JOHANNES 8:7-11
JOHANNES 8:7-11 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het aangehou om vir Jesus te vra wat Hy dink hulle moet doen. Toe het Jesus opgestaan en Hy het vir hulle gesê: “As daar een van julle is wat nog nooit sonde gedoen het nie, dan moet hy haar eerste met 'n klip gooi!” Jesus het weer gebuk en Hy het op die grond geskryf. Toe die mense hoor wat Jesus sê, het hulle almal weggegaan. Die leiers het eerste weggegaan, en toe het die ander mense begin weggaan. Net Jesus het daar gebly en die vrou het nog voor Hom gestaan. Jesus het regop gestaan en Hy het vir die vrou gevra: “Mevrou, waar is die mense wat jou beskuldig het? Het iemand gesê die mense moet jou doodgooi met klippe?” Sy het gesê: “Nee, niemand nie, Here.” Jesus het vir haar gesê: “Ek doen dit ook nie. Jy mag gaan, maar jy moenie weer die sonde doen nie.”]
JOHANNES 8:7-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi. En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe. En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het. En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.
JOHANNES 8:7-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi.” Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” “Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
JOHANNES 8:7-11 Die Boodskap (DB)
Die Joodse geleerdes het egter aangehou neul. Uiteindelik kyk Jesus op en sê vir hulle: “Nou goed, gaan maar aan. Julle weet skynbaar wat om te doen. Maar daar is een voorwaarde: die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem. Hy moet eerste ’n klip optel en haar daarmee gooi.”Weer het Jesus vooroor gebuig en iets in die grond geskryf. Daar staan die Joodse geleerdes toe met ’n mond vol tande. Hulle het nie geweet wat om te doen of te sê nie. Een vir een het hulle toe maar weer tussen die mense in verdwyn. Die belangrikstes het eerste gemaak dat hulle wegkom. Hulle het die vrou net daar by Jesus gelos. Jesus kyk toe weer op en sê vir haar: “En nou? Waar is al daardie mense? Kon niemand so ver kom om ’n klip op jou te gooi nie?” “Nie eens een nie, Here,” kom die antwoord. Jesus sê toe: “Ek gaan ook nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar ’n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense ’n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef.”
JOHANNES 8:7-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: “Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ’n klip na haar gooi.” Daarna het Jesus weer gehurk en op die grond geskryf. Nadat hulle dit gehoor het, het hulle een vir een begin weggaan, eerste die familiehoofde. Jesus is alleen agtergelaat terwyl die vrou nog in hulle midde staan. Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: “Vrou, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?” Sy het geantwoord: “Niemand nie, Meneer.” Jesus sê toe vir haar: “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”