JONA 3:7-8
JONA 3:7-8 Bybel vir almal (ABA)
Hy het vir die mense van Nineve gesê: “Die koning en sy amptenare sê: Niemand mag iets eet of drink nie, nie 'n mens of 'n dier nie, nie 'n bees of 'n skaap of 'n bok nie. Almal moet rouklere dra, mense en diere. Almal moet ernstig tot God bid. Almal moet ophou om sonde te doen en om slegte dinge te doen aan ander mense.
JONA 3:7-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hy het in Ninevé laat uitroep en sê: Op las van die koning en sy groot manne — geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag nie wei of water drink nie; maar mens en dier moet 'n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep, en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande kleef.
JONA 3:7-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het.
JONA 3:7-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het in Nineve laat afkondig: “Op las van die koning en sy belangrike amptenare: Niemand mag aan enigiets proe nie – nie mens of dier, beeste of kleinvee nie. Hulle mag nie eet of water drink nie. Mens en dier moet met 'n roukleed bedek wees. Die mense moet God ernstig aanroep en elkeen moet hom bekeer van sy slegte gedrag en van die geweld wat aan sy hande kleef.
JONA 3:7-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het dit in Nineve laat verkondig en bekend gemaak deur die bevel van die koning en sy edeles, en gesê: Laat geen mens of dier, beeste of kleinvee iets proe nie; laat hulle nie wei en geen water drink nie. Maar laat mens en dier met rouklere bedek wees en met krag tot God roep; ja, laat hulle elkeen bekeer van sy verkeerde weg en van die geweld wat in hulle hande is.
JONA 3:7-8 Die Boodskap (DB)
Hy het ’n amptelike afkondiging in Nineve laat maak: “Op las van die koning en sy kabinet: Geen mens of bees of vee in Nineve mag enigiets eet of drink nie. Al die mense en elke dier moet klere aanhê vir ’n begrafnis. Elkeen moet baie ernstig tot die Here bid. Almal moet die verkeerde dinge wat hulle doen, laat staan. Die geweld teenoor mekaar moet dadelik stopgesit word.
JONA 3:7-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die koning en sy amptenare het toe die volgende bevel deur die stad gestuur: “Niemand nie, nie eers die diere, mag enigsins iets eet of drink nie. Almal moet rouklere aantrek en ernstig tot God bid. Almal moet ophou om kwaad te doen en geweld te pleeg.