LEVITIKUS 25:1-46

LEVITIKUS 25:1-46 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het op Sinai-berg vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee, dan moet elke sewende jaar 'n Sabbatsjaar wees. Julle moet ses jaar lank in julle koringlande en in julle wingerde werk en julle moet elke jaar die koring-oes en die druiwe bymekaarmaak. Maar die sewende jaar moet 'n spesiale rustyd vir die land wees, dit is 'n Sabbatsjaar vir die Here. Dan mag julle nie in julle lande en in julle wingerde werk nie. Julle mag nie die koring en gars afsny wat self begin groei nie en julle mag nie die druiwe pluk wat aan die ranke van julle wingerde groei nie. Dit is 'n jaar wanneer die land moet rus. Julle en julle slawe en julle slavinne en dagloners en julle bywoners moet in die Sabbatsjaar eet wat daar in die land is. Julle diere en die wilde diere moet ook eet van alles wat daar in die land is, daar sal genoeg kos vir julle almal wees.” “Jy moet sewe groepe van sewe jaar tel, jy moet sewe maal sewe jaar tel, dit is 49 jaar. Dan moet jy op die tiende dag van die sewende maand, op Versoendag, oral in die land op die ramshoring blaas. Julle moet die vyftigste jaar wy en julle moet vir almal wat in die land woon, sê dat hulle vry kan word. Dit moet vir julle die Hersteljaar wees. Elkeen moet teruggaan na sy grond en sy familie. Die vyftigste jaar moet vir julle 'n Hersteljaar wees. Julle moenie saai nie en julle moenie die koring en die gars afsny wat self begin groei nie. Julle moet ook nie die druiwe aan die ranke van die wingerde pluk nie, want dit is 'n Hersteljaar, dit is vir julle 'n gewyde jaar. Julle moet eet van die kos wat daar in die veld is. In hierdie Hersteljaar moet elkeen teruggaan na sy grond. Wanneer julle iets aan ander Israeliete verkoop of wanneer julle iets by hulle koop, dan moet julle nie mekaar laat swaarkry nie. Wanneer julle 'n stuk grond koop, dan moet julle tel hoeveel jaar verby is ná die Hersteljaar, en wanneer julle dit verkoop, dan moet julle tel hoeveel maal julle nog koring sal afsny tot die volgende Hersteljaar. As dit baie jare is, dan moet julle meer betaal, en as dit min jare is, dan moet julle minder betaal, want julle koop net die koring-oes tot die volgende Hersteljaar. Julle moenie mekaar laat swaarkry nie, julle moet julle God respekteer en dien. Ek is julle God die Here. Julle moet aanhou om te doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit. As julle dit doen, dan sal julle veilig woon in die land. Daar sal dan baie koring wees wat julle kan afsny. Julle sal meer as genoeg hê om te eet, en julle sal veilig woon in die land. Julle vra miskien: ‘Wat sal ons eet in die sewende jaar as ons nie mag saai of koring mag afsny nie?’ “Ek sal vir julle baie kos gee in die sesde jaar, die koring-oes sal genoeg wees vir drie jaar. Wanneer julle weer saai in die agste jaar, dan sal julle nog tot die negende jaar kan eet van die koring-oes in die sesde jaar. Julle mag nie grond verkoop sodat dit altyd aan die nuwe eienaar behoort nie, want die land behoort aan My, julle is vreemdelinge en bywoners by My. Iemand moet grond kan loskoop oral in julle land. As een van julle arm word en hy verkoop van sy grond, dan moet sy naaste losser kom en hy moet die grond loskoop wat sy familielid moes verkoop. Miskien het die persoon nie 'n losser nie, maar hy kry genoeg geld om homself los te koop. Dan moet hulle tel hoeveel jaar verby is nadat die persoon die grond verkoop het, en dan moet hy vir die persoon wat die grond gekoop het, betaal vir die jare wat oorbly tot die volgende Hersteljaar. Daarna kan hy teruggaan na sy grond. As die persoon nie genoeg geld kan kry om die grond terug te koop nie, dan moet die persoon wat die grond gekoop het, dit hou tot die volgende Hersteljaar. Dan moet die grond weer behoort aan die eerste persoon, en dan mag hy teruggaan na sy grond. “Wanneer iemand 'n huis verkoop in 'n stad wat mure het, dan kan hy die huis loskoop in die eerste jaar nadat hy dit verkoop het. As hy nie die huis terugkoop in die eerste jaar nie, dan kan die persoon wat dit gekoop het, en sy nageslag, die huis altyd hou. Die eerste eienaar kry nie weer die huis in die Hersteljaar nie. Daar is nie mure om party dorpe nie. Die huise in daardie dorpe staan in die veld. Die eerste eienaar van so 'n huis kry weer sy huis in die Hersteljaar. Leviete kan die huise in hulle stede altyd terugkoop. Wanneer 'n Leviet sy huis in 'n Levietestad verkoop het en hy kan dit nie loskoop voor die Hersteljaar nie, dan moet hy die huis terugkry in die Hersteljaar. Die huise in die Levietestede moet altyd aan die Leviete behoort. Die Leviete mag nie die weiveld rondom hulle stede verkoop nie, dit moet altyd aan hulle behoort. “Wanneer een van julle arm word en hy kan homself nie help nie, dan moet jy hom help om aan te hou lewe, hy moet soos 'n vreemdeling of 'n bywoner by jou woon. Jy moenie vir hom rente laat betaal wanneer jy vir hom geld leen nie, en as jy dit doen, dan moet jy hom nie te veel laat betaal nie. Jy moet jou God respekteer en jy moet die ander Israeliet help om aan te hou lewe. Jy moenie vir hom rente laat betaal wanneer jy vir hom geld leen nie, en wanneer jy vir hom kos gee, dan moet jy hom nie te veel laat betaal nie. Ek is julle God die Here, Ek het julle uit die land Egipte gebring om vir julle die land Kanaän te gee en om julle God te wees. “Wanneer een van julle so arm word dat hy homself aan jou moet verkoop, dan moet jy hom nie vir jou laat werk soos 'n slaaf nie. Hy moet vir jou soos 'n dagloner of 'n bywoner wees, en hy moet vir jou werk net tot die Hersteljaar. Dan mag hy en sy kinders weggaan van jou, hulle mag teruggaan na sy familie en na die grond wat aan sy voorvaders behoort het. Want die Israeliete is my dienaars wat Ek uit die land Egipte gebring het. Jy mag nie 'n Israeliet verkoop soos jy 'n slaaf verkoop nie. Jy moenie kwaai regeer oor 'n ander Israeliet nie, jy moet jou God respekteer. “Jy mag slawe en slavinne koop van die ander volke rondom julle en ook van die bywoners, die vreemdelinge by julle, en van hulle families wat in julle land gebore is. Julle mag slawe hê wat julle so gekry het, en julle kinders mag die slawe erf en hou so lank soos hulle lewe. Julle mag slawe hê wat julle so gekry het, maar julle mag nie kwaai oor ander Israeliete regeer nie.

LEVITIKUS 25:1-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het die HERE met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land 'n sabbat hou vir die HERE. Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel; maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, 'n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie. Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok nie afsny nie. Dit moet 'n jaar van rus vir die land wees. En die opbrings van die sabbat van die land sal julle voedsel wees; vir jou en jou slaaf en jou slavin en jou dagloner en jou bywoner wat by jou vertoef, en vir jou vee en die wild wat in jou land is, sal die hele opbrings daarvan wees om te eet. Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou negen-en-veertig jaar is. Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, 'n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan. En julle moet die vyftigste jaar heilig en 'n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle 'n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan. 'n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees. Julle mag nie saai nie, ook nie afoes wat dan opslaan of die druiwe van die onbesnoeide wingerdstok dan afsny nie. Want dit is 'n jubeljaar, dit moet vir julle heilig wees: van die land af moet julle die opbrings daarvan eet. In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan. Daarom, as jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste koop, moet julle mekaar nie verdruk nie; volgens die getal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar 'n oes is, moet hy dit aan jou verkoop; volgens die groter aantal jare moet jy die koopprys daarvan vermeerder, en volgens die kleiner aantal jare moet jy die koopprys daarvan verminder, want hy verkoop aan jou die aantal oeste. Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God. En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land. En die land sal sy vrug gee, en julle sal volop eet en veilig daarin woon. En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie? — dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer. En in die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrings eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrings hiervan inkom, moet julle die oue eet. DIE grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is. Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat. As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het. En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing, moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan. Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan. En as iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet daar reg van lossing wees tot die end van die jaar dat dit verkoop is; 'n jaar lank moet daar reg van lossing wees. Maar as dit nie gelos word voordat 'n hele jaar verby is nie, moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir altyd die eiendom van sy koper bly vir sy geslagte; in die jubeljaar sal dit nie vry word nie. Maar die huise van die dorpe wat rondom geen muur het nie, moet by die veld van die land gereken word; daar moet reg van lossing voor wees en in die jubeljaar moet dit vry word. Wat die stede van die Leviete aangaan, die huise in die stede wat in hulle besit is — vir die Leviete moet daar 'n ewige reg van lossing wees. En as iemand van die Leviete dit sal los, moet die huis wat verkoop is, naamlik in die stad van sy besitting, in die jubeljaar vry word; want die huise in die stede van die Leviete is hulle besitting onder die kinders van Israel. En die weiveld om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is 'n ewige besitting vir hulle. En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos 'n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe. Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe. Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie, en jou eetware mag jy nie teen wins gee nie. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om julle die land Kanaän te gee, om julle God te wees. En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie. Soos 'n dagloner, soos 'n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien; dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan. Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos 'n mens 'n slaaf verkoop nie. Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees. Wat jou slaaf of jou slavin aangaan wat aan jou sal behoort — van die nasies wat rondom julle is, van hulle mag julle 'n slaaf of slavin koop. En ook van die kinders van die bywoners wat by julle vertoef — van hulle mag julle koop en van hulle geslag wat by julle is, wat hulle in julle land verwek het; en dié sal vir julle 'n besitting wees. En julle mag dié aan julle kinders ná julle nalaat as 'n erflike besitting; vir ewig mag julle hulle laat dien. Maar oor julle broers, die kinders van Israel, die een oor die ander — oor hom mag jy nie met hardheid heers nie.

LEVITIKUS 25:1-46 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses by Sinaiberg gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, moet daar vir die land rustye wees tot eer van die Here: ses jaar kan julle die lande saai en die wingerde snoei en die opbrengs oes, maar die sewende jaar moet die hele land 'n rustyd hê, 'n sabbatsjaar tot eer van die Here. Dan mag julle niks saai nie en ook nie die wingerde snoei nie. Julle mag selfs nie die opslaggraan of die druiwetrosse van die ongesnoeide wingerde afoes nie. Dit moet vir die land 'n jaar van algehele rus wees. Dit moet vir julle 'n jaar van algehele rus wees. Julle, julle slawe, julle slavinne, julle dagloners en die bywoners in julle land sowel as julle diere en die wild moet dan leef van wat die veld oplewer. “Tel sewe sabbatsjare af, sewe maal sewe jaar, dit wil sê nege en veertig jaar. Laat dan ramshorings blaas op die tiende van die sewende maand op die versoendag. Die ramshorings is die teken dat almal in die land die jaar van die vyftigste landbouseisoen op 'n besondere wyse aan die Here moet wy. Daar moet 'n landswye afskrywing van skuld geproklameer word. Dit moet vir almal 'n hersteljaar wees: elke Israeliet moet sy grond terugkry en mag na sy familie toe teruggaan. Hierdie vyftigste landbouseisoen moet julle hersteljaar wees. Julle mag nie saai nie en ook nie die opslaggraan of ongesnoeide wingerde afoes nie, maar julle moet eet van wat die veld opgelewer het: die hersteljaar is 'n gewyde jaar. “In die hersteljaar moet elkeen sy grond terugkry. Wanneer julle grond verkoop of koop, moet julle mekaar nie uitbuit nie. Die koop- of verkoopprys moet bepaal word volgens die aantal oeste wat die stuk grond kan oplewer tot die volgende hersteljaar. As dit lank voor die volgende hersteljaar is, moet die prys hoër wees, maar as daar min jare oor is, moet die prys laer wees, want in werklikheid word alleen die opbrengs tot die volgende hersteljaar verkoop. Uit eerbied vir julle God mag julle mekaar nie uitbuit nie. Ek is die Here julle God. “Julle moet my voorskrifte nakom en my bepalings gehoorsaam. As julle dit doen, sal julle sonder sorge in die land kan woon. Die grond sal goeie oeste lewer, en julle sal oorgenoeg hê om te eet sodat julle sonder sorge in die land kan woon. Julle kan julle miskien afvra waarvan julle elke sewende jaar moet leef, aangesien julle nie mag saai of 'n oes insamel nie. Ek sal aan julle oorvloed gee in die sesde jaar sodat die oes groot genoeg sal wees vir drie jaar. Wanneer julle in die agste jaar weer saai, sal julle nog steeds die oes van die sesde jaar gebruik. Julle sal selfs genoeg hê totdat julle in die negende jaar die oes insamel. “Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My. Verder moet die reg om grond terug te koop, oral en altyd geld. Wanneer 'n Israeliet deur armoede verplig was om van sy grond te verkoop, moet die naaste manlike familielid dit vir die eienaar terugkoop. Wanneer daar nie iemand is wat dit kan terugkoop nie, kan dit gebeur dat die persoon later self genoeg geld bymekaarmaak om die grond terug te koop. Die aantal jare wat verloop het sedert die kooptransaksie moet dan in berekening gebring word en die oorspronklike eienaar moet die koper slegs uitbetaal vir die seisoene wat nog oor is tot die volgende hersteljaar. Die oorspronklike eienaar kan dan weer sy grond in besit neem. As hy egter nie genoeg geld bymekaarkry om die grond terug te koop nie, bly die koper in beheer daarvan tot die volgende hersteljaar. In die hersteljaar moet hy die grond ontruim en die oorspronklike eienaar moet dan weer sy grond in besit neem. “Wanneer iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet hy 'n volle jaar lank die reg behou om dit terug te koop. As hy nie binne een jaar van hierdie reg gebruik maak nie, verval sy aanspraak op die betrokke huis en word dit die wettige eiendom van die koper en sy erfgename. 'n Woonhuis in 'n ommuurde stad val dus nie terug in die hersteljaar nie. Woonhuise in dorpe wat nie mure om het nie, geld as deel van die platteland: die oorspronklike eienaar het die reg om dit enige tyd terug te koop, en in die hersteljaar val dit terug na hom. In die Levietestede het die Leviete die onvervreembare reg om woonhuise waarvan hulle die oorspronklike eienaars was, terug te koop. Wanneer 'n Leviet 'n huis wat hy in 'n Levietestad gekoop het, terugverkoop aan die oorspronklike eienaar wat nie 'n Leviet is nie, moet die huis in die hersteljaar terugval na die Leviet, want die huise in die Levietestede moet in Israel die eiendom van die Leviete wees. Die weiveld om die Levietestede mag nooit verkoop word nie, want die Leviete het 'n onvervreembare reg daarop. “Wanneer 'n mede-Israeliet só in die skuld raak by jou dat hy nie kan betaal nie, moet jy hom help soos jy 'n vreemdeling of 'n bywoner sou help, en hom by jou aan die lewe hou. Jy mag hom geen rente van enige aard laat betaal nie. Uit eerbied vir jou God moet jy jou mede-Israeliet by jou aan die lewe hou. As jy aan hom geld leen, moet dit dus rentevry wees, en as jy aan hom kos verskaf, moet dit teen kosprys wees. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het om Kanaän aan julle te gee en om julle God te wees. “Wanneer 'n mede-Israeliet in jou omgewing só in die skuld raak dat hy hom aan jou verkoop as slaaf, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie. Jy moet hom soos 'n dagloner of soos 'n bywoner behandel. Hy moet tot die hersteljaar in jou diens bly. Dan moet hy en sy afhanklikes as vry mense teruggaan na hulle familie en hulle familiegrond toe. Omdat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het, is hulle my dienaars. Daarom mag hulle nie as slawe aan iemand verkoop word nie. Uit eerbied vir julle God mag julle ook nie so 'n mede-Israeliet hard behandel nie. Julle moet die slawe en slavinne wat julle nodig het, by die nasies rondom julle koop. Julle mag ook die kinders van bywoners koop wat tydelik tussen julle woon of van bywonerfamilies wat al geslagte in die land is. Sulke slawe is julle wettige eiendom wat deur julle aan julle kinders bemaak kan word as besittings en wat lewenslank hulle slawe sal wees. Julle mag egter nooit van julle mede-Israeliete slawe maak nie.

LEVITIKUS 25:1-46 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het op die berg Sinai vir Moses gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee, moet die land 'n Sabbat vier vir die HERE. Ses jaar moet jy jou saailand saai en ses jaar moet jy jou wingerd snoei en die opbrengs daarvan insamel, maar die sewende jaar is 'n sabbatsjaar, 'n buitengewone rusjaar. Dit moet vir die grond 'n sabbatsjaar wees tot eer van die HERE. Jou saailand mag jy nie saai nie en jou wingerd mag jy nie snoei nie. Die opslag van jou graanoes mag jy nie oes nie, en die druiwe aan jou ongesnoeide wingerd mag jy nie afoes nie. Dit moet vir die land 'n buitengewone rusjaar wees. Die opbrengs van die land se Sabbat sal daar wees vir julle om te eet. Vir jou, vir jou slawe en slavinne, vir jou dagloners en jou bywoners, hulle wat by julle verblyf het, vir jou vee en die wilde diere wat in jou land is, sal die volle opbrengs van die land daar wees om te eet. “ ‘ Tel vir jou sewe sabbatsjare af, sewe maal sewe jaar, sodat die tydperk van sewe Sabbatsjare vir jou nege-en-veertig jaar gee. Laat dan die •ramshoring se harde geluid oral weerklink op die tiende dag van die sewende maand. Op die •Dag van Versoening moet die ramshoring deur julle hele land weerklink. Heilig die vyftigste jaar en kondig 'n kwytskelding in die land af vir al die inwoners van die land. 'n Jubeljaar moet dit vir julle wees. Elkeen van julle moet na sy erfgrond terugkeer en elkeen van julle moet na sy familie terugkeer. Die vyftigste jaar moet vir julle 'n jubeljaar wees. Julle mag nie saai nie en julle mag nie die opslaggraan van die jaar oes of die ongesnoeide wingerde afoes nie, want dit is 'n jubeljaar; dit moet vir julle heilig wees. Van die saailande mag julle die opbrengs wel eet. “ ‘In hierdie jubeljaar moet elkeen van julle terugkeer na sy erfgrond. Wanneer julle iets aan 'n volksgenoot verkoop of uit die hand van 'n volksgenoot iets koop, mag julle mekaar nie uitbuit nie. Jy moet van jou volksgenoot koop volgens die getal jare ná die jubeljaar; ja, volgens die getal oesjare moet hy aan jou verkoop. Hoe meer die jare wat oorbly, hoe hoër sy koopprys; hoe minder die jare wat oorbly, hoe laer sy koopprys, want die getal oeste is wat hy aan jou verkoop. Julle volksgenote mag mekaar nie uitbuit nie. Jy moet ontsag hê vir jou God, want Ek, die HERE, is julle God. “ ‘ Julle moet my vaste voorskrifte uitvoer en my beslissings moet julle nakom. Voer dit uit sodat julle veilig kan woon op die grond. Die grond sal sy vrug lewer en julle sal meer as genoeg eet en veilig daarop woon. En as julle vra: “Maar wat moet ons in die sewende jaar eet, as ons dan nie mag saai en ons oes insamel nie?” In die sesde jaar sal Ek oor julle my seën gebied en dit sal 'n opbrengs vir drie jaar lewer. In die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrengs eet tot die negende jaar; tot daardie jaar se oes inkom, sal julle die ou opbrengs eet. “ ‘ Die grond mag nie onherroeplik verkoop word nie, want aan My behoort die grond. Ja, julle is •vreemdelinge en bywoners by My. Met enige grond wat julle geërf het, moet julle die terugkoop van die grond toestaan. “ ‘ Wanneer jou broer verarm en van sy erfgrond moes verkoop, moet sy losser wat die naaste aan hom is, kom en die verkoopte deel van sy familielid loskoop. Wanneer iemand nie 'n losser het nie en hy kan dit bekostig wanneer hy genoeg bymekaargemaak het vir die terugkoop, moet hy die jare bereken vandat dit verkoop is en die balans teruggee aan die man aan wie hy dit verkoop het. Hy moet dan terugkeer na sy erfgrond. As hy egter nie genoeg bymekaar kan maak om dit aan hom terug te gee nie, bly die deel wat verkoop is in die besit van die een wat dit gekoop het tot die jubeljaar. In die jubeljaar moet dit loskom en mag die man na sy erfgrond terugkeer. “ ‘Wanneer iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, sal die reg van terugkoop geld totdat 'n jaar verloop het ná die verkoop daarvan. Die reg van terugkoop sal vir 'n volle jaar geld. As dit egter nie losgekoop word voordat 'n volle jaar verloop het nie, word die huis wat in die ommuurde stad is, onherroeplik oorgedra na die een wat dit gekoop het vir sy nageslag. Dit kom nie los in die jubeljaar nie. Huise in dorpies wat nie 'n muur rondom het nie, moet as deel van die saailande van die omgewing gereken word. Die reg van terugkoop moet daarvoor geld en in die jubeljaar kom dit los. “ ‘ Wat die stede van die Leviete betref: Vir die huise in die stede wat hulle erfdeel is, sal die reg van terugkoop altyd vir die Leviete geld. Wanneer een van die Leviete so 'n huis loskoop, moet die verkoopte huis loskom in die jubeljaar, al is dit in die stad waar hy 'n erfdeel het. Die huise in die stede van die Leviete is immers hulle erfdeel onder die Israeliete. Die weiveld van hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is vir altyd hulle erfgrond. “ ‘ Wanneer jou broer verarm en by jou in die skuld raak, moet jy hom ondersteun soos 'n vreemdeling en bywoner, sodat hy by jou kan leef. Moenie van hom rente eis of uit hom wins maak nie; jy moet vir jou God ontsag hê en jou familielid moet by jou leef. Jou geld mag jy nie vir hom teen rente gee nie en van jou kos mag jy nie vir hom teen wins gee nie. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het om aan julle die land Kanaän te gee, om vir julle 'n God te wees. “ ‘ Wanneer jou broer wat by jou is, verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie. Soos 'n dagloner, soos 'n bywoner moet hy by jou wees. Tot die jubeljaar moet hy by jou werk, maar dan moet hy en sy kinders saam met hom, vry van jou af weggaan. Hy moet terugkeer na sy familie, na die erfgrond van sy voorouers moet hy teruggaan, want hulle is my slawe wat Ek uit Egipteland laat wegtrek het. Hulle mag nie as slawe verkoop word nie. Jy mag hom nie aan geweld onderwerp nie. Jy moet ontsag hê vir jou God. “ ‘ Wat betref jou slawe en slavinne wat jy nodig het – uit die nasies om julle, uit hulle mag julle slawe en slavinne koop; en ook van die kinders van bywoners wat by julle verblyf het, uit hulle en hulle families wat by julle is, mag julle die kinders wat hulle in julle land verwek het, koop. Hulle is dan julle erflike eiendom. Julle mag hulle aan julle kinders ná julle nalaat as erflike besit. Julle mag hulle vir altyd slawewerk laat doen. Maar wat julle broers die Israeliete betref, die een mag nie die ander aan geweld onderwerp nie.

LEVITIKUS 25:1-46 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses op die berg Sinai gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee, dan moet die land 'n sabbat tot eer van die HERE hou. Ses jaar lank moet jy jou land saai, en ses jaar lank moet jy jou wingerd snoei en die vrugte daarvan insamel; Maar in die sewende jaar sal dit 'n sabbat van rus vir die land wees, 'n sabbat vir die HERE; jy mag jou land nie saai en jou wingerd nie snoei nie. Wat vanself uit jou oes groei, mag jy nie maai nie, en die druiwe van jou wingerdstok nie afsny nie, want dit is 'n jaar van rus vir die land. En die sabbat van die land sal vir julle voedsel wees; vir jou en vir jou dienaar en vir jou slavin en vir jou dagloner en vir jou vreemdeling wat by jou vertoef, En vir jou vee en vir die diere wat in jou land is, moet al die opbrings daarvan voedsel wees. En jy moet sewe sabbatte van jare vir jou tel, sewe maal sewe jaar; en die tydperk van die sewe jaarsabbatte sal vir jou nege en veertig jaar wees. Dan moet jy die basuin van die jubeljaar laat blaas op die tiende dag van die sewende maand; op die versoendag moet julle die basuin in julle hele land laat blaas. En julle moet die vyftigste jaar heilig en vrylating uitroep in die hele land aan al die inwoners daarvan; 'n jubeljaar moet dit vir julle wees; en julle moet elkeen na sy besitting teruggaan, en elkeen na sy geslag teruggaan. 'n Jubeljaar sal vir julle die vyftigste jaar wees; julle mag nie saai nie en nie maai wat vanself daarin opkom nie, en ook nie die druiwe van jou wingerdstok daarin pluk nie. Want dit is die jubeljaar; heilig moet dit vir julle wees; die opbrings daarvan moet julle uit die veld eet. In die jaar van hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan. En as jy iets aan jou naaste verkoop of iets uit jou naaste se hand koop, mag julle mekaar nie verdruk nie. Volgens die aantal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop, en volgens die aantal jare van die vrugte wat hy aan jou moet verkoop; Volgens die menigte van jare moet jy die prys daarvan vermeerder, en na die geringheid van jare moet jy die prys daarvan verminder; want volgens die getal van die jare van die vrugte verkoop hy aan jou. Julle mag mekaar dan nie verdruk nie; maar jy moet jou God vrees, want Ek is die HERE jou God. Daarom moet julle my insettinge doen en my verordeninge onderhou en dit doen; en julle sal veilig in die land woon. En die land sal sy vrugte gee, en julle sal versadig eet en veilig daarin woon. En as julle sê: Wat sal ons in die sewende jaar eet? kyk, ons sal nie saai en ons opbrings nie insamel nie; Dan sal Ek my seën oor jou gebied in die sesde jaar, en dit sal drie jaar lank vrugte dra. En julle moet in die agtste jaar saai en nog van ou vrugte eet tot die negende jaar toe; totdat sy vrugte inkom, moet julle van die ou voorraad eet. Die grond sal nie vir ewig verkoop word nie, want die land is myne; want julle is vreemdelinge en bywoners by My. En in die hele land van julle besitting moet julle die land loskoop. As jou broer arm geword het en van sy besitting verkoop het, en as iemand van sy familie kom om dit los te koop, moet hy loskoop wat sy broer verkoop het. En as die man niemand het om dit te los nie, en self in staat is om dit te los; Laat hy dan die jare van die verkoop daarvan tel en die oorskot teruggee aan die man aan wie hy dit verkoop het; dat hy na sy besitting kan terugkeer. Maar as hy dit nie aan hom kan teruggee nie, moet wat verkoop is, in die hand van hom bly wat dit gekoop het tot die jubeljaar; en in die jubeljaar moet dit uitgaan, en hy moet na sy besitting terugkeer. En as iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet hy dit binne 'n hele jaar nadat dit verkoop is, loskoop; binne 'n volle jaar mag hy dit los. En as dit nie binne 'n volle jaar gelos word nie, dan moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir ewig vasstaan vir hom wat dit gekoop het in sy geslagte; dit mag nie in die jubeljaar uitgaan nie. Maar die huise van die dorpe wat geen muur rondom het nie, moet gereken word as die veld van die land; hulle kan losgekoop word, en hulle moet in die jubeljaar uittrek. Nieteenstaande die stede van die Leviete en die huise van die stede van hulle besitting, mag die Leviete te eniger tyd loskoop. En as iemand van die Leviete koop, moet die huis wat verkoop is en die stad van sy besitting in die jubeljaar uitgaan; want die huise van die stede van die Leviete is hulle besitting onder die kinders van Israel. Maar die grond van die weiveld van hulle stede mag nie verkoop word nie; want dit is hulle ewige besit. En as jou broer arm word en saam met jou in verval geraak het; dan moet jy hom uitlos; ja, al is hy 'n vreemdeling of 'n bywoner; dat hy by jou kan woon. Neem geen rente van hom of vermeerder nie; maar vrees jou God; dat jou broer by jou kan woon. Jy mag hom nie jou geld op woeker gee nie, en jy mag hom nie jou lewensmiddele leen om te vermeerder nie. Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland uitgelei het om aan jou die land Kanaän te gee en om jou God te wees. En as jou broer wat by jou woon, arm word en aan jou verkoop word; jy mag hom nie dwing om as slaaf te dien nie. Maar as 'n dagloner en as 'n bywoner moet hy by jou wees en jou dien tot die jubeljaar. En dan sal hy van jou weggaan, hy en sy kinders saam met hom, en na sy familie teruggaan, en na die besitting van sy vaders terug. Want hulle is my dienaars wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie as slawe verkoop word nie. Jy mag nie met strengheid oor hom heers nie; maar jy moet jou God vrees. Jou slawe sowel as jou slavinne wat jy sal hê, moet uit die nasies wees wat rondom jou is; van hulle moet julle slawe en slavinne koop. En van die kinders van die vreemdelinge wat onder julle vertoef, van hulle moet julle koop en van hulle geslagte wat by julle is wat hulle in julle land verwek het; en hulle sal julle besitting wees. En julle moet dit as 'n erfdeel vir julle kinders ná julle neem, om hulle as 'n besitting te erf; hulle sal vir ewig julle slawe wees; maar oor julle broers, die kinders van Israel, mag julle nie met hardheid oor mekaar heers nie.

LEVITIKUS 25:1-46 Die Boodskap (DB)

Terwyl Moses bo-op Sinaiberg was, het die Here vir hom gesê om die Israeliete te beveel: “Wanneer julle in die land gaan bly wat Ek vir julle sal gee, moet die land ook rus. Daar moet ’n sabbatsjaar wees vir die Here. Jy mag ses jaar lank op die lande saai en die wingerde bewerk en oeste insamel. In die sewende jaar moet die boerdery heeltemal gestaak word. Daardie jaar is die Here se sabbatsjaar. Jy moet daardie jaar niks op die lande saai nie en glad nie die wingerde bewerk nie. Julle mag ook nie die graan wat vanself opkom, oes nie. Julle mag ook nie die druiwe van die ongesnoeide wingerdstokke afpluk nie. Dit moet vir die land ’n jaar van volkome rus wees. Julle moet die grond kans gee om te rus. Jy en die slaaf wat vir jou werk, jou slavin, jou tydelike werker, dié wat by jou woon en die buitelanders wat by jou is, jou vee en al jou diere, julle almal sal daardie jaar eet van die dinge wat die land op natuurlike wyse oplewer.” “Tel sewe sabbatsjare af, dit wil sê sewe tye wat elkeen sewe jaar lank is, sodat dit uitwerk op ’n volle 49 jaar. Op die tiende dag van die sewende maand in die 50ste jaar, die dag wat die Here vrede gee, moet julle op die trompette blaas. Kondig deur die hele land aan dat julle daardie jaar aan die Here moet opdra. Julle moet dan bekendmaak dat al die inwoners daardie jaar alles kan terugkry wat vroeër aan hulle behoort het. Elkeen kan dan weer teruggaan na die grond wat hy oorspronklik besit het. Elke slaaf word vrygemaak en hy kan teruggaan na sy eie familie toe. In hierdie hersteljaar mag julle niks saai nie. Julle mag ook nie die graan wat vanself opkom, afoes of die druiwe van die ongesnoeide wingerdstokke afpluk nie. Dit moet vir julle ’n spesiale jaar wees waarin alles weer herstel. Julle mag net eet wat die veld oplewer. In die hersteljaar kan elkeen teruggaan na die grond wat hy vantevore besit het. As julle in ander jare grond aan mekaar verkoop of van mekaar koop, moet julle mekaar nie verkul nie. As jy by iemand grond koop, moet jy uitreken hoeveel jare al verbygegaan het na die laaste hersteljaar. As jy dit aan ’n ander verkoop, moet jy bereken hoeveel jare se oes daar nog oor is na die volgende hersteljaar toe. Hoe meer jare oor is, hoe hoër is die koopprys. As daar minder jare oor is, is die verkoopprys soveel minder. Eintlik is dit nie grond wat jy koop en verkoop nie, maar die aantal oeste wat dit kan oplewer. Uit respek vir jou God moet julle mekaar nie bedrieg nie. Ek is tog die Here, julle al twee se God. “Hou by die reëls wat Ek gegee het. Volg my voorskrifte en lewe volgens hulle. Julle sal dan in die land kan bly sonder dat daar iets is wat julle bangmaak. Die land sal goeie oeste gee. Julle sal altyd genoeg kos hê om te eet tot julle genoeg gehad het. Julle sal hier woon sonder bekommernis. “Moenie staan en wonder waar julle kos gaan kry in die sewende jaar as julle nie mag saai of die oes mag insamel nie. Ek sal julle in die sesde jaar so voorspoedig maak en die oes so groot laat wees dat dit drie jaar lank sal hou. Julle sal in die agtste jaar saai, maar nog steeds kan eet van die oes wat in die sesde jaar ingekom het. Julle sal selfs daarvan kan eet tot die oes van die graan wat julle in die agtste jaar gesaai het, eers teen die negende jaar begin inkom. “Grond mag nooit vir altyd verkoop word nie, want dit behoort eintlik aan My. Julle is bloot vreemdelinge en mense wat tydelik op my grond bly. Wanneer en waar ook al julle in die land grond verkoop, moet daar altyd ooreengekom word dat die oorspronklike eienaar dit kan terugkoop. Wanneer een van jou landgenote bankrot speel en sy erfgrond moet verkoop om sy skuld te betaal, moet sy naaste familielid kom en dit vir hom terugkoop. As iemand nie so ’n familielid het nie, en hy kry dit reg om self genoeg geld bymekaar te kry om sy grond terug te koop, moet hy uitwerk hoeveel tyd verbygegaan het vandat hy die grond verkoop het en hoeveel gebruiksjare daar nog vir die koper oor is tot die volgende hersteljaar. Sodra hy betaal het, kan hy weer teruggaan na sy grond toe. As hy nie genoeg geld bymekaar kan kry nie, bly die grond in besit van die een wat dit gekoop het tot by die hersteljaar. In die hersteljaar mag die oorspronklike eienaar teruggaan na sy eiendom. “Iemand wat ’n woonhuis in ’n stad verkoop wat ’n veilige muur om het, behou vir een volle jaar die reg om dit terug te koop. As hy nie sy reg om terug te koop binne daardie jaar gebruik nie, word die huis die permanente eiendom van die koper. Dit word deel van sy boedel. Dit word nie teruggegee in die hersteljaar nie. Huise in dorpe wat geen veiligheidsmuur om het nie, is deel van die platteland. Die persoon wat dit verkoop het, mag dit terugkoop. In die hersteljaar gaan dit terug na sy oorspronklike eienaar. “Leviete het vir altyd die reg om in die stede wat aan hulle behoort die huise wat hulle verkoop het, terug te koop. ’n Huis in ’n Levietestad wat verkoop is, maar nie teruggekoop is nie, moet gedurende die hersteljaar teruggaan na sy oorspronklike Levitiese eienaar toe. Die huise in Levitiese stede is die permanente eiendom van die Leviete in Israel. Die weivelde in die buitewyke van hulle stede is nie te koop nie. Dit is hulle onvervreembare erfgrond.” “As een van die ander Israeliete agteruit begin boer en hy raak so diep in die skuld dat hy nie meer daar kan uitkom nie, moet jy hom help. Staan hom by soos jy iemand wat van ’n ander land af kom, of iemand wat by jou woon, sou help om aan die lewe te bly. Jy moenie rente vra of heffings bysit by die geld wat hy van jou geleen het nie. Uit respek vir jou God moet jy na hom omsien. Jy moenie rente vra op die geld wat jy vir hom leen nie. Jy moet ook nie vir hom kos gee en ekstra geld daarvoor vra nie. Ek is tog die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het, juis om Kanaän aan julle te gee om dit te besit en om julle God te wees. “As ’n ander Israeliet so diep in die skuld raak dat hy verplig word om homself as ’n slaaf aan jou te verkoop om sy skuld te betaal, moet jy hom nie soos ’n slaaf behandel en hom slawewerk laat doen nie. Jy moet hom behandel soos iemand wat tydelik in jou diens is, of soos ’n werknemer wat in jou huis woon. Laat hy in jou diens bly tot in die hersteljaar. Hy en sy kinders moet dan van jou af weggaan en as vry mense terugkeer na hulle familie en hulle erfgrond toe. Die mense wat Ek uit Egipte laat wegtrek het, dien net vir My. Hulle mag nooit aan ander mense as slawe verkoop word nie. Omdat jy ontsag moet hê vir jou God, mag jy nie hardhandig baasspeel oor dié wat vir jou werk nie. “Jy mag wel manlike of vroulike slawe besit wat vir jou werk. Jy moet hulle by julle buurvolke gaan koop. Jy mag ook die kinders van buitelandse werkers wat by jou woon en die kinders van hulle families wat in jou land gebore is, vir slawe aankoop. Hulle word deel van jou roerende goedere. Jy kan hulle in jou testament aan jou kinders bemaak as hulle eiendom. Hulle is lewenslank hulle slawe. Een Israeliet mag egter nie ’n ander Israeliet met geweld oorheers nie.

LEVITIKUS 25:1-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl Moses op Sinaiberg was, het die HERE vir hom gesê: “Gee hierdie instruksies vir die Israeliete: Wanneer julle die land binnetrek wat Ek as ’n erfdeel vir julle gee, moet die land self elke sewe jaar ’n Sabbat vir die HERE hou. Vir ses jaar mag julle julle landerye beplant, julle wingerde snoei en julle lande oes, maar die sewende jaar sal vir die HERE ’n Sabbatsjaar van rus vir die land wees. Moenie plant nie en moet ook nie julle wingerde snoei gedurende die hele jaar nie. Julle mag ook nie oes wat natuurlik groei of die druiwe gebruik van julle ongesnoeide wingerde nie. Die land moet vir ’n jaar lank heeltemal rus. Julle, julle slawe en slavinne en enige vreemdelinge wat tussen julle woon, mag egter van die produkte eet wat natuurlik groei gedurende die Sabbatsjaar. Julle diere en die wilde diere mag ook eet van wat die land oplewer.” “Tel sewe Sabbatsjare af, sewe maal sewe, ’n totaal van 49 jaar. Op die Versoendag in die 50ste jaar moet die trompette hard en lank oor die hele land geblaas word. Die jaar sal dan afgesonder word as heilig, dit is ’n tyd wanneer al die bewoners van die land vrygelaat moet word. Dit sal ’n Jubeljaar wees, ’n jaar wanneer elkeen van julle mag terugkeer na die land wat aan julle voorouers behoort het, ’n jaar wanneer elkeen met sy familiegroep herenig word. Die 50ste jaar sal ’n Jubeljaar vir julle wees. Gedurende dié jaar mag julle nie saad plant of afoes wat natuurlik groei, of die druiwe gebruik van julle ongesnoeide wingerde nie. Dit sal ’n Jubeljaar wees vir julle en julle moet dit as ’n spesiale en heilige tyd nakom. Julle mag gedurende die jaar van die opbrengs eet wat die veld vanself oplewer. Gedurende die Jubeljaar moet elkeen van julle terugkeer na die land wat aan julle voorouers behoort het. “Wanneer julle ’n ooreenkoms met ’n buurman aangaan om grond te koop of te verkoop, mag julle mekaar nooit uitbuit nie. Wanneer julle grond van ’n buurman koop, moet die prys van die grond gebaseer word op die aantal jare sedert die laaste Jubeljaar. Die verkoper sal ’n prys vra op grond van die aantal oesjare wat nog oor is tot die volgende Jubeljaar. Hoe groter die aantal jare voor die hersteljaar, hoe hoër die prys. Hoe minder die aantal jare, hoe laer die prys. Die verkoper van die grond verkoop mos eintlik ’n sekere aantal oeste. Wys julle eerbied vir God deur mekaar nie uit te buit nie. Ek, die HERE, is julle God. “As julle veilig in die land wil woon, hou my gebooie en gehoorsaam my reëlings. Dan sal die land goeie oeste lewer, julle sal goed eet en veilig in die land leef. Julle kan miskien vra: ‘Wat sal ons gedurende die sewende jaar eet, aangesien ons in daardie jaar niks mag plant of oes nie?’ Die antwoord is: ‘Ek sal my seën oor julle gebied stuur in die sesde jaar sodat die land ’n baie goeie oes oplewer, genoeg om julle vir drie jaar lank te onderhou. Wanneer julle weer saad plant in die agtste jaar, sal julle nog steeds van die opbrengs van die vorige jaar eet. Julle sal nog steeds van die ou oes kan eet totdat die nuwe oes eers in die negende jaar kom.’ “Onthou dat die land nooit op ’n permanente basis verkoop mag word nie, want eintlik behoort die land aan My. Julle is eintlik net vreemdelinge en huurders wat by My bly.” “Met elke grondtransaksie moet dit gestipuleer word dat die grond weer te eniger tyd teruggekoop mag word. As enige van julle Israelitiese familielede bankrot speel en so gedwing word om van die geërfde grond te verkoop, mag ’n naby familielid – ’n losser – die grond vir hom terugkoop. As daar niemand van sy familie is om die grond terug te koop nie, maar die persoon wat dit verkoop het, slaag daarin om genoeg geld in die hande te kry om die grond terug te koop, het die persoon die reg om die grond terug te koop van die persoon wat dit aanvanklik gekoop het. Die prys van die grond sal baseer word op die aantal jare tot die volgende Jubeljaar. Nadat die grond teruggekoop is, mag die oorspronklike eienaar terugkeer na sy grond toe. As die oorspronklike eienaar egter nie kan bekostig om die grond terug te koop nie, sal dit tot die volgende Jubeljaar aan die nuwe eienaar behoort. In die Jubeljaar sal die grond dan teruggegee word aan die oorspronklike eienaar. “As iemand ’n huis binne ’n ommuurde stad verkoop, het hy nog vir ’n jaar lank die reg om dit terug te koop. Gedurende dié tyd het die verkoper die reg om dit terug te koop. As die huis nie binne ’n jaar teruggekoop word nie, word die huis binne ’n ommuurde stad die permanente eiendom van die koper. Dit word dan nie in die Jubeljaar aan die oorspronklike eienaar terugbesorg nie. ’n Huis in ’n dorp – dit beteken ’n nedersetting sonder versterkte mure – word op dieselfde manier as eiendom in die oop veld beskou. So ’n huis mag te eniger tyd teruggekoop word en moet dan aan die oorspronklike eienaar terugbesorg word in die Jubeljaar. “Die Leviete behou altyd die reg om ’n huis wat hulle in die stad verkoop het, weer terug te koop. Enige eiendom wat deur die Leviete teruggekoop kan word – dit wil sê alle huise in Levitiese stede – moet aan hulle terugbesorg word in die Jubeljaar. Die Levitiese stede is tog die enigste eiendom wat hulle in Israel mag besit. Die strook weiveld om elk van die Levitiese stede mag nooit verkoop word nie. Dit is hulle permanente eiendom.” “Wanneer enigeen van julle mede-Israeliete in armoede verval en van jou afhanklik raak, sorg vir hulle soos wat julle vir ’n vreemdeling sou sorg en laat hulle toe om by julle te bly. Moenie wins uit hom maak of rente hef op die geld wat julle vir hulle leen nie. Wys julle vrees vir God deur hulle by julle te laat bly as julle bloedverwante. Onthou, julle mag nie julle bloedverwante rente vra op enigiets wat julle aan hulle leen nie, of dit nou kos of geld is. Ek, die HERE, is julle God wat julle uit Egipte gebring het om aan julle hierdie land te gee en om julle God te wees. “As enigeen van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself as slawe aan julle moet verkoop, moet hulle nie as slawe behandel nie. Behandel hulle eerder soos gehuurde werkers of soos vreemdelinge wat by julle bly. Hulle sal in julle diens wees tot die Jubeljaar toe. Hulle en hulle kinders het dan geen verpligting teenoor julle nie en kan terugkeer na hulle familiegroep en eiendom toe. Die volk Israel is in my diens, dit is vir hulle wat Ek uit die land Egipte gebring het. Hulle mag dus nooit weer as slawe verkoop word nie. Wys julle respek vir God deur hulle goed te behandel. Moenie julle gesag oor hulle op ’n harde manier uitoefen nie. “Julle mag slawe of slavinne koop van die nasies wat rondom julle bly. Julle mag ook die kinders koop van die mense wat tydelik tussen julle bly, ook dié wat in julle land gebore is. Julle mag hulle as julle eiendom behandel en hulle selfs aan julle kinders bemaak as ’n wettige erfporsie. Julle mag julle slawe so behandel, maar die volk Israel, julle bloedverwante, mag nooit so behandel word nie.