LEVITIKUS 16:1-34

LEVITIKUS 16:1-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Aäron se twee seuns het gesterf toe hulle 'n offer aan die Here wou bring, en na aanleiding daarvan het die Here vir Moses 'n opdrag gegee. Hy het vir Moses gesê: “Sê vir jou broer Aäron hy mag nooit sommer in die heiligdom agter die voorhangsel ingaan na die deksel van die verbondsark toe nie. Ek verskyn telkens in 'n wolk bokant die deksel van die ark en as Aäron sommer ingaan, sal hy sterwe. Voordat hy in die Allerheiligste ingaan, moet hy 'n jong bul as sondeoffer bring en 'n ram as brandoffer. Verder moet hy die gewyde klere van 'n gewone priester aanhê oor 'n broek en hy moet 'n serp om sy lyf en 'n tulband op sy kop hê. Dit moet alles gewyde linneklere wees. Hy moet hom was voor hy dit aantrek. Van die gemeente Israel moet hy twee bokramme as sondeoffer kry en een skaapram as brandoffer. Hy offer dan eers die bul wat vir homself bedoel is as sondeoffer, sodat hy versoening kan doen vir homself en al die priesters. Daarna bring hy die twee bokke na die ingang van die tent van ontmoeting toe in die teenwoordigheid van die Here. Hier moet Aäron lootjies trek oor die bokke. Die een lootjie moet gemerk wees ‘vir die Here’ en die ander een ‘vir Asasel’. Aäron moet die bok wat vir die Here geloot word, as 'n sondeoffer offer. Die bok wat vir Asasel geloot is, moet bly lewe. Die bok moet in die teenwoordigheid van die Here bly staan sodat Aäron die versoeningshandeling daarop kan verrig, en daarna moet die bok die woestyn in gestuur word vir Asasel. “Wanneer Aäron die sondeofferbul offer wat vir homself bedoel is en waarmee hy vir hom en al die priesters versoening doen, moet hy die bul slag en moet hy 'n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar af wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Aäron moet ook 'n dubbele handvol fyngestampte wierook vat en daarmee agter die voorhangsel ingaan. Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy dan die wierook op die kole gooi sodat dit 'n rookwolk maak wat die deksel van die ark bedek waarin die getuienis is. Dan sal hy nie sterf nie. Hy moet daarna van die bloed van die bul met sy vinger sprinkel op die deksel se voorkant en dan ook nog sewe maal op die grond voor die deksel. Wanneer Aäron die bokram slag wat as sondeoffer vir die volk bedoel is, moet hy met die bloed agter die voorhangsel ingaan en daarmee doen soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet dit sprinkel op die deksel en voor die deksel. So moet hy die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes. Hy moet die tent van ontmoeting ook op dieselfde manier reinig, want dit staan by die volk met al hulle onreinheid. Niemand anders mag in die tent van ontmoeting wees vandat Aäron ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitgaan nie: hy doen versoening vir homself, die priesters en die hele gemeente Israel. Daarna moet Aäron uitgaan na die altaar toe in die teenwoordigheid van die Here en dit reinig: hy moet van die bloed van die bul en die bokram rondom al die horings van die altaar smeer en met sy vinger van die bloed sewe keer op die altaar sprinkel. So moet hy die altaar reinig van die onreinheid van die Israeliete en dit wy. “Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring. Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag. So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na 'n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word. “Aäron moet dan in die tent van ontmoeting ingaan en sy linneklere waarmee hy in die Allerheiligste ingegaan het, uittrek en dit daar neersit. Hy moet hom op 'n gewyde plek gaan was en sy hoëpriesterlike klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en die brandoffer vir die versoening van sy eie sonde bring, asook die brandoffer vir die versoening van die sonde van die volk. Hy moet ook die vet van die sondeoffer op die altaar verbrand. Die man wat die bok na Asasel toe gejaag het, moet sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom. Die sondeofferbul en die sondeofferbok waarvan die bloed gebruik is om versoening te doen in die Allerheiligste, moet buite die kampplek verbrand word, velle, vleis, pensmis en al. Die man wat dit verbrand het, moet eers sy klere en homself was voordat hy na die kamp toe terugkom. Julle moet dit as 'n vaste instelling handhaaf dat julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge wat by julle woon, moet vas en alle werk moet staak op die tiende dag van die sewende maand, want op dié dag moet daar vir julle versoening gedoen word sodat julle rein kan wees. Julle moet in die teenwoordigheid van die Here gereinig word van al julle sonde. Dit moet 'n plegtige rusdag wees, 'n dag waarop julle vas, 'n vaste instelling. Die priester wat gesalf is en in die plek van sy vader as hoëpriester georden is, moet die versoening doen. Hy moet die gewyde linneklere aantrek, die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele gemeente. Die versoening vir die sonde van die Israeliete moet 'n vaste instelling wees. Dit moet elke jaar plaasvind.” Aäron het toe gedoen wat die Here vir Moses beveel het.

LEVITIKUS 16:1-34 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het met Moses gepraat. Dit was nadat die twee seuns van Aäron gesterf het toe hulle te naby die Here gekom het. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir jou broer Aäron sê hy mag nie sommer enige tyd kom in die gewyde kamer agter die gordyn nie. Die kis van die Here is daar en die deksel is op die kis. Hy sal sterf as hy dit doen, want Ek verskyn in 'n wolk bokant die deksel. Aäron mag net in die gewyde kamer kom wanneer hy 'n jong bul bring om 'n sonde-offer te wees en ook 'n skaap-ram om 'n brand-offer te wees. Hy moet die gewyde rok aantrek en hy moet 'n linne-broek dra. Hy moet die linne-belt vasmaak en die tulband op sy kop sit, dit is die gewyde klere. Aäron moet homself bad en hy moet daardie klere aantrek. Hy moet twee bok-ramme neem van die volksvergadering van die Israeliete, dit is om sonde-offers te wees en hy moet een skaap-ram neem om 'n brand-offer te wees. Aäron moet dan die bul offer, dit is 'n sonde-offer vir sy sondes, en hy moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin. Daarna moet hy die twee bokke neem en hy moet hulle voor die Here laat staan by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Dan moet Aäron lootjies trek oor die bokke, een bok is vir die Here en een bok is vir Asasel. Aäron moet dan die Here se bok nader bring, en hy moet dit offer om 'n sonde-offer te wees. Hy moet die bok vir Asasel lewendig voor die Here laat staan sodat hy op die bok versoening kan doen. Dan moet hy die bok vir Asasel in die woestyn stuur. Aäron moet dan die bul nader bring wat 'n sonde-offer vir homself is en hy moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin. Hy moet die bul slag wat 'n sonde-offer vir homself is. Hy moet 'n pan vol vuurkole neem van die altaar voor die Here, en hy moet 'n handvol fyn wierook neem wat lekker ruik. Hy moet dit na agter die gordyn neem. Daar moet hy die wierook op die vuurkole sit sodat die wierook 'n rookwolk maak. Die rook sal die deksel toemaak wat op die kis is waarin die tien gebooie is. As die wolk nie die deksel toemaak nie, dan sal Aäron sterf. Hy moet dan van die bul se bloed neem en hy moet dit met sy vinger spat teen die voorkant van die deksel. Hy moet sewe maal van die bloed teen die deksel spat. Daarna moet Aäron die bok slag wat 'n sonde-offer vir die volk is. Hy moet die bloed van die bok neem na agter die gordyn, en hy moet dieselfde doen met die bok se bloed soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet die bloed spat teen die voorkant van die deksel. So moet Aäron versoening doen in die gewyde kamer, want die Israeliete is onrein en hulle het verkeerd gedoen. Hy moet versoening doen vir al hulle sondes, en hy moet dit ook doen vir die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, want dit is die tent wat by hulle bly, by hulle wat onrein is. In die tyd wanneer Aäron inkom om versoening te doen in die gewyde kamer en totdat hy weer uitgaan, mag daar niemand anders wees in die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn nie. Aäron moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin en vir die hele volk Israel. Daarna moet hy uitgaan na die altaar wat voor die Here is en hy moet daarop versoening doen. Hy moet van die bul en die bok se bloed neem en hy moet dit smeer aan die horings van die altaar. Hy moet sewe maal van die bloed teen die altaar spat. So moet hy die altaar reinig en so moet hy die altaar wy. Wanneer hy klaar versoening gedoen het vir die gewyde kamer en vir die tent en die altaar, dan moet hy die bok wat nog lewe, nader bring. Hy moet altwee sy hande op die bok se kop sit en hy moet daarop alles bely wat die Israeliete verkeerd gedoen het, al hulle sondes. So moet hy die sondes op die bok se kop sit en dan moet hy 'n persoon stuur wat die bok na die woestyn moet neem. Die bok moet al die sondes van die volk wegdra na die woestyn, en die persoon moet die bok in die woestyn los. Daarna moet Aäron kom na die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy moet die linne-klere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die gewyde kamer ingegaan het en hy moet die klere daar neersit. Hy moet homself bad in 'n gewyde plek en hy moet ander klere aantrek. Dan moet hy uitkom en hy moet sy brand-offer offer en ook die brand-offer van die volk. So doen hy versoening vir homself en vir die volk. Hy moet ook die vet van die sonde-offer verbrand op die altaar. Die persoon wat die bok weggeneem het na Asasel toe, moet sy klere was en hy moet homself bad. Daarna mag hy terugkom in die kamp. Aäron het die bloed van die bul en van die bok wat sonde-offers is, gebruik om versoening te doen in die gewyde kamer. Iemand moet dan die bul en die bok uit die kamp neem en hy moet hulle verbrand, ook die velle en die vleis en die pensmis. Die persoon wat dit doen, moet sy klere was en hy moet homself bad, daarna mag hy terugkom in die kamp. Julle moet altyd dit doen: Julle moenie eet of werk op die tiende dag van die sewende maand nie, die Israeliete moenie werk nie en ook nie die vreemdelinge wat by julle woon nie. Hoekom? Want op hierdie dag moet die hoëpriester vir julle versoening doen en so moet hy julle reinig van julle sonde, sodat julle rein kan wees voor die Here. Hierdie dag moet vir julle 'n spesiale Sabbatdag wees, en julle mag dan nie eet nie. Dit moet altyd so wees. Die priester wat gesalf is om hoëpriester te wees ná sy pa, moet sy linne-klere aantrek, die gewyde klere. Hy moet versoening doen vir die tempel, vir die gewyde kamer, vir die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, vir die altaar, vir die priesters en vir die hele volk wat daar bymekaar is. Dit moet elke jaar gebeur. Die hoëpriester moet versoening doen vir die Israeliete, sodat die Here al hulle sondes sal vergewe.” Aäron het gedoen soos die Here vir Moses gesê het.

LEVITIKUS 16:1-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die HERE nader gekom het; en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel. Hiermee moet Aäron in die heiligdom ingaan: met 'n jong bul as sondoffer en 'n ram as brandoffer. Hy moet 'n heilige linnerok aantrek en 'n linnebroek moet oor sy vlees wees en met 'n linnegordel moet hy hom gord en 'n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek. En van die vergadering van die kinders van Israel moet hy twee bokramme as sondoffer en een ram as brandoffer neem. Dan moet Aäron die sondofferbul wat vir hom bedoel is, aanbring en vir hom en sy huis versoening doen. Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die HERE stel by die ingang van die tent van samekoms. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die HERE op gekom het en hom as sondoffer berei; maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die HERE gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur. Aäron moet dan die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat aankom en vir hom en sy huis versoening doen: hy moet die sondofferbul slag wat vir hom bedoel is, en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie. En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel. Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel. So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon. En niemand mag in die tent van samekoms wees as hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitkom nie en versoening gedoen het vir hom en vir sy huis en vir die hele vergadering van Israel. Dan moet hy na die altaar uitgaan wat voor die aangesig van die HERE is en daarvoor versoening doen: hy moet van die bloed van die bul en van die bloed van die bok neem en dit rondom aan die horings van die altaar stryk en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel. So moet hy dit dan reinig en heilig van die onreinhede van die kinders van Israel. En as hy die versoening van die heiligdom en die tent van samekoms en die altaar voleindig het, moet hy die lewendige bok laat aankom; en Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur 'n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur. So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na 'n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los. Dan moet Aäron in die tent van samekoms ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die heiligdom ingegaan het, en dit daar neerlê. En hy moet sy liggaam op 'n heilige plek in die water bad en sy klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk berei, om vir hom en vir die volk versoening te doen. Ook moet hy die vet van die sondoffer op die altaar aan die brand steek. En hy wat die bok vir Asásel weggedrywe het, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom. Maar die sondofferbul en die sondofferbok waarvan die bloed ingebring is om versoening te doen in die heiligdom, moet hulle buitekant die laer uitbring; en hulle velle, hulle vleis en hulle mis moet met vuur verbrand word. En hy wat dit verbrand, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom. En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie — die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef. Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al julle sondes moet julle voor die aangesig van die HERE rein word. 'n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Dit is 'n ewige insetting. En die priester wat gesalf en aangestel sal word om in die plek van sy vader die priesteramp te bedien, moet die versoening doen; en hy moet die linneklere, die heilige klere, aantrek en versoening doen vir die Allerheiligste; ook moet hy vir die tent van samekoms en die altaar versoening doen, en vir die priesters en die hele volk van die vergadering moet hy versoening doen. En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees om vir die kinders van Israel weens al hulle sondes een maal in die jaar versoening te doen. En hy het gedoen soos die HERE Moses beveel het.

LEVITIKUS 16:1-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het met Moses gepraat ná die dood van Aäron se twee seuns, toe hulle voor die HERE nader gekom en gesterf het. Die HERE het vir Moses gesê: “Praat met jou broer, Aäron. Hy mag nie enige tyd in die heiligdom agter die voorhangsel voor die versoendeksel ingaan wat op die ark is nie, sodat hy nie sterf nie, want Ek verskyn in die wolk bo die versoendeksel. “ Aäron moet met die volgende in die heiligdom ingaan: 'n jong bul as •reinigingsoffer en 'n ram as •brandoffer. Hy moet 'n heilige priesterrok van linne aantrek, 'n linnebroek oor sy onderlyf dra, hom met 'n linnelyfserp omgord en vir hom 'n linnetulband ombind. Dit is heilige klere. Hy moet sy lyf met water afspoel en dit dan aantrek. Uit die volksvergadering van die Israeliete moet hy twee bokramme vir 'n reinigingsoffer en 'n skaapram vir 'n brandoffer neem. Aäron moet die bul vir die reinigingsoffer wat vir homself bedoel is, naderbring en versoening doen vir hom en sy huis. Hy moet die twee bokramme neem en hulle voor die HERE by die ingang van die •Tent van Ontmoeting laat staan. Aäron moet oor die twee bokke lootjies trek: een lootjie vir die HERE en die ander vir Asasel. Aäron moet die bok wat vir die HERE geloot is, naderbring en as 'n reinigingsoffer offer. Maar die bok wat vir Asasel geloot is, moet hy lewend voor die HERE laat staan om die versoeningshandeling op hom uit te voer en hom dan vir Asasel na die woestyn te stuur. “ Nadat Aäron die bul vir die reinigingsoffer wat vir homself bedoel is, nadergebring het om versoening te doen vir hom en sy huis, moet hy die bul keelaf sny as 'n reinigingsoffer vir homself. Hy moet die vuurpan neem, vol kole vuur wat van die altaar voor die HERE af kom, asook twee hande vol fyngestampte geurige reukwerk, en daarmee agter die voorhangsel ingaan. Hy moet die reukwerk voor die HERE op die kole gooi. Die wolk rook uit die reukwerk sal die versoendeksel wat oor die Getuienis is, verberg, sodat hy nie sterf nie. Hy moet van die bul se bloed neem en dit met sy vinger op die voorkant van die versoendeksel sprinkel. Voor die versoendeksel moet hy met sy vinger sewe maal van die bloed sprinkel. “ Daarna moet hy die bok wat vir die reinigingsoffer van die volk bedoel is, keelaf sny en die bloed agter die voorhangsel inneem. Hy moet met die bloed doen wat hy met die bul se bloed gedoen het en dit op die versoendeksel en ook voor die versoendeksel sprinkel. So doen hy versoening vir die heiligdom vanweë die •onreinheid van die Israeliete en hulle oortredings, ja, al hulle sondes. Net so doen hy dit vir die Tent van Ontmoeting wat tussen hulle met hulle onreinheid opgeslaan is. Geen mens mag in die Tent van Ontmoeting wees wanneer hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen nie, totdat hy uitkom en klaar versoening gedoen het vir homself, sy huis en die hele geloofsgemeenskap van Israel. “ Daarna moet hy uitgaan na die altaar wat voor die HERE is en ook daarvoor versoening doen. Hy moet van die bul se bloed en van die bok se bloed neem en dit aan al die horings van die altaar smeer. Hy moet van die bloed met sy vinger sewe maal op die altaar sprinkel en dit reinig en heilig, vanweë die onreinheid van die Israeliete. “Wanneer die versoening vir die heiligdom, die Tent van Ontmoeting en die altaar afgehandel is, moet hy die lewendige bok naderbring. Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê, en dan oor die bok belydenis doen van al die skuld van die Israeliete, en al hulle oortredings, ja, al hulle sondes. Hy moet die sondes so op die kop van die bok lê en hom dan, deur 'n man wat vooraf aangewys is, die woestyn in stuur. Die bok dra op hom al hulle skuld na 'n onherbergsame gebied. Die man moet die bok in die woestyn loslaat. “ Aäron moet in die Tent van Ontmoeting ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy die heiligdom binnegegaan het. Hy moet dit daar laat, sy liggaam met water afspoel op 'n heilige plek en sy klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer vir die volk bring om vir homself en vir die volk versoening te doen. Die vet van die reinigingsoffer moet hy op die altaar verbrand. “ Die man wat die bok vir Asasel losgelaat het, moet sy klere was en sy liggaam met water afspoel. Eers dan mag hy weer in die kamp ingaan. “ Die bul vir die reinigingsoffer en die bok vir die reinigingsoffer, waarvan die bloed in die heiligdom ingeneem is om versoening te doen, moet uit die kamp uitgeneem en met vuur verbrand word: hulle velle, hulle vleis en hulle pensmis. Die man wat dit verbrand het, moet sy klere was en sy liggaam met water afspoel. Eers dan mag hy weer in die kamp ingaan. “ Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle geld: Die tiende dag van die sewende maand moet julle julle verootmoedig en nie julle daaglikse werk doen nie, die gebore Israeliete sowel as die •vreemdelinge wat tussen julle woon. Want op daardie dag moet Aäron vir julle versoening doen om julle te reinig van al julle sondes. Voor die HERE moet julle rein wees. Dit geld vir julle as 'n buitengewone Sabbat. Julle moet julle verootmoedig. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld. Die priester wat in die plek van sy vader as priester gesalf en gewy is, moet die versoening doen. Hy moet linneklere aantrek, die klere van die heiligdom, en vir die Allerheiligste versoening doen. Vir die Tent van Ontmoeting en die altaar moet hy versoening doen. Hy moet ook vir die priesters en al die mense van die geloofsgemeenskap versoening doen. Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle geld: Een keer per jaar moet daar vir die Israeliete versoening gedoen word vir al hulle sondes.” Aäron het toe gedoen wat die HERE Moses beveel het.

LEVITIKUS 16:1-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron toe hulle voor die aangesig van die HERE geoffer het en gesterwe het; Toe sê die HERE vir Moses: Sê met jou broer Aäron dat hy nie altyd in die heiligdom kom, binne-in die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is nie; dat hy nie sterwe nie, want Ek sal in die wolk op die versoendeksel verskyn. So moet Aäron in die heiligdom kom: met 'n jong bul as sondoffer en 'n ram as brandoffer. Hy moet die heilige linnemantel aantrek, en hy moet die linnebroeke oor sy vlees hê, en hy moet met 'n linnegordel omgord wees, en met 'n linne-tulband moet hy aangetrek word: dit is heilige klere; daarom moet hy sy vlees in water was en dit so aantrek. En hy moet uit die vergadering van die kinders van Israel twee bokramme as sondoffer en een ram as brandoffer neem. En Aäron moet sy sondofferbul wat vir hom is, berei en vir homself en vir sy huis versoening doen. En hy moet die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die HERE stel by die ingang van die tent van samekoms. En Aäron moet die lot oor die twee bokke werp; een lot vir die HERE en die ander lot vir die sondebok. En Aäron moet die bok bring waarop die lot van die HERE geval het, en hom as sondoffer berei. Maar die bok waarop die lot geval het om as sondebok te wees, moet lewendig voor die aangesig van die HERE gebring word om met hom versoening te doen en hom as sondebok in die woestyn te laat gaan. En Aäron moet die sondofferbul wat vir hom is, bring en vir homself en vir sy huis versoening doen en die sondofferbul slag wat vir hom is. En hy moet 'n wierookpan vol brandende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE neem en sy hande vol fyngestampte reukwerk, en dit binne-in die voorhangsel bring. En hy moet die reukwerk op die vuur voor die aangesig van die HERE sit, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan bedek, sodat hy nie sterwe nie. En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel na die ooste sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal van die bloed met sy vinger sprinkel. Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk is, en sy bloed in die voorhangsel bring en met daardie bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het, en dit op die versoendeksel sprinkel en voor die versoendeksel: En hy moet versoening doen vir die heiligdom vanweë die onreinheid van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge in al hulle sondes; en so moet hy doen vir die tent van samekoms wat onder hulle in die midde oorbly van hulle onreinheid. En daar mag niemand in die tent van samekoms wees as hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen nie, totdat hy uitgaan en versoening gedoen het vir homself en vir sy huisgesin en vir die hele vergadering van Israel. En hy moet uitgaan na die altaar wat voor die aangesig van die HERE is, en daarvoor versoening doen; en neem van die bloed van die bul en van die bloed van die bok en stryk dit rondom aan die horings van die altaar. En hy moet van die bloed met sy vinger sewe maal daarop sprinkel en dit reinig en dit heilig van die onreinheid van die kinders van Israel. En as hy klaar is met die versoening van die heiligdom en die tent van samekoms en die altaar, moet hy die lewendige bok bring. En Aäron moet albei sy hande op die kop van die lewende bok lê en oor hom al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge in al hulle sondes bely, en dit op die kop van die bok sit en hom stuur weg deur die hand van 'n fikse man die woestyn in: En die bok sal op hom al hulle ongeregtighede dra na 'n onbewoonde land; en hy sal die bok in die woestyn laat los. En Aäron moet in die tent van samekoms ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die heiligdom ingegaan het, en moet dit daar laat. En hy moet sy vlees in die heiligdom met water was en sy klere aantrek en uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk bring, en vir homself en vir die volk versoening doen. En die vet van die sondoffer moet hy op die altaar aan die brand steek. En hy wat die bok vir die sondebok laat los het, moet sy klere was en sy vlees in water bad en daarna in die laer ingaan. En die sondofferbul en die sondofferbok waarvan die bloed ingebring is om in die heiligdom versoening te doen, moet iemand buitekant die laer uitbring; en hulle moet hulle velle en hulle vleis en hulle mis met vuur verbrand. En hy wat dit verbrand, moet sy klere was en sy vlees in water bad, en daarna moet hy in die laer ingaan. En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees: dat julle in die sewende maand, op die tiende dag van die maand, julle siele moet verdruk en geen werk doen nie, of dit een van julle land of 'n vreemdeling is en wat onder julle vertoef: Want op dié dag moet die priester vir julle versoening doen om julle te reinig, sodat julle rein kan word van al julle sondes voor die aangesig van die HERE. Dit moet vir julle 'n sabbat van rus wees, en julle moet julle siele verdruk volgens 'n ewige insetting. En die priester wat hy sal salf en wat hy moet wy om die priesteramp in die plek van sy vader te bedien, moet versoening doen en die linneklere aantrek, naamlik die heilige klere. En hy moet versoening doen vir die heilige heiligdom, en hy moet versoening doen vir die tent van samekoms en vir die altaar, en hy moet versoening doen vir die priesters en vir die hele volk van samekoms. En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees om een maal in die jaar vir die kinders van Israel versoening te doen vir al hulle sondes. En hy het gedoen soos die HERE Moses beveel het.

LEVITIKUS 16:1-34 Die Boodskap (DB)

Twee van Aäron se seuns is dood omdat hulle nie op die regte manier vir die Here geoffer het nie. Die Here het daarom met Moses gepraat. Hy het vir Moses gesê: “Jy moet jou broer Aäron waarsku om nie sommer enige tyd daar agter die gordyn in te gaan wat voor die ark hang nie. Hy sal doodgaan. Ek is daar in ’n wolk wat bo die deksel hang. As Aäron in daardie deel van my tent wil inkom, moet hy ’n jong bul bring om vir die sonde te offer en ’n ram om op die altaar te verbrand. Hy moet ook eers gaan was en dan sy spesiale klere aantrek wat hy dra as hy by die tent sy werk doen: die linnehemp, die linnebroek, die gordel wat hy aansit en die hoed wat hy op sy kop dra. Hy moet ook by die volk twee bokke kry om vir die sonde te offer en een skaapram om op die altaar te verbrand. Hy moet die bul wat hy vir homself gekry het nader bring na die tent toe om dit te offer. Hy sal daarmee vir sy kinders se sonde betaal en vrede maak tussen die Here en sy eie mense. Daarna moet hy die twee bokke vat wat hy by die volk gekry het en hulle voor die Here by die ingang van die tent laat staan. Hy moet lootjies trek tussen die twee bokke om vas te stel watter bok hy vir die Here moet offer en watter een hy die woestyn in moet wegstuur, vir Asasel, die demoon wat in die woestyn bly. Aäron vat dan die bok wat vir die Here geloot is en slag dit om dit vir die volk se sonde te offer. Die ander bok wat bly leef het en weggestuur moet word, bring hy eers voor die Here om daardeur vrede met God te maak voor hy dit wegstuur na die woestyn toe. “Hy vat dan die bul wat hy self gebring het en offer dit vir sy sonde, en maak vrede tussen die Here en die mense van sy huis. Hy skep met ’n vuurpan kole wat warm gloei van die altaar af daar voor die Here en vat dit saam met twee hande vol fyngemaalde wierook agter die gordyn in die tent in. Wanneer hy daar binne voor die Here die wierook oor die kole strooi, sal daar ’n wolk van die wierook opstyg. Dit sal oor die deksel gaan hang wat op die houer is waarin die getuienis van God se ooreenkoms met sy volk gehou word. Hy sal die deksel glad nie kan sien nie en nie doodgaan nie. Hy vat dan die bloed van die bul wat hy geslag het en sprinkel dit sewe keer met sy vinger teen die voorkant van die versoendeksel en op die grond voor die deksel. As hy daarna die bok vir die volk se sonde slag, moet hy ook met daardie bloed agter die gordyn ingaan en daarmee presies dieselfde doen as wat hy met die bul se bloed gedoen het. Hy moet ook daarvan op die grond en teen die deksel spat. Wanneer hy so maak, maak hy die deel agter die gordyn waar die Here is, en sommer ook die hele tent waar hulle die Here ontmoet, los van alles wat Israel verkeerd gedoen het en van al die sonde wat hulle teen die Here gedoen het. Van die oomblik af dat Aäron in die Here se deel agter die gordyn ingegaan het om vir hulle vrede by God te maak totdat hy weer daar uitkom, mag niemand anders in die tent kom waar hulle die Here ontmoet nie. “Nadat hy vir homself, sy gesin en die hele Israel vrede gemaak het met die Here, moet hy weer uitkom na die altaar toe en ook daar kom vrede maak. Hy vat van die bloed van die bul en van die bok en smeer daarvan reg rondom aan die horings van die altaar. Hy moet ook met sy vinger sewe keer van die bloed teen die altaar sprinkel. So maak hy die altaar skoon van al die vuilheid van Israel se sonde en skoon vir die Here. “Sodra Aäron die Here se spesiale deel agter die gordyn, asook die tent waar hulle die Here ontmoet en die altaar aan sy voorkant weer vir die Here afgesonder het, moet hy die bok wat nie geslag is nie, nader bring. Hy sit albei sy hande op die bok se kop. Terwyl sy hande op die bok se kop is, moet hy alles bely wat Israel verkeerd gedoen het. Hy moet sê hoe moedswillig hulle is en hoe dikwels hulle nie doen wat die Here van hulle vra nie. Hy dra al hierdie verkeerde dinge op die bok oor. Iemand wat daar reg staan, moet dan die bok weglei die woestyn in. Die bok dra dan al hulle oortredings weg na ’n plek waar daar nie mense is nie. Die man jaag die bok dan aan om nog dieper die woestyn in te gaan. “Aäron gaan dan weer terug na die tent toe. Hy trek die linneklere uit wat hy aangehad het toe hy in die afgesonderde deel agter die gordyn ingegaan het en los die klere daar. Hy gaan was hom op ’n plek wat daarvoor eenkant gehou word en trek weer sy gewone klere aan. Hy gaan terug en bring offers wat hy op die altaar verbrand namens homself en die volk. Daardeur word hy en die volk vergewe vir hulle sondes en kom daar weer vrede met die Here. Hy sorg dat die diere se vet heeltemal wegbrand op die altaar. “Wanneer die man wat die bok in die woestyn gaan injaag het, terugkom, moet hy eers sy klere en homself gaan was voordat hy weer in die kamp kan ingaan. Die karkasse van die bul en die bok wat vir die sonde geslag is en waarvan die bloed in die afgesonderde deel agter die voorhangsel gebruik is om vrede te bring moet dan uit die kamp weggevat word. Dit moet met vel, vleis, binnegoed en al daar buite die kamp verbrand word. Die persoon wat dit verbrand, moet na die tyd eers sy klere en homself was voordat hy weer in die kamp kan terugkom. “Julle moet elke jaar op die tiende dag van die sewende maand ’n dag hê waarop julle niks eet nie. Julle moet op daardie dag julle gedagtes laat gaan oor al die dinge wat julle verkeerd gedoen het. Niemand van julle, selfs ook mense wat van ander plekke kom en by julle bly, mag op daardie dag werk nie. Op daardie dag word daar vir julle sondes betaal. Julle word vrygemaak van al die skuld van julle sonde en daar kom weer vrede tussen julle en die Here. Dit is ’n dag vir die Here waarop julle alles net so moet laat staan om te vas en julle voor God te verneder. Dit is ’n afspraak tussen julle en die Here wat vir elke jaar vas staan. Die dienaar wat die Here daarvoor aangestel het en sy seuns wat hom later opvolg in die diens van die Here, moet elke jaar al hierdie dinge doen om vrede met die Here te maak. Hy moet vir dié geleentheid sy spesiale klere aantrek en gaan vrede maak in die deel agter die gordyn wat vir die Here afgesonder is. Hy moet gaan vrede maak vir die hele tent waar die Here julle ontmoet en vir die altaar wat voor die tent staan. Hy moet ook vrede maak by die Here vir die mense wat by die tent werk en vir die hele volk. “Dit moet ’n vaste datum op julle kalender wees dat daar een maal elke jaar ’n dag van vergewing van sonde en vrede vir Israel sal wees.” Moses het presies gedoen soos die Here gesê het.

LEVITIKUS 16:1-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het met Moses gepraat ná die dood van Aäron se twee seuns wat gesterf het toe hulle in die teenwoordigheid van die HERE gekom het. Die HERE het vir Moses gesê: “Waarsku jou broer Aäron om nie sommer wanneer hy wil by die Allerheiligste plek agter die voorhangsel in te gaan nie. Die straf hiervoor is die dood. Die deksel van die ark wat die plek van versoening is, is daar en Ek is daar in ’n wolk bo die deksel van die ark. “Wanneer Aäron die heiligdom ingaan, moet hy hierdie instruksies volledig nakom. Hy moet eers ’n jong bul as ’n sonde-offer en ’n ram as ’n brandoffer bring. Nadat hy homself van kop tot toon gewas het, moet hy sy linnekleed bo-oor die ander klere teen sy lyf aantrek. Hy moet die linnegordel om sy middel bind en ’n linnetulband op sy kop sit. Dit is sy heilige klere. Die volk Israel moet dan twee bokramme as ’n sonde-offer en ’n ram as ’n brandoffer vir hom bring. “Aäron sal dan die bul bring as ’n sonde-offer met die oog op versoening vir homself en sy huis. Dan moet hy die twee bokramme vir die HERE na die ingang van die tent van ontmoeting bring. Hy moet die heilige lot werp om te bepaal watter bok vir die HERE geoffer gaan word en watter een die sondebok gaan wees. Aäron sal die bok wat as ’n sonde-offer geoffer moet word, vir die HERE bring. Die bok wat die sondebok moet wees, moet bly leef. Wanneer die bok die woestyn in gestuur word, sal dit versoening bring vir die volk. “Dan sal Aäron die jong bul as ’n sonde-offer vir homself en sy huis bring. Nadat hy die bul vir die sonde-offer geslag het, moet hy ’n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar wat in die teenwoordigheid van die HERE staan. Dan moet hy twee hande vol welriekende wierook vat en met die vuurpan en wierook agter die voorhangsel ingaan. Daar in die teenwoordigheid van die HERE moet hy die wierook op die gloeiende kole neersit sodat ’n wolk van wierook oor die deksel van die ark kan opstyg. Die deksel van die ark is die plek van versoening en dit rus op die ark van die verbond. As hy hierdie instruksies nakom, sal hy nie sterf nie. Dan moet hy sy vinger in die bloed van die bul druk en dit voor die versoeningsdeksel sprinkel en daarna sewe keer teen die voorkant van die ark. “Dan moet Aäron die bok as sonde-offer vir die volk slag en die bloed agter die voorhangsel inbring. Daar moet hy die bloed op die versoendeksel en teen die voorkant van die ark sprinkel, net soos hy met die bloed van die bul gemaak het. Op dié manier sal hy versoening bring vir die Allerheiligste plek, en sal hy ook dieselfde doen vir die tent van ontmoeting as gevolg van die verontreinigende sonde en rebellie van die Israeliete. Niemand word in die tent van ontmoeting toegelaat terwyl Aäron daar besig is om versoening te doen vir die Allerheiligste plek nie. Niemand mag daar ingaan voordat hy nie daar uitgekom het nadat hy versoening gedoen het vir homself, sy huis en vir al die Israeliete nie. “Dan sal Aäron uitgaan om versoening te doen vir die altaar wat in die teenwoordigheid van die HERE staan deur van die bloed van die bul en die bok aan elk van die altaar se horings te smeer. Dan moet hy sy vinger in die bloed druk en dit sewe keer oor die altaar sprinkel. Op dié manier sal hy die altaar reinig van die onreinheid van Israel. “Wanneer Aäron klaar is om versoening te doen vir die Allerheiligste plek, die tent van ontmoeting en die altaar, moet hy die lewende bok naderbring. Hy moet al twee sy hande op die kop van die bok lê en al die sondes en opstand van die Israeliete daaroor bely. Op dié manier sal hy die volk se sondes op die kop van die bok lê. Dan sal hy die bok die woestyn in jaag, gelei deur iemand wat gekies is vir die taak. Die man moet die bok in die woestyn agterlaat. So sal die bok al die sondes van die volk na ’n afgeleë plek wegdra. “Wanneer Aäron die tent van ontmoeting binnegaan, moet hy al die linneklere uittrek wat hy aangehad het toe hy in die Allerheiligste plek ingegaan het. Hy moet die klere daar laat. Dan moet hy sy hele liggaam op ’n heilige plek met water gaan was, sy gewone priesterklere aantrek, en weer uitgaan om sowel sy eie brandoffer as die brandoffer vir die volk te offer. Op dié manier sal hy versoening doen vir homself en vir die volk. Hy moet ook al die vet van die sonde-offer op die altaar verbrand. “Die man wat gekies is om die bok as sondebok na die woestyn te vat, moet sy klere was en homself in water bad. Dan mag hy terugkeer na die kamp toe. “Die geofferde bul en die bok wat gegee is as sonde-offers, waarvan Aäron die bloed in die Allerheiligste plek ingebring het om versoening vir Israel te doen, moet buite die kamp geneem word om daar verbrand te word. Dit sluit die diere se velle, binnegoed en die mis in. Die man wat dit moet verbrand, moet sy klere was en homself in water was voordat hy na die kamp toe terugkeer. “Op die tiende dag van die sewende maand moet julle vas en geen werk doen nie. Dit is ’n permanente wet vir julle en dit is van toepassing op alle gebore Israeliete en ook vir die vreemdelinge wat tussen julle woon. Op dié dag sal daar versoening vir julle gedoen word en julle sal van al julle sondes voor die HERE gereinig word. Dit sal ’n Sabbatdag van totale rus wees en julle sal die dag deurbring deur te vas. Dit is ’n permanente wet vir julle. In die toekoms sal die versoeningshandeling gedoen word deur die gesalfde hoëpriester wat in die plek van Aäron sal dien. Hy sal heilige linneklere aantrek, die Allerheiligste plek, die tent van ontmoeting en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele volk. Om een keer elke jaar versoening te doen vir die Israeliete is ’n permanente wet vir julle.” Moses het al hierdie instruksies wat die HERE vir hom gegee het, gevolg.