JOB 42:1-17

JOB 42:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE het Job die HERE geantwoord en gesê: Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my! Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as. EN nadat die HERE Job toegespreek het met hierdie woorde, sê die HERE aan Élifas, die Temaniet: My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie. Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job en bring 'n brandoffer vir julle, en laat my kneg Job vir julle bid; want hom alleen sal Ek in guns aanneem, sodat Ek aan julle nie die dwaasheid laat vergelde nie; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie. Toe het Élifas, die Temaniet, en Bildad, die Suhiet, en Sofar, die Naämatiet, heengegaan en gedoen soos die HERE aan hulle gesê het; en die HERE het Job in guns aangeneem. En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen. Ook het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes van vroeër na hom gekom en met hom saam brood geëet in sy huis; en hulle het met hom medelyde gehad en hom vertroos oor al die onheil wat die HERE oor hom gebring het. En hulle het hom elkeen 'n geldstuk gegee en elkeen 'n goue ring. En die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin; en hy het veertienduisend stuks kleinvee en sesduisend kamele en duisend paar beeste en duisend eselinne gehad. Daarby het hy sewe seuns en drie dogters gehad. En hy het die eerste genoem Jemíma en die tweede Kesía en die derde Kerenhappug. En in die hele land is geen vroue gevind so mooi soos die dogters van Job nie; en hulle vader het hulle 'n erfdeel gegee onder hulle broers. En Job het daarna honderd-en-veertig jaar lank gelewe; en hy het sy kinders en kindskinders gesien, vier geslagte. En Job het gesterwe, oud en afgeleef.

JOB 42:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Job het toe vir die Here gesê: “Ek weet dat U alles kan doen, niks wat U besluit, is onmoontlik nie. U het vir my gevra of ek dink ek mag sê dat U verkeerd besluit, ék wat so dom is. Nou sê ek: Ek het gepraat oor dinge wat ek nie verstaan het nie, oor wonderlike dinge wat ek nie ken nie. U het gesê ek moet luister, U sal vra, dan moet ek antwoord. Ek het gehoor wat mense oor U sê, maar nou het ek U self gesien. Daarom is ek skaam oor wat ek gesê het, ek is jammer, ek rol rond op die ashoop.” Nadat die Here met Job gepraat het, het die Here vir Elifas van die land Teman gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende. Julle het nie reg gepraat oor My nie, maar my dienaar Job het reg gepraat oor My. Julle moet nou sewe bulle en sewe skaap-ramme neem en julle moet na my dienaar Job toe gaan. Julle moet 'n brand-offer bring vir julleself. My dienaar Job sal dan vir julle bid, want Ek sal doen wat hy vra, Ek sal julle nie straf nie. Julle was dwaas, julle het nie reg gepraat oor My nie, my dienaar Job het reg gepraat oor My.” Elifas van die land Teman en Bildad van die land Suag en Sofar van die land Naäma het toe gegaan en gedoen wat die Here vir hulle gesê het, en die Here het gedoen wat Job gevra het. Die Here het dit weer goed laat gaan met Job nadat Job vir sy vriende gebid het. Die Here het vir Job twee maal meer gegee as wat hy voorheen gehad het. Al Job se broers en susters en die mense wat hom voorheen geken het, het na hom toe gekom, en hulle het saam met hom geëet in sy huis. Hulle het vir hom kom sê dat hulle jammer is oor die slegte dinge wat die Here met hom laat gebeur het. Hulle wou hê dat dit weer goed moet gaan met Job, en elkeen het 'n kesita en 'n goue ring vir hom gegee. Die Here het dit toe met Job beter laat gaan as voorheen. Job het 14 000 skape en bokke, 6 000 kamele, 2 000 beeste en 1 000 donkies gekry. Hy het ook weer sewe seuns en drie dogters gekry. Hy het die oudste dogter Jemima genoem, die tweede dogter Kesia en die derde dogter Keren-Happuk. Nie een van die vroue in die land was so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het vir hulle ook grond gegee, soos vir hulle broers. Job het toe nog 140 jaar gelewe. Hy het sy nageslag gesien tot in die vierde geslag. Job was 'n ou man toe hy gesterf het.

JOB 42:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Job vir die Here gesê: “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie. U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat, Ek sal vra, antwoord jy My. Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.” Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as 'n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.” Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here gesê het, en die Here het Job se gebed verhoor. Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom 'n stuk silwer en 'n goue ring gegee. Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en 'n duisend donkies gekry, en ook sewe seuns en drie dogters. Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. Job het toe gesterf. Hy was oud en het 'n vol lewe gehad.

JOB 42:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Job het die HERE geantwoord; hy het gesê: “ Ek weet dat U alles kan vermag, dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Wie is die een wat 'n plan verberg, terwyl hy geen kennis het nie? Daarom het ek, sonder begrip, ja, sonder kennis, my mening gegee oor dinge wat vir my te wonderbaar is. Luister, en ek sal praat! U het gesê, ‘Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in!’ Op hoorsê het ek van U verneem, maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek dit, en het ek berou – in stof en as.” Nadat die HERE hierdie woorde vir Job gesê het, het die HERE vir Elifas uit Teman gesê: “My toorn het ontbrand teen jou en jou twee vriende; want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie. Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, gaan na my dienskneg Job, en bring ter wille van julleself 'n •brandoffer. My dienskneg Job moet vir julle bid, dat Ek julle nie iets onbehoorliks aandoen nie. Ek sal net teenoor hóm goedgesind wees, want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie.” Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, het toe gegaan en gedoen wat die HERE vir hulle gesê het, en die HERE was Job goedgesind. Die HERE het Job se lot verander toe hy vir sy vriende gebid het. Die HERE het alles wat Job besit het, vermeerder – dubbeld soveel. Al sy broers en susters en al sy vorige kennisse het na hom gekom en saam met hom in sy huis brood geëet. Hulle het met hom meegevoel betuig en hom getroos oor al die onheil wat die HERE oor hom laat kom het. Elkeen van hulle het vir hom een kesita en een goue ring gegee. Die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin. Hy het veertienduisend stuks kleinvee, sesduisend kamele, 'n duisend pare beeste en 'n duisend donkiemerries besit. Hy het ook sewe seuns en drie dogters gehad. Job het die eerste dogter Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Happoeg. In die hele land kon daar nie vroue so mooi soos Job se dogters gevind word nie. Hulle vader het aan hulle 'n erfdeel saam met hulle broers gegee. Job het daarna honderd-en-veertig jaar lank geleef. Hy het sy kinders en sy kinders se nageslag gesien – vier geslagte. Job het gesterf, oud en versadig van lewensdae.

JOB 42:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: Ek weet dat jy alles kan doen en dat geen gedagte van jou weerhou kan word nie. Wie is dit wat raad verberg sonder kennis? daarom het ek gesê dat ek nie verstaan het nie; dinge te wonderlik vir my, wat ek nie geweet het nie. Hoor tog, en ek sal spreek; ek sal van jou eis en jou aan my verkondig. Ek het van jou gehoor deur die oor, maar nou sien my oog jou. Daarom verafsku ek myself en bekeer my in stof en as. En nadat die HERE hierdie woorde met Job gespreek het, het die HERE vir Elifas, die Temaniet, gesê: My toorn is ontvlam teen jou en teen jou twee vriende, want julle het nie van My gepraat wat reg is nie, soos my kneg Job het. Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job en bring vir julle 'n brandoffer; en my kneg Job sal vir julle bid; want hom sal Ek welgevallig wees, sodat ek nie met julle handel volgens julle sotheid deurdat julle nie reg is soos my kneg Job van My gespreek het nie. Daarop het Elifas, die Temaniet, en Bildad, die Suhiet, en Sofar, die Naämatiet, gegaan en gedoen soos die HERE hulle beveel het; die HERE het ook Job aangeneem. En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; ook het die HERE aan Job twee keer soveel gegee as wat hy tevore gehad het. Toe het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes na hom gekom en saam met hom in sy huis brood geëet; en hulle het hom beklaag en hom getroos oor al die onheil wat die HERE op hom gebring het: elkeen het hom ook 'n geldstuk gegee, en elkeen 'n goue oorring. So het die HERE dan die einde van Job meer geseën as sy begin, want hy het veertien duisend kleinvee en ses duisend kamele en duisend paar beeste en duisend esels gehad. Hy het ook sewe seuns en drie dogters gehad. En hy het die naam van die eerste Jemima genoem; en die naam van die tweede, Kezia; en die naam van die derde, Kerenhappuch. En in die hele land is geen vrou so mooi gevind soos die dogters van Job nie, en hulle vader het hulle 'n erfdeel gegee onder hulle broers. Hierna het Job honderd-en-veertig jaar gelewe, en hy het sy seuns en sy seuns gesien, vier geslagte. Job het toe gesterwe, oud en vol dae.

JOB 42:1-17 Die Boodskap (DB)

Job het die Here geantwoord en gesê: “Ek weet dat U alles kan doen. Daar is niemand wat u planne kan laat skeefloop as U eers ’n besluit geneem het nie. U het gevra: ‘Wie is dit wat my besluite in twyfel trek, maar self niks kennis het nie?’ Dit is ek. Ek het oor dinge gepraat waarvan ek niks weet nie. Hierdie dinge was net te groot vir my klein verstandjie om te verstaan. “U het gesê: ‘Luister net ’n slag as Ek praat. Ek het vrae vir jou wat Ek wil hê jy moet antwoord.’ “Ek het vroeër net gehoor wat ander mense van U sê, maar nou het ek U met my eie oë gesien. Ek trek alles terug wat ek gesê het. Om te wys dat ek baie spyt is oor wat ek gesê het, gooi ek grond en as op my kop.” Toe die Here klaar met Job gepraat het, het Hy vir Elifas, wat van Teman af kom, gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie soos Job die waarheid oor My gepraat nie. Job behoort aan My. Vat sewe jong bulle en sewe ramme en gaan na Job toe. Gaan offer die diere daar by hom. Maar onthou, dit is vir julle, nie vir hom nie. Job sal vir julle bid. Ek sal sy gebed vir julle aanvaar. Ek sal julle nie straf soos Ek eintlik moet oor die dom goed wat julle gesê en gedink het nie. Job het die waarheid oor My gepraat, julle nie.” Elifas, Bildad en Sofar het gedoen wat die Here gesê het hulle moet doen. Die Here het toe na Job se gebed geluister. Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here sy omstandighede verander. Die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy vroeër gehad het. Job se familie en vriende het na sy huis toe gekom en hulle het saam met hom geëet. Hulle het vir hom kom sê hoe jammer hulle is oor alles wat die Here hom laat deurmaak het. Hulle het hom getroos en moed kom inpraat. Hulle het ook elkeen vir hom presente gebring. Hulle het vir hom geld en goue ringe gegee. Die Here het gesorg dat dit baie beter met Job gegaan het in die tweede deel van sy lewe as in die begin. Hy het nou sommer baie vee gehad. Daar was 14 000 skape, 6 000 kamele, 1 000 spanne osse en 1 000 donkies. Hy het ook weer vir Job sewe seuns en drie dogters gegee. Hy het die eerste dogter Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde een Keren-Puk. Job se drie dogters was die mooiste van al die vroue in die hele land. Hulle sou net soos hulle broers erf die dag as hulle pa doodgaan. Job het nog 140 jaar geleef. Hy het vier geslagte van sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gesien. Job is as ’n ou man dood. Hy het ’n lang en goeie lewe gehad.

JOB 42:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Job het die HERE geantwoord: “Ek weet nou U kan enigiets doen, en niemand kan U keer nie. U vra: ‘Wie waag dit om in sy onkunde my wysheid te bevraagteken?’ Dit was ek. Ek het gepraat oor dinge sonder begrip, dinge wat te wonderlik is vir my. “U het gesê: ‘Luister, want Ek wil praat! Ek sal jou vra, en jy moet My antwoord.’ Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien. Nou verag ek myself en het berou in stof en as.” HERE Nadat die HERE klaar met Job gepraat het, het Hy vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende. Julle het nie wat reg is oor My gepraat soos my dienaar Job nie. “Daarom, vat nou sewe jong bulle en sewe ramme, gaan na my dienaar Job en bring ’n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid. Ek sal sy gebed vir julle aanvaar. Ek sal julle nie behandel soos julle verdien nie. Julle het nie wat reg is oor My gesê soos my dienaar Job nie.” Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die HERE beveel het, en die HERE het Job se gebed verhoor. Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die HERE hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die HERE het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het. Toe het al sy broers en susters en almal wat hom voorheen geken het, gekom en saam met hom in sy huis feesgevier. Hulle het hom getroos en moed ingepraat oor al die rampe wat die HERE oor hom gebring het. Hulle het elkeen vir hom ’n stuk silwer en ’n goue ring gegee. Die HERE het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste. Hy het 14 000 skape, 6 000 kamele, 1 000 spanne osse en 1 000 donkies gekry. Hy het ook vir hom sewe seuns en drie dogters gegee. Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. In die hele land was daar nêrens vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. Job het nog 140 jaar gelewe. Hy het sy kinders en kleinkinders gesien, tot in die vierde geslag. Job het ná ’n vol lewe op ’n hoë ouderdom gesterf.