LEVITIKUS 16:11-16
LEVITIKUS 16:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Aäron moet dan die bul nader bring wat 'n sonde-offer vir homself is en hy moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin. Hy moet die bul slag wat 'n sonde-offer vir homself is. Hy moet 'n pan vol vuurkole neem van die altaar voor die Here, en hy moet 'n handvol fyn wierook neem wat lekker ruik. Hy moet dit na agter die gordyn neem. Daar moet hy die wierook op die vuurkole sit sodat die wierook 'n rookwolk maak. Die rook sal die deksel toemaak wat op die kis is waarin die tien gebooie is. As die wolk nie die deksel toemaak nie, dan sal Aäron sterf. Hy moet dan van die bul se bloed neem en hy moet dit met sy vinger spat teen die voorkant van die deksel. Hy moet sewe maal van die bloed teen die deksel spat. Daarna moet Aäron die bok slag wat 'n sonde-offer vir die volk is. Hy moet die bloed van die bok neem na agter die gordyn, en hy moet dieselfde doen met die bok se bloed soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet die bloed spat teen die voorkant van die deksel. So moet Aäron versoening doen in die gewyde kamer, want die Israeliete is onrein en hulle het verkeerd gedoen. Hy moet versoening doen vir al hulle sondes, en hy moet dit ook doen vir die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, want dit is die tent wat by hulle bly, by hulle wat onrein is.
LEVITIKUS 16:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Aäron moet dan die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat aankom en vir hom en sy huis versoening doen: hy moet die sondofferbul slag wat vir hom bedoel is, en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie. En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel. Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel. So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon.
LEVITIKUS 16:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Wanneer Aäron die sondeofferbul offer wat vir homself bedoel is en waarmee hy vir hom en al die priesters versoening doen, moet hy die bul slag en moet hy 'n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar af wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Aäron moet ook 'n dubbele handvol fyngestampte wierook vat en daarmee agter die voorhangsel ingaan. Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy dan die wierook op die kole gooi sodat dit 'n rookwolk maak wat die deksel van die ark bedek waarin die getuienis is. Dan sal hy nie sterf nie. Hy moet daarna van die bloed van die bul met sy vinger sprinkel op die deksel se voorkant en dan ook nog sewe maal op die grond voor die deksel. Wanneer Aäron die bokram slag wat as sondeoffer vir die volk bedoel is, moet hy met die bloed agter die voorhangsel ingaan en daarmee doen soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet dit sprinkel op die deksel en voor die deksel. So moet hy die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes. Hy moet die tent van ontmoeting ook op dieselfde manier reinig, want dit staan by die volk met al hulle onreinheid.
LEVITIKUS 16:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Nadat Aäron die bul vir die reinigingsoffer wat vir homself bedoel is, nadergebring het om versoening te doen vir hom en sy huis, moet hy die bul keelaf sny as 'n reinigingsoffer vir homself. Hy moet die vuurpan neem, vol kole vuur wat van die altaar voor die HERE af kom, asook twee hande vol fyngestampte geurige reukwerk, en daarmee agter die voorhangsel ingaan. Hy moet die reukwerk voor die HERE op die kole gooi. Die wolk rook uit die reukwerk sal die versoendeksel wat oor die Getuienis is, verberg, sodat hy nie sterf nie. Hy moet van die bul se bloed neem en dit met sy vinger op die voorkant van die versoendeksel sprinkel. Voor die versoendeksel moet hy met sy vinger sewe maal van die bloed sprinkel. “ Daarna moet hy die bok wat vir die reinigingsoffer van die volk bedoel is, keelaf sny en die bloed agter die voorhangsel inneem. Hy moet met die bloed doen wat hy met die bul se bloed gedoen het en dit op die versoendeksel en ook voor die versoendeksel sprinkel. So doen hy versoening vir die heiligdom vanweë die •onreinheid van die Israeliete en hulle oortredings, ja, al hulle sondes. Net so doen hy dit vir die Tent van Ontmoeting wat tussen hulle met hulle onreinheid opgeslaan is.
LEVITIKUS 16:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Aäron moet die sondofferbul wat vir hom is, bring en vir homself en vir sy huis versoening doen en die sondofferbul slag wat vir hom is. En hy moet 'n wierookpan vol brandende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE neem en sy hande vol fyngestampte reukwerk, en dit binne-in die voorhangsel bring. En hy moet die reukwerk op die vuur voor die aangesig van die HERE sit, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan bedek, sodat hy nie sterwe nie. En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel na die ooste sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal van die bloed met sy vinger sprinkel. Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk is, en sy bloed in die voorhangsel bring en met daardie bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het, en dit op die versoendeksel sprinkel en voor die versoendeksel: En hy moet versoening doen vir die heiligdom vanweë die onreinheid van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge in al hulle sondes; en so moet hy doen vir die tent van samekoms wat onder hulle in die midde oorbly van hulle onreinheid.
LEVITIKUS 16:11-16 Die Boodskap (DB)
“Hy vat dan die bul wat hy self gebring het en offer dit vir sy sonde, en maak vrede tussen die Here en die mense van sy huis. Hy skep met ’n vuurpan kole wat warm gloei van die altaar af daar voor die Here en vat dit saam met twee hande vol fyngemaalde wierook agter die gordyn in die tent in. Wanneer hy daar binne voor die Here die wierook oor die kole strooi, sal daar ’n wolk van die wierook opstyg. Dit sal oor die deksel gaan hang wat op die houer is waarin die getuienis van God se ooreenkoms met sy volk gehou word. Hy sal die deksel glad nie kan sien nie en nie doodgaan nie. Hy vat dan die bloed van die bul wat hy geslag het en sprinkel dit sewe keer met sy vinger teen die voorkant van die versoendeksel en op die grond voor die deksel. As hy daarna die bok vir die volk se sonde slag, moet hy ook met daardie bloed agter die gordyn ingaan en daarmee presies dieselfde doen as wat hy met die bul se bloed gedoen het. Hy moet ook daarvan op die grond en teen die deksel spat. Wanneer hy so maak, maak hy die deel agter die gordyn waar die Here is, en sommer ook die hele tent waar hulle die Here ontmoet, los van alles wat Israel verkeerd gedoen het en van al die sonde wat hulle teen die Here gedoen het.
LEVITIKUS 16:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dan sal Aäron die jong bul as ’n sonde-offer vir homself en sy huis bring. Nadat hy die bul vir die sonde-offer geslag het, moet hy ’n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar wat in die teenwoordigheid van die HERE staan. Dan moet hy twee hande vol welriekende wierook vat en met die vuurpan en wierook agter die voorhangsel ingaan. Daar in die teenwoordigheid van die HERE moet hy die wierook op die gloeiende kole neersit sodat ’n wolk van wierook oor die deksel van die ark kan opstyg. Die deksel van die ark is die plek van versoening en dit rus op die ark van die verbond. As hy hierdie instruksies nakom, sal hy nie sterf nie. Dan moet hy sy vinger in die bloed van die bul druk en dit voor die versoeningsdeksel sprinkel en daarna sewe keer teen die voorkant van die ark. “Dan moet Aäron die bok as sonde-offer vir die volk slag en die bloed agter die voorhangsel inbring. Daar moet hy die bloed op die versoendeksel en teen die voorkant van die ark sprinkel, net soos hy met die bloed van die bul gemaak het. Op dié manier sal hy versoening bring vir die Allerheiligste plek, en sal hy ook dieselfde doen vir die tent van ontmoeting as gevolg van die verontreinigende sonde en rebellie van die Israeliete.