JOSUA 10:12-13
JOSUA 10:12-13 Bybel vir almal (ABA)
Josua het daardie dag met die Here gepraat, die dag toe die Here die Israeliete laat wen het teen die Amoriete. Die Israeliete het gehoor toe Josua sê: “Son, jy moet stilstaan by die stad Gibeon, maan, jy moet stilstaan in die Ajalon-vallei.” Die son en die maan het toe stilgestaan totdat die Israeliete hulle vyande oorwin het. Dit is so geskryf in die Boek van Jasar: Die son het stilgestaan hoog in die lug, die son het omtrent 'n hele dag lank nie ondergegaan nie.
JOSUA 10:12-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het Josua met die HERE gespreek, op die dag dat die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ájalon! Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent 'n volle dag.
JOSUA 10:12-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié dag toe die Here die Amoriete in die mag van die Israeliete gegee het, het Josua die Here om hulp gevra. Ten aanhore van Israel het hy gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, staan stil in Ajalonlaagte!” Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna 'n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie.
JOSUA 10:12-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit was in dié tyd dat Josua met die HERE gepraat het, die dag toe die HERE die Amoriete aan die Israeliete oorgelewer het. Hy het, terwyl Israel toekyk, gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, in die vallei van Ajalon! ” En die son het stilgestaan en die maan het gaan staan, totdat 'n nasie wraak geneem het op sy vyande. Staan dit nie geskryf in die Boekrol van die Opregte nie? Ja, die son het gaan staan in die middel van die hemelruim, en hy was ongeveer 'n volle dag nie haastig om onder te gaan nie.
JOSUA 10:12-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Josua met die HERE gespreek op die dag toe die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en hy het voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil op Gíbeon; en jy, maan, in die dal Ajalon. En die son het stilgestaan, en die maan het gebly totdat die volk hulle op hulle vyande gewreek het. Is dit nie in die boek Jasher geskrywe nie? En die son het stilgestaan in die middel van die hemel en het hom omtrent 'n hele dag nie gehaas om onder te gaan nie.
JOSUA 10:12-13 Die Boodskap (DB)
Op die dag waarop die Here aan Israel die oorwinning oor die Amoriete gegee het, het Josua voor die manskappe vir die Here hulp gevra en gesê: “Son, staan asseblief stil oor Gibeon en maan, oor die vallei van Ajalon.” Toe het die son en maan nie beweeg nie totdat die volk hulle vyande verslaan het. So is dit ook opgeteken in die Boek van die opregte. Die son het in die middel van die hemel bly staan, vir byna ’n volle dag, en nie soos op ’n gewone dag ondergegaan nie.
JOSUA 10:12-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op die dag dat die HERE vir Israel oorwinning gegee het oor die Amoriete, het Josua die HERE om hulp gevra. Voor almal het hy by die HERE gebid: “Laat die son tog stilstaan bo Gibeon. Laat die maan stilstaan oor die Ajalonlaagte!” Die son het gaan stilstaan. Die maan het net daar bly hang totdat Israel sy vyande uitgewis het. Dit is soos dit opgeteken staan in Die boek van die Opregte. Die son het halfpad in die lug vasgesteek. Hy was nie haastig om op sy gewone tyd onder te gaan nie.