JUDAS 1:5-8
JUDAS 1:5-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het. Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand. En nou is dit met hierdie mense net so. Vanweë die droomgesigte wat hulle sien, bevlek hulle hulle eie liggame, verwerp hulle die gesag van die Here en beledig hulle die hemelwesens.
JUDAS 1:5-8 Bybel vir almal (ABA)
Ek weet dat julle al hierdie dinge weet, maar ek wil dit weer vir julle sê. Die Here het lank gelede die mense van Israel uit die land Egipte gered. Maar later het Hy die mense wat nie in Hom geglo het nie, verlore laat gaan. Julle onthou ook die engele wat nie aangehou het om te doen wat hulle moes doen nie. Hulle het weggegaan uit hulle woonplek in die hemel. Die Here het hulle vir altyd vasgemaak met kettings en Hy het hulle in die donker plek laat bly totdat Hy hulle sal straf op die dag wanneer Hy almal sal oordeel. Julle moet ook onthou wat met die stede Sodom en Gomorra en die stede naby hulle gebeur het. Daardie mense het onsedelik gelewe en hulle wou ook graag seks hê met engele. Daarom is hierdie stede 'n duidelike voorbeeld, dit wys hoe die Here daardie sondes straf met die vuur wat altyd brand. Hierdie vals leermeesters doen dieselfde verkeerde dinge soos daardie sondaars. Hulle droom en sien dinge, en daarom doen hulle sonde, hulle maak hulle liggame onrein met sonde. Hulle wil nie gehoorsaam wees aan die Here nie en hulle sê slegte dinge van engele.
JUDAS 1:5-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het. En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as 'n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan. Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens.
JUDAS 1:5-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het. Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand. En nou is dit met hierdie mense net so. Vanweë die droomgesigte wat hulle sien, bevlek hulle hulle eie liggame, verwerp hulle die gesag van die Here en beledig hulle die hemelwesens.
JUDAS 1:5-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek wil julle daaraan herinner – al weet julle dit alles – dat die Here, nadat Hy een keer die volk uit Egipteland gered het, die tweede keer diegene wat nie geglo het nie, omgebring het, en dat Hy die engele wat hulle nie aan hulle magsgebied gehou het nie, maar hulle woonplek verlaat het, met ewige boeie in die duisternis in bewaring hou, vir die oordeel van die groot dag. So ook dien Sodom en Gomorra, en die omliggende stede, wat op 'n soortgelyke manier as daardie engele ontug gepleeg en agter vreemde liggame aangeloop het, as waarskuwende voorbeeld, omdat hulle die straf van ewige vuur ondergaan. En tog doen hierdie mense, op grond van hulle droomvisioene, dieselfde: Hulle besoedel hulle liggame, verwerp gesag, en belaster die glansryke hemelwesens.
JUDAS 1:5-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek sal julle dan in herinnering bring, alhoewel julle dit eens geweet het, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die ongelowiges vernietig het. En die engele wat hulle eerste staat nie bewaar het nie, maar hulle eie woning verlaat het, het Hy in ewige kettings onder duisternis bewaar tot die oordeel van die groot dag. Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle op dieselfde manier, wat hulleself aan hoerery oorgee en agter vreemde vlees aan geloop het, as voorbeeld gestel word, terwyl hulle die wraak van die ewige vuur ly. Net so verontreinig ook hierdie vuil dromers die vlees, verag heerskappy en praat kwaad van waardigheid.
JUDAS 1:5-8 Die Boodskap (DB)
Al ken julle die geskiedenis van Israel, wil ek julle gou weer herinner aan hoe die Here vroeër met sy volk gemaak het wat sy goedheid vertrap het. Toe Hy sy volk uit Egipte verlos het, het Hy almal van hulle vernietig wat nie in Hom geglo het nie. Julle ken ook die verhaal van die engele wat hulle hemelse woonplek verlaat het. Hulle is nou God se gevangenes. Hulle word daar in die pikdonker dieptes van die doderyk vasgeketting totdat God se groot oordeelsdag aanbreek. Julle onthou ook van Sodom en Gomorra en ’n paar ander stede in hulle omgewing. Hulle het dieselfde sondes as die engele gepleeg. Hulle het hulle oorgegee aan losbandigheid. Hulle het selfs probeer om seksuele gemeenskap met die engele te hê. Nou brand hulle almal in die oordeelsvuur. Hulle pyn sal nooit ophou nie. Dit moet ’n waarskuwing wees vir almal wat in sonde leef. Die mense wat daar by julle ingesluip het, vang dieselfde dinge aan. Hulle spog oor sogenaamde openbarings wat hulle in hulle drome ontvang het wat aan hulle die reg gee om verkeerde dinge te doen. Daarom pleeg hulle die afstootlikste sondes. Hulle steur hulle glad nie aan die Here se gesag nie. Kyk net hoe beledig hulle die engele in die hemel.
JUDAS 1:5-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek wil julle daaraan herinner, al weet julle al die dinge, dat die Here sy volk uit Egipte bevry het, maar later tog dié vernietig het wat nie wou glo nie. En wat van die engele wat hulle nie gehou het by hulle perke van gesag nie, maar hulle eie woonplek verlaat het? God het hulle met ewige kettings in die donker onder bewaking gehou vir die oordeelsaankondiging op die groot dag. Moet ook nie vir Sodom en Gomorra en die omliggende dorpe vergeet nie. Op dieselfde manier as die engele het hulle seksuele sondes gepleeg en gehunker na wesens anders as hulleself. As waarskuwende voorbeeld verduur hulle die straf van die ewige vuur. Net so is dit nou met hierdie goddelose mense: terwyl hulle op droomvisioene aanspraak maak, besoedel hulle hulle eie liggame, verwerp hulle gesag en beledig hulle die glorieryke hemelwesens.