JOHANNES 9:1-38

JOHANNES 9:1-38 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus verder loop, het Hy 'n man gesien wat blind was vandat hy gebore is. Die dissipels het vir Jesus gevra: “ Rabbi, wie se skuld is dit dat hierdie man blind was toe hy gebore is? Is dit hý wat sonde gedoen het of is dit sy ouers wat sonde gedoen het?” Jesus het gesê: “Nee, dit is nie hierdie man of sy ouers wat sonde gedoen het nie. Hy is blind, want God wil hom gebruik om vir die mense te wys wat God kan doen. God het My na die wêreld gestuur. Hy wil hê ons moet vir die mense wys wat Hy kan doen terwyl dit nog dag is. Die nag kom en in die donker kan niemand werk nie. Terwyl Ek by die mense in die wêreld is, is Ek die lig vir hulle.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en Hy het klei gemaak met die spoeg. Hy het die klei aan die blinde man se oë gesmeer en vir hom gesê: “Gaan was jou in die Siloam-dam.” Die woord Siloam beteken “God het Iemand gestuur.” Die blinde man het gegaan en hy het homself gewas. Toe hy terugkom, kon hy sien. Die mense wat langs die blinde man gewoon het en die ander mense wat hom geken het toe hy 'n bedelaar was, het gevra: “Is dit die man wat altyd gesit en bedel het?” Party mense het gesê: “Ja, dit is hy.” Ander mense het gesê: “Nee, dit is iemand anders wat lyk soos die blinde man.” Toe sê die blinde man: “Dit is ek!” Die mense het vir hom gevra: “Wat het gebeur dat jy kan sien?” Die man het gesê: “'n Man het klei gemaak en hy het dit aan my oë gesmeer. Die man se naam is Jesus. Toe het hy vir my gesê ek moet my in die Siloam-dam gaan was. Ek het dit gedoen en toe kon ek sien.” Hulle het vir hom gevra: “Waar is daardie man?” Hy sê toe: “Ek weet nie.” Die mense het die man wat voorheen blind was, na die Fariseërs toe geneem. Dit was 'n Sabbatdag toe Jesus klei gemaak het en die blinde man laat sien het. Die Fariseërs het ook vir hom gevra hoekom hy nou kan sien. Hy het vir hulle gesê: “'n Man het klei op my oë gesit, ek het my gewas en ek kon sien.” Party Fariseërs het gesê: “Die man wat dit gedoen het, kom nie van God nie, want hy werk op die Sabbatdag.” Ander Fariseërs het gesê: “Iemand wat hierdie wondertekens doen, is nie 'n sondaar nie.” Die Fariseërs het baie met mekaar gestry. Toe vra die Fariseërs weer vir die man wat blind was: “Wat dink jy van die man wat jou laat sien het?” Die man wat blind was, het gesê: “Ek dink hy is 'n profeet.” Die man was eers blind en hy kon nou sien, maar die Jode wou dit nie glo nie. Toe roep hulle die ouers van die man wat nou kon sien en hulle vra vir sy ouers: “Is hierdie man julle seun? Is dit waar dat hy blind was toe hy gebore is? Hoekom kan hy nou sien?” Sy ouers het gesê: “Ons weet hy is ons seun. Ons weet hy was blind toe hy gebore is. Maar ons weet nie hoekom hy nou kan sien nie. Ons weet ook nie wie hom laat sien het nie. Julle moet vir hom vra. Hy is nie meer 'n kind nie, hy kan self praat. Hy kan self vir julle sê wat gebeur het.” Die man se ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode. Die Jode het klaar besluit: As iemand sê hy glo dat Jesus die Christus is, dan mag hy nooit weer in die sinagoge kom nie. Dit is hoekom die man se ouers gesê het: “Hy is nie meer 'n kind nie, hy kan self praat. Julle moet vir hóm vra.” Die Jode roep toe weer die man wat blind was. Hulle het vir hom gesê: “Jy moet God eer en jy moet die waarheid praat. Ons weet hierdie man Jesus is 'n sondaar.” Die man het gesê: “Ek weet nie of Jesus 'n sondaar is nie, maar ek weet ek was blind, en nou sien ek.” Die Jode het vir hom gesê: “Wat het Jesus vir jou gedoen? Hoe het hy jou laat sien?” Die man het vir hulle gesê: “Ek het dit klaar vir julle vertel, en julle het nie geluister nie. Hoekom wil julle dit weer hoor? Wil julle Jesus se dissipels word?” Die Jode het kwaad geword en gesê: “Jy is 'n dissipel van daardie man. Ons is nie, ons is dissipels van Moses. Ons weet God het met Moses gepraat, maar ons weet nie van waar hierdie man kom nie.” Die man wat blind was, het vir hulle gesê: “Ek verstaan julle nie. Julle weet nie van waar Jesus kom nie, maar hy het my laat sien. Ons weet God luister nie na sondaars nie. God luister na mense wat Hom dien en wat doen wat Hy wil hê. Ons het nooit voorheen gehoor van iemand wat 'n blinde mens laat sien het nie, 'n mens wat blind was toe hy gebore is. Hierdie man kom van God, daarom kon hy dit doen.” Toe sê die Jode vir die man wat blind was: “Jy is nog altyd 'n sondaar, vandat jy gebore is! Jy kan nie vir ons leer nie.” Toe het hulle hom uitgeskop uit die sinagoge. Jesus het gehoor dat die Jode die man uit die sinagoge uitgeskop het, die man wat blind was, maar wat Hy laat sien het. Toe Jesus hom sien, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?” Die man het gesê: “Meneer, sê asseblief vir my wie is die Seun van die mens sodat ek in Hom kan glo.” Jesus het vir die man gesê: “Jy sien Hom. Ek is die Seun van die mens, Ek wat met jou praat.” Die man het gesê: “Ek glo, Here!” Toe het hy Jesus aanbid.

JOHANNES 9:1-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word. Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld. En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom. Die bure dan en die wat hom vroeër gesien het dat hy blind was, sê toe: Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie? Ander sê: Dit is hy. Ander weer: Hy lyk na hom. Hy antwoord: Dit is ek. Hulle sê vir hom: Hoe is jou oë geopen? Hy antwoord en sê: Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en op my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na die badwater Silóam en was jou. En ek het gegaan en my gewas en ek sien. En hulle sê vir hom: Waar is Hy? Hy antwoord: Ek weet nie. Hulle bring hom na die Fariseërs — die man wat vroeër blind was. En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het. Die Fariseërs vra hom toe weer hoe hy siende geword het. En hy antwoord hulle: Hy het klei op my oë gesit, en ek het my gewas en ek sien. En sommige van die Fariseërs sê: Hierdie man kom nie van God nie, omdat Hy die sabbat nie hou nie. Ander sê: Hoe kan 'n sondige mens sulke tekens doen? En daar was verdeeldheid onder hulle. Weer sê hulle vir die blinde man: Jy, wat sê jy van Hom, aangesien Hy jou oë geopen het? En hy antwoord: Hy is 'n profeet. En die Jode het dit nie van hom geglo dat hy blind was en siende geword het nie, totdat hulle die ouers geroep het van hom wat siende geword het. En hulle vra hul en sê: Is dit julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou? Sy ouers antwoord hulle en sê: Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is; maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë geopen het, weet ons nie. Hy is self oud genoeg, vra hom; hy sal vir homself praat. Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het al ooreengekom dat as iemand Hom as die Christus bely, hy uit die sinagoge geban sou word. Daarom het sy ouers gesê: Hy is oud genoeg, vra hom. Hulle roep toe vir die tweede keer die man wat blind was, en sê vir hom: Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man 'n sondaar is. En hy antwoord en sê: Of Hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien. En hulle sê weer vir hom: Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë geopen? Hy antwoord hulle: Ek het julle dit alreeds gesê, en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie? Hulle skel hom toe uit en sê: Jý is 'n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gespreek het; maar wat Hom betref, ons weet nie van waar Hy is nie. Die man antwoord en sê vir hulle: Hierin is tog iets wonderliks dat julle nie weet van waar Hy is nie, en Hy het my oë geopen! En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy. Van ouds af is dit nie gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore mens geopen het nie. As Hy nie van God was nie, sou Hy niks kan doen nie. Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons? En hulle het hom uitgeban. Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het; en toe Hy hom kry, sê Hy vir hom: Glo jy in die Seun van God? Hy antwoord en sê: Wie is Hy, Here, dat ek in Hom kan glo? En Jesus sê vir hom: Jy het Hom gesien; en Hy wat met jou spreek, dit is Hy. Toe sê hy: Ek glo, Here! En hy het Hom aanbid.

JOHANNES 9:1-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is. Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?” Party van hulle het gesê: “Dit is hy!” Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.” “Dit is ek!” het hy self gesê. Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?” En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het 'n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!” “Waar is hy nou?” vra hulle hom toe. “Ek weet nie,” was sy antwoord. Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. Dit was op 'n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het. Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.” Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.” Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat 'n sondaar is, sulke wondertekens doen?” En daar was verdeeldheid onder hulle. Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.” “Hy is 'n profeet,” het hy geantwoord. Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?” “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. “Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.” Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word. Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.” Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is 'n sondaar.” Daarop het hy gesê: “Of hy 'n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.” Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?” “Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?” Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is 'n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie.” “Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?” En hulle het hom uitgeban. Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?” Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.” Die man sê toe: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid.

JOHANNES 9:1-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En in die verbygaan het Jesus 'n man gesien wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? ” Jesus het geantwoord: “Nóg hy, nóg sy ouers het gesondig; maar dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word. Ons moet die dade doen van Hom wat My gestuur het terwyl dit nog dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as wat Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en modder van die speeksel gemaak, die modder aan sy oë gesmeer en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam” – wat, as dit vertaal word, ‘gestuurde’ beteken. Hy het toe gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien. Die bure en die mense wat hom voorheen gesien het toe hy 'n bedelaar was, sê toe: “Is dit tog nie hy wat gesit en bedel het nie?” Ander het gesê: “Dit is hy!” Nog ander het gesê: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” Maar hy het gesê: “Dit ís ek!” Hulle vra hom toe: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?” Hy antwoord: “Die man wat Jesus genoem word, het modder gemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê, ‘Gaan na Siloam en was jou.’ Ek het toe gegaan en my gewas, en ek het begin sien.” Hulle het hom gevra: “Waar is hy nou?” Hy sê toe: “Ek weet nie.” Hulle neem toe die man wat voorheen blind was na die •Fariseërs. Die dag waarop Jesus die modder gemaak en sy oë oopgemaak het, was 'n Sabbat. Die Fariseërs het hom toe weer gevra hoe hy begin sien het. Hy het hulle geantwoord: “Hy het modder op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.” Sommige van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie. ” Ander het egter gesê: “Hoe kan 'n sondige mens sulke tekens doen?” En hulle was verdeeld. Hulle sê toe weer vir die blinde man: “Wat sê jý van hom, aangesien hy jou oë oopgemaak het?” En hy antwoord: “Hy is 'n profeet.” Die Jode het egter nie geglo dat hy blind was en begin sien het nie – totdat hulle die man wat begin sien het, se ouers geroep het en vir hulle gevra het: “Is hierdie man julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?” Sy ouers antwoord toe: “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is. Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë oopgemaak het, weet ons nie. Vra hom – hy is oud genoeg; hy sal vir homself praat.” Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode. Die Jode het naamlik reeds ooreengekom dat as iemand Hom openlik as die Christus sou bely, hy uit die •sinagoge geban sou word. Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg – vra hom.” Hulle het toe die man wat blind was 'n tweede keer laat roep en vir hom gesê: “Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man 'n sondaar is.” Hy het toe geantwoord: “Of hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek, dat ek blind was, en nou sien ek.” Hulle het toe vir hom gesê: “Wat het hy met jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?” Hy antwoord hulle: “Ek het reeds vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie. Wat wil julle weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?” Hulle het hom toe uitgeskel en gesê: “Jy is 'n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons weet nie waar hy vandaan kom nie. ” Die man het hulle geantwoord: “Wel, dit is verbasend! Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, en tog het hy my oë oopgemaak. Ons weet dat God sondaars nie verhoor nie, maar as iemand godvresend is en sy wil doen, verhoor Hy hom. Van die begin van die wêreld af het niemand nog ooit daarvan gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore persoon oopgemaak het nie. As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” Hulle het hom geantwoord: “Jy is heeltemal in sonde gebore, en probeer jy ons leer?” En hulle het hom uitgeban. Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het, en toe Hy hom raakloop, het Hy gevra: “Glo jy in die •Seun van die Mens?” Hy het geantwoord: “Wie is Hy, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy kyk na Hom. Hy wat met jou praat, dit is Hy.” Toe sê hy: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid.

JOHANNES 9:1-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Jesus verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Meester, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hierdie man of sy ouers het nie gesondig nie, maar dat die werke van God in hom openbaar sou word. Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, terwyl dit dag is: die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. Solank as wat ek in die wêreld is, is ek die lig vir die wêreld. Toe hy dit gesê het, het hy op die grond gespoeg en klei gemaak van die speeksel, en die oë van die blinde man met die klei gesalf, En hy sê vir hom: Gaan was jou in die bad van Siloam, (wat beteken: Gestuur). Hy het toe gegaan en hom gewas en gekom siende. Die bure dan en die wat hom tevore gesien het dat hy blind was, het gesê: Is dit nie hy wat gesit en smeek het nie? Sommige het gesê: Dit is hy; ander het gesê: Hy is soos hy, maar hy het gesê: Dit is ek. Daarom sê hulle vir hom: Hoe is jou oë geopen? Hy antwoord en sê: 'n Man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en my oë gesalf en vir my gesê: Gaan na die bad van Siloam en was jou; en ek het gegaan en my gewas, en ek het gesien. Toe sê hulle vir hom: Waar is hy? Hy het gesê: Ek weet nie. Hulle het hom na die Fariseërs gebring wat voorheen blind was. En dit was die sabbatdag toe Jesus die klei gemaak en sy oë oopgemaak het. Toe vra die Fariseërs hom ook weer hoe hy sy gesig gekry het. Hy sê vir hulle: Hy het klei op my oë gelê, en ek was en sien. Daarom het sommige van die Fariseërs gesê: Hierdie man is nie uit God nie, omdat hy die sabbatdag nie onderhou nie. Ander het gesê: Hoe kan 'n mens wat 'n sondaar is, sulke wonderwerke doen? En daar was verdeeldheid onder hulle. Hulle sê weer vir die blinde man: Wat sê jy van hom dat hy jou oë oopgemaak het? Hy het gesê: Hy is 'n profeet. Maar die Jode het nie van hom geglo dat hy blind was en gesien het nie, totdat hulle die ouers van hom wat sy gesig ontvang het, geroep het. En hulle het hulle gevra en gesê: Is dit julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is? hoe sien hy dan nou? Sy ouers het hulle geantwoord en gesê: Ons weet dat dit ons seun is en dat hy blind gebore is. Maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë oopgemaak het, ons weet nie; hy is meerderjarig; vra hom: hy sal vir homself praat. Hierdie woorde het sy ouers gespreek, omdat hulle die Jode gevrees het; want die Jode het reeds ooreengekom dat as iemand bely dat hy Christus is, hy uit die sinagoge gesit moet word. Daarom sê sy ouers: Hy is meerderjarig; vra hom. Toe roep hulle weer die man wat blind was, en sê vir hom: Gee God die lof; ons weet dat hierdie man 'n sondaar is. Hy antwoord en sê: Of hy 'n sondaar is of nie, weet ek nie; een ding weet ek, dat terwyl ek blind was, nou sien ek. Toe sê hulle weer vir hom: Wat het hy aan jou gedoen? hoe het hy jou oë oopgemaak? Hy antwoord hulle: Ek het dit alreeds vir julle gesê, en julle het nie gehoor nie; waarom sou julle dit weer hoor? sal julle ook sy dissipels wees? Toe het hulle hom uitgeskel en gesê: Jy is sy dissipel; maar ons is Moses se dissipels. Ons weet dat God met Moses gespreek het; wat hierdie man betref, ons weet nie waarvandaan hy is nie. Die man antwoord en sê vir hulle: Waarom is hier iets wonderliks, wat julle nie weet van waar hy is nie, en tog het hy my oë geopen. Nou weet ons dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand 'n aanbidder van God is en sy wil doen, na hom luister Hy. Vandat die wêreld begin het, is daar nie gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, oopgemaak het nie. As hierdie man nie van God was nie, kon hy niks doen nie. Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons? En hulle het hom uitgedryf. Jesus het gehoor dat hulle hom uitgedryf het; en toe hy hom kry, sê hy vir hom: Glo jy in die Seun van God? Hy antwoord en sê: Wie is Hy, Here, dat ek in Hom kan glo? En Jesus sê vir hom: Jy het hom gesien, en dit is hy wat met jou praat. En hy sê: Here, ek glo. En hy het hom aanbid.

JOHANNES 9:1-38 Die Boodskap (DB)

In die verbygaan sien Jesus ’n man wat blind gebore is. “Wie se skuld is dit dat hierdie man blind gebore is?” vra sy dissipels Hom. “Het hy self vir God ongelukkig gemaak of was dit sy ouers?” “Nee,” sê Jesus, “dis nie een van hulle se skuld nie. God wil juis hierdie man se blindheid gebruik om te wys wat Hy vir mense kan doen. Ons almal moet saamwerk om te wys wat God vir mense kan doen terwyl ons nog kan. Daarvoor het Hy My mos gestuur. Daar gaan ’n stadium kom wanneer ons dit nie meer sal kan doen nie. Terwyl Ek hier by julle is, kan Ek vir die mense wys wat God regtig wil hê en wat nie.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of Hy meng ’n bietjie spoeg en grond. Hierdie modderigheid smeer Hy toe op die blinde se oë en sê: “Toe, jy kan maar loop. Gaan was jou in die bad by die Siloamfontein.” (“Siloam” beteken: hy wat gestuur is.) Die blinde het dit gedoen. Na ’n rukkie kom hy weer daar aan, maar hierdie keer kon hy alles sien! Baie mense het hom geken, want hy het dikwels daar gesit en bedel. Hierdie mense, asook die mense wat naby hom gebly het, kon hulle oë nie glo toe hulle hom sien nie. “Is dit nie sowaar dieselfde man wat altyd hier gesit en bedel het nie?” “Ja, sowaar,” het party gesê. Ander was minder geesdriftig: “Nee, dit lyk maar net soos hy.” “Kan julle nie sien nie, dit ís ek!” roep die man uit. “Maar hoe het dit gebeur dat jy nou kan sien?” vra hulle hom. Die man vertel hulle toe alles: hoe Jesus modder gemaak en dit op sy oë gesmeer het; hoe Jesus hom na die Siloambad toe gestuur het om te was, en nou kan hy sien! Die mense vra toe opgewonde: “Waar’s daardie man? Ons wil hom sien.” “Ek weet ongelukkig nie,” was sy antwoord. Die mense vat die man toe reguit na die Fariseërs toe. Die probleem was dat Jesus die man op die sabbat gesond gemaak het. Die Fariseërs wou die hele storie van voor af hoor. Die man het weer alles van die modder en die bad vertel. Die Fariseërs het nie mooi geweet wat om van alles te dink nie. Party het gesê: “Ons kan nie sien hoe hierdie man enigiets met God te doen kan hê nie. Hy steur hom dan glad nie aan die reëls vir die sabbat nie.” Ander het weer sterk van hulle verskil. “Ons stem nie saam nie,” het hulle gesê. “Hoe verklaar julle al dié wonderlike dinge wat hy doen? Waar sal iemand wat niks met God te doen wil hê nie die krag vandaan kry vir dié wonders?” Hulle ondervra die man toe weer: “Sê vir ons, wat dink jy van Jesus? Jy behoort mos te weet, want dit is jou oë wat hy gesond gemaak het.” “Hy’s ’n man van God, ’n profeet,” kom die kort, maar kragtige antwoord. Die Jode was baie skepties oor die storie dat die man regtig blind was. Toe hulle egter sy ouers roep en hulle vra, kon hulle nie meer twyfel nie. “Is dié man julle seun wat volgens julle blind gebore is?” “Ja, dit is ons seun dié. Julle kan ons maar glo, hy kon nog nooit sien nie,” antwoord sy ouers. “Hoe is dit dan dat hy nou skielik kan sien?” wou die Fariseërs weet. “Nee, nou vra julle ons vas. Ons weet nie. Ons het geen idee wie sy oë gesond gemaak het nie. Maar daar staan hy. Hoekom vra julle hom nie self nie? Hy’s mos al ’n grootmens. Hy kan darem seker vir homself praat.” Sy ouers was bang vir die Jode; daarom het hulle so ontwykend geantwoord. Hulle het alte goed geweet wat die Joodse leiers besluit het: enigiemand wat iets goeds oor Jesus sê of Jesus in die openbaar verdedig, sou nie meer welkom wees by die Joodse byeenkomste nie. Sulke mense sal nooit weer daar mag kom, of saam met die Jode mag kerk hou nie. Daarvoor het die man se ouers nie kans gesien nie. Om uit die moeilike situasie te kom het hulle maar gesê: “Vra hom self; hy’s oud genoeg.” ’n Tweede keer roep die Joodse leiers toe die man nader. Hulle wou hom ’n bietjie toets: “Gaan liewers op jou knieë en sê vir God dankie. Maak Hom groot. Vergeet van hierdie ander man, hierdie Jesus; hy’s sommer ’n regte sondaar!” Die man sê toe: “Wel, ek kan nie eintlik sê of hy ’n sondaar is of nie. Dis julle terrein daardie. Julle is mos die godsdienstige spesialiste. Waarin ek egter die spesialis is, is dit: ek was blind, maar nou kan ek sien!” “Verduidelik ’n bietjie weer vir ons alles van voor af. Wat het hy presies gedoen?” vra hulle die man toe weer. “Maar luister julle nie na wat ek sê nie? Ek het mos al vir julle alles vertel. Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil hom nie dalk begin volg nie, of hoe?” Daarvan het die Joodse leiers niks gehou nie. Hulle het die man begin uitskel: “Jy’s deurmekaar, man. Jy is sy volgeling. Ons is getroue volgelinge van Moses. En Moses staan ten minste aan God se kant, want God het met hom gepraat. Daarvan is ons seker! Maar hierdie man, Jesus, van hom weet ons niks. Ons weet nie eens waar hy uitgekruip het nie.” Die man sê toe: “Dit is darem baie snaaks. Julle sê julle weet kamma nie waar hy uitgekruip het nie. Intussen was dit juis hy wat my weer laat sien het. Ons almal weet tog dat God nie na mense luister wat niks met Hom te doen wil hê nie. God verhoor slegs die gebede van iemand wat Hom dien en so optree dat God met hom tevrede voel. Boonop het nie een van ons nog ooit gehoor dat iemand ’n man wat blind gebore is, weer kon laat sien nie. Jesus sou mos nie een van dié dinge kon doen as hy nie aan God se kant gestaan het nie, nie waar nie?” Die Joodse leiers was woedend. “Jou hele lewe is net een groot stuk sonde. Van God en sy dinge weet jy net mooi niks! Nou wil jy jou lyf staan en godsdiensonderwyser hou by ons. Watter vermetelheid!” Hulle het hom verbied om weer sy voete by enige van hulle byeenkomste te sit. Hy was nie meer by hulle as Jode welkom nie. Die nuus dat die Joodse leiers die man weggejaag het, het by Jesus uitgekom. Jesus het hom toe gaan soek en toe Hy hom kry, vra Jesus hom reguit: “Wil jy graag ’n volgeling en vriend van die Seun van God wees?” Dadelik antwoord die man: “Wys asseblief vir my waar Hy is. Ek wil graag sy volgeling wees.” “Hy staan hier reg voor jou. Jy is besig om met Hom te gesels,” sê Jesus. “Here, ek wil graag u volgeling wees, asseblief,” sê die man. Hy sak toe op sy knieë neer en maak Jesus se Naam groot.

JOHANNES 9:1-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?” Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word. Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie. Terwyl Ek nog in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”.) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien! Sy bure en dié wat hom vroeër as bedelaar geken het, het mekaar afgevra: “Is hy dan nie die man wat sit en bedel het nie?” Sommige het bevestig dat dit werklik hy was. Ander het dit ontken en gesê: “Nee, maar hy lyk net soos daardie man.” Die man het toe self reageer: “Dit is ék!” Hulle het toe vir hom gevra: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?” Die man het geantwoord: “Die man met die naam Jesus het klei gemeng en dit aan my oë geplak en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en ek het begin sien!” “Waar is daardie man nou?” het hulle hom gevra. “Ek weet nie,” het hy geantwoord. Hulle het die man wat eers blind was na die Fariseërs toe geneem. Dit was op ’n Sabbatdag dat Jesus die klei gemeng en dit op die man se oë geplak het. Die Fariseërs het hom weer ’n keer gevra hoe hy begin sien het. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gaan was, en nou sien ek.” Sommige Fariseërs het opgemerk: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie.” Van die ander het egter gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?” Onder hulle het hewige verdeeldheid ontstaan. Weer ’n keer sê hulle toe vir die blinde: “En wat sê jý oor hom? Hierdie man wat kwansuis jou oë oopgemaak het?” Hy het geantwoord: “Hy is ’n profeet.” Die Joodse leiers het steeds nie geglo dat hy blind was en nou kon sien nie, totdat hulle die ouers van die man wat nou kon sien, geroep en vir hulle gevra het: “Is hy julle seun van wie julle gesê het dat hy blind gebore is? Hoe het dit gebeur dat hy nou sien?” “Ons bevestig dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. “Hoe hy egter nou sien, weet ons nie. Wie sy oë oopgemaak het, weet ons ook nie. Vra hom liewer self; hy is oud genoeg; hy kan namens homself praat.” Sy ouers het hierdie dinge gesê omdat hulle bang was vir die Joodse leiers. Die Joodse leiers het toe reeds onder mekaar beraadslaag en besluit dat iemand wat bely dat Jesus die Messias is, uit die sinagoge geban moes word. Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg, vra hom self.” Die Jode het die man wat blind was, vir ’n tweede keer nadergeroep en vir hom gesê: “Gee erkenning aan God; ons weet dat hierdie man ’n sondaar is.” Maar hy het geantwoord: “As hy ’n sondaar is, weet ek dit nie. Een ding weet ek wel: Ek wat blind was, sien nou!” Daarop het hulle vir hom gesê: “Wat het hy vir jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?” Hy het hulle geantwoord: “Ek het julle reeds vertel, maar julle het nie geluister nie. Om watter rede wil julle dit weer hoor? Julle wil tog sekerlik nie ook dissipels van hom word nie?” Hulle het hom uitgeskel en gesê: “Jý is ’n dissipel van daardie man. Óns is dissipels van Moses. Ons weet definitief dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons het geen idee waarvandaan hy kom nie.” Die man wat blind was, sê toe vir hulle: “Dis tog merkwaardig. Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, maar hy het my oë oopgemaak. Ons weet goed dat God nie na sondaars luister nie, maar as iemand godvresend is en sy wil uitvoer, luister God na só ’n persoon. Van ewigheid af is nog nooit gehoor dat enigiemand die oë van een wat blind gebore is, oopgemaak het nie. As hierdie man nie van God af was nie, sou hy niks kon doen nie.” Hulle het daarop reageer: “Jy is geheel en al in sonde gebore, en wil jý ons nou kom onderrig?” Hulle het hom toe uit die sinagoge geban. Jesus het gehoor dat hulle die geneesde blinde uit die sinagoge geban het, en toe Hy hom raakloop, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die Mens?” Die man het geantwoord: “Wie is hy, Meneer, sodat ek in hom kan glo?” Jesus het vir hom gesê: “Jy staan en kyk na Hom; die Een wat met jou praat, dis Hy!” Die man het gesê: “Ek glo, Here!” En hy het in aanbidding voor Jesus neergeval.