JOB 42:10-16
JOB 42:10-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het Job se lot verander toe hy vir sy vriende gebid het. Die HERE het alles wat Job besit het, vermeerder – dubbeld soveel. Al sy broers en susters en al sy vorige kennisse het na hom gekom en saam met hom in sy huis brood geëet. Hulle het met hom meegevoel betuig en hom getroos oor al die onheil wat die HERE oor hom laat kom het. Elkeen van hulle het vir hom een kesita en een goue ring gegee. Die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin. Hy het veertienduisend stuks kleinvee, sesduisend kamele, 'n duisend pare beeste en 'n duisend donkiemerries besit. Hy het ook sewe seuns en drie dogters gehad. Job het die eerste dogter Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Happoeg. In die hele land kon daar nie vroue so mooi soos Job se dogters gevind word nie. Hulle vader het aan hulle 'n erfdeel saam met hulle broers gegee. Job het daarna honderd-en-veertig jaar lank geleef. Hy het sy kinders en sy kinders se nageslag gesien – vier geslagte.
JOB 42:10-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die HERE hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die HERE het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het. Toe het al sy broers en susters en almal wat hom voorheen geken het, gekom en saam met hom in sy huis feesgevier. Hulle het hom getroos en moed ingepraat oor al die rampe wat die HERE oor hom gebring het. Hulle het elkeen vir hom ’n stuk silwer en ’n goue ring gegee. Die HERE het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste. Hy het 14 000 skape, 6 000 kamele, 1 000 spanne osse en 1 000 donkies gekry. Hy het ook vir hom sewe seuns en drie dogters gegee. Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. In die hele land was daar nêrens vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. Job het nog 140 jaar gelewe. Hy het sy kinders en kleinkinders gesien, tot in die vierde geslag.
JOB 42:10-16 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het dit weer goed laat gaan met Job nadat Job vir sy vriende gebid het. Die Here het vir Job twee maal meer gegee as wat hy voorheen gehad het. Al Job se broers en susters en die mense wat hom voorheen geken het, het na hom toe gekom, en hulle het saam met hom geëet in sy huis. Hulle het vir hom kom sê dat hulle jammer is oor die slegte dinge wat die Here met hom laat gebeur het. Hulle wou hê dat dit weer goed moet gaan met Job, en elkeen het 'n kesita en 'n goue ring vir hom gegee. Die Here het dit toe met Job beter laat gaan as voorheen. Job het 14 000 skape en bokke, 6 000 kamele, 2 000 beeste en 1 000 donkies gekry. Hy het ook weer sewe seuns en drie dogters gekry. Hy het die oudste dogter Jemima genoem, die tweede dogter Kesia en die derde dogter Keren-Happuk. Nie een van die vroue in die land was so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het vir hulle ook grond gegee, soos vir hulle broers. Job het toe nog 140 jaar gelewe. Hy het sy nageslag gesien tot in die vierde geslag.
JOB 42:10-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen. Ook het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes van vroeër na hom gekom en met hom saam brood geëet in sy huis; en hulle het met hom medelyde gehad en hom vertroos oor al die onheil wat die HERE oor hom gebring het. En hulle het hom elkeen 'n geldstuk gegee en elkeen 'n goue ring. En die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin; en hy het veertienduisend stuks kleinvee en sesduisend kamele en duisend paar beeste en duisend eselinne gehad. Daarby het hy sewe seuns en drie dogters gehad. En hy het die eerste genoem Jemíma en die tweede Kesía en die derde Kerenhappug. En in die hele land is geen vroue gevind so mooi soos die dogters van Job nie; en hulle vader het hulle 'n erfdeel gegee onder hulle broers. En Job het daarna honderd-en-veertig jaar lank gelewe; en hy het sy kinders en kindskinders gesien, vier geslagte.
JOB 42:10-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom 'n stuk silwer en 'n goue ring gegee. Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en 'n duisend donkies gekry, en ook sewe seuns en drie dogters. Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien.
JOB 42:10-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; ook het die HERE aan Job twee keer soveel gegee as wat hy tevore gehad het. Toe het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes na hom gekom en saam met hom in sy huis brood geëet; en hulle het hom beklaag en hom getroos oor al die onheil wat die HERE op hom gebring het: elkeen het hom ook 'n geldstuk gegee, en elkeen 'n goue oorring. So het die HERE dan die einde van Job meer geseën as sy begin, want hy het veertien duisend kleinvee en ses duisend kamele en duisend paar beeste en duisend esels gehad. Hy het ook sewe seuns en drie dogters gehad. En hy het die naam van die eerste Jemima genoem; en die naam van die tweede, Kezia; en die naam van die derde, Kerenhappuch. En in die hele land is geen vrou so mooi gevind soos die dogters van Job nie, en hulle vader het hulle 'n erfdeel gegee onder hulle broers. Hierna het Job honderd-en-veertig jaar gelewe, en hy het sy seuns en sy seuns gesien, vier geslagte.
JOB 42:10-16 Die Boodskap (DB)
Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here sy omstandighede verander. Die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy vroeër gehad het. Job se familie en vriende het na sy huis toe gekom en hulle het saam met hom geëet. Hulle het vir hom kom sê hoe jammer hulle is oor alles wat die Here hom laat deurmaak het. Hulle het hom getroos en moed kom inpraat. Hulle het ook elkeen vir hom presente gebring. Hulle het vir hom geld en goue ringe gegee. Die Here het gesorg dat dit baie beter met Job gegaan het in die tweede deel van sy lewe as in die begin. Hy het nou sommer baie vee gehad. Daar was 14 000 skape, 6 000 kamele, 1 000 spanne osse en 1 000 donkies. Hy het ook weer vir Job sewe seuns en drie dogters gegee. Hy het die eerste dogter Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde een Keren-Puk. Job se drie dogters was die mooiste van al die vroue in die hele land. Hulle sou net soos hulle broers erf die dag as hulle pa doodgaan. Job het nog 140 jaar geleef. Hy het vier geslagte van sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gesien.