JOB 42:7-10
JOB 42:7-10 Bybel vir almal (ABA)
Nadat die Here met Job gepraat het, het die Here vir Elifas van die land Teman gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende. Julle het nie reg gepraat oor My nie, maar my dienaar Job het reg gepraat oor My. Julle moet nou sewe bulle en sewe skaap-ramme neem en julle moet na my dienaar Job toe gaan. Julle moet 'n brand-offer bring vir julleself. My dienaar Job sal dan vir julle bid, want Ek sal doen wat hy vra, Ek sal julle nie straf nie. Julle was dwaas, julle het nie reg gepraat oor My nie, my dienaar Job het reg gepraat oor My.” Elifas van die land Teman en Bildad van die land Suag en Sofar van die land Naäma het toe gegaan en gedoen wat die Here vir hulle gesê het, en die Here het gedoen wat Job gevra het. Die Here het dit weer goed laat gaan met Job nadat Job vir sy vriende gebid het. Die Here het vir Job twee maal meer gegee as wat hy voorheen gehad het.
JOB 42:7-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN nadat die HERE Job toegespreek het met hierdie woorde, sê die HERE aan Élifas, die Temaniet: My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie. Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job en bring 'n brandoffer vir julle, en laat my kneg Job vir julle bid; want hom alleen sal Ek in guns aanneem, sodat Ek aan julle nie die dwaasheid laat vergelde nie; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie. Toe het Élifas, die Temaniet, en Bildad, die Suhiet, en Sofar, die Naämatiet, heengegaan en gedoen soos die HERE aan hulle gesê het; en die HERE het Job in guns aangeneem. En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.
JOB 42:7-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as 'n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.” Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here gesê het, en die Here het Job se gebed verhoor. Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het.
JOB 42:7-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadat die HERE hierdie woorde vir Job gesê het, het die HERE vir Elifas uit Teman gesê: “My toorn het ontbrand teen jou en jou twee vriende; want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie. Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, gaan na my dienskneg Job, en bring ter wille van julleself 'n •brandoffer. My dienskneg Job moet vir julle bid, dat Ek julle nie iets onbehoorliks aandoen nie. Ek sal net teenoor hóm goedgesind wees, want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie.” Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, het toe gegaan en gedoen wat die HERE vir hulle gesê het, en die HERE was Job goedgesind. Die HERE het Job se lot verander toe hy vir sy vriende gebid het. Die HERE het alles wat Job besit het, vermeerder – dubbeld soveel.
JOB 42:7-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En nadat die HERE hierdie woorde met Job gespreek het, het die HERE vir Elifas, die Temaniet, gesê: My toorn is ontvlam teen jou en teen jou twee vriende, want julle het nie van My gepraat wat reg is nie, soos my kneg Job het. Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job en bring vir julle 'n brandoffer; en my kneg Job sal vir julle bid; want hom sal Ek welgevallig wees, sodat ek nie met julle handel volgens julle sotheid deurdat julle nie reg is soos my kneg Job van My gespreek het nie. Daarop het Elifas, die Temaniet, en Bildad, die Suhiet, en Sofar, die Naämatiet, gegaan en gedoen soos die HERE hulle beveel het; die HERE het ook Job aangeneem. En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; ook het die HERE aan Job twee keer soveel gegee as wat hy tevore gehad het.
JOB 42:7-10 Die Boodskap (DB)
Toe die Here klaar met Job gepraat het, het Hy vir Elifas, wat van Teman af kom, gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie soos Job die waarheid oor My gepraat nie. Job behoort aan My. Vat sewe jong bulle en sewe ramme en gaan na Job toe. Gaan offer die diere daar by hom. Maar onthou, dit is vir julle, nie vir hom nie. Job sal vir julle bid. Ek sal sy gebed vir julle aanvaar. Ek sal julle nie straf soos Ek eintlik moet oor die dom goed wat julle gesê en gedink het nie. Job het die waarheid oor My gepraat, julle nie.” Elifas, Bildad en Sofar het gedoen wat die Here gesê het hulle moet doen. Die Here het toe na Job se gebed geluister. Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here sy omstandighede verander. Die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy vroeër gehad het.
JOB 42:7-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat die HERE klaar met Job gepraat het, het Hy vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende. Julle het nie wat reg is oor My gepraat soos my dienaar Job nie. “Daarom, vat nou sewe jong bulle en sewe ramme, gaan na my dienaar Job en bring ’n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid. Ek sal sy gebed vir julle aanvaar. Ek sal julle nie behandel soos julle verdien nie. Julle het nie wat reg is oor My gesê soos my dienaar Job nie.” Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die HERE beveel het, en die HERE het Job se gebed verhoor. Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die HERE hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die HERE het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het.