KLAAGLIEDERE 3:20-24
KLAAGLIEDERE 3:20-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wanneer ek diep daaroor nadink, raak ek terneergedruk. Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Dit is deur die troue liefde van die HERE dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die HERE, sê ek; daarom hoop ek op Hom.
KLAAGLIEDERE 3:20-24 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer ek daaraan dink en dink, dan word ek moedeloos. Een ding weet ek, en dit is seker, en daarom sal ek aanhou hoop: Die Here doen altyd wat Hy belowe het, Hy is altyd jammer vir mense wat swaarkry. Here, U doen dit elke nuwe oggend, U bly altyd dieselfde. Ek sê: Die Here is alles wat ek het, daarom sal ek aanhou hoop.
KLAAGLIEDERE 3:20-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my. Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.
KLAAGLIEDERE 3:20-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.
KLAAGLIEDERE 3:20-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
My siel dink nog aan hulle en is in my verneder. Dit herinner ek my in gedagte, daarom hoop ek. Dit is uit die barmhartighede van die HERE dat ons nie verteer is nie, omdat sy medelye nie ophou nie. Hulle is elke môre nuut: groot is u trou. Die HERE is my deel, spreek my siel; daarom sal ek op hom hoop.
KLAAGLIEDERE 3:20-24 Die Boodskap (DB)
My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink. Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry: die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar. Hy het gekeer dat ons heeltemal uitgewis is. ’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. Ek sê vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe.”
KLAAGLIEDERE 3:20-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek sal nooit ooit vergeet van hierdie slegte tyd nie. Tog is daar een ding waarop ek kan reken en waarop ek altyd sal hoop: Deur die HERE se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy genade het geen einde nie. Op u ontferming kan ’n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut. Ek sê vir myself: “My lewe behoort aan die HERE. Daarom vertrou ek op Hom.”