LEVITIKUS 14:10-57

LEVITIKUS 14:10-57 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op die agtste dag moet hy twee jong ramme sonder gebrek en een jaaroud ooitjie sonder gebrek neem, asook 'n •graanoffer van drie tiendes van 'n efa gesifte meel wat met olyfolie gemeng is en een log olyfolie. Die priester wat die reiniging voltrek, moet die man wat hom wil laat reinig daarmee voor die HERE laat staan by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Die priester moet een van die jong ramme neem en dit saam met die log olyfolie naderbring as 'n •hersteloffer. Hy moet dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Die man moet die jong ram keelaf sny waar die •reinigingsoffer en die •brandoffer keelaf gesny word, op 'n heilige plek, want soos die reinigingsoffer, kom die hersteloffer die priester toe. Dit is besonder heilig. Die priester moet van die hersteloffer se bloed neem en dit aan die persoon wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer. Daarna moet die priester die log olyfolie neem en daarvan in die palm van sy linkerhand uitgooi. Die priester moet sy regterwysvinger in die olyfolie in sy linkerpalm doop en met sy vinger sewe maal daarvan voor die HERE sprinkel. Van die olyfolie wat in sy handpalm oor is, moet die priester aan die persoon wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon, bo-oor die bloed van die hersteloffer, smeer. Die res van die olyfolie in die priester se handpalm moet hy aan die persoon wat hom wil laat reinig, se kop smeer en sodoende vir hom versoening doen voor die HERE. Die priester moet dan die reinigingsoffer bring en versoening doen vir die een wat hom van sy •onreinheid wil laat reinig. Daarna moet hy die brandoffer keelaf sny. Die priester moet die brandoffer en graanoffer op die altaar offer. So doen die priester vir hom versoening. Hy is dan rein. “ Maar as die persoon arm is en dit nie kan bekostig nie, moet hy vir 'n hersteloffer een jong ram as gewyde gawe neem om vir hom versoening te doen, asook 'n tiende van 'n efa gesifte meel wat met olyfolie gemeng is as graanoffer, 'n log olyfolie daarby, en twee tortelduiwe of twee jong duiwe – wat hy ook al kan bekostig – een as reinigingsoffer en die ander as brandoffer. Hy moet dit op die agtste dag van sy reiniging na die priester bring by die ingang van die Tent van Ontmoeting, daar voor die HERE. Die priester moet die jong ram vir die hersteloffer en die log olyfolie neem en dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Die man moet die jong ram vir die hersteloffer keelaf sny en die priester moet van die bloed van die hersteloffer neem en dit aan die een wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer. Die priester moet van die olyfolie in sy linkerhandpalm uitgooi en met sy regterwysvinger moet hy van die olyfolie in sy linkerhandpalm sewe maal voor die HERE sprinkel. Die priester moet van die olyfolie wat in sy handpalm is aan die een wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon, bo-oor die bloed van die hersteloffer, smeer. Die res van die olyfolie in die priester se handpalm moet hy aan die persoon wat hom wil laat reinig, se kop smeer en sodoende vir hom versoening doen voor die HERE. Die priester moet een elk van die tortelduiwe of van die jong duiwe as offer bring – wat die man ook al kan bekostig – een as 'n reinigingsoffer en die ander as 'n brandoffer, saam met die graanoffer. So doen die priester vir die persoon wat hom wil laat reinig versoening voor die HERE. Dit is die voorskrifte vir iemand met velsiekte wat nie die offers vir sy reiniging kan bekostig nie.” Die HERE het met Moses en Aäron gepraat en vir hulle gesê: “ Wanneer julle in Kanaän kom, die land wat Ek vir julle as besitting gaan gee, en Ek tref 'n huis in dié land van julle met 'n skimmelplaag, moet die persoon aan wie die huis behoort, kom en vir die priester sê, ‘Dit lyk vir my daar is 'n skimmelplaag in die huis.’ Die priester moet opdrag gee dat die huis ontruim word voordat hy daar ingaan om die skimmelplaag te ondersoek, om te verhoed dat alles wat in die huis is, onrein word. Daarna kan die priester ingaan om die huis te ondersoek. As hy die skimmelplaag ondersoek en vind dat dit teen die mure van die huis groenerige of rooierige holtes maak wat lyk of dit onder die muur se oppervlak lê, moet die priester by die huis uitgaan na die ingang van die voorhof, en die huis sewe dae lank toesluit. Op die sewende dag moet die priester terugkeer. As hy die huis ondersoek en vind dat die skimmelplaag teen die mure van die huis versprei het, moet die priester opdrag gee dat die klippe waarop die skimmelplaag is, verwyder en buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. Die huis se mure moet hy aan die binnekant reg rondom laat afskraap en die afgeskraapte grond moet buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. Dan moet hulle ander klippe neem en in die plek van daardie klippe inbou. Hulle moet ook ander klei neem en die huis daarmee pleister. “Maar as die skimmelplaag weer in die huis uitslaan nadat die klippe uitgebreek en die huis afgeskraap en oorgepleister is, moet die priester in die huis ingaan. As hy die huis ondersoek en vind dat die plaag versprei het, is daar skadelike skimmel in die huis; dit is onrein. Die huis moet afgebreek word en die klippe, die hout en al die los grond van die huis moet buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. Enigiemand wat die huis binnegaan gedurende die tyd wat dit gesluit is, sal tot die aand toe onrein wees. Iemand wat in die huis slaap, moet sy klere was en iemand wat in die huis eet, moet ook sy klere was. “As die priester egter in die huis ingaan en dit ondersoek en vind dat die skimmelplaag, nadat die huis gepleister is, nie versprei het nie, moet hy die huis rein verklaar omdat die skimmelplaag opgeklaar het. Om die huis te reinig, moet hy twee voëls, 'n stukkie sederhout, 'n karmosynrooi toutjie en 'n marjoleintakkie neem. Die een voël se kop moet hy oor 'n kleipot met vars water afsny. Hy moet die stukkie sederhout, die marjoleintakkie, die karmosynrooi toutjie en die lewendige voël neem en dit doop in die vars water en die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is. Hy moet dan die huis sewe keer besprinkel. So moet hy die huis reinig met die bloed van die voël en die vars water, met die lewendige voël, die stukkie sederhout, die marjoleintakkie en die karmosynrooi toutjie. Die lewendige voël moet hy buite die stad in die oop veld loslaat. So sal hy versoening doen vir die huis. Dit sal dan rein wees. “ Dit is die voorskrifte vir enige geval van velsiekte en uitslag, vir skimmel op klere en in 'n huis, vir 'n swelsel, 'n skurwe plek en 'n ligte vlek, om te kan vasstel wanneer iets onrein is en wanneer dit rein is. “Dit dan wat betref die voorskrifte oor velsiekte en skimmel. ”

LEVITIKUS 14:10-57 Bybel vir almal (ABA)

Op die agste dag moet hy twee ram-lammers en 'n jaaroud ooi-lam na die priester toe bring. Die lammers moet almal gesond wees. Hy moet ook 'n koring-offer bring, die offer is drie tiendes van 'n efa van die beste meel, en hy moet een log olyf-olie bring. Die priester wat die persoon moet reinig, moet dan die persoon en sy offers bring voor die Here by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Die priester moet dan een ram-lam neem en hy moet dit offer saam met die log olyf-olie. Dit is 'n skuld-offer, die priester moet dit heen en weer beweeg voor die Here, dit is 'n beweeg-offer. Die priester moet dan die ram-lam slag op dieselfde plek waar hulle die diere vir die sonde-offer en die brand-offer slag. Hy moet dit op die gewyde plek slag, want die priester kry ook die sonde-offer en hy kry ook die skuld-offer. Dit is 'n hoog-gewyde offer. Die priester moet dan van die bloed van die skuld-offer neem en hy moet dit smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig. Hy moet dit ook smeer aan sy regter-duim en sy regter-groottoon. Die priester moet dan van die olyf-olie neem in sy linker-hand en hy moet sy regter-vinger steek in die olie wat in sy linker-hand is. Hy moet die olie sewe maal voor die Here spat. Die priester moet dan van die olie wat in sy linker-hand is, smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig. Hy moet ook van die olie aan sy regter-duim en sy regter-groottoon smeer, bo-oor die bloed van die skuld-offer. Die priester moet dan die olie wat nog in sy hand oorgebly het, smeer aan die kop van die persoon wat hy moet reinig, en die priester moet voor die Here versoening doen vir die persoon. Daarna moet die priester die sonde-offer offer en hy moet versoening doen vir die persoon sodat die persoon nie meer onrein sal wees nie. Daarna moet die priester die lam slag vir die brand-offer en hy moet die brand-offer en die koring-offer op die altaar offer. Die priester moet so versoening doen vir die persoon, en die persoon sal dan rein wees. “As die persoon arm is en hy het nie geld om vir die lammers te betaal nie, dan moet hy een ram-lam bring om 'n skuld-offer te wees. Dit is 'n beweeg-offer, sodat die priester vir hom versoening kan doen. Hy moet ook een tiende van 'n efa van die beste meel bring wat hy met olyf-olie gemeng en geknie het. Dit is 'n koring-offer. Die persoon moet ook 'n log olyf-olie en twee tortelduiwe of twee makduiwe bring as hy dit kan koop. Een duif is vir 'n sonde-offer en een duif is vir 'n brand-offer. Die persoon moet dan die lam en die duiwe op die agste dag na die priester toe bring, die priester wat hom moet reinig, voor die Here, by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Die priester moet die lam en die log olie neem en hy moet dit heen en weer voor die Here beweeg om 'n beweeg-offer te wees. Daarna moet die priester die lam slag wat 'n skuld-offer is. Hy moet van die bloed neem en dit smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig, en ook aan sy regter-duim en sy regter-groottoon. Daarna moet die priester van die olie in sy linker-hand gooi en hy moet met sy regter-vinger sewe maal van die olyf-olie voor die Here spat. Dan moet die priester van die olyf-olie wat in sy hand is, smeer aan die persoon se regter-oor en sy regter-duim en sy regter-groottoon, hy moet dit smeer bo-oor die bloed van die skuld-offer. Die priester moet dan die olie wat oorbly in sy hand, smeer aan die kop van die persoon wat hy moet reinig, en hy moet voor die Here versoening doen vir die persoon. Daarna moet die priester een tortelduif of een makduif offer. Die een duif moet 'n sonde-offer wees en die ander duif moet 'n brand-offer wees saam met die koring-offer. Die priester moet voor die Here versoening doen vir die persoon wat hy moet reinig. Dit is wat moet gebeur as iemand 'n melaatse seerplek gehad het en as hy nie geld het vir hierdie offers nie.” Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Ek sal vir julle die land Kanaän gee om aan julle te behoort. Wanneer julle in die land kom en Ek laat 'n swam groei teen die mure van 'n huis in daardie land, dan moet die persoon kom aan wie die huis behoort, en hy moet vir die priester sê: ‘Ek sien daar is iets soos 'n swam teen my huis se mure.’ Die priester moet dan sê hulle moet alles uit die huis neem voordat hy na die swam gaan kyk. Dan sal alles wat in die huis is, nie onrein word nie. Daarna moet die priester gaan kyk na die swam. As hy sien die swam teen die huis se muur is groen of rooi en dit lyk of dit dieper is as die muur, dan moet die priester uit die huis gaan en hy moet die huis sewe dae lank toesluit. Wanneer die priester op die agste dag terugkom en hy sien die swam het groter geword teen die huis se muur, dan moet die priester sê hulle moet die klippe waarop die swam is, uithaal en hulle moet dit weggooi op 'n onrein plek buite die stad. Hulle moet die klei aan die binnekant van die huis se mure afkrap en hulle moet dit weggooi op 'n onrein plek buite die stad. Hulle moet dan ander klippe in die muur sit en hulle moet ander klei neem en die mure weer regmaak. Daar sal miskien weer 'n swam groei nadat hulle die klippe uitgebreek het en die klei afgekrap het en die muur weer reggemaak het. As die priester kom kyk en hy sien die swam is daar, dan is dit 'n slegte swam wat groei, dit is onrein. Dan moet hulle die hele huis afbreek en hulle moet die klippe en die klei weggooi op 'n onrein plek buite die stad. As die priester die huis toegesluit het, en iemand gaan in die huis in, dan is hy onrein tot die aand. Iemand wat in die huis slaap of eet, moet sy klere was. Nadat hulle die huis reggemaak het, moet die priester kom kyk. As hy sien die swam het nie weer teen die huis se muur gegroei nie, moet die priester sê die huis is rein, want die swam is weg. As die priester die huis wil reinig, moet hy twee voëls neem en 'n stukkie sederhout en rooi garing en 'n hisop-takkie. Hy moet een van die voëls slag oor vars water in 'n kleipot. Dan moet hy die sederhout en die hisop-takkie en die rooi garing en die voël wat nog lewe, neem en hy moet dit alles in die bloed en water druk. Hy moet van die bloed en die water sewe maal spat teen die huis. Die priester moet die bloed van die voël, en die water, en die voël wat nog lewe, en die sederhout en die hisop-takkie en die rooi garing gebruik om die huis te reinig. Daarna moet hy die voël wat nog lewe, in die veld los. So moet hy versoening doen vir die huis. Die huis sal dan rein wees. “Dit is wat moet gebeur wanneer iemand 'n seerplek kry wat miskien melaats is, of wanneer daar skimmel kom aan klere of swamme teen 'n huis se mure, of wanneer iemand 'n seerplek kry wat swel of 'n skurwe plek of 'n vlek aan sy vel. Die priester moet dan sê of dit rein of onrein is. Dit is die wette oor melaatsheid.”

LEVITIKUS 14:10-57 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En op die agtste dag moet hy twee lammers sonder gebrek neem en een jaaroud ooilam sonder gebrek en drie-tiendes van 'n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en een log olie. En die priester wat die reiniging bewerk, moet die man wat gereinig word, en dié gawes voor die aangesig van die HERE by die ingang van die tent van samekoms stel. En die priester moet die een lam neem en dit saam met die log olie as skuldoffer aanbring en dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg. Dan moet hy die lam slag op die plek waar hulle die sondoffer en die brandoffer slag, in die heilige plek; want die skuldoffer net soos die sondoffer behoort aan die priester; hoogheilig is dit. En die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem, en die priester moet dit stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet. Die priester moet ook van die log olie neem en dit giet in die priester se linkerhand. Dan moet die priester sy regtervinger in die olie steek wat in sy linkerhand is, en met sy vinger van die olie sewe maal sprinkel voor die aangesig van die HERE. En van die orige olie wat in sy hand is, moet die priester stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet, bo oor die bloed van die skuldoffer. Wat dan oor is van die olie wat in die priester se hand is, moet hy stryk op die hoof van hom wat gereinig word. So moet die priester dan vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE. Die priester moet ook die sondoffer berei en vir hom wat gereinig word, versoening doen weens sy onreinheid; en daarna moet hy die brandoffer slag. En die priester moet die brandoffer en die spysoffer op die altaar offer. So moet die priester dan vir hom versoening doen, en hy sal rein wees. Maar as hy arm is en dit nie kan bekostig nie, moet hy een lam as skuldoffer neem om beweeg te word, om vir hom versoening te doen; daarby een tiende van 'n efa fynmeel met olie gemeng as spysoffer, en 'n log olie; ook twee tortelduiwe of twee jong duiwe — wat hy kan bekostig; en die een sal wees 'n sondoffer en die ander 'n brandoffer. Hy moet hulle dan op die agtste dag ná sy reiniging na die priester bring by die ingang van die tent van samekoms voor die aangesig van die HERE. En die priester moet die skuldofferlam en die log olie neem; en die priester moet dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg. Dan moet hy die skuldofferlam slag, en die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem en dit stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet. Ook moet die priester van die olie in die priester se linkerhand giet. Dan moet die priester met sy regtervinger van die olie wat in sy linkerhand is, sewe maal sprinkel voor die aangesig van die HERE. En die priester moet van die olie wat in sy hand is, stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet, bo oor die plek van die bloed van die skuldoffer. Wat dan oor is van die olie wat in die priester se hand is, moet hy stryk op die hoof van hom wat gereinig word, om versoening vir hom te doen voor die aangesig van die HERE. Dan moet hy een van die tortelduiwe berei of van die jong duiwe wat hy kan bekostig — die een as sondoffer en die ander as brandoffer, saam met die spysoffer. So moet die priester dan vir hom wat gereinig word, versoening doen voor die aangesig van die HERE. Dit is die wet vir hom op wie die plaag van melaatsheid was, wat by sy reiniging nie vermoënd is nie. VERDER het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: As julle in die land Kanaän inkom wat Ek julle as besitting gee, en Ek die plaag van melaatsheid in 'n huis van die land van julle besitting laat kom, moet hy aan wie die huis behoort, kom en aan die priester te kenne gee en sê: Dit lyk my of daar 'n plaag in die huis is. En die priester moet bevel gee dat hulle die huis ontruim, voordat die priester die plaag kom bekyk, sodat alles wat in die huis is, nie onrein word nie; en daarna moet die priester kom om die huis te bekyk. As hy die plaag bekyk en sien dat die plaag aan die mure van die huis is soos liggroen of rooierige kuiltjies, en hulle dieper lyk as die muur, dan moet die priester uit die huis uitgaan na die deur van die huis en die huis sewe dae lank toesluit. Op die sewende dag moet die priester dan terugkom; sien hy dan dat die plaag hom uitgebrei het aan die mure van die huis, dan moet die priester bevel gee dat hulle die klippe uitbreek waaraan die plaag is, en dit buitekant die stad op 'n onrein plek gooi. En die huis moet hulle binnekant rondom afkrap en die klei wat hulle afgekrap het, buitekant die stad op 'n onrein plek weggooi. Dan moet hulle ander klippe neem en in die plek van daardie klippe insit, en hulle moet ander klei neem en die huis pleister. Maar as die plaag weer in die huis uitbreek nadat hulle die klippe uitgebreek en die huis afgekrap het en dit gepleister is, moet die priester kom; en as hy sien dat die plaag in die huis versprei het, dan is dit 'n kwaadaardige melaatsheid in die huis; dit is onrein. Daarom moet hulle die huis afbreek: sy klippe en sy hout en al die klei van die huis, en hulle moet dit buitekant die stad op 'n onrein plek uitbring. En hy wat in die huis kom, al die tyd dat hulle dit toegesluit hou, sal tot die aand toe onrein wees. En hy wat in die huis slaap, moet sy klere was; en hy wat in die huis eet, moet sy klere was. Maar as die priester kom en sien dat die plaag nie in die huis versprei het nadat die huis gepleister is nie, dan moet die priester die huis rein verklaar, want die aangetaste plek het gesond geword. Dan moet hy om die huis te ontsondig twee voëls neem en sederhout en skarlakendraad en hisop, en die een voël in 'n erdepot oor vars water slag. Dan moet hy die sederhout en die hisop en die skarlakendraad en die lewendige voël neem en dit in die bloed van die geslagte voël en in die vars water insteek; en hy moet die huis sewe maal besprinkel. So moet hy dan die huis ontsondig met die bloed van die voël sowel as met die vars water en die lewendige voël en die sederhout en die hisop en die skarlakendraad. Daarop moet hy die lewendige voël buitekant die stad oor die oop veld laat wegvlieg. So moet hy dan vir die huis versoening doen, en dit sal rein wees. Dit is die wet oor elke plaag van melaatsheid en oor skurfte en oor melaatsheid van klere en huise en oor swelsels en uitslag en ligte vlekke, om te onderrig wanneer iets onrein en wanneer iets rein is. Dit is die wet oor die melaatsheid.

LEVITIKUS 14:10-57 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Op die agste dag moet hy twee ramlammers en 'n jaaroud ooilam, almal sonder liggaamsgebrek, 'n graanoffer wat bestaan uit vyf kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is, en 'n halwe liter olyfolie na die priester toe bring. Die priester wat die reiniging doen, moet dan die persoon wat gereinig word, saam met sy offergawes bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here. Daarna moet die priester die een ramlam en die halwe liter olie as 'n skuldoffer bring; hy moet dit as 'n beweegoffer vir die Here aanbied. Hy moet die lam slag op dieselfde plek waar die sondeoffer en die brandoffer geslag word, op die gewyde plek, want die skuldoffer is net soos die sondeoffer. Dit kom die priester toe, dit is 'n besondere gewyde gawe. Die priester moet van die bloed van die skuldofferlam smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word. Daarna moet die priester van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi, 'n vinger van sy regterhand in die olie druk en dit sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here. Die priester moet van die olie wat in sy handpalm oorbly, bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is. Die priester smeer die res van die olie in sy handpalm aan die kop van die persoon wat gereinig word. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon. Daarby moet die priester ook die sondeofferlam offer en so versoening doen vir die persoon wat gereinig word. Hierna mag die persoon die brandofferlam slag, en die priester moet dit saam met die graanoffer op die altaar verbrand. Wanneer die priester so versoening gedoen het vir die persoon, is hy rein. “As die persoon egter so arm is dat hy nie gewone offers kan bekostig nie, kan hy 'n ramlam gebruik as skuldoffer. Dit moet as beweegoffer aangebied word om vir hom versoening te doen, saam met 'n graanoffer bestaande uit een en 'n half kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is en 'n halwe liter olyfolie. Verder moet hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe gebruik, een vir die sondeoffer en een vir die brandoffer. Hy moet dit op die agste dag van sy reiniging vir die priester bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here. Die priester moet dan die skuldofferlam en die halwe liter olie as beweegoffer vir die Here aanbied. Daarna moet die priester die skuldofferlam slag en van die bloed smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word. Daarna moet die priester van die olie in die palm van sy eie linkerhand gooi en dit met 'n vinger van sy regterhand sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here. Hy moet ook van die olie in sy handpalm bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is wat gereinig word. Die priester smeer die olie wat in sy handpalm oor is, aan die persoon se kop. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon. Die priester moet dan een van die twee tortelduiwe of ander duiwe wat die man gebring het, as 'n sondeoffer bring en die ander as 'n brandoffer saam met die graanoffer. So doen die priester versoening by die Here vir die persoon wat gereinig word. Hierdie voorskrif moet geld in die geval van 'n persoon wat 'n velsiekte gehad het wat hom onrein gemaak het en wat nie die gewone reinigingsoffers kan bekostig nie.” Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle gaan intrek in die land Kanaän wat Ek vir julle as besitting gee. As Ek dan swamme laat groei in een van die huise in die land wat julle sal besit, moet die eienaar van die huis vir die priester gaan sê: ‘Dit lyk my daar is 'n swamplaag in my huis.’ Die priester moet dan beveel dat die huis ontruim word voordat hy die swamme gaan ondersoek, anders word alles in die huis dalk onrein verklaar. Eers daarna kan hy die huis gaan ondersoek. As die priester sien dat die swamme aan die mure van die huis sit en dat dit groenerige of rooierige holtes vorm wat lyk of dit dieper is as die oppervlak van die muur, moet hy uit die huis uitgaan en toegang tot die huis 'n week lank verbied. Op die sewende dag moet die priester die huis weer ondersoek. As die swamme aan die mure versprei het, moet die klippe waaraan die swamme is, uitgebreek word op bevel van die priester en buite die dorp op 'n onrein plek weggegooi word. Al die pleister in die huis moet dan afgekrap en ook buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word. Hulle moet dan ander klippe in die muur inbou en die hele huis oorpleister. “As daar weer swamme groei nadat die klippe uitgebreek, die pleister afgekrap en die huis oorgepleister is, moet die priester weer gaan kyk. As dit inderdaad weer uitgeslaan het, is dit skadelike swamme. Daardie huis is onrein. Dit moet afgebreek word en die klippe, houtwerk en klei moet buite die dorp op 'n onrein plek gegooi word. Iemand wat in die huis ingaan in die tyd dat toegang verbied is, sal die res van die dag onrein wees en as hy in die huis slaap of eet, moet hy ook sy klere was. “As die priester egter vind dat die swamme nie weer gegroei het nadat die huis oorgepleister is nie, moet hy dit rein verklaar aangesien daar nie meer swamme is nie. Om die huis te reinig, moet hy twee voëls, 'n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie vat. Hy moet die kop van die een voël afsny oor 'n erdebakkie waarin vars water is, en dan die stukkie sederhout, die hisoptakkie, die bloedrooi garing en die lewende voël dompel in die vars water met die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is. Hy moet die water met die bloed in sewe keer teen die huis sprinkel. So moet hy die huis reinig met die bloed van die voël en die vars water en deur middel van die lewende voël, die stukkie sederhout, die hisoptakkie en die bloedrooi garing. Daarna moet hy die lewende voël buite die dorp loslaat in die oop veld. So doen die priester versoening vir die huis en word dit rein.” Die voorafgaande voorskrifte het betrekking op skurfsiekte, skimmel aan klere, swamme in 'n huis, swelsels, uitslag en sere wat onrein maak. So moet vasgestel word wanneer iets rein of onrein is. Dit is die voorskrif in verband met dinge wat onrein maak.

LEVITIKUS 14:10-57 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op die agtste dag moet hy twee jong ramme sonder gebrek en een jaaroud ooitjie sonder gebrek neem, asook 'n •graanoffer van drie tiendes van 'n efa gesifte meel wat met olyfolie gemeng is en een log olyfolie. Die priester wat die reiniging voltrek, moet die man wat hom wil laat reinig daarmee voor die HERE laat staan by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Die priester moet een van die jong ramme neem en dit saam met die log olyfolie naderbring as 'n •hersteloffer. Hy moet dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Die man moet die jong ram keelaf sny waar die •reinigingsoffer en die •brandoffer keelaf gesny word, op 'n heilige plek, want soos die reinigingsoffer, kom die hersteloffer die priester toe. Dit is besonder heilig. Die priester moet van die hersteloffer se bloed neem en dit aan die persoon wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer. Daarna moet die priester die log olyfolie neem en daarvan in die palm van sy linkerhand uitgooi. Die priester moet sy regterwysvinger in die olyfolie in sy linkerpalm doop en met sy vinger sewe maal daarvan voor die HERE sprinkel. Van die olyfolie wat in sy handpalm oor is, moet die priester aan die persoon wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon, bo-oor die bloed van die hersteloffer, smeer. Die res van die olyfolie in die priester se handpalm moet hy aan die persoon wat hom wil laat reinig, se kop smeer en sodoende vir hom versoening doen voor die HERE. Die priester moet dan die reinigingsoffer bring en versoening doen vir die een wat hom van sy •onreinheid wil laat reinig. Daarna moet hy die brandoffer keelaf sny. Die priester moet die brandoffer en graanoffer op die altaar offer. So doen die priester vir hom versoening. Hy is dan rein. “ Maar as die persoon arm is en dit nie kan bekostig nie, moet hy vir 'n hersteloffer een jong ram as gewyde gawe neem om vir hom versoening te doen, asook 'n tiende van 'n efa gesifte meel wat met olyfolie gemeng is as graanoffer, 'n log olyfolie daarby, en twee tortelduiwe of twee jong duiwe – wat hy ook al kan bekostig – een as reinigingsoffer en die ander as brandoffer. Hy moet dit op die agtste dag van sy reiniging na die priester bring by die ingang van die Tent van Ontmoeting, daar voor die HERE. Die priester moet die jong ram vir die hersteloffer en die log olyfolie neem en dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Die man moet die jong ram vir die hersteloffer keelaf sny en die priester moet van die bloed van die hersteloffer neem en dit aan die een wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer. Die priester moet van die olyfolie in sy linkerhandpalm uitgooi en met sy regterwysvinger moet hy van die olyfolie in sy linkerhandpalm sewe maal voor die HERE sprinkel. Die priester moet van die olyfolie wat in sy handpalm is aan die een wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon, bo-oor die bloed van die hersteloffer, smeer. Die res van die olyfolie in die priester se handpalm moet hy aan die persoon wat hom wil laat reinig, se kop smeer en sodoende vir hom versoening doen voor die HERE. Die priester moet een elk van die tortelduiwe of van die jong duiwe as offer bring – wat die man ook al kan bekostig – een as 'n reinigingsoffer en die ander as 'n brandoffer, saam met die graanoffer. So doen die priester vir die persoon wat hom wil laat reinig versoening voor die HERE. Dit is die voorskrifte vir iemand met velsiekte wat nie die offers vir sy reiniging kan bekostig nie.” Die HERE het met Moses en Aäron gepraat en vir hulle gesê: “ Wanneer julle in Kanaän kom, die land wat Ek vir julle as besitting gaan gee, en Ek tref 'n huis in dié land van julle met 'n skimmelplaag, moet die persoon aan wie die huis behoort, kom en vir die priester sê, ‘Dit lyk vir my daar is 'n skimmelplaag in die huis.’ Die priester moet opdrag gee dat die huis ontruim word voordat hy daar ingaan om die skimmelplaag te ondersoek, om te verhoed dat alles wat in die huis is, onrein word. Daarna kan die priester ingaan om die huis te ondersoek. As hy die skimmelplaag ondersoek en vind dat dit teen die mure van die huis groenerige of rooierige holtes maak wat lyk of dit onder die muur se oppervlak lê, moet die priester by die huis uitgaan na die ingang van die voorhof, en die huis sewe dae lank toesluit. Op die sewende dag moet die priester terugkeer. As hy die huis ondersoek en vind dat die skimmelplaag teen die mure van die huis versprei het, moet die priester opdrag gee dat die klippe waarop die skimmelplaag is, verwyder en buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. Die huis se mure moet hy aan die binnekant reg rondom laat afskraap en die afgeskraapte grond moet buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. Dan moet hulle ander klippe neem en in die plek van daardie klippe inbou. Hulle moet ook ander klei neem en die huis daarmee pleister. “Maar as die skimmelplaag weer in die huis uitslaan nadat die klippe uitgebreek en die huis afgeskraap en oorgepleister is, moet die priester in die huis ingaan. As hy die huis ondersoek en vind dat die plaag versprei het, is daar skadelike skimmel in die huis; dit is onrein. Die huis moet afgebreek word en die klippe, die hout en al die los grond van die huis moet buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. Enigiemand wat die huis binnegaan gedurende die tyd wat dit gesluit is, sal tot die aand toe onrein wees. Iemand wat in die huis slaap, moet sy klere was en iemand wat in die huis eet, moet ook sy klere was. “As die priester egter in die huis ingaan en dit ondersoek en vind dat die skimmelplaag, nadat die huis gepleister is, nie versprei het nie, moet hy die huis rein verklaar omdat die skimmelplaag opgeklaar het. Om die huis te reinig, moet hy twee voëls, 'n stukkie sederhout, 'n karmosynrooi toutjie en 'n marjoleintakkie neem. Die een voël se kop moet hy oor 'n kleipot met vars water afsny. Hy moet die stukkie sederhout, die marjoleintakkie, die karmosynrooi toutjie en die lewendige voël neem en dit doop in die vars water en die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is. Hy moet dan die huis sewe keer besprinkel. So moet hy die huis reinig met die bloed van die voël en die vars water, met die lewendige voël, die stukkie sederhout, die marjoleintakkie en die karmosynrooi toutjie. Die lewendige voël moet hy buite die stad in die oop veld loslaat. So sal hy versoening doen vir die huis. Dit sal dan rein wees. “ Dit is die voorskrifte vir enige geval van velsiekte en uitslag, vir skimmel op klere en in 'n huis, vir 'n swelsel, 'n skurwe plek en 'n ligte vlek, om te kan vasstel wanneer iets onrein is en wanneer dit rein is. “Dit dan wat betref die voorskrifte oor velsiekte en skimmel. ”

LEVITIKUS 14:10-57 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En op die agtste dag moet hy twee lammers sonder gebrek en een jaaroud ooilam sonder gebrek en drie tiendes fynmeel as spysoffer, gemeng met olie, en een log olie. En die priester wat hom reinig, moet die man wat gereinig moet word, en dié dinge voor die aangesig van die HERE bring by die ingang van die tent van samekoms. En die priester moet een lam neem en hom as skuldoffer en die log olie berei en dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg. En hy moet die lam slag op die plek waar hy die sondoffer en die brandoffer moet slag, in die heiligdom; want soos die sondoffer die priester s'n is, so is die skuldoffer: dit is hoogheilig. En die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem, en die priester moet dit smeer aan die regteroorpunt van hom wat gereinig moet word, en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet: En die priester moet van die log olie neem en dit in die palm van sy eie linkerhand gooi. En die priester moet sy regtervinger in die olie wat in sy linkerhand is, doop en van die olie met sy vinger sewe maal voor die aangesig van die HERE sprinkel. En van die res van die olie wat in sy hand is, moet die priester aan die regteroorpunt van hom wat gereinig moet word, en op die duim van sy regterhand en op die groottoon van sy regtervoet smeer, op die bloed van die skuldoffer: En die oorblyfsel van die olie wat in die priester se hand is, moet hy op die hoof van hom wat gereinig word, giet; en die priester moet vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE. En die priester moet die sondoffer bring en versoening doen vir hom wat van sy onreinheid gereinig moet word; en daarna moet hy die brandoffer slag. En die priester moet die brandoffer en die spysoffer op die altaar berei, en die priester moet vir hom versoening doen, en hy sal rein wees. En as hy arm is en soveel nie kan kry nie; dan moet hy een lam as skuldoffer neem om te beweeg om vir hom versoening te doen, en 'n tiende deel fynmeel met olie gemeng as spysoffer en 'n log olie; en twee tortelduiwe of twee jong duiwe soos hy kan kry; en die een moet 'n sondoffer wees en die ander 'n brandoffer. En hy moet dit op die agtste dag vir sy reiniging na die priester bring, by die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die HERE. En die priester moet die skuldofferlam en die log olie neem, en die priester moet dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg. En hy moet die skuldofferlam slag, en die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem en dit aan die regteroorpunt van hom wat gereinig moet word, en aan die duim van sy regteroor smeer en hand en op die groottoon van sy regtervoet: En die priester moet van die olie in die palm van sy linkerhand gooi. En die priester moet met sy regtervinger van die olie wat in sy linkerhand is, sewe maal sprinkel voor die aangesig van die HERE. En die priester moet van die olie wat in sy hand is aan die regteroorpunt van hom wat gereinig moet word, en op die duim van sy regterhand en op die groottoon van sy regtervoet, op die plek smeer van die bloed van die skuldoffer: En die res van die olie wat in die priester se hand is, moet hy op die hoof van hom wat gereinig word, smeer om vir hom versoening te doen voor die aangesig van die HERE. En hy moet die een van die tortelduiwe of van die jong duiwe offer soos hy kan kry; Selfs wat hy kan kry, die een as sondoffer en die ander as brandoffer, saam met die spysoffer; en die priester moet versoening doen vir hom wat gereinig moet word voor die aangesig van die HERE. Dit is die wet van hom in wie die plaag van melaatsheid is, wie se hand nie kan kry wat tot sy reiniging behoort nie. En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê: Wanneer julle in die land Kanaän kom, wat Ek aan julle as 'n besitting gee, en Ek die plaag van melaatsheid in 'n huis van die land van julle besitting lê; En hy wat die huis besit, moet kom en dit aan die priester vertel en sê: Dit lyk vir my dat daar soos 'n plaag in die huis is. Dan moet die priester beveel dat hulle die huis leegmaak voordat die priester daarin ingaan om die plaag te sien, sodat alles wat in die huis is, nie onrein word nie; en daarna moet die priester ingaan om die huis te bekyk. En hy moet die plaag bekyk, en kyk, of die plaag in die mure van die huis is met hol strepe, groenerig of rooierig, wat laer as die muur in sig is; Dan moet die priester uit die huis uitgaan na die ingang van die huis en die huis sewe dae lank toesluit. En die priester moet op die sewende dag terugkom en kyk; Dan moet die priester bevel gee dat hulle die klippe waarin die plaag is, wegneem, en hulle moet dit op 'n onrein plek buite die stad gooi. En hy moet die huis van binne rondom laat afskraap, en hulle moet die stof wat hulle buitekant die stad afkrap, op 'n onrein plek uitgooi. En hulle moet ander klippe neem en dit in die plek van daardie klippe sit; en hy moet 'n ander pleister neem en die huis pleister. En as die plaag weer kom en in die huis uitbreek, nadat hy die klippe weggeneem het en nadat hy die huis afgekrap het en nadat dit gepleister is; Dan moet die priester kom en kyk en kyk, as die plaag in die huis versprei is, is dit 'n kwaai melaatsheid in die huis; dit is onrein. En hy moet die huis afbreek, sy klippe en sy hout en al die pleisterwerk van die huis; en hy moet hulle uit die stad uitbring na 'n onrein plek. En hy wat in die huis ingaan al die tyd wat dit toegesluit is, sal tot die aand toe onrein wees. En hy wat in die huis lê, moet sy klere was; en hy wat in die huis eet, moet sy klere was. En as die priester inkom en dit bekyk, en kyk, die plaag het nie in die huis versprei nadat die huis gepleister is nie; dan moet die priester die huis rein verklaar, want die plaag is genees. En hy moet neem om die huis te reinig twee voëls en sederhout en skarlakenrooi en hisop. En hy moet die een van die voëls doodmaak in 'n erdepot oor lopende water. En hy moet die sederhout en die hisop en die skarlakenrooi en die lewende voël neem en dit in die bloed van die geslagte voël en in die lopende water doop en die huis sewe maal sprinkel. En hy moet die huis reinig met die bloed van die voël en met die lopende water en met die lewende voël en met die sederhout en met die hisop en met die bloedrooi stowwe. Maar hy moet die lewende voël uit die stad in die oop veld laat gaan en vir die huis versoening doen, en dit sal rein wees. Dit is die wet vir allerhande plaag van melaatsheid en skurfte, En oor die melaatsheid van 'n kleed en van 'n huis, En vir 'n opkoms en vir 'n skurfte en vir 'n ligvlek; Om te leer wanneer dit onrein en wanneer dit rein is: dit is die wet van melaatsheid.

LEVITIKUS 14:10-57 Die Boodskap (DB)

“Op die agtste dag moet hy twee gesonde rammetjies en een jaaroud ooitjie vat waaraan daar niks is wat gebreklik is nie. Hy bring ook by die tent waar Hy aanbid word vir die Here ’n offer uit gemaalde graan van vyf kilogram meel wat met olie en een sesde liter olyfolie gemeng is. Die werker by die tent laat dan die man wat teruggekom het, saam met sy offer voor die Here by die ingang van die tent staan. Die dienaar vat een van die rammetjies en die olyfolie, en bring dit na die altaar om dit aan die Here op te dra as ’n offer vir die man se skuld by God. Hy slag die rammetjie op dieselfde plek waar die ander offers vir die sonde verbrand word. Die dienaar mag self ook van hierdie offer eet, net soos hy ook ’n deel van die offer vir die sonde mag eet. Dit is vir God en sy dienaars by die altaar bedoel. “Die dienaar vat die bloed van die rammetjie wat hy geslag het en smeer daarvan aan die persoon wat teruggekom het se regteroorlel, aan sy regterduim en aan sy regtergroottoon. Hy gooi dan van die olie in sy linkerpalm, steek sy regtervinger daarin en sprinkel dit met sy vinger sewe keer voor die Here op die grond. Van die olie wat in sy hand oor is, smeer hy bo-oor die bloed wat hy aan die man se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer het. “Die olie wat in sy hand oor is, gooi hy op die persoon se kop uit. So verbind die dienaar weer die man met God en sy volk. Daarna slag die dienaar ook die offer vir die sonde. Op hierdie manier kan iemand wat ’n velsiekte gehad het en wat hom van die ander mense moes onttrek, weer terugkom in die kamp nadat hy gesond geword het. Hy self slag dan die offer wat die dienaar saam met die graan op die altaar moet verbrand. Die dienaar help hom op hierdie manier om weer deel te word van die mense in die kamp. “As iemand te arm is vir twee rammetjies, hoef hy net een rammetjie te vat om te offer. Die offer uit die graan hoef ook net een tiende deel meel te wees wat met olie en een sesde liter olyfolie gemeng is. Hy moet twee duiwe of tortelduiwe in die hande kry, soos wat hy dit wel kan bekostig. Die een duif is ’n offer vir die sonde en die ander een ’n offer wat op die altaar verbrand word. Hy bring al hierdie goed op die agtste dag na die tent van ontmoeting toe waar die Here is sodat hy weer herstel kan word. Die dienaar moet dan die rammetjie wat vir die skuld geoffer word en die sesde liter olyfolie by hom vat en dit alles aan die Here gaan opdra. Ná hy die rammetjie geslag het, moet hy die dier se bloed vat en aan die man se regteroor, sy regterduim en sy regtergroottoon smeer. Hy gooi van die olie in sy linkerhand en hy sprinkel daarvan met sy regtervinger sewe keer voor die Here. Hy vat ook van die olie in sy hand en smeer dit oor dieselfde plek waar hy die bloed vroeër aan die persoon se regteroor, sy regterduim en sy regtergroottoon gesmeer het. Die res van die olie wat in sy hand oor is, gooi hy op die man se kop uit om hom weer in ere te herstel. “Daarna offer hy een van die duiwe of tortelduiwe vir die sonde en die ander om op die altaar te verbrand. Die man mag dan weer voor die Here na sy tent kom en by sy volksgenote bly. Dit is hoe daar gemaak moet word om iemand te laat terugkom wat ’n aansteeklike velsiekte gehad het en wat nie al die offers kan bekostig nie.” Die Here het verder vir Moses en Aäron gesê: “Ek gaan julle in die land Kanaän laat woon. Wanneer julle daar bly en Ek dit laat gebeur dat daar kolle teen die mure van julle huise uitslaan, moet die eienaar van die huis vir God se dienaar gaan sê dat dit vir hom lyk of daar ’n plaag in sy huis is. Die dienaar moet dan sê dat alles eers uit die huis uitgedra moet word voordat hy daarheen gaan om dit te bekyk. As hy dit nie dadelik laat doen nie, kan alles in die huis daarmee besmet raak. As dit gedoen is, kan hy gaan ondersoek instel in die huis. As hy die kolle bekyk en sien dit is vaalgeel of rooierige mufkolle teen die muur wat lyk of dit in die pleister is, moet hy dadelik by die deur uitgaan en die huis vir sewe dae lank toesluit. Hy moet op die sewende dag weer kom kyk. As hy sien dat die mufkolle teen die mure verder versprei het, moet hy opdrag gee dat al die stene waaraan dit sit, uit die mure uitgebreek moet word. Dit moet op die ashoop gegooi word wat spesiaal daarvoor buite die dorp uitgehou is. Al die pleister moet van die huis se mure afgekrap word en op dieselfde plek buite die dorp weggegooi word. Ander stene moet in die plek van die ander ingemessel word en die huis se mure moet weer gepleister word. As daar daarna weer mufkolle uitslaan en begin versprei, moet hy weer kom inspeksie hou. As dit nog verder versprei het, is daar gevaarlike skimmel in daardie huis. Die huis kan nie verder gebruik word nie. Die hele huis moet afgebreek word. Die stene, die skrynwerk en al die pleister van die huis moet buitekant die dorp op die ashoop wat daarvoor eenkant gehou is, weggegooi word. Iemand wat miskien in die huis inkom terwyl dit gesluit is, mag vir die res van daardie dag nie naby God se blyplek kom nie. Iemand wat in daardie huis gaan slaap of daar eet, sal eers sy klere moet gaan was. “As die Here se dienaar weer kom inspeksie doen nadat die huis opnuut uitgepleister is, en hy sien dat daar nie meer mufkolle is nie, moet hy die mense toelaat om terug te trek in die huis in. Hy vat dan twee voëls, ’n stuk sederhout, ’n stuk rooi garing en ’n tak van ’n hisopplant om die huis weer bewoonbaar te maak. Hy slag een van die voëls bo-oor ’n kleibakkie met vars water in. Hy vat die stuk sederhout, die hisoptak, die rooi garing en die ander voël en doop hulle in die bloed van die voël wat hy geslag het en in die vars water, en sprinkel daarvan sewe keer teen die huis se mure. So maak hy die huis dan weer bewoonbaar met die bloed van die voël, die vars water, die voël wat bly leef het, die stuk sederhout, die hisoptak en die rooi garing. Die voël wat bly leef het, moet hy buite die dorp in die veld gaan loslaat om weg te vlieg. So herstel hy die huis en maak dat dit weer reg is om in te woon.” Dit is dan die voorskrifte vir enige soort veluitslag, muf wat op klere kom en mufkolle wat teen huise se mure uitslaan, en vir enige vlek, skurfte of uitslag op iemand se lyf. Dit is die reëls om te onderskei tussen dit wat tussen die mense weggevat moet word en dit wat reg is om te gebruik en by hulle te bly.

LEVITIKUS 14:10-57 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Die volgende dag, die agtste dag, moet elke persoon wat gesond geword het van die velsiekte, twee rammetjies en ’n jaaroud ooilam sonder enige liggaamsgebrek bring, saam met vyf liter uitgesoekte meel, gemeng met olyfolie en 300 milliliter olyfolie. Die diensdoende priester sal die persoon saam met die offers in die teenwoordigheid van die HERE bring om by die ingang van die tent van ontmoeting gereinig te word. Die priester sal dan een van die lammers en die olyfolie neem en dit as ’n skuldoffer offer deur die offer in die teenwoordigheid van die HERE op te lig. Hy sal dan die lam slag in die heilige gebied waar die skuldoffers en die brandoffers geslag word. Net soos met die sonde-offer, sal die skuldoffer vir die priester gegee word. Dit is ’n baie heilige offer. Die priester sal dan van die bloed van die skuldoffer neem en dit aan die persoon se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer. “Die priester sal van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi. Hy sal sy regtervinger in die olie druk en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die HERE sprinkel. Die priester sal dan van die olie in sy linkerhand aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die gesonde persoon smeer, bo-oor die bloed van die skuldoffer. Die olie wat in die priester se hand oorbly, sal hy dan oor die kop van die gesonde persoon uitgooi. Op dié manier sal die priester versoening bring in die teenwoordigheid van die HERE vir die persoon wat gereinig word. “Die priester moet dan die sonde-offer bring en weer die versoeningseremonie herhaal vir die persoon wat gesond geword het van die velsiekte. Daarna sal die priester die hele brandoffer slag en dit op die altaar saam met die graanoffer offer. Op dié manier sal die priester versoening bewerk vir die persoon wat gereinig is en sal die gesonde persoon rein wees. “Enigiemand wat nie twee lammers kan bekostig nie, moet een rammetjie as skuldoffer bring saam met twee liter keurgraad meel gemeng met olyfolie as ’n graanoffer en 300 milliliter olyfolie. Die skuldoffer sal dan gebring word deur dit op te lig en so versoening te bring vir die persoon wat gereinig is. Die persoon wat gereinig is, moet ook twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring, wat hy ook al kan bekostig. Een paar moet as ’n sonde-offer en die ander paar as ’n hele brandoffer gebruik word. Op die agtste dag moet die persoon wat gereinig is die offers vir die priester bring sodat die reinigingseremonie voltooi kan word in die teenwoordigheid van die HERE by die ingang van die tent van ontmoeting. Die priester sal dan die rammetjie met die olyfolie vir die skuldoffer neem en dit in die teenwoordigheid van die HERE oplig as ’n offer vir Hom. Dan sal die priester die rammetjie slag as ’n skuldoffer. Hy sal van die bloed op die persoon se regteroorlel, die regterduim en regtergroottoon smeer. “Die priester sal ook van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi. Hy sal sy regtervinger in die olie druk en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die HERE sprinkel. Die priester sal dan van die olyfolie in sy hand neem en dit aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon smeer bo en behalwe die bloed van die skuldoffer. Die olie wat in die hand van die priester oor is, sal dan oor die kop van die persoon gegooi word. Op dié manier sal die priester versoening doen vir die persoon wat gereinig is. “Die priester sal dan die twee tortelduiwe of die twee jong duiwe, wat die persoon ook al kan bekostig, offer. Een is ’n sonde-offer en die ander is ’n hele brandoffer wat saam met die graanoffer gebring word. Op dié manier sal die priester in die teenwoordigheid van die HERE versoening doen vir die persoon wat gereinig is. Hierdie is die instruksies vir die reiniging van dié wat herstel het van ’n aansteeklike velsiekte, maar wat dit nie kan bekostig om die normale offers wat vereis word vir die reiniging te bring nie.” Toe het die HERE vir Moses en Aäron gesê: “Wanneer julle aankom in Kanaän, die land wat Ek aan julle as ’n erfdeel gee, kan Ek sommige van julle huise met ’n besmetlike swam besmet. Die eienaar van so ’n huis moet dan na die priester toe gaan en sê: ‘Dit lyk of my huis ’n soort swamsiekte het.’ Hy moet die huis leegmaak voordat die priester die huis ondersoek, anders word alles in die huis onrein verklaar. Dan sal die priester ingaan en die huis ondersoek. As hy helder groen of rooierige gate in die mure van die huis vind en dit lyk asof die besmetting dieper is as net die oppervlakte van die muur, moet hy die huis verlaat en dit sewe dae lank toesluit. Op die sewende dag moet die priester vir nog ’n ondersoek terugkeer. As die swamme teen die mure van die huis versprei het, moet die priester bevel gee dat die besmette stene verwyder word. Die besmette materiaal moet dan in ’n gebied buite die stad wat as onrein aangedui is, weggegooi word. Al die binnemure van die huis moet goed afgeskraap word en die afskraapsels moet in die onrein gebied buite die stad gegooi word. Ander stene moet gebring word om die stene wat verwyder is te vervang, en die mure moet oorgepleister word. “As die swamme weer groei ná al die dinge wat gedoen is, moet die priester terugkeer en weer ’n ondersoek doen. As hy sien dat die aangetaste areas weer besmet is en die mure duidelik besmet is met swamme, is die huis onrein. Dit moet afgebreek word en al die stene, houtwerk en pleister moet buitentoe gevat word na ’n plek wat as ’n onrein gebied aangedui is. Enigiemand wat die huis sou binnegaan terwyl dit gesluit is, sal tot die aand toe as onrein beskou word. Almal wat in die huis slaap of eet, moet hulle klere was. “As die priester terugkom om inspeksie te doen en hy vind dat die swamme nie weer gegroei het nadat die nuwe pleister opgesit is nie, sal hy die huis rein verklaar aangesien die swamme duidelik weg is. Om die huis rein te maak, het die priester twee voëls, ’n stukkie sederhout, ’n rooi-pers lap en ’n hisoptakkie nodig. Hy sal een van die voëls slag oor ’n kleipot wat vol vars fonteinwater is. Hy sal dan die sederhout, die hisoptakkie, die rooi-pers lap en die lewende voël in die bloed van die voël wat geslag is, druk en die huis sewe keer besprinkel. Nadat hy die huis op dié manier gereinig het, sal hy die lewende voël in die oop veld buite die stad vrylaat. Op dié manier sal die priester versoening doen vir die huis en sal dit rein wees. “Dit is die instruksies wat geld vir die verskillende soorte aansteeklike velsiektes en aansteeklike skim-mel en swamme, of dit nou vir klere, ’n huis, ’n geswelde deel van die vel, ’n uitslag of ’n seer op die vel is. Hierdie instruksies moet gevolg word in geval van enige aansteeklike velsiekte of besmetlike skimmel om te bepaal wanneer iets rein of onrein is.”