JOB 1:1-5
JOB 1:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man. Sy seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te vier. Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê: “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” Job het dit elke keer gedoen.
JOB 1:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n man in die land Us. Sy naam was Job. Hy was 'n goeie man, hy was eerlik, hy het God gedien en hy het nie verkeerd gedoen nie. Job het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy het 7 000 skape en bokke gehad, 3 000 kamele, 1 000 beeste, 500 donkies en baie slawe. Hierdie man was ryker as al die Oosmense. Sy seuns het graag partytjies gehou in hulle huise, elke seun het 'n beurt gekry. Dan het hulle boodskappers gestuur en hulle het hulle susters genooi om saam te kom eet en drink. Wanneer 'n partytjie verby was, dan het Job vir sy kinders laat weet dat hulle hulleself moet wy. Hy het vroeg opgestaan en hy het vir elke kind 'n brand-offer gebring, want hy het gedink: Miskien het my kinders sonde gedoen en vir God vervloek. Job het dit altyd gedoen wanneer 'n partytjie verby was.
JOB 1:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAR was 'n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad. En vir hom is daar sewe seuns en drie dogters gebore. Daarby was sy besitting seweduisend stuks kleinvee en drieduisend kamele en vyfhonderd paar beeste en vyfhonderd eselinne en 'n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste. En sy seuns was gewoond om 'n maaltyd aan te rig in die huis van elkeen op sy dag. Dan stuur hulle en nooi hul drie susters om saam met hulle te eet en te drink. En elke keer as die dae van die maaltye om was, het Job gestuur en hulle geheilig. Dan maak Job die môre vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën! So het Job altyd gedoen.
JOB 1:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man. Sy seuns het om die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te vier. Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, “want,” het Job gesê: “miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” Job het dit elke keer gedoen.
JOB 1:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hierdie man was opreg en onberispelik in sy optrede; hy het vir God ontsag gehad en die kwaad vermy. Daar is vir hom sewe seuns en drie dogters gebore. Hy het seweduisend stuks kleinvee, drieduisend kamele, vyfhonderd pare beeste, vyfhonderd donkiemerries en 'n besondere groot werksmag gehad. Hierdie man was meer vermoënd as enigiemand in die ooste. Sy seuns het die gewoonte gehad om elkeen in sy eie huis, om die beurt, 'n fees aan te bied. Hulle het dan 'n boodskap gestuur en hulle drie susters genooi om saam met hulle te eet en te drink. Wanneer die feesdae verby was, het Job hulle laat haal en hulle geheilig. Hy het vroeg in die môre vir elkeen van hulle 'n •brandoffer gebring; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle harte gevloek. Job het dit elke keer gedoen.
JOB 1:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar was 'n man in die land Us met die naam van Job; en daardie man was volmaak en opreg, en een wat God gevrees en afgewyk het van die kwaad. En vir hom is sewe seuns en drie dogters gebore. En sy besitting was sewe duisend stuks kleinvee en drie duisend kamele en vyf honderd paar beeste en vyf honderd esels en 'n baie groot huisgesin; sodat hierdie man die grootste was van al die manne van die Ooste. En sy seuns het gegaan en feesmaal in hulle huise, elkeen sy dag; en gestuur en hulle drie susters laat roep om saam met hulle te eet en te drink. En toe die dae van hulle feesmaal verby was, het Job gestuur en hulle geheilig en die môre vroeg opgestaan en brandoffers gebring volgens hulle almal se getal; want Job het gesê: Dit is moontlik dat my seuns het gesondig en God vervloek in hulle harte. So het Job voortdurend gedoen.
JOB 1:1-5 Die Boodskap (DB)
Daar was ’n man met die naam Job wat in die land Us gebly het. Hy het ’n skoon en eerlike lewe geleef. Hy het God gedien en het nie verkeerde dinge gedoen nie. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. Verder het hy ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 1 000 beeste en 500 donkies gehad. ’n Groot klomp slawe het ook vir hom gewerk. Om die waarheid te sê, hy was die rykste mens in die hele Ooste. Job se seuns het beurte gemaak om by hulle huise partytjies te hou. As hulle so ’n partytjie gehou het, het hulle hulle drie susters genooi om saam te kom eet en drink. Hierdie partytjies het partykeer ’n paar dae aangehou. Ná so ’n fees was Job altyd bekommerd dat sy kinders dalk iets verkeerds gedoen het. Hy was bang dat hulle dalk iets gedoen of gedink het wat God sou kon beledig. Hy het hulle laat haal en dan gesorg dat hulle regmaak teenoor die Here wat verkeerd is. Hy sou vroeg in die môre opstaan en namens elkeen van sy kinders ’n offer aan die Here bring. Hy wou hulle posisie reg hou by die Here. Job het dit na elke partytjie gedoen.
JOB 1:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n man met die naam Job. Hy het in die land Us gewoon. Hy het onberispelik geleef en was ’n man met integriteit. Hy het God gedien en nie die verkeerde gedoen nie. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy het ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 500 spanne trekosse, 500 donkiemerries en baie slawe gehad – sowel mans as vroue. Hy was die rykste man in daardie omgewing. Elke jaar wanneer een van sy seuns verjaar het, het hulle die ander broers en die drie susters genooi om saam te kom partytjie hou. Dan het hulle vrolik saam geëet en gedrink. Ná so ’n partytjie, wat soms vir ’n hele paar dae aangehou het, het Job sy kinders gereinig. Dan het hy vroegoggend opgestaan en vir elkeen van hulle ’n brandoffer gebring. “Miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” So het Job elke keer gedoen.