KLAAGLIEDERE 3:20-29
KLAAGLIEDERE 3:20-29 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer ek daaraan dink en dink, dan word ek moedeloos. Een ding weet ek, en dit is seker, en daarom sal ek aanhou hoop: Die Here doen altyd wat Hy belowe het, Hy is altyd jammer vir mense wat swaarkry. Here, U doen dit elke nuwe oggend, U bly altyd dieselfde. Ek sê: Die Here is alles wat ek het, daarom sal ek aanhou hoop. Die Here is goed vir mense wat glo dat Hy hulle sal help, vir mense wat naby Hom wil wees. Dit is goed om stil te bly en te glo dat die Here jou sal red. Dit is goed wanneer iemand 'n juk moes dra toe hy jonk was, wanneer hy alleen moes sit en moes stilbly omdat die Here die juk op hom gesit het. Dit is goed wanneer iemand met sy gesig op die grond moet lê. Miskien kan hy hoop dat iets goed sal gebeur.
KLAAGLIEDERE 3:20-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my. Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE. Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het. Laat hy sy mond in die stof steek — miskien is daar hoop!
KLAAGLIEDERE 3:20-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig – miskien is daar hoop
KLAAGLIEDERE 3:20-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wanneer ek diep daaroor nadink, raak ek terneergedruk. Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Dit is deur die troue liefde van die HERE dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die HERE, sê ek; daarom hoop ek op Hom. Goed is die HERE vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek. Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die HERE. Goed is dit vir 'n jong man om 'n juk in sy jeug te dra. Hy moet alleen sit in stilte, want die HERE het dit op hom gelê. Hy moet maar sy gesig in die stof hou; miskien is daar hoop.
KLAAGLIEDERE 3:20-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
My siel dink nog aan hulle en is in my verneder. Dit herinner ek my in gedagte, daarom hoop ek. Dit is uit die barmhartighede van die HERE dat ons nie verteer is nie, omdat sy medelye nie ophou nie. Hulle is elke môre nuut: groot is u trou. Die HERE is my deel, spreek my siel; daarom sal ek op hom hoop. God is die HERE vir die wat Hom verwag, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed dat 'n mens op die verlossing van die HERE hoop en stil wag. Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. Hy sit alleen en swyg, want hy het dit op hom gedra. Hy steek sy mond in die stof; indien wel, kan daar hoop wees.
KLAAGLIEDERE 3:20-29 Die Boodskap (DB)
My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink. Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry: die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar. Hy het gekeer dat ons heeltemal uitgewis is. ’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. Ek sê vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe.” Die Here is baie goed vir elkeen wat wil doen wat Hy vra en elkeen wat op Hom hoop. Dit is goed om geduldig te wag vir die Here om ons te red. Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die Here te wag. Iemand moet geduldig wees as daar van hom verwag word om stil te wees en te wag. Daar is vir hom nog hoop as hy tjoepstil bly.
KLAAGLIEDERE 3:20-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek sal nooit ooit vergeet van hierdie slegte tyd nie. Tog is daar een ding waarop ek kan reken en waarop ek altyd sal hoop: Deur die HERE se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy genade het geen einde nie. Op u ontferming kan ’n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut. Ek sê vir myself: “My lewe behoort aan die HERE. Daarom vertrou ek op Hom.” Die HERE is goed vir hulle wat op Hom wag en Hom soek. Dit is goed om geduldig te wag totdat die HERE ons red. Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die HERE te wag. Mense moet geduldig sit en wag totdat die HERE aandag aan hulle gee. Daar is hoop vir jou as jy stilbly.