JOSUA 10:12-14
JOSUA 10:12-14 Bybel vir almal (ABA)
Josua het daardie dag met die Here gepraat, die dag toe die Here die Israeliete laat wen het teen die Amoriete. Die Israeliete het gehoor toe Josua sê: “Son, jy moet stilstaan by die stad Gibeon, maan, jy moet stilstaan in die Ajalon-vallei.” Die son en die maan het toe stilgestaan totdat die Israeliete hulle vyande oorwin het. Dit is so geskryf in die Boek van Jasar: Die son het stilgestaan hoog in die lug, die son het omtrent 'n hele dag lank nie ondergegaan nie. Daar was nog nooit 'n dag soos hierdie dag nie, nie voorheen nie en ook nie later nie. Die Here het gedoen wat 'n mens vir Hom gevra het, want die Here het self oorlog gemaak, sodat die Israeliete hulle vyande kon oorwin.
JOSUA 10:12-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het Josua met die HERE gespreek, op die dag dat die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ájalon! Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent 'n volle dag. En daar was geen dag soos hierdie een, voor hom en ná hom, dat die HERE na die stem van 'n man geluister het nie; want die HERE het vir Israel gestry.
JOSUA 10:12-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié dag toe die Here die Amoriete in die mag van die Israeliete gegee het, het Josua die Here om hulp gevra. Ten aanhore van Israel het hy gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, staan stil in Ajalonlaagte!” Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna 'n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. So 'n dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir 'n mens geluister het! Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.
JOSUA 10:12-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit was in dié tyd dat Josua met die HERE gepraat het, die dag toe die HERE die Amoriete aan die Israeliete oorgelewer het. Hy het, terwyl Israel toekyk, gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, in die vallei van Ajalon! ” En die son het stilgestaan en die maan het gaan staan, totdat 'n nasie wraak geneem het op sy vyande. Staan dit nie geskryf in die Boekrol van die Opregte nie? Ja, die son het gaan staan in die middel van die hemelruim, en hy was ongeveer 'n volle dag nie haastig om onder te gaan nie. Daar was nooit tevore of daarna 'n dag soos hierdie nie, waarop die HERE geluister het na die stem van 'n mens. Ja, die HERE het vir Israel geveg.
JOSUA 10:12-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Josua met die HERE gespreek op die dag toe die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en hy het voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil op Gíbeon; en jy, maan, in die dal Ajalon. En die son het stilgestaan, en die maan het gebly totdat die volk hulle op hulle vyande gewreek het. Is dit nie in die boek Jasher geskrywe nie? En die son het stilgestaan in die middel van die hemel en het hom omtrent 'n hele dag nie gehaas om onder te gaan nie. En daar was geen dag soos dié voor hom of daarna dat die HERE na die stem van 'n man geluister het nie; want die HERE het vir Israel geveg.
JOSUA 10:12-14 Die Boodskap (DB)
Op die dag waarop die Here aan Israel die oorwinning oor die Amoriete gegee het, het Josua voor die manskappe vir die Here hulp gevra en gesê: “Son, staan asseblief stil oor Gibeon en maan, oor die vallei van Ajalon.” Toe het die son en maan nie beweeg nie totdat die volk hulle vyande verslaan het. So is dit ook opgeteken in die Boek van die opregte. Die son het in die middel van die hemel bly staan, vir byna ’n volle dag, en nie soos op ’n gewone dag ondergegaan nie. Dit het nooit voor hierdie dag of ooit weer daarna gebeur nie. Maar op daardie dag het die Here na ’n mens se versoek geluister en dit gedoen omdat Hy vir Israel die oorwinning wou gee.
JOSUA 10:12-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op die dag dat die HERE vir Israel oorwinning gegee het oor die Amoriete, het Josua die HERE om hulp gevra. Voor almal het hy by die HERE gebid: “Laat die son tog stilstaan bo Gibeon. Laat die maan stilstaan oor die Ajalonlaagte!” Die son het gaan stilstaan. Die maan het net daar bly hang totdat Israel sy vyande uitgewis het. Dit is soos dit opgeteken staan in Die boek van die Opregte. Die son het halfpad in die lug vasgesteek. Hy was nie haastig om op sy gewone tyd onder te gaan nie. So ’n dag was daar nog nooit voorheen en nooit daarna nie. Die HERE het geluister na wat ’n mens vir Hom vra! Die HERE het aan Israel se kant geveg.