. “As ’n buitelander, of iemand wat met ’n werkspermit by julle woon, so ryk word dat ’n ander Israeliet naderhand so diep in die skuld by hom raak dat hy homself as slaaf aan daardie persoon moet aanbied, bly dit steeds moontlik dat hy vrygekoop kan word. ’n Ander Israeliet, sy oom of sy neef of enige van sy ander familielede kan hom loskoop en sy skuld kom betaal. Hy mag selfs ook die geld iewers in die hande kry om homself uit sy skuld uit te koop. Hy en sy eienaar moet die bedrag bereken volgens die betaling wat ’n dagwerker kry. Hulle trek dan die jare diens wat hy reeds gelewer het sedert hulle die ooreenkoms gesluit het af van die jare diens wat hy nog moet lewer tot die volgende hersteljaar toe. Hoe meer jare daar nog oor is tot by die hersteljaar, hoe groter is die bedrag wat hy moet betaal. As daar maar net ’n paar jaar oor is voor die hersteljaar, sal die aflosbedrag baie kleiner wees. Die buitelander moet hom behandel soos ’n huurarbeider wie se kontrak jaarliks hernu word. Julle moet toesien dat hy nie die Israeliet gewelddadig behandel nie. As hy nie voor die tyd op die een of ander manier losgekoop is nie, moet hy en sy kinders in elk geval in die hersteljaar vrygestel word. “Die Israeliete werk vir My. Ek het hulle uit Egipte laat wegtrek sodat hulle My kan dien. Ek is julle God, die Here.”
LEVITIKUS 25:13-55 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gedurende die Jubeljaar moet elkeen van julle terugkeer na die land wat aan julle voorouers behoort het. “Wanneer julle ’n ooreenkoms met ’n buurman aangaan om grond te koop of te verkoop, mag julle mekaar nooit uitbuit nie. Wanneer julle grond van ’n buurman koop, moet die prys van die grond gebaseer word op die aantal jare sedert die laaste Jubeljaar. Die verkoper sal ’n prys vra op grond van die aantal oesjare wat nog oor is tot die volgende Jubeljaar. Hoe groter die aantal jare voor die hersteljaar, hoe hoër die prys. Hoe minder die aantal jare, hoe laer die prys. Die verkoper van die grond verkoop mos eintlik ’n sekere aantal oeste. Wys julle eerbied vir God deur mekaar nie uit te buit nie. Ek, die HERE, is julle God. “As julle veilig in die land wil woon, hou my gebooie en gehoorsaam my reëlings. Dan sal die land goeie oeste lewer, julle sal goed eet en veilig in die land leef. Julle kan miskien vra: ‘Wat sal ons gedurende die sewende jaar eet, aangesien ons in daardie jaar niks mag plant of oes nie?’ Die antwoord is: ‘Ek sal my seën oor julle gebied stuur in die sesde jaar sodat die land ’n baie goeie oes oplewer, genoeg om julle vir drie jaar lank te onderhou. Wanneer julle weer saad plant in die agtste jaar, sal julle nog steeds van die opbrengs van die vorige jaar eet. Julle sal nog steeds van die ou oes kan eet totdat die nuwe oes eers in die negende jaar kom.’ “Onthou dat die land nooit op ’n permanente basis verkoop mag word nie, want eintlik behoort die land aan My. Julle is eintlik net vreemdelinge en huurders wat by My bly.” “Met elke grondtransaksie moet dit gestipuleer word dat die grond weer te eniger tyd teruggekoop mag word. As enige van julle Israelitiese familielede bankrot speel en so gedwing word om van die geërfde grond te verkoop, mag ’n naby familielid – ’n losser – die grond vir hom terugkoop. As daar niemand van sy familie is om die grond terug te koop nie, maar die persoon wat dit verkoop het, slaag daarin om genoeg geld in die hande te kry om die grond terug te koop, het die persoon die reg om die grond terug te koop van die persoon wat dit aanvanklik gekoop het. Die prys van die grond sal baseer word op die aantal jare tot die volgende Jubeljaar. Nadat die grond teruggekoop is, mag die oorspronklike eienaar terugkeer na sy grond toe. As die oorspronklike eienaar egter nie kan bekostig om die grond terug te koop nie, sal dit tot die volgende Jubeljaar aan die nuwe eienaar behoort. In die Jubeljaar sal die grond dan teruggegee word aan die oorspronklike eienaar. “As iemand ’n huis binne ’n ommuurde stad verkoop, het hy nog vir ’n jaar lank die reg om dit terug te koop. Gedurende dié tyd het die verkoper die reg om dit terug te koop. As die huis nie binne ’n jaar teruggekoop word nie, word die huis binne ’n ommuurde stad die permanente eiendom van die koper. Dit word dan nie in die Jubeljaar aan die oorspronklike eienaar terugbesorg nie. ’n Huis in ’n dorp – dit beteken ’n nedersetting sonder versterkte mure – word op dieselfde manier as eiendom in die oop veld beskou. So ’n huis mag te eniger tyd teruggekoop word en moet dan aan die oorspronklike eienaar terugbesorg word in die Jubeljaar. “Die Leviete behou altyd die reg om ’n huis wat hulle in die stad verkoop het, weer terug te koop. Enige eiendom wat deur die Leviete teruggekoop kan word – dit wil sê alle huise in Levitiese stede – moet aan hulle terugbesorg word in die Jubeljaar. Die Levitiese stede is tog die enigste eiendom wat hulle in Israel mag besit. Die strook weiveld om elk van die Levitiese stede mag nooit verkoop word nie. Dit is hulle permanente eiendom.” “Wanneer enigeen van julle mede-Israeliete in armoede verval en van jou afhanklik raak, sorg vir hulle soos wat julle vir ’n vreemdeling sou sorg en laat hulle toe om by julle te bly. Moenie wins uit hom maak of rente hef op die geld wat julle vir hulle leen nie. Wys julle vrees vir God deur hulle by julle te laat bly as julle bloedverwante. Onthou, julle mag nie julle bloedverwante rente vra op enigiets wat julle aan hulle leen nie, of dit nou kos of geld is. Ek, die HERE, is julle God wat julle uit Egipte gebring het om aan julle hierdie land te gee en om julle God te wees. “As enigeen van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself as slawe aan julle moet verkoop, moet hulle nie as slawe behandel nie. Behandel hulle eerder soos gehuurde werkers of soos vreemdelinge wat by julle bly. Hulle sal in julle diens wees tot die Jubeljaar toe. Hulle en hulle kinders het dan geen verpligting teenoor julle nie en kan terugkeer na hulle familiegroep en eiendom toe. Die volk Israel is in my diens, dit is vir hulle wat Ek uit die land Egipte gebring het. Hulle mag dus nooit weer as slawe verkoop word nie. Wys julle respek vir God deur hulle goed te behandel. Moenie julle gesag oor hulle op ’n harde manier uitoefen nie. “Julle mag slawe of slavinne koop van die nasies wat rondom julle bly. Julle mag ook die kinders koop van die mense wat tydelik tussen julle bly, ook dié wat in julle land gebore is. Julle mag hulle as julle eiendom behandel en hulle selfs aan julle kinders bemaak as ’n wettige erfporsie. Julle mag julle slawe so behandel, maar die volk Israel, julle bloedverwante, mag nooit so behandel word nie. “As ’n vreemdeling wat onder julle woon sou ryk word, en as een van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself verkoop aan so ’n vreemdeling, behou hulle nog steeds die reg om teruggekoop te word. Hulle mag deur ’n naby familielid – ’n oom, ’n neef of enige ander naby familielid – teruggekoop word. Hulle mag hulleself ook vrykoop as hulle die geld het. “Die prys vir hulle vryheid sal bepaal word deur die aantal jare wat oor is tot by die volgende Jubeljaar – dit wil sê, hoeveel dit sal kos om vir daardie bepaalde tydsduur ’n slaaf te huur. As daar nog baie jare oor is, sal die verkoopprys ’n groot deel van die oorspronklike koopprys wees. As daar nie baie jare oor is nie, sal hulle ’n kleiner bedrag vir hulle vryheid moet betaal. “Die vreemdeling moet hulle as werkers wat volgens ’n jaarkontrak werk, behandel. Julle mag nie toelaat dat ’n vreemdeling julle mede-Israeliete hard behandel nie. As enige van die Israeliete nog nie teruggekoop is teen die tyd van die Jubeljaar nie, moet hulle en hulle kinders in die Jubeljaar vrygelaat word. Die volk Israel is my dienaars wat Ek uit die land Egipte gebring het. Ek, die HERE, is julle God.”