JONA 1:13-17
JONA 1:13-17 Die Boodskap (DB)
Die matrose het eers land toe probeer roei. Hulle kon dit nie regkry nie, want die see was te rof. Hulle het toe tot die Here begin bid: “Here, moet ons asseblief nie oor hierdie man laat doodgaan nie. Ons is jammer as ons hom nou onskuldig in die see gaan gooi, maar U moet maar met hom laat gebeur wat U goeddink.” Hulle het toe vir Jona gevat, hom oor die kant van die skip gelig en hom in die see gesmyt. Die storm op die see het dadelik bedaar. Dit het die matrose baie groot respek vir die Here gegee. Hulle het net daar ’n offer vir Hom gebring en belowe dat hulle Hom voortaan sal aanbid. Die Here het ’n groot vis gestuur om Jona in te sluk. Jona was drie dae lank binne-in die vis.
JONA 1:13-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die matrose het egter nog harder geroei en die land probeer bereik. Hulle was nie suksesvol nie, want die see het net al hoe onstuimiger geword. Hulle het die HERE aangeroep en gesê: “Ag, HERE, moet tog nie dat ons weens hierdie man vergaan nie. Moet ons nie verantwoordelik hou vir sy dood nie. HERE, U het gedoen soos U wou.” Toe het die matrose Jona opgetel en in die see gegooi. Die onstuimige see het dadelik kalm geword. Groot vrees vir die HERE het die matrose aangegryp. Hulle het ’n offer vir die HERE gebring en ’n belofte gemaak om Hom te dien. Toe stuur die HERE ’n groot vis om Jona in te sluk. Jona was vir drie dae en drie nagte in die vis.
JONA 1:13-17 Bybel vir almal (ABA)
Die matrose het hard geroei en hulle het eers probeer om terug te kom by die land, maar hulle kon nie, want die branders van die see het groter en groter geword rondom hulle. Hulle het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, U moet ons asseblief nie laat sterf omdat hierdie een man verkeerd gedoen het nie. Help ons ook dat ons nie iemand doodmaak wat onskuldig is nie. U is die Here, U kan doen wat U wil doen.” Hulle het Jona opgetel en hulle het hom in die see gegooi. Toe het die see kalm geword en die branders was nie meer groot nie. Die matrose het baie bang geword vir die Here. Hulle het vir die Here 'n offer gebring en hulle het belowe om nog meer offers vir die Here te gee. Die Here het 'n groot vis gestuur om vir Jona in te sluk. Jona was drie dae en drie nagte binne-in die vis.
JONA 1:13-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het. Toe roep hulle tot die HERE en sê: Ag, HERE, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, HERE, het gedoen na u welbehae. En hulle het Jona geneem en hom in die see gegooi. En die see het stil geword van sy onstuimigheid. Toe het die manne die HERE gevrees met 'n groot vrees en 'n slagoffer aan die HERE gebring en geloftes gedoen. En die HERE het 'n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.
JONA 1:13-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle. Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.” Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar. Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê. Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.
JONA 1:13-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die mans het hard geroei om weer die land te probeer bereik, maar hulle kon nie daarin slaag nie, want die see het al hoe onstuimiger geraak teen hulle. Toe het hulle die HERE aangeroep. Hulle het gesê: “Ag, HERE, laat ons asseblief nie vergaan as gevolg van hierdie man se lewe nie. Moet dit tog nie teen ons hou as ons onskuldige bloed vergiet nie. U is immers die HERE; U doen wat U wil. ” Hulle het Jona opgetel en hom in die see gegooi, en die see het opgehou met sy getier. Toe was die manne geweldig bang vir die HERE. Hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê. Die HERE het dit so beskik dat 'n groot vis Jona insluk, en hy was drie dae en drie nagte lank in die vis se maag.
JONA 1:13-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar die manne het hard geroei om dit na die land te bring; maar hulle kon nie, want die see het gewoel en teen hulle storm. Daarom het hulle die HERE aangeroep en gesê: Ons smeek U, HERE, laat ons nie omkom ter wille van hierdie man se lewe nie en nie onskuldige bloed op ons gooi nie; want U, HERE, het gedoen wat U behaag het. Toe het hulle Jona opgeneem en hom in die see gegooi, en die see het opgehou van sy woedende. Toe het die manne die HERE uitermate gevrees en aan die HERE 'n offer gebring en geloftes gemaak. En die HERE het 'n groot vis berei om Jona in te sluk. En Jona was drie dae en drie nagte in die maag van die vis.