JOËL 2:28-32
JOËL 2:28-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer. Julle ou mense sal drome droom, en julle jong mense sal visioene sien. Selfs op die slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. Ek sal tekens gee in die hemel en op aarde: bloed en vuur en kolomme rook. Die son sal verander word in donkerte, en die maan in bloed, voordat die groot en verskriklike dag van die HERE kom. Dan sal elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, ontkom; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontvlugting wees, soos die HERE gesê het. Net hulle wat deur die HERE geroep word, sal vry wees.”
JOËL 2:28-32 Die Boodskap (DB)
Nadat al hierdie dinge gebeur het, sal Ek my Gees oor almal laat reën. Julle seuns en julle dogters sal my boodskap bekendmaak, presies net soos die profete dit gedoen het. Julle oumense sal drome droom wat van My af kom, en julle jongmense sal bonatuurlike visioene sien waarin Ek met hulle praat. In daardie tyd sal Ek selfs my Gees laat kom op mense wat glad nie belangrik is nie. Ek sal ook buitengewone tekens in die hemelruim en op die aarde laat gebeur. Op die aarde sal daar bloedvergieting, vuur en rookwolke wees. In die hemelruim sal die son en die maan pikdonker word. Dan sal die groot en vreeslike dag van die Here kom. Almal wat die Here ernstig smeek om hulle te help, sal op daardie dag gered word. Presies net soos die Here beloof het, sal Hy daar op die berg Sion en in Jerusalem ingryp om al sy mense te help. Almal wat deur die Here geroep is om aan Hom te behoort, sal definitief deel uitmaak van die mense wat gered word.
JOËL 2:28-32 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê: “Wanneer dit alles gebeur het, dan sal Ek my Gees gee vir al die mense. Julle seuns en julle dogters sal profete wees. Die ou mense en die jong mense sal droom en sien wat later sal gebeur. Ek sal in daardie tyd my Gees ook vir slawe en slavinne gee. Ek sal vir die mense tekens wys. Daar sal bloed op die aarde wees, en vuur en rook in die lug. Die son sal donker word, en die maan sal rooi word. Dan sal die dag van die Here kom, die groot en verskriklike dag. Dan sal almal vry word wat die Here aanbid. Almal wat nog lewe, sal vry word in Jerusalem, op Sionsberg.”
JOËL 2:28-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom. En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.
JOËL 2:28-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie. Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke. Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar uitkoms wees. So het die Here beloof. Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.
JOËL 2:28-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daarna sal Ek my Gees op alle vlees uitgiet; en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense sal drome droom, julle jongmanne sal gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. En Ek sal wonders aan die hemel en op die aarde doen, bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en vreeslike dag van die HERE kom. En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal verlossing wees, soos die HERE gespreek het, en in die oorblyfsel wat die HERE sal roep.
JOËL 2:28-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Daarna sal Ek my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Julle jongmense sal visioene sien. In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort. “Ek sal wonders in die hemel en op die aarde laat plaasvind: bloed, vuur en rookkolomme. Die son sal donker word en die maan bloedrooi. Dit sal gebeur voor die groot en verskriklike dag van die HERE aanbreek. “Enige persoon wat tot die HERE bid, sal gered word. Die mense wat ontsnap, sal op die Sionsberg en in Jerusalem wees, net soos die HERE gesê het. Hulle sal tussen die oorlewendes wees wat die HERE geroep het.”