JOB 32:6-9
JOB 32:6-9 Bybel vir almal (ABA)
Elihu seun van Barakel, van die nageslag van Bus, het begin praat en hy het gesê: “Ek is jonk, en julle is oud, daarom het ek gewag, ek was bang om vir julle te sê wat ek weet. Ek het gedink ouer mense moet eerste praat, want hulle weet wat wysheid is. Maar nee, dit is die gees in 'n mens, die gees wat die Almagtige gee, wat 'n mens verstandig maak. 'n Mens kry wysheid nie net omdat jy oud geword het nie, 'n mens weet wat reg is nie net omdat jy 'n oumens is nie.
JOB 32:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, het begin en gesê: Ek is jonk, en u is hoogbejaard; daarom was ek beskroomd en het gevrees om my kennis aan u mee te deel. Ek het gesê: Laat die dae spreek en die veelheid van jare wysheid te kenne gee. Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak. Nie die bejaardes is wys nie, en nie die oues verstaan wat reg is nie.
JOB 32:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elihu seun van Barakel die Bussiet het begin praat: “Ek is jonk, en julle is grysaards. Daarom was ek huiwerig, ek was bang om vir julle te sê wat ek weet. Ek het gedink: laat die ouderdom praat, laat die ervaring sy wysheid meedeel. Maar dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die gees wat van die Almagtige af kom. Dit is nie die baie jare wat verstandig maak en aan oumense insig gee in wat reg is nie.
JOB 32:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Elihu, seun van Barakel, uit Bus, het toe gereageer en gesê: “Ek is jonk, en julle is oud; daarom was ek beskroomd en bang om my kennis met julle te deel. Ek het gedink, die jare moet praat, die baie lewensjare moet wysheid openbaar. Maar dit is die gees in sterflinge en die asem van die Almagtige wat aan hulle insig gee. Dit is nie noodwendig dié wat ryp in jare is wat wys is, en oumense wat insig het in wat reg is nie.
JOB 32:6-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe antwoord Elíhu, die seun van Baragel, die Busiet, en sê: Ek is jonk, en julle is baie oud; daarom was ek bevrees en het my mening nie durf verkondig nie. Ek het gesê: Dae moet spreek, en menigte jare sal wysheid leer. Maar daar is 'n gees in die mens, en die inspirasie van die Almagtige gee hulle insig. Groot manne is nie altyd wys nie, en die bejaardes verstaan nie oordeel nie.
JOB 32:6-9 Die Boodskap (DB)
Elihu het gesê: “Ek is jonk in vergelyking met julle; daarom was ek versigtig om sommer vir julle te vertel wat ek dink. Ek het gedink dat ouer mense eerste moet praat, want hulle het meer kennis en ervaring van die lewe. Maar die waarheid is dat dit God se Gees is wat ’n mens verstandig maak. Ouer mense is nie noodwendig verstandig nie. En net omdat mense oud is, beteken dit ook nie noodwendig dat hulle weet wat reg is nie.
JOB 32:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Elihu seun van Barakel die Bussiet het gesê: “Ek is nog jonk, en julle is al oud. Daarom was ek bang. Ek wou nie waag om vir julle te sê wat ek dink nie. Ek het gedink: Laat mense wat ouer is, praat, want wysheid kom met jare. Dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die asem wat van die Almagtige kom. Maar soms is bejaardes nie wys nie. Soms het bejaardes nie begrip vir regverdigheid nie.