JOB 22:21-25
JOB 22:21-25 Bybel vir almal (ABA)
Job, jy moet vrede maak met God, dan sal dit weer goed gaan met jou. Jy moet luister na wat Hy vir jou sê, jy moet dit goed onthou. As jy terugkom na die Almagtige toe, as jy ophou om sonde te doen, dan sal jy weer word soos jy voorheen was. Jy moet onthou dat goud nie méér kosbaar is as stof nie, jy moet onthou dat die beste goud nie méér kosbaar is as die klippe in die rivier nie. Dan sal die Almagtige vir jou wees soos goud, soos die beste silwer.
JOB 22:21-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SLUIT tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom. Neem tog uit sy mond onderrig aan, en lê sy woorde weg in jou hart. As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent. En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir. Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.
JOB 22:21-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê. Laat Hy jou leer en neem sy woorde ter harte. As jy terugkom na die Almagtige toe, sal jy herstel word. As jy die kwaad ver van jou woonplek af hou, jou goud as nikswerd beskou, die goud uit Ofir as so min werd as 'n klip in die spruit, sal die Almagtige jou goud wees, jou skat aan silwer.
JOB 22:21-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“As jy jou maar met Hom versoen, sal jy daardeur vrede hê; dan sal die goeie weer na jou toe kom. Aanvaar tog die onderrig uit sy mond, en hou sy woorde in jou hart. As jy terugkeer na die Almagtige, sal jy herbou word – as jy onreg uit jou tent verwyder. Gooi gouderts in die stof, goud van Ofir tussen die rotse van die spruite. Dan sal die Almagtige jou gouderts en uitgesoekte silwer vir jou wees.
JOB 22:21-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maak jouself nou bekend met hom en wees in vrede: daardeur sal die goeie oor jou kom. Ontvang tog die wet uit sy mond, en bêre sy woorde in jou hart. As jy na die Almagtige terugkeer, sal jy opgebou word, jy moet die ongeregtigheid ver van jou tente verwyder. Dan moet jy goud weggooi soos stof en die goud van Ofir soos die klippe van die spruite. Ja, die Almagtige sal jou verdediging wees, en jy sal oorvloed van silwer hê.
JOB 22:21-25 Die Boodskap (DB)
Elifas het vir Job gesê: “Gee nou bes en raak nou rustig. Eers dan sal dit beter met jou begin gaan. Laat die Here jou leer en vat wat Hy sê, ernstig op. Kry jou verhouding met die Here reg en Hy sal jou help om jou lewe weer op te bou. Raak ook ontslae van alles in jou huis wat nie reg is nie. Laat jou goud in die stof verdwyn. Gooi jou fynste goud tussen die klippe in die rivierbedding in. As jy dit doen, sal God, wat magtiger is as almal, jou goud en jou kosbare silwer wees.
JOB 22:21-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Onderwerp jou aan God, dan sal jy vrede hê en sal alles met jou goed gaan. Luister na sy voorskrifte en bêre hulle in jou hart. As jy terugkeer na die Almagtige en jou lewe skoonmaak, sal jy herstel word. Los jou sug na geld, en gooi jou kosbare skatte in die rivier. Dan sal die Almagtige self jou rykdom wees. Hy sal vir jou wees soos kosbare silwer.