JOËL 2:25-26
JOËL 2:25-26 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê: “Ek het vier maal sprinkane na julle toe gestuur, die sprinkane was my soldate en hulle was baie. Maar nou sal dit weer goed gaan met julle. Julle sal baie kos hê, meer as wat julle kan eet. Julle sal die Naam van julle God die Here prys. Ek sal vir julle wonderwerke doen, en die ander volke sal my volk nooit weer spot nie.
JOËL 2:25-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het — my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het. Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
JOËL 2:25-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het. Julle sal oorgenoeg hê om te eet, julle sal die Naam van die Here julle God prys, Hy wat wonders vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie.
JOËL 2:25-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Ek sal julle vergoed vir die jare toe die treksprinkane, die voetgangers, die kaalvreters en die ruspes alles opgevreet het, daardie groot leërmag van My wat Ek teen julle uitgestuur het. Dan sal julle oorgenoeg kan eet en versadig word, en julle sal die Naam van die HERE julle God loof, wat wonderlike dinge met julle laat gebeur het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie.
JOËL 2:25-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Ek sal jou die jare teruggee wat die sprinkaan geëet het, die kankerwurm en die ruspes en die palmwurm, my groot leër wat Ek onder julle gestuur het. En julle sal in oorvloed eet en versadig word en die Naam van die HERE julle God loof wat wonderbaarlik aan julle gehandel het; en my volk sal nooit beskaamd staan nie.
JOËL 2:25-26 Die Boodskap (DB)
Ek sal opmaak vir dit wat julle verloor het toe Ek al daardie sprinkane gestuur het om julle oeste te verwoes. Julle sal weer genoeg hê om te eet. Dan sal julle die Naam van die Here julle God grootmaak en loof vir die wonderlike dinge wat Hy vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer so verneder word nie.
JOËL 2:25-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE sê: “Ek sal herstel wat julle deur die stropersprinkane, die snysprinkane, die swermsprinkane en die jong sprinkane verloor het. Ek het hierdie groot, vernietigende leër teen julle gestuur. “Julle sal weer al die kos kry wat julle begeer. Julle sal die HERE julle God loof wat hierdie wonders vir julle moontlik maak. My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.