JOSUA 1:7-9
JOSUA 1:7-9 Bybel vir almal (ABA)
Ja, jy moet sterk en dapper wees, jy moet seker maak dat jy alles doen wat die wette sê, die wette wat my dienaar Moses vir jou gegee het. Jy moet presies so doen, dan sal jy slaag met alles wat jy doen. Jy moet aanhou om te lees wat in hierdie wetboek staan, jy moet elke dag en elke nag daaroor dink, dan sal jy seker maak dat jy alles doen wat daarin geskryf is. Jy sal kan doen wat jy moet doen en jy sal slaag. Ek het vir jou gesê jy moet sterk en dapper wees. Jy moenie bang wees nie, jy moet vir niks skrik nie, want jou God die Here sal by jou wees, oral waar jy gaan.”
JOSUA 1:7-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel. Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.
JOSUA 1:7-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.”
JOSUA 1:7-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees net baie dapper en sterk, sodat jy die hele wet wat Moses, my dienskneg, jou beveel het, nougeset uitvoer. Moenie links of regs daarvan afwyk nie, sodat jy sukses kan behaal oral waar jy gaan. Hierdie •boekrol van die wet mag nie uit jou mond verdwyn nie. Jy moet dit dag en nag mymerend prewel, sodat jy alles wat daarin geskryf is, nougeset kan nakom; want dan sal jy voorspoedig wees op jou pad; dan sal jy sukses behaal. Het Ek jou nie beveel, ‘Wees dapper en sterk’ nie? Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want die HERE jou God is by jou, oral waar jy gaan.”
JOSUA 1:7-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees net sterk en baie dapper, dat jy sorgvuldig kan handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het: draai nie daarvan af na regs of links nie, sodat jy voorspoedig kan wees oral waar jy gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar jy moet dit dag en nag oordink, dat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskrywe is; Het ek jou nie beveel nie? Wees sterk en hou goeie moed; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie, want die HERE jou God is met jou oral waar jy gaan.
JOSUA 1:7-9 Die Boodskap (DB)
Wees sterk. Vertrou My met alles in jou. Maak seker dat jy al die wette nakom wat Moses vir jou gegee het. Gehoorsaam selfs die heel kleinste voorskrifte, dan sal jy suksesvol wees in alles wat jy ook al aanpak. Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal. Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan.”
JOSUA 1:7-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Wees sterk en baie dapper! Voer al die opdragte uit wat Ek vir my dienaar Moses gegee het. Moenie links of regs daarvan afwyk nie. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen. Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees. My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die HERE jou God is saam met jou oral waar jy gaan.”