JUDAS 1:20-24
JUDAS 1:20-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid, julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus, met die oog op die ewige lewe, verwag. Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel, maar red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Oor nog ander moet julle julle met eerbied ontferm, terwyl julle selfs die onderkleed verafsku wat deur die liggaam besoedel is. Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel
JUDAS 1:20-24 Bybel vir almal (ABA)
Maar, my vriende, julle moet aanhou om mekaar te help en te bemoedig. Julle moet mekaar bou soos mense 'n huis bou. Die goeie boodskap wat van God kom, moet die fondament wees. Julle moet luister na die Heilige Gees wanneer julle bid. God is lief vir julle, daarom moet julle mekaar goed oppas. Julle moet dit doen terwyl julle wag dat ons Here Jesus Christus vir julle die ewige lewe sal gee. Hy sal dit vir julle gee omdat Hy goed wil wees vir julle. Julle moet goed wees vir mense wat twyfel. Julle moet ander mense red voordat God hulle oordeel, julle moet hulle red soos 'n mens iemand red uit 'n vuur. Julle moet goed wees vir ander mense, maar julle moet versigtig wees en julle moet die dinge haat wat die sondaars doen. Julle moet ook hulle klere haat, hulle klere is heeltemal vuil van die sonde wat hulle doen. God is baie sterk. Hy gebruik sy krag om julle op te pas sodat julle nie sal val en sonde doen nie. Hy kan julle laat staan voor Hom, die Koning, en julle sal sonder sonde wees. Julle sal baie bly wees.
JUDAS 1:20-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag. En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is. Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig
JUDAS 1:20-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee. Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is. Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou
JUDAS 1:20-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar julle, geliefdes, bou julleself op in julle allerheiligste geloof, terwyl julle in die Heilige Gees bid, Hou julle in die liefde van God en verwag die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe. En met sommige moet julle medelye hê, wat 'n verskil maak: En ander red met vrees deur hulle uit die vuur te ruk; haat selfs die kleed wat deur die vlees bevlek is. En aan Hom wat magtig is om julle van val te bewaar en julle onberispelik voor die aangesig van sy heerlikheid te stel met groot blydskap
JUDAS 1:20-24 Die Boodskap (DB)
My liewe vriende, kom ek sê vir julle wat julle moet doen om op die regte pad te bly: Sorg dat julle geloof dag na dag sterker word. Bou julle hele lewe op God. Laat toe dat die Gees kragtig deur julle werk wanneer julle bid. Laat God se liefde julle lewe omring soos ’n sterk muur. Plaas al julle hoop op die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Hy gee so baie vir julle om dat Hy vir julle die ewige lewe sal gee. Gee om vir mense wie se geloof nog swak is. Help hulle sodat hulle geloof sterker kan word, al verdien hulle dit nie. Diegene wat op sleeptou geneem word deur hierdie mense se doen en late moet julle uit die vuur ruk voordat dit te laat is. En aan ander mense wat verkeerd doen, moet julle die nodige liefde bewys. Doen dit versigtig, maar hou aan, ook al verdien hulle dit nie. Julle moet egter niks te doen hê met al die verskriklike dinge wat hulle aanvang nie. Ons dien ’n wonderlike God. Hy is baie sterk. Hy kan sorg dat julle nooit in die sonde val nie. Hy kan julle beskerm sodat julle veilig by Hom in sy nuwe wêreld aankom, vol vreugde en met lofliedere in julle hart sodat julle sy grootheid vir altyd kan beleef.
JUDAS 1:20-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou op die fondament van julle allerheiligste geloof. Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees. Hou julle liefdesband met God in stand. Verwag die ontferming van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe as einddoel. Dié wat nog besluiteloos is, moet julle met ontferming behandel. Red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Aan nog ander moet julle ontferming betoon, maar wees uiters versigtig dat julle nie ook deur hulle sondige luste besmet word nie, ja, verafsku dit. Aan Hom wat magtig is om julle van val te bewaar, en julle sonder vlek met groot vreugde voor sy heerlike teenwoordigheid stelling te laat inneem