JONA 3:1-5
JONA 3:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het weer met Jona gepraat. Hy het vir Jona gesê: “Jy moet gereedmaak. Jy moet na die groot stad Nineve gaan. Jy moet vir die mense sê wat Ek vir jou gesê het om vir hulle te sê.” Jona het gereedgemaak en hy het na Nineve gegaan soos die Here gesê het. Nineve was 'n baie groot stad. As 'n mens deur die stad wou loop, dan moes hy drie dae lank loop. Jona het in die stad in geloop, een dag lank. Hy het gepraat sodat al die mense dit kon hoor. Hy het gesê: “Oor 40 dae sal God die mense in Nineve straf en Hy sal die stad verwoes!” Die mense van Nineve het geglo wat God gesê het. Hulle het gesê almal moet vas, hulle moet niks eet nie. Almal het rouklere aangetrek, die belangrike mense en ook die mense wat nie belangrik was nie.
JONA 3:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die woord van die HERE het vir die tweede maal tot Jona gekom en gesê: Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé, en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê. Toe maak Jona hom klaar en gaan na Ninevé volgens die woord van die HERE. En Ninevé was 'n ontsaglike groot stad, drie dagreise te voet. En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes. En die manne van Ninevé het God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee.
JONA 3:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woord van die Here het 'n tweede keer tot Jona gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.” Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was 'n baie groot stad: 'n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het 'n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek.
JONA 3:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woord van die HERE het die tweede keer tot Jona gekom: “Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig aan die stad die boodskap wat Ek aan jou opdra.” Jona het toe opgestaan en na Nineve gegaan soos die HERE hom beveel het. Nineve was 'n uitsonderlike groot stad: drie dae se loop van kant tot kant. Jona het begin om die stad binne te gaan, 'n dag se loop ver. Hy het uitgeroep: “Nog net veertig dae, dan word Nineve verwoes!” Die mense van Nineve het toe in God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en hulle het almal, belangrik en onbelangrik, rouklere aangetrek.
JONA 3:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die woord van die HERE het vir die tweede keer tot Jona gekom en gesê: Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig die prediking wat ek jou beveel. Jona het toe opgestaan en na Nineve gegaan, volgens die woord van die HERE. En Nineve was 'n buitengewoon groot stad van drie dagreise. En Jona het 'n dagreis in die stad begin ingaan, en hy het uitgeroep en gesê: Nog veertig dae, en Nineve sal omvergewerp word. Die mense van Nineve het toe in God geglo en 'n vasdag uitgeroep en rouklere aangetrek, van die grootste tot die geringste onder hulle.
JONA 3:1-5 Die Boodskap (DB)
Die Here het weer ’n keer vir Jona geroep. Hy het weer vir Jona gesê: “Gaan gee my boodskap vir die groot stad Nineve. Sê vir hulle van my besluit waaroor Ek en jy laas keer gepraat het.” Hierdie keer het Jona geluister. Hy het na Nineve toe gegaan. Nineve was ’n geweldige groot stad. Dit het drie dae gevat om van een kant tot die ander kant deur die stad te loop. Toe Jona ’n dag ver in die stad in was, het hy die Here se boodskap vir hulle gegee. Hy het vir hulle gesê wat die Here besluit het. Hy het gesê: “Daar is nog 40 dae oor voordat die Here Nineve gaan verwoes!” Die inwoners van Nineve het hierdie boodskap geglo. Hulle het besluit dat almal hulle voor God moet verootmoedig en niks moet eet nie. Van die belangrikste mense tot die eenvoudigstes het begrafnisklere aangetrek om vir God te wys hoe spyt hulle was oor alles wat hulle verkeerd gedoen het.
JONA 3:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het ’n tweede keer met Jona gepraat: “Maak jou gereed en gaan na die groot stad Nineve. Dra die oordeelsboodskap wat Ek jou gegee het aan hulle oor.” Jona het gereedgemaak en na Nineve toe gegaan soos die HERE hom beveel het. Nineve was so groot dat dit drie dae vat om alles te sien. Die eerste dag toe Jona in die stad ingegaan het, het hy uitgeroep: “Oor 40 dae sal Nineve vernietig word!” Die mense van Nineve het God se boodskap geglo. Almal, van groot tot klein, het besluit om te vas en om rouklere aan te trek.