JOSUA 22:21-34
JOSUA 22:21-34 Die Boodskap (DB)
Hierop het die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam vir die leiers van die volk gesê: “Die Here alleen is God! Die Here alleen is God! Die Here weet waarom ons dit gedoen het en ons wil hê julle moet ook weet. As ons dan ontrou was en teen die Here in opstand gekom het, moet julle ons dadelik doodmaak. As ons teen die Here in opstand gekom het en ons eie altaar gebou het waarop ons brandoffers of graanoffers of vredesoffers wou bring, mag die Here dan self van ons rekenskap eis. Maar nee, dit was uit besorgdheid dat ons dit gedoen het. Ons was bang dat julle kinders dalk in die toekoms vir ons s’n sou sê: ‘Wie gee julle die reg om die Here die God van Israel te aanbid? Die Here self het tog die Jordaan as ’n duidelike grens tussen ons en julle gestel. Julle het niks met die Here te doen nie.’ Dit kon dalk tot gevolg hê dat ons kinders nie meer die Here wou aanbid nie. Daarom het ons besluit om die altaar te bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as ’n getuienis. Dit moet ons en julle kinders daaraan herinner dat ons inderdaad ook die Here dien met ons brandoffers en slagoffers en vredesoffers. Dan kan julle kinders nie dalk vir ons s’n sê: ‘Wat het julle met die Here te doen?’ nie. Dit was die hele idee daaragter. Want dan sou ons kinders vir julle s’n kon sê: ‘Kyk, hier is ’n afbeelding van die Here se altaar wat ons ouers gemaak het. Dit is nie bedoel vir brandoffers of slagoffers nie, maar as ’n bewys dat ons dieselfde Here dien.’ Dit was glad nie ons idee om teen die Here in opstand te kom of die rug vir Hom te draai deur ons eie altaar vir brandoffers en spysoffers en slagoffers te bou nie. Ons weet daar is net een altaar wat hiervoor gebruik kan word, en dit is die een by die tabernakel, die altaar van die Here ons God!” Toe die priester Pinehas en die ander leiers van die volk wat saam met hom daar was, dié woorde hoor, het dit hulle gerusgestel. Toe sê Pinehas die seun van die priester Eleasar vir die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam: “Nou weet ons die Here is by ons. Julle was nie ontrou aan die Here nie en het nie teen Hom in opstand gekom soos ons gedink het nie. Inteendeel, julle het juis gekeer dat die Here die Israeliete straf.” Hiermee is Pinehas die seun van die priester Eleasar en die ander leiers van die volk uit Gilead weg, terug Kanaän toe om aan die Israeliete te gaan rapporteer. Die Israeliete was tevrede met wat hulle gehoor het en hulle het God geloof. Hiermee was al hulle oorlogspraatjies ook op ’n end. Die mense van Ruben en Gad het die altaar “Getuie” genoem, “want,” het hulle gesê, “dit dien as getuie dat die Here God is.”
JOSUA 22:21-34 Bybel vir almal (ABA)
Die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het vir die hoofde van die familie-groepe van Israel gesê: “Die Here is die God van die gode, die Here is die God van die gode! Hy weet, en julle moet ook weet hoekom ons dit gedoen het. Ons het dit nie gedoen omdat ons opstandig wil wees teen die Here of omdat ons ontrou wil wees aan Hom nie. As julle dink dat ons verkeerd gedoen het, dan moet julle ons vandag doodmaak. Die Here self sal ons straf as ons vir ons 'n altaar gebou het om op te hou om die Here te dien en om brand-offers, koring-offers en ete-offers op die altaar te bring. Nee, ons het die altaar gebou omdat ons bekommerd was. Ons het gedink julle kinders sal eendag vir ons kinders sê: ‘Julle behoort nie aan die Here, die God van Israel, nie. Die Here het gesê daar moet 'n grens wees tussen ons en julle, dit is die Jordaan-rivier, julle behoort nie aan die Here nie.’ Dan sal julle kinders miskien ons kinders laat ophou om die Here te dien. Ons het toe gedink ons moet vir ons 'n altaar bou. Ons wil nie daarop brand-offers en ander offers bring nie, die altaar moet 'n getuie wees tussen ons en julle en tussen ons nageslag en julle nageslag. Die altaar moet die getuie wees dat ons sal aanhou om die Here by sy altaar te dien met ons brand-offers, ons ander offers en ons ete-offers. Dan sal julle nageslag nie eendag vir ons nageslag kan sê: ‘Julle behoort nie aan die Here nie.’ Ons het gedink as julle nageslag dit eendag vir ons nageslag sê, dan kan ons nageslag sê: ‘Kyk, daar is die altaar wat ons voorvaders gemaak het, dit lyk soos die Here se altaar. Maar ons gebruik nie die altaar om brand-offers en ander offers te offer nie, die altaar is die getuie tussen ons en julle.’ Ons wil glad nie opstandig wees teen die Here nie, en ons wil nie ophou om Hom te dien nie. Die altaar van ons God die Here is voor sy tempel-tent, en ons het nie 'n ander altaar gebou vir brand-offers en koring-offers nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die hoofde van die familie-groepe van Israel, hoor wat sê die mense van Ruben, Gad en Manasse, was hulle tevrede. Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou dat die Here by ons is, want julle was nie ontrou aan die Here toe julle die altaar gebou het nie. Julle het gekeer sodat die Here nie die Israeliete straf nie.” Pinehas seun van die priester Eleasar en die leiers het weggegaan van die stamme in die land Gilead. Hulle het na die ander Israeliete toe gegaan en hulle het vir die ander Israeliete gesê wat hulle gehoor het. Die Israeliete was toe tevrede en hulle het God geprys. Hulle het besluit om nie oorlog te maak teen daardie stamme nie en om nie die land te verwoes waar hulle woon nie. Die mense van Ruben en Gad het vir die altaar 'n naam gegee en gesê: “Die altaar is die getuie tussen ons, dit sê die Here is God.”
JOSUA 22:21-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse geantwoord en aan die stamhoofde van Israel gesê: Die God van die gode, die HERE, die God van die gode, die HERE, Hy weet dit; en ook Israel mag dit weet: As dit deur opstandigheid of deur troubreuk teen die HERE is — verlos ons nie vandag nie, HERE! — dat ons 'n altaar vir ons gebou het om van die HERE afvallig te word; en as dit is om daarop 'n brandoffer en spysoffer te bring of om daarop dankoffers te berei, dan mag die HERE self dit wreek. Maar waarlik, ons het dit uit 'n sekere besorgdheid gedoen en gesê: Later sou julle kinders met ons kinders kan spreek en sê: Wat het julle te doen met die HERE, die God van Israel? Die HERE het tog tussen ons en julle, kinders van Ruben en kinders van Gad, die Jordaan as grens gestel; julle het geen deel aan die HERE nie; so sal julle kinders dan maak dat ons kinders die HERE nie meer vrees nie. Daarom het ons gesê: Laat ons tog dit doen en vir ons die altaar bou, nie vir brandoffer en nie vir slagoffer nie, maar dat dit 'n getuie kan wees tussen ons en julle en ons geslagte ná ons dat ons die diens van die HERE sal waarneem voor sy aangesig met ons brandoffers en ons slagoffers en ons dankoffers, sodat julle kinders later nie aan ons kinders kan sê: Julle het geen deel aan die HERE nie. En ons het gedink: As hulle dit later aan ons en ons geslagte sou sê, sal ons sê: Kyk na die boustyl van die altaar van die HERE wat ons vaders gemaak het, nie vir brandoffer en nie vir slagoffer nie, maar 'n getuie is hy tussen ons en julle. Dit is ver van ons dat ons opstandig sou word teen die HERE en vandag afvallig sou word van die HERE deur 'n altaar te bou vir brandoffer, spysoffer en slagoffer naas die altaar van die HERE onse God wat voor sy tabernakel staan. Toe Pínehas, die priester, en die owerstes van die vergadering, die stamhoofde van Israel wat saam met hom was, die woorde hoor wat die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse gespreek het, was dit goed in hulle oë. Toe sê Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, aan die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse: Vandag weet ons dat die HERE in ons midde is, omdat julle hierdie troubreuk teen die HERE nie begaan het nie; nou het julle die kinders van Israel gered uit die hand van die HERE. Daarop het Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, en die ouerstes teruggekeer van die kinders van Ruben en die kinders van Gad, uit die land Gílead na die land Kanaän, na die kinders van Israel, en hulle 'n antwoord gebring. En die antwoord was goed in die oë van die kinders van Israel, en die kinders van Israel het God geprys; en hulle het daar nie meer van gespreek om teen hulle op kommando te trek, om die land waarin die kinders van Ruben en die kinders van Gad gewoon het, te verwoes nie. En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het die altaar genoem: Hy is getuie tussen ons dat die HERE God is.
JOSUA 22:21-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die mense van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het vir die hoofde van die Israelitiese familiegroep gesê: “Die Here alleen is God, die Here alleen is God! Hy weet, en Israel moet weet: as dit in verset en ontrou teen die Here was, dan moet julle ons vandag nie spaar nie. Of ons vir ons 'n altaar gebou het om die Here te verlaat en daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, dit sal die Here self vasstel. Nee, dit was uit kommer dat ons dit gedoen het. Ons het gedink môre-oormôre sê julle nageslag dalk vir ons s'n: ‘Wat het julle te doen met die Here die God van Israel? Die Here het 'n grens gestel tussen ons en julle, die Jordaan. Julle het nie 'n deel in die Here nie!’ So sou julle nageslag ons s'n kon verhinder om die Here te dien. Ons het toe gedink ons moet vir ons die altaar bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte, dat ons die diens aan die Here by sy heiligdom sal uitvoer met ons brandoffers, ons ander diereoffers en ons maaltydoffers, en dat julle nageslag nie later vir ons s'n sal sê: ‘Julle het nie 'n deel in die Here nie.’ “Ons het gedink as hulle dit later vir ons of ons nageslag sou sê, sou ons nageslag kon sê: ‘Kyk die model van die Here se altaar. Ons voorvaders het dit gemaak, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ Ons dink glad nie daaraan om teen die Here in verset te kom en Hom te verlaat deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diereoffers bo en behalwe die altaar van die Here ons God voor sy tabernakel nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering en die Israelitiese familiehoofde wat by hom was, hoor wat die mense uit Ruben, Gad en Manasse sê, was hulle tevrede. Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou die Here is by ons; julle was nie ontrou aan die Here nie; julle het Israel aan die straf van die Here laat ontkom.” Pinehas seun van die priester Eleasar en die volksleiers is toe terug van die mense van Ruben en Gad af uit Gilead na Kanaän, na die Israeliete toe en het verslag gedoen. Die Israeliete was tevrede en het God geprys. Hulle het afgesien van die plan om die mense van Ruben en Gad te gaan aanval en die gebied waar hulle woon, te verwoes. Die mense van Ruben en Gad het die altaar 'n naam gegee, en gesê: “Hy is die getuie tussen ons dat die Here God is.”
JOSUA 22:21-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die nageslag van Ruben en Gad, en die halwe stam van Manasse het daarop geantwoord. Hulle het vir die hoofde van die leërafdelings van Israel gesê: “Die God van die gode, die HERE, die God van die gode, die HERE, Hy weet, en Israel moet dit weet: As dit uit opstand of in troubreuk teen die HERE was, moet u ons vandag nie spaar nie. As dit was om vir ons 'n altaar te bou om van die HERE af weg te draai, en om •brandoffers en •graanoffers daarop te offer, of om •maaltydoffers daarop te bring – die HERE, Hy sal rekenskap eis. Ons sweer dit is uit besorgdheid oor die saak dat ons dit gedoen het. Ons het gedink, in die toekoms sal julle kinders vir ons kinders sê, ‘Wat het julle met die HERE, die God van Israel, te doen? As 'n grens het die HERE tussen ons en julle, nakomelinge van Ruben en Gad, die Jordaan daargestel. Julle het geen deel aan die HERE nie.’ Julle kinders sal ons kinders laat ophou om vir die HERE ontsag te hê. Ons het toe so gedink: Laat ons iets vir onsself doen deur die altaar te bou, nie vir brandoffers en slagoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte ná ons, om nog die diens van die HERE in sy teenwoordigheid te kan verrig met ons brandoffers, slagoffers en maaltydoffers. Julle kinders sal dan nie in die toekoms vir ons kinders kan sê, ‘Julle het geen deel aan die HERE nie.’ Ons het gedink: As hulle dit in die toekoms vir ons en ons nageslag sou sê, sal ons antwoord, ‘Kyk na die weergawe van die altaar van die HERE wat ons voorouers gemaak het – nie vir brandoffers nie, en nie vir slagoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ Nooit sal ons teen die HERE in opstand kom nie – deur vandag van die HERE af weg te draai, deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en maaltydoffers, naas die altaar van die HERE ons God wat voor sy tabernakel is nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die hoofde van die leërafdelings van Israel wat by hom was, die verduideliking hoor wat die nageslag van Ruben, Gad en Manasse gee, het hulle dit goedgevind. Toe sê Pinehas, seun van die priester Eleasar, vir die nageslag van Ruben, Gad en Manasse: “Vandag weet ons dat die HERE in ons midde is, dat julle nie hierdie troubreuk teen die HERE gepleeg het nie. Julle het dan ook die Israeliete gered uit die hand van die HERE.” Pinehas, seun van die priester Eleasar, en die leiers het teruggekeer van die nageslag van Ruben en Gad, van die Gileadstreek af na die land Kanaän, na die Israeliete, en aan hulle verslag gelewer. Die verslag het byval gevind by die Israeliete, en hulle het God geprys. Daar was nie meer sprake daarvan om teen hulle op te trek vir die stryd en die land waar die nageslag van Ruben en Gad woon, te verwoes nie. Die nageslag van Ruben en Gad het vir die altaar 'n naam gegee: “Dit is 'n getuie tussen ons dat die HERE God is.”
JOSUA 22:21-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse geantwoord en aan die hoofde van die duisende van Israel gesê: Die HERE, die God van die gode, die HERE, die God van die gode, ken Hy, en Hy sal Israel ken; as dit in opstand is of in oortreding teen die HERE is (verlos ons nie vandag nie) dat ons vir ons 'n altaar gebou het om van die HERE af te wyk, of om daarop 'n brandoffer of spysoffer te bring, of om daarop dankoffers te bring, laat die HERE dit self eis; En as ons dit nie eerder gedoen het uit vrees vir hierdie saak nie, deur te sê: Mettertyd sal julle kinders met ons kinders kan spreek en sê: Wat het julle met die HERE, die God van Israel, te doen? Want die HERE het die Jordaan 'n grens gemaak tussen ons en julle, kinders van Ruben en kinders van Gad! julle het geen deel aan die HERE nie; so sal julle kinders ons kinders laat ophou om die HERE te vrees. Daarom het ons gesê: Laat ons nou gereed maak om vir ons 'n altaar te bou, nie vir brandoffer of slagoffer nie. Maar dat dit 'n getuie kan wees tussen ons en julle en ons geslagte ná ons, dat ons die diens van die HERE voor sy aangesig kan verrig met ons brandoffers en met ons slagoffers en met ons dankoffers; sodat julle kinders nie mettertyd vir ons kinders mag sê: Julle het geen deel aan die HERE nie. Daarom het ons gesê dat dit sal gebeur as hulle so aan ons of aan ons geslagte in die toekoms sê, dat ons weer kan sê: Kyk na die voorbeeld van die altaar van die HERE wat ons vaders gemaak het, nie vir brandoffers nie, ook nie vir offers nie; maar dit is 'n getuie tussen ons en jou. Mag God verhoed dat ons teen die HERE in opstand kom en ons vandag van die HERE afwyk, om 'n altaar te bou vir brandoffers, spysoffers of slagoffers, by die altaar van die HERE onse God wat voor sy tabernakel is. En toe Pinehas, die priester, en die owerstes van die vergadering en die hoofde van die duisende van Israel wat by hom was, die woorde hoor wat die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse gespreek het, het dit hulle behaag. En Pinehas, die seun van Eleásar, die priester, het aan die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die kinders van Manasse gesê: Vandag sien ons dat die HERE onder ons is, omdat julle nie hierdie oortreding teen die HERE begaan het nie: nou het julle die kinders van Israel verlos uit die hand van die HERE. En Pinehas, die seun van Eleásar, die priester, en die vorste, het teruggekeer van die kinders van Ruben en van die kinders van Gad, uit die land Gílead, na die land Kanaän, na die kinders van Israel, en hulle laat weet weer. En die saak het die kinders van Israel behaag; en die kinders van Israel het God geprys en nie van plan om teen hulle op te trek in die oorlog om die land te verwoes waarin die kinders van Ruben en Gad gewoon het nie. En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het die altaar Ed genoem, want dit sal 'n getuie tussen ons wees dat die HERE God is.
JOSUA 22:21-34 Die Boodskap (DB)
Hierop het die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam vir die leiers van die volk gesê: “Die Here alleen is God! Die Here alleen is God! Die Here weet waarom ons dit gedoen het en ons wil hê julle moet ook weet. As ons dan ontrou was en teen die Here in opstand gekom het, moet julle ons dadelik doodmaak. As ons teen die Here in opstand gekom het en ons eie altaar gebou het waarop ons brandoffers of graanoffers of vredesoffers wou bring, mag die Here dan self van ons rekenskap eis. Maar nee, dit was uit besorgdheid dat ons dit gedoen het. Ons was bang dat julle kinders dalk in die toekoms vir ons s’n sou sê: ‘Wie gee julle die reg om die Here die God van Israel te aanbid? Die Here self het tog die Jordaan as ’n duidelike grens tussen ons en julle gestel. Julle het niks met die Here te doen nie.’ Dit kon dalk tot gevolg hê dat ons kinders nie meer die Here wou aanbid nie. Daarom het ons besluit om die altaar te bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as ’n getuienis. Dit moet ons en julle kinders daaraan herinner dat ons inderdaad ook die Here dien met ons brandoffers en slagoffers en vredesoffers. Dan kan julle kinders nie dalk vir ons s’n sê: ‘Wat het julle met die Here te doen?’ nie. Dit was die hele idee daaragter. Want dan sou ons kinders vir julle s’n kon sê: ‘Kyk, hier is ’n afbeelding van die Here se altaar wat ons ouers gemaak het. Dit is nie bedoel vir brandoffers of slagoffers nie, maar as ’n bewys dat ons dieselfde Here dien.’ Dit was glad nie ons idee om teen die Here in opstand te kom of die rug vir Hom te draai deur ons eie altaar vir brandoffers en spysoffers en slagoffers te bou nie. Ons weet daar is net een altaar wat hiervoor gebruik kan word, en dit is die een by die tabernakel, die altaar van die Here ons God!” Toe die priester Pinehas en die ander leiers van die volk wat saam met hom daar was, dié woorde hoor, het dit hulle gerusgestel. Toe sê Pinehas die seun van die priester Eleasar vir die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam: “Nou weet ons die Here is by ons. Julle was nie ontrou aan die Here nie en het nie teen Hom in opstand gekom soos ons gedink het nie. Inteendeel, julle het juis gekeer dat die Here die Israeliete straf.” Hiermee is Pinehas die seun van die priester Eleasar en die ander leiers van die volk uit Gilead weg, terug Kanaän toe om aan die Israeliete te gaan rapporteer. Die Israeliete was tevrede met wat hulle gehoor het en hulle het God geloof. Hiermee was al hulle oorlogspraatjies ook op ’n end. Die mense van Ruben en Gad het die altaar “Getuie” genoem, “want,” het hulle gesê, “dit dien as getuie dat die Here God is.”
JOSUA 22:21-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Rubeniete, die Gadiete en die mense van die halwe Manassestam het die hoofde van die familiegroep geantwoord: “Die HERE alleen is God, net die HERE is God! Hy weet, en laat Israel ook weet dat julle nie vandag ons lewens moet spaar as ons dit uit opstand of met slegte bedoelings teen die HERE gebou het nie. Ons het nie die altaar gebou om ons rug op die HERE te draai nie. As ons dit gebou het om daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, moet die HERE ons straf. Ons het dit gebou omdat ons bekommerd was dat julle nageslag net oormôre vir ons nasate sal sê: ‘Wat het julle met die HERE, die God van Israel, te doen? Die HERE het die Jordaanrivier as ’n skeiding tussen ons en julle van Ruben en Gad gestel. Julle het nie deel aan die HERE nie!’ Julle nageslag sal dan ons nasate keer om die HERE te dien. Ons het daarom besluit om vir ons die altaar te bou, nie met die oog op brandoffers of diere-offers nie, maar as herinneringsteken vir ons en vir julle en vir ons nageslagte ná ons, dat ons ook die reg het om die HERE by sy heiligdom te gaan aanbid met ons brandoffers, ons ander diere-offers en ons maaltydoffers. Julle nageslag sal nie later vir ons nageslag kan sê: ‘Julle het geen deel aan die HERE nie.’ Ons het by onsself gedink dat as hulle later so iets vir ons of ons nageslag sou sê, dan kan ons nageslag vir hulle sê: ‘Kyk na die afbeelding van die HERE se altaar. Ons voorouers het dit nie vir brandoffers of diere-offers gebou nie, maar as ’n gedenkteken tussen ons en julle.’ “Dis glad nie in ons gedagte om teen die HERE in opstand te kom of die rug op Hom te draai deur ons eie altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diere-offers nie. Daar is nie ’n ander altaar hiervoor as net die een van die HERE ons God wat voor sy tabernakel staan nie.” Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die familiehoofde wat by hom was, hoor wat die Rubeniete, Gadiete en mense van Manasse te sê het, was hulle gerusgestel. Pinehas, die seun van die priester Eleasar, het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet vandag dat die HERE tussen ons is. Julle was nie ontrou aan die HERE soos ons gedink het nie. Julle het die Israeliete uit die hand van die HERE gered.” Pinehas, die seun van die priester Eleasar, en die tien leiers het toe teruggekom van die mense van Ruben en Gad in Gilead. Hulle is terug na die ander Israeliete in Kanaän om aan hulle verslag te doen. Die ander Israeliete was tevrede. Hulle het God geloof. Daar was nie langer sprake daarvan om oorlog te gaan maak en die gebied van die Rubeniete en Gadiete te verwoes nie. Die mense van Ruben en Gad het die gedenkaltaar “Getuienis” genoem. Hulle het gesê: “Dit is die getuienis tussen hulle en ons dat die HERE ook ons God is.”