JOËL 3:18-21
JOËL 3:18-21 Bybel vir almal (ABA)
“In daardie tyd sal dit goed gaan, daar sal baie wyn en melk wees, dit sal teen die berge en die heuwels afloop. Daar sal water wees in al die klein riviere in Juda, en daar sal water kom uit 'n fontein wat in die tempel van die Here is. Die water sal die Sittim-vallei natmaak. Niemand sal in Egipte kan woon nie. Edom sal 'n woestyn word, niks sal daar kan lewe nie, want die mense van Egipte en Edom het wrede dinge gedoen aan die mense van Juda, hulle het die mense van Juda vermoor. Maar in Juda en Jerusalem sal altyd mense woon. Ek sal die mense straf wat Ek nog nie gestraf het nie. Ek sal hulle straf, want hulle het mense vermoor, en Ek, die Here, sal in Jerusalem woon.”
JOËL 3:18-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En op dié dag sal die berge drup van mos en die heuwels vloei van melk en al die spruitjies van Juda stroom van water; en uit die huis van die HERE sal daar 'n fontein uitkom om die dal Sittim te besproei. Egipte sal 'n woesteny word, en Edom 'n woeste wildernis wees, weens die geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed in hul land vergiet het. Maar Juda sal vir ewig bly, en Jerusalem van geslag tot geslag. En Ek sal hulle bloed onskuldig verklaar, wat Ek tevore nie onskuldig verklaar het nie; en die HERE sal op Sion bly woon.
JOËL 3:18-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daardie dag sal daar volop wyn wees op die berge, oorvloed melk op die heuwels. In al die slote van Juda sal daar water loop, 'n fontein sal uit die huis van die Here borrel en die Sittimdal natlei. Egipte sal van droogte vergaan, Edom sal 'n onbewoonbare woestyn word, want hulle het die mense van Juda wreed behandel en onskuldige bloed vergiet in hulle land. Maar Juda sal sonder ophou bewoon word en Jerusalem vir altyd. Ek sal my volk se sonde vergewe, die sonde wat Ek nog nie vergewe het nie, en Ek, die Here, sal op Sion woon.
JOËL 3:18-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op daardie dag sal die berge drup van die sap van druiwe, en die heuwels sal vloei van melk, en al die spruite van Juda sal stroom van water. 'n Fontein sal uit die huis van die HERE vloei, en dit sal die Sittimdal natlei. Egipte sal 'n verlate plek word en Edom 'n verlate woestyn vanweë die geweld teen die kinders van Juda, omdat hulle onskuldige bloed in Juda vergiet het. Maar Juda sal vir altyd bly, en Jerusalem van geslag tot geslag. “Ek sal hulle bloed wreek wat Ek voorheen nie gewreek het nie.”
JOËL 3:18-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in dié dag sal die berge mos drup, en die heuwels sal vloei van melk, en al die riviere van Juda sal vloei van water, en 'n fontein sal uitkom uit die huis van die HERE, en sal die dal Sittim besproei. Egipte sal 'n woesteny wees, en Edom sal 'n woeste woestyn wees, weens die geweld teen die kinders van Juda, omdat hulle onskuldige bloed in hulle land vergiet het. Maar Juda sal vir ewig woon, en Jerusalem van geslag tot geslag. Want Ek sal hulle bloed reinig wat Ek nie gereinig het nie, want die HERE woon in Sion.
JOËL 3:18-21 Die Boodskap (DB)
In daardie tyd sal die berge vol wingerde wees en daar sal beeste op al die heuwels loop. Al die stroompies in Juda sal vol water wees. In die Here se woonplek sal daar ’n fontein opborrel. Die water sal van daar af afloop na die droë vallei van Sittim toe wat te min water het. Egipte sal dan ’n droë wildernis word en Edom ’n verlate woestyn, want hulle het Juda se inwoners aangeval en onskuldige mense doodgemaak. Maar Juda en Jerusalem sal altyd vol mense wees. Ek sal al my mense se sondes vergewe. Selfs daardie sondes wat Ek nou nog teen hulle hou, sal Ek afskryf en nie weer daaraan dink nie. In daardie tyd sal Ek, die Here, op Sion bly en my krag van daar af bekendmaak.
JOËL 3:18-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“In dié tyd sal soet wyn van die berge afdrup, melk sal teen die heuwels afvloei. Die droë spruite van Juda sal vol water wees. ’n Fontein sal in die tempel van die HERE ontspring en die vallei van akasias natlei. Egipte en Edom het die mense van Juda aangeval en onskuldige mense doodgemaak. As gevolg hiervan sal Egipte ’n verlate ruïne word en Edom ’n onbewoonbare woestyn. “Maar Juda sal vir altyd bly voortbestaan. Jerusalem sal vir geslag na geslag daar wees. Die oortredings van my volk wat Ek nog nie vergewe het nie, sal Ek vergewe. Ek, die HERE, sal Jerusalem my blyplek maak.”