LEVITIKUS 23:1-8
LEVITIKUS 23:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het vir Moses gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘My feesdae, die feesdae van die HERE wat julle as heilige byeenkomste moet uitroep, is die volgende: Ses dae lank moet werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit 'n buitengewone Sabbat, 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen werk doen nie. Dit is 'n Sabbat vir die HERE, waar julle ook al woon. “ ‘Die feesdae van die HERE, die heilige byeenkomste wat julle moet uitroep op hulle vaste tye, is die volgende: “ ‘ In die eerste maand, op die veertiende van die maand teen laatmiddag is dit die Pasga van die HERE. Op die vyftiende dag van hierdie maand begin die Fees van Ongesuurde Brood vir die HERE. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie. Sewe dae lank moet julle daagliks 'n offergawe vir die HERE bring. Op die sewende dag is daar 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie.’ ”
LEVITIKUS 23:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het vir Moses gesê: “Gee vir die Israeliete instruksies oor die feeste wat die HERE aangewys het, feeste waarheen julle almal opgeroep word om My te kom aanbid. Jy mag elke week vir ses dae lank werk, maar op die sewende dag moet alle werk tot stilstand kom. Dit is die HERE se Sabbatdag van algehele rus. Dit is ’n heilige dag om bymekaar te kom vir aanbidding. Dit moet nagekom word waar julle ook al woon. Behalwe die Sabbatdag, het die HERE ook feeste ingestel, heilige byeenkomste wat op spesifieke tye gedurende die jaar gehou moet word.” “Die Paasfees van die HERE begin teen skemer op die veertiende dag van die eerste maand. Die dag na die Paasfees begin die Fees van die Ongesuurde Brood. Die fees vir die HERE hou vir sewe dae lank aan en gedurende dié tyd mag julle net brood eet wat gemaak is sonder suurdeeg. Op die eerste dag van die fees moet die hele volk ophou werk en vir ’n heilige byeenkoms bymekaarkom. Op elk van die volgende sewe dae moet die volk ’n vuuroffer vir die HERE bring. Op die sewende dag moet die volk weer ophou werk om ’n heilige byeenkoms te hou.”
LEVITIKUS 23:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet praat met die Israeliete en vir hulle sê: Hierdie is die feeste van die Here wat julle moet vier. Dit is die tye wanneer julle moet bymekaarkom en wanneer julle julleself moet wy, dit is my feeste. Julle moet ses dae lank werk en alles doen wat julle moet doen, maar die sewende dag is die fees van die Sabbatdag. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy, en julle moenie werk nie. Dit is die Sabbatdag van die Here, oral waar julle woon. “Hierdie is die feeste van die Here, dit is die tye wanneer julle moet bymekaarkom om julleself te wy. Julle moet die feeste vier op die tye wanneer julle dit moet doen. “Die Paasfees van die Here is op die veertiende dag van die eerste maand, wanneer dit donker begin word. Die Fees van die Ongesuurde Brood begin op die vyftiende dag van dieselfde maand. Dan moet julle sewe dae lank ongesuurde brood eet. Julle moet op die eerste dag bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie julle werk doen wat julle altyd doen nie. Julle moet vir die Here 'n vuur-offer bring op elkeen van hierdie sewe dae. Op die sewende dag moet julle weer bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag dan nie die werk doen wat julle altyd doen nie.”
LEVITIKUS 23:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste — dit is my feestye. Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit 'n dag van volkome rus, 'n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie — dit is 'n sabbat van die HERE in al julle woonplekke. Dit is die feestye van die HERE, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd. In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die HERE; en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Maar julle moet sewe dae lank aan die HERE 'n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
LEVITIKUS 23:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Die feeste wat julle tot my eer moet vier, moet gewyde byeenkomste wees. Die volgende is my feeste: “Ses dae moet julle werk, maar die sewende dag is 'n rusdag, 'n sabbat waarop julle 'n gewyde byeenkoms moet hou. Dan mag julle geen werk doen nie. Julle moet die sabbat aan die Here wy, waar julle ook al woon. “Verder is daar ook die volgende feeste tot my eer, gewyde byeenkomste wat julle op vasgestelde tye moet vier: “Op die veertiende van die eerste maand teen skemer moet julle die paasfees vier tot eer van die Here. Op die vyftiende van dieselfde maand begin die fees van ongesuurde brood tot eer van die Here. Sewe dae moet julle ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle 'n gewyde byeenkoms hou: julle mag dan geen werk doen nie. Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Die sewende dag moet julle weer 'n gewyde byeenkoms hou, en niemand mag werk nie.”
LEVITIKUS 23:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Aangaande die feestye van die HERE wat julle as heilige samekomste moet uitroep, dit is my feestye. Ses dae moet werk verrig word, maar die sewende dag is die sabbat van rus, 'n heilige samekoms; julle mag geen werk daarin doen nie; dit is die sabbat van die HERE in al julle wonings. Dit is die feestye van die HERE, heilige samekomste, wat julle op die regte tyd moet uitroep. Op die veertiende dag van die eerste maand teen die aand is die pasga van die HERE. En op die vyftiende dag van dieselfde maand is die fees van die ongesuurde brode tot eer van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees; geen dienswerk mag daarby doen nie. Maar sewe dae lank moet julle 'n vuuroffer aan die HERE bring; op die sewende dag is dit 'n heilige samekoms; geen dienswerk mag julle daarin doen nie.
LEVITIKUS 23:1-8 Die Boodskap (DB)
Die Here het verder deur Moses vir die Israeliete gesê: “Hier is my feesdae. Julle moet op hierdie dae vir My bymekaarkom.” “Die sewende dag is die Here se dag. Julle moet ses dae lank julle gewone werk doen. Die sewende dag moet julle daarmee ophou, sodat julle byeenkomste vir My kan hou. Julle mag dan nie aangaan met julle werk nie. Dit is die Here se sabbatdag. Julle moet dit hou waar julle ook al woon. “Naas die sabbatdag is daar nóg vaste feesdae van die Here waarop julle byeenkomste vir My moet hou.” “Die paasfees vir die Here is in die lente. Dit begin net na sononder op die veertiende dag van die eerste maand. Op die volgende dag, die vyftiende dag, begin die fees van die brode waarin daar nie suurdeeg is nie. Sewe dae lank moet julle brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie om die Here te vereer. Op die eerste dag van die fees moet julle ophou met alles waarmee julle besig was en voor die Here bymekaarkom. Op elkeen van die volgende sewe dae moet julle vir die Here ’n offer bring wat verbrand word. Op die sewende dag moet julle weer ophou met al julle werk en weer vir die Here bymekaarkom.”