JOB 3:20-26
JOB 3:20-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hoekom gee God lig aan mense wat moeg is, lewe vir dié wat verbitterd is? Hulle wens dat hulle kan doodgaan, maar die dood ontwyk hulle. Hulle soek die dood eerder as verborge skatte. As hulle uiteindelik doodgaan, is dit vir hulle ’n groot verligting en vreugde. Hoekom moet mense wat niks van die toekoms verwag nie, aanhou lewe, mense vir wie God aan swaarkry oorgegee het? Versugting is my voedsel, my kreune word uitgegiet soos water. Dit waarvoor ek gevrees het, het oor my gekom. Dit waarvoor ek bang was, het nou met my gebeur. Ek ken geen rus en vrede nie. Daar is vir my geen blaaskans meer nie, net moeilikheid.”
JOB 3:20-26 Bybel vir almal (ABA)
Hoekom het God lig gegee vir iemand wat net swaarkry? Hoekom het Hy iemand laat lewe wat altyd ongelukkig is, iemand wat wens dat hy sterf, maar die dood kom nie? Hoekom laat God iemand lewe wat graag wil sterf en wat nie wil soek na kosbare goed nie, iemand wat baie bly sal wees wanneer hy in die graf kan gaan lê? Hoekom laat God iemand lewe wat nie weet wat met hom sal gebeur nie omdat God hom afgesny het van alles? Ek kan nie eet nie, ek hou aan om te sug en te kla, want ek was bang vir baie dinge, en dit alles het gebeur met my. Ek kan nie stil en rustig wees nie, ek kan nie rus nie, ek hou aan om bekommerd te wees.”
JOB 3:20-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAAROM gee Hy lig aan die ellendige en lewe aan die wat verbitterd is van siel; wat wag op die dood, en hy kom nie; en meer na hom grawe as na verborge skatte; wat bly sou wees met gejuig, hulle sou verheug as hulle die graf kon vind? Waarom gee Hy lig aan 'n man wie se weg verborge is, 'n man wat deur God aan alle kante ingesluit is? Want soos my brood kom my gesug, en my gebrul word uitgestort soos water. As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe. Ek het geen kalmte en geen stilte en geen rus nie, of daar kom die onrus!
JOB 3:20-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Waarom moes God dan die lewenslig gee aan 'n man wat net swaar kry, waarom moes Hy lewe gee aan 'n man wat so bitter ly, aan iemand wat tevergeefs hunker na die dood, wat daarna soek soos na 'n verborge skat, wat maar te bly sou wees om in 'n graf te kom en daaroor sou jubel? “Waarom die lewenslig gee aan 'n man wat vir hom geen pad vorentoe sien nie, 'n man vir wie God van alles afgesny het? “Ek kan nie eet van die pyn nie, ek kan nie ophou kreun nie. Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref. Ek het geen rus en geen vrede nie, geen verposing nie, net angs.”
JOB 3:20-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Waarom gee God die lig aan iemand wat hom moet afsloof? Waarom gee Hy die lewe aan mense met verbitterde siele, wat wag vir die dood, maar dit kom nie; hulle wat dieper daarna delf as na verborge skatte; hulle wat van vreugde juig, wat hulle verheug wanneer hulle die graf vind. Waarom gee Hy die lewe aan 'n man wie se pad verborge is, vir wie God aan alle kante afgesper het? Ja, nog voor my brood, daag my gesug op; my geskreeu stroom soos water. As ek vrees vir 'n verskrikking, dan kom dit my oor; dit waarvoor ek bang is, oorval my. Ek kan nie rus vind nie, nie tot rus kom nie; ek kry geen verposing nie. Die onrus daag telkens op.”
JOB 3:20-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom word lig gegee aan hom wat in ellende is, en lewe aan die bitter van siel; wat smag na die dood, maar dit kom nie; en grawe daarvoor meer as na verborge skatte; wat uitermate bly is en bly is as hulle die graf kan vind? Waarom word lig gegee aan 'n man wie se weg verborge is en vir wie God verskans het? Want my gesug kom voor ek eet, en my gebrul word uitgestort soos die waters. Want die ding waarvoor ek baie gevrees het, het oor my gekom, en waarvoor ek bang was, het na my gekom. Ek was nie veilig nie, en ek het nie gerus en nie stil nie; tog het moeilikheid gekom.
JOB 3:20-26 Die Boodskap (DB)
“Hoekom laat die Here mense lewe wat swaarkry? Hoekom lewe mense wat verbitterd is? Hulle wens hulle kan doodgaan, maar dit gebeur nie. Hulle wil so graag doodgaan dat dit erger is as iemand wat fanaties na ’n skat soek. Hulle kan nie aan iets dink wat hulle blyer sal maak as om dood en begrawe te wees nie. Hoekom moet ’n mens lewe as dit lyk of daar nie ’n toekoms is nie en jy deur God van alles afgesny is? Ek sug so baie, dit is soos my kos wat ek eet. Ek leef daarvan. My gekla is soos water wat net aanhou loop. Die dinge wat ek nog altyd voor bang was, het nou met my gebeur. Ek het nie kalmte en vrede nie. In plaas daarvan dat ek rustig voel, loop alles net verkeerd.”
JOB 3:20-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hoekom gee God lig aan mense wat moeg is, lewe vir dié wat verbitterd is? Hulle wens dat hulle kan doodgaan, maar die dood ontwyk hulle. Hulle soek die dood eerder as verborge skatte. As hulle uiteindelik doodgaan, is dit vir hulle ’n groot verligting en vreugde. Hoekom moet mense wat niks van die toekoms verwag nie, aanhou lewe, mense vir wie God aan swaarkry oorgegee het? Versugting is my voedsel, my kreune word uitgegiet soos water. Dit waarvoor ek gevrees het, het oor my gekom. Dit waarvoor ek bang was, het nou met my gebeur. Ek ken geen rus en vrede nie. Daar is vir my geen blaaskans meer nie, net moeilikheid.”