JOB 1:6-12
JOB 1:6-12 Bybel vir almal (ABA)
Eendag het die engele voor die Here kom staan. Die Satan het saam met hulle gekom. Die Here het vir die Satan gevra: “Waar was jy?” Die Satan het gesê: “Ek het oral op die wêreld rondgegaan.” Toe vra die Here vir die Satan: “Het jy my dienaar Job gesien? Daar is niemand in die wêreld soos hy nie. Hy is 'n goeie man, hy is eerlik, hy dien My en hy doen nie verkeerd nie.” Die Satan het vir die Here gesê: “Ek weet hoekom Job vir U dien, hy doen dit omdat hy baie van U kry. U het hom beskerm en ook sy huisgesin en alles wat hy het. U het dit goed laat gaan met alles wat hy gedoen het, hy het ryk geword. Maar as U iets wegvat wat hy het, dan sal hy vir U sê hy vervloek U, dit is seker.” Toe sê die Here vir die Satan: “Jy mag doen wat jy wil met alles wat Job het, maar jy mag niks doen aan homself nie.” Die Satan het toe weggegaan van die Here.
JOB 1:6-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En op 'n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van 'n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: 'n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het — waarlik, hy sal U in u aangesig seën! Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.
JOB 1:6-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op 'n dag het die hemelwesens voor die Here kom staan, en die Satan was ook onder hulle. Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?” En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.” Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom raakgesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.” Toe antwoord die Satan die Here: “Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.” Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” Die Satan het daarna van die Here af weggegaan.
JOB 1:6-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe, op 'n dag, het die hemelwesens gekom om by die HERE hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom. Die HERE sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die HERE geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” Die HERE het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, 'n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy.” Die satan het die HERE geantwoord; hy het gesê: “Is dit sonder rede dat Job ontsag het vir God? Is dit nie U self wat hom en sy huis, en alles wat aan hom behoort, aan alle kante afgeskerm het nie? Sy handewerk het U geseën, en sy veestapel het in die land uitgebrei. Maar steek nou net u hand uit en tas alles aan wat aan hom behoort – hy sal U beslis in u gesig vloek. ” Die HERE sê toe vir die satan: “Kyk, alles wat aan hom behoort, is in jou hand. Net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie.” Die satan het toe uitgegaan, weg van die HERE af.
JOB 1:6-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar was 'n dag dat die seuns van God gekom het om hulle voor die aangesig van die HERE te stel, en die Satan het ook onder hulle gekom. En die HERE het vir die Satan gesê: Waar kom jy vandaan? Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Van heen en weer op die aarde en van heen en weer daarin wandel. Toe sê die HERE vir die Satan: Het jy ag geslaan op my kneg Job, dat daar niemand soos hy op die aarde is nie, 'n opregte en opregte man, een wat God vrees en wat die kwaad vermy? Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Vrees Job God verniet? Het jy nie 'n heining rondom hom en om sy huis en oor alles wat hy het aan alle kante gemaak nie? U het die werk van sy hande geseën, en sy besitting het vermeerder in die land. Maar steek nou jou hand uit en raak aan alles wat hy het, en hy sal jou in jou aangesig vloek. Toe sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou mag; net op homself nie u hand uitsteek nie. Die Satan het toe weggegaan van die aangesig van die HERE.
JOB 1:6-12 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het die inwoners van die hemel na die Here toe gekom. Die Satan was saam met hulle daar. Hy het mense gewoonlik aangekla. Die Here het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Satan het geantwoord: “Ek het heen en weer en kruis en dwars oor die aarde rondgegaan.” Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg.” Satan het die Here geantwoord: “Ja, Job dien U, maar nie om dowe neute nie. Hy wil iets daaruit kry. U het hom en sy huisgesin en alles wat hy het nog altyd beskerm. U sorg dat hy ’n sukses maak van alles wat hy doen. Sy rykdom word net meer en meer. Maar waag dit net om aan sy goed te vat en kyk wat sal gebeur. Hy sal U in u gesig slegsê!” Die Here het toe vir Satan gesê: “Dit is reg so, jy kan met sy goed maak net wat jy wil. Maar van Job hou jy jou hande af!” Die Satan het toe van die Here af weggegaan.
JOB 1:6-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eendag het die hemelwesens voor die HERE kom staan. Die aanklaer was tussen hulle. “Waar was jy heeltyd?” vra die HERE vir die aanklaer. Die aanklaer antwoord die HERE: “Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat daar aangaan.” Die HERE vra toe vir die aanklaer: “Het jy vir Job opgemerk? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy aanbid My en vermy die kwaad.” Die aanklaer sê toe vir die HERE: “Ja, dit is so. Job dien die Here. Maar hy het goeie rede om dit te doen! U het hom, sy huisgesin en sy eiendom nog altyd net beskerm. En U het hom voorspoedig gemaak in alles wat hy aanpak. Kyk net hoe ryk is hy! Maar reik nou uit en vat alles wat hy het. Hy sal U verseker in u gesig vloek!” “Goed, jy mag hom toets,” sê die HERE vir die aanklaer. “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.” Die aanklaer is toe weg van die HERE af.