JUDAS 1:7-10
JUDAS 1:7-10 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet ook onthou wat met die stede Sodom en Gomorra en die stede naby hulle gebeur het. Daardie mense het onsedelik gelewe en hulle wou ook graag seks hê met engele. Daarom is hierdie stede 'n duidelike voorbeeld, dit wys hoe die Here daardie sondes straf met die vuur wat altyd brand. Hierdie vals leermeesters doen dieselfde verkeerde dinge soos daardie sondaars. Hulle droom en sien dinge, en daarom doen hulle sonde, hulle maak hulle liggame onrein met sonde. Hulle wil nie gehoorsaam wees aan die Here nie en hulle sê slegte dinge van engele. Maar Migael, die groot engel, het nie dieselfde gedoen nie. Migael het met die duiwel gestry en getwis oor wie die liggaam van Moses mag kry. Migael het toe nie self slegte dinge gesê van die duiwel nie en hy het nie die duiwel ge-oordeel nie. Nee, Migael het vir die duiwel gesê: “ Die Here sal jou straf!” Maar hierdie mense wat nie die Here dien nie, sê slegte dinge van almal en alles wat hulle nie verstaan nie. Hulle verstaan party dinge, maar hulle verstaan soos wilde diere wat nie verstand het nie, en dit is daardie dinge wat hulle sal laat sterf.
JUDAS 1:7-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as 'n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan. Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens. Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou! Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde.
JUDAS 1:7-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand. En nou is dit met hierdie mense net so. Vanweë die droomgesigte wat hulle sien, bevlek hulle hulle eie liggame, verwerp hulle die gesag van die Here en beledig hulle die hemelwesens. Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.” Maar hierdie mense praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie. Hulle is soos verstandlose diere: al waarvan hulle kennis het, is hulle natuurlike drange, en juis dit is hulle ondergang.
JUDAS 1:7-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
So ook dien Sodom en Gomorra, en die omliggende stede, wat op 'n soortgelyke manier as daardie engele ontug gepleeg en agter vreemde liggame aangeloop het, as waarskuwende voorbeeld, omdat hulle die straf van ewige vuur ondergaan. En tog doen hierdie mense, op grond van hulle droomvisioene, dieselfde: Hulle besoedel hulle liggame, verwerp gesag, en belaster die glansryke hemelwesens. Selfs Migael, die aartsengel, toe hy van die Duiwel verskil, en met hom oor die liggaam van Moses geargumenteer het, het dit nie gewaag om 'n lasterlike oordeel uit te spreek nie, maar gesê: “Mag die Here jou straf!” Hierdie mense belaster egter alles wat hulle nie ken nie, en dit wat hulle instinktief verstaan, soos redelose diere, veroorsaak hulle ondergang.
JUDAS 1:7-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle op dieselfde manier, wat hulleself aan hoerery oorgee en agter vreemde vlees aan geloop het, as voorbeeld gestel word, terwyl hulle die wraak van die ewige vuur ly. Net so verontreinig ook hierdie vuil dromers die vlees, verag heerskappy en praat kwaad van waardigheid. Maar Mígael, die aartsengel, het, toe hy met die duiwel getwis het wat hy oor die liggaam van Moses getwis het, nie 'n lasterlike beskuldiging teen hom durf bring nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou. Maar hulle praat sleg van die dinge wat hulle nie weet nie; maar wat hulle van nature weet, soos brute diere, daarmee verderf hulle hulself.
JUDAS 1:7-10 Die Boodskap (DB)
Julle onthou ook van Sodom en Gomorra en ’n paar ander stede in hulle omgewing. Hulle het dieselfde sondes as die engele gepleeg. Hulle het hulle oorgegee aan losbandigheid. Hulle het selfs probeer om seksuele gemeenskap met die engele te hê. Nou brand hulle almal in die oordeelsvuur. Hulle pyn sal nooit ophou nie. Dit moet ’n waarskuwing wees vir almal wat in sonde leef. Die mense wat daar by julle ingesluip het, vang dieselfde dinge aan. Hulle spog oor sogenaamde openbarings wat hulle in hulle drome ontvang het wat aan hulle die reg gee om verkeerde dinge te doen. Daarom pleeg hulle die afstootlikste sondes. Hulle steur hulle glad nie aan die Here se gesag nie. Kyk net hoe beledig hulle die engele in die hemel. Weet julle, nie eens Migael, die hoof van die engele, het dit gewaag om een lelike ding te sê toe hy en die duiwel op ’n dag met mekaar in ’n woordestryd gewikkel was nie. Dit was na Moses se dood toe hulle gestry het oor wat van sy liggaam gaan word. Tog het Migael nie ’n enkele beledigende woord vir die duiwel gesê nie. Hy het dit aan God oorgelaat om hom te veroordeel. Al wat Migael vir die duiwel gesê het, was: “Die Here sal met jou afreken; Hy sal jou straf!” Daardie mense daar by julle sê allerhande lelike dinge oor die engele. Hulle weet nie waarmee hulle besig is nie. Hulle is soos ’n trop wilde diere wat geen verstand het nie. Hulle loop agter hulle dierlike instinkte aan. Dit is juis hulle ondergang.
JUDAS 1:7-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moet ook nie vir Sodom en Gomorra en die omliggende dorpe vergeet nie. Op dieselfde manier as die engele het hulle seksuele sondes gepleeg en gehunker na wesens anders as hulleself. As waarskuwende voorbeeld verduur hulle die straf van die ewige vuur. Net so is dit nou met hierdie goddelose mense: terwyl hulle op droomvisioene aanspraak maak, besoedel hulle hulle eie liggame, verwerp hulle gesag en beledig hulle die glorieryke hemelwesens. Selfs Migael, die aartsengel, het dit nie eers gedoen nie. Toe hy met die duiwel in ’n ernstige woordestryd oor Moses se liggaam gewikkel was, het hy dit nie gewaag om ’n beledigende oordeel teen hom uit te spreek nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal met jou afreken.” Hierdie mense praat beledigend oor dinge wat hulle nie regtig verstaan nie. Hulle is eintlik soos redelose diere wat net hulle eie natuurlike instinkte ken waardeur hulle hulle eie vernietiging veroorsaak.