JOSUA 22:1-5
JOSUA 22:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Josua het daarna die stamme Ruben en Gad en die een helfte van die Manassestam geroep en vir hulle gesê: “Julle het alles gedoen wat Moses die dienaar van die Here julle beveel het en julle was gehoorsaam aan alles wat ek julle beveel het. Julle het hierdie hele tyd tot vandag toe nie julle broers in die steek gelaat nie en julle het gedoen wat die Here julle God julle beveel het. Nou het Hy aan julle broers 'n woonplek gegee soos Hy hulle beloof het. Gaan nou terug na julle eie woonplekke toe, na julle eie gebied oorkant die Jordaan wat Moses die dienaar van die Here aan julle toegeken het. Sorg net dat julle die gebod en die wet wat Moses die dienaar van die Here julle opgelê het, getrou onderhou, naamlik om die Here julle God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sy gebooie te onderhou, aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.”
JOSUA 22:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Daarna het Josua die manne van die stamme Ruben, Gad en die halwe Manasse-stam geroep en vir hulle gesê: “Julle het alles gedoen wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle gesê het en julle was altyd gehoorsaam aan my. Julle het hierdie hele lang tyd tot vandag toe nie die ander Israeliete gelos nie en julle het gedoen wat die Here wil hê. En nou het julle God die Here die ander Israeliete laat wen teen hulle vyande, Hy het dit vir hulle belowe. Gaan nou terug na julle woonplekke in die land wat aan julle behoort, die land oos van die Jordaan-rivier. Dit is die land wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle gegee het. Maar onthou, julle moet seker maak dat julle doen wat die gebooie en die wette sê wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle gegee het. Julle moet lief wees vir julle God die Here, julle moet lewe soos Hy wil hê en julle moet doen wat sy gebooie sê. Julle moet aanhou om Hom te dien met julle hele hart, met julle hele lewe.”
JOSUA 22:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Josua die Rubeniete en die Gadiete en die halwe stam van Manasse laat roep en aan hulle gesê: Julle het alles onderhou wat Moses, die kneg van die HERE, julle beveel het, en julle het na my geluister in alles wat ek julle beveel het. Julle het jul broers nie in die steek gelaat nie — dit is nou baie dae al tot vandag toe — en het die ordening van die gebod van die HERE julle God onderhou. Maar nou het die HERE julle God jul broers rus gegee, soos Hy hulle beloof het; draai dan nou om en gaan na julle tente, na die land van julle besitting wat Moses, die kneg van die HERE, julle oorkant die Jordaan gegee het. Neem net noukeurig in ag die onderhouding van die gebod en die wet wat Moses, die kneg van die HERE, julle beveel het, om die HERE julle God lief te hê en in al sy weë te wandel en sy gebooie te onderhou en Hom aan te hang en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel.
JOSUA 22:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarna het Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse geroep. Hy het vir hulle gesê: “Julle het alles wat Moses, die dienskneg van die HERE, julle beveel het, nagekom, en julle het my ook gehoorsaam in alles wat ek julle beveel het. Alreeds vir 'n baie lang tyd, tot vandag toe, het julle nie julle broers in die steek gelaat nie. Julle het die verpligtinge van die HERE julle God se opdrag nagekom. En nou het die HERE julle God vir julle broers rus gegee, soos Hy hulle beloof het. Julle moet dan nou omdraai en na julle woonplekke gaan, na die land van julle erfgrond, wat Moses, die dienskneg van die HERE, vir julle gegee het oorkant die Jordaan. Kom net die opdragte en die wet nougeset na wat Moses, die dienskneg van die HERE, julle beveel het, naamlik om die HERE julle God lief te hê, al sy paaie te volg, sy gebooie na te kom, aan Hom vas te hou, en Hom te dien met julle hele hart en julle hele wese. ”
JOSUA 22:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe roep Josua die Rubeniete en die Gadiete en die halwe stam van Manasse, en vir hulle gesê: Julle het alles gehou wat Moses, die kneg van die HERE, julle beveel het, en na my stem geluister in alles wat ek julle beveel het. Julle het julle broers al baie dae tot vandag toe nie verlaat nie, maar die diens van die gebod van die HERE julle God onderhou. En nou het die HERE julle God rus gegee aan julle broers, soos Hy hulle beloof het; daarom gaan julle nou terug en gaan na julle tente en na die land van julle besitting wat Moses, die kneg van die HERE aan die anderkant aan julle gegee het, kant Jordaan. Maar let op om die gebod en die wet te doen wat Moses, die kneg van die HERE, jou beveel het, om die HERE jou God lief te hê en in al sy weë te wandel en sy gebooie te onderhou en Hom aan te kleef, en om hom te dien met jou hele hart en met jou hele siel.
JOSUA 22:1-5 Die Boodskap (DB)
Daarna het Josua die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam nader geroep. Toe sê hy: “Julle het alles gedoen wat Moses gevra het julle moet doen en julle het al my opdragte uitgevoer. Julle het nie julle broers in die steek gelaat nie, al het die inname van die land so lank geneem. Julle het elke opdrag van die Here julle God nagekom. Nou het die Here julle God sy belofte aan julle broers nagekom en hulle bly in vrede in hulle land. Julle kan nou teruggaan na julle eie land toe wat Moses vir julle gegee het, daar aan die oostekant van die Jordaan. Maar maak seker dat julle die gebooie en die wet wat Moses vir julle gegee het, nakom. Julle moet die Here julle God liefhê, volgens sy wil lewe, sy opdragte uitvoer, getrou wees aan Hom en Hom dien met alles binne-in julle.”
JOSUA 22:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna het Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe Manassestam by hom laat bymekaarkom. Hy het vir hulle gesê: “Julle het pligsgetrou alles nagekom wat Moses, die dienaar van die HERE, aan julle opgedra het. Julle het elke opdrag uitgevoer wat ek vir julle gegee het. Al het dit lank geduur, het julle nooit die ander stamme in die steek gelaat nie. Julle het alles gedoen wat die HERE julle God julle beveel het. Die HERE julle God het soos Hy beloof het, vir julle volksgenote permanente blyplek gegee. Julle kan nou omdraai en teruggaan na julle woonplekke toe, na die grond wat Moses, die dienaar van die HERE, vir julle oorkant die Jordaanrivier gegee het. Let baie goed daarop dat julle die gebod en die wet wat Moses, die dienaar van die HERE, julle voorgehou het, moet gehoorsaam. Dit beteken dat julle die HERE julle God moet liefhê, die koers moet inslaan wat Hy van julle verwag, bedag moet wees op wat Hy wil hê, daaraan vashou en met hart en siel vir Hom lewe.”