JONA 2:5-7
JONA 2:5-7 Bybel vir almal (ABA)
Die water het my toegemaak, die see was oral rondom my, daar was seegras om my kop. Ek het afgesak tot by die voet van die berge, diep onder in die see. Die aarde het my daar toegesluit, hy wou my altyd daar hou. Maar U, my God die Here, het my gered uit die dood. “Ek was swak en amper dood, maar toe het ek aan U gedink, Here. Ek het tot U gebid in u gewyde tempel.
JONA 2:5-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Waters het my omring tot aan die siel toe, die vloed was rondom my; seegras was om my hoof gedraai. Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek, HERE my God! Toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel.
JONA 2:5-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered. Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel.
JONA 2:5-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Water het my tot aan my keel omsluit, •oerwater het my omring; seewier het my kop omstrengel. Na die basis van die berge het ek afgesak; die aarde – haar sluitbalke was vir altyd toe agter my. “Maar tog het U my lewe uit die grafkuil opgetrek, HERE my God! Terwyl die lewe uit my vloei, het ek net aan die HERE gedink. My gebed het U in u heilige tempel bereik.
JONA 2:5-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die waters het my omsingel, tot in die siel: die diepte het my rondom toegesluit, die onkruid was om my kop gewikkel. Ek het afgegaan na die bodem van die berge; die aarde met sy grendels was om my vir ewig; tog het U my lewe van verganklikheid laat opstaan, HERE my God! Toe my siel in my beswyk het, het ek aan die HERE gedink, en my gebed het tot U ingekom, in u heilige tempel.
JONA 2:5-7 Die Boodskap (DB)
Reg rondom my was daar water, die water het my vasgevang, seegras het om my kop vasgedraai. Ek het gesink tot waar die fondamente van die berge is, ek het afgesak tot waar die hekke vir altyd agter jou toegaan wanneer jy in die plek van die dooies ingaan. Maar U het my van daaronder opgetrek terug na die lewe toe, Here my God. Toe ek heeltemal uitgeput was, het ek aan die Here gedink, my gebed het opgestyg tot waar U in u blyplek is.
JONA 2:5-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Water het my verswelg, die diepwaters het my omring. Seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot waar die berge begin. Ek was afgesluit van die lewe, vasgevang in die land van die dooies. Maar U, HERE my God, het my gered uit die oop kake van die dood! “Toe ek alle hoop verloor het, het ek weer aan die HERE gedink. In u heilige tempel het U my gebed gehoor.