JOHANNES 8:42-47
JOHANNES 8:42-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het geantwoord: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom en is nou hier. Ek het beslis ook nie uit my eie hierheen gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom verstaan julle nie my boodskap nie? Omdat julle nie kan luister na my boodskap nie. Julle is uit die duiwel as julle pa gebore, en julle wil net doen wat hy as pa van julle verwag. Hy was van die heel begin af ’n mensemoordenaar. En hy is nie in die waarheid nie omdat die waarheid nie in hom is nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ’n leuenaar en ook die vader daarvan is. Omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie. Wie onder julle kan My aankla van sonde? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle My nie? Wie van God afkomstig is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie omdat julle nie van God afkomstig is nie.”
JOHANNES 8:42-47 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “God is nie julle Vader nie, want julle is nie lief vir My nie. Ek het van God gekom en Ek is nou hier by julle. Ek het nie self besluit om te kom nie. Nee, God het My na die wêreld gestuur. Hoekom verstaan julle nie wat Ek vir julle sê nie? Dit is omdat julle nie regtig wil luister na wat Ek sê nie. Die duiwel is julle vader en julle wil doen wat hy wil hê julle moet doen. Van die begin van die wêreld maak die duiwel mense dood. Hy praat nie die waarheid nie, want hy weet niks van die waarheid nie. Die duiwel lieg altyd, hy kan niks anders doen nie. Hy lieg en hy laat mense lieg. Julle glo My nie, want Ek praat die waarheid. Kan een van julle bewys dat Ek 'n sondaar is? Nee, julle kan nie. Hoekom glo julle My nie wanneer Ek die waarheid praat nie? Iemand wat aan God behoort, luister na wat God sê. Julle luister nie na wat Hy sê nie, want julle behoort nie aan God nie.”
JOHANNES 8:42-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie. Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie? Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.
JOHANNES 8:42-47 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar Jesus sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom, en hier is Ek nou. Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hý het My gestuur. Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my boodskap nie kán verstaan nie! Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen. En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie. Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie? Wie 'n kind van God is, luister na die woorde van God. Juis daarom luister julle nie, omdat julle nie kinders van God is nie.”
JOHANNES 8:42-47 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het vir hulle gesê: “As God julle Vader was, sou julle My liefgehad het, want Ek het van God af uitgegaan en nou is Ek hier. Ek het ook nie uit my eie gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my woorde nie werklik kan hoor nie. Julle kom van julle vader, die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af 'n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy 'n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar en die vader daarvan is. Maar omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie. Wie van julle kan sonde by My uitwys? As Ek die waarheid praat, waarom glo julle My nie? Hy wat uit God is, luister na die woorde van God. Dit is waarom julle nie luister nie, omdat julle nie uit God is nie.”
JOHANNES 8:42-47 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uitgegaan en van God gekom; en ek het nie uit myself gekom nie, maar Hy het my gestuur. Waarom verstaan julle nie my spraak nie? selfs omdat julle my woord nie kan hoor nie. Julle is van julle vader, die duiwel, en die begeerlikhede van julle vader sal julle doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar en het nie in die waarheid gebly nie, want daar is geen waarheid in hom nie. As hy 'n leuen praat, praat hy uit sy eie, want hy is 'n leuenaar en die vader daarvan. En omdat Ek julle die waarheid vertel, glo julle My nie. Wie van julle oortuig my van sonde? En as ek die waarheid sê, waarom glo julle My nie? Hy wat uit God is, luister na die woorde van God
JOHANNES 8:42-47 Die Boodskap (DB)
Daarop antwoord Jesus toe: “As God julle Vader was, sou julle lojaal teenoor My wees en My liefhê. Kyk, hier staan Ek voor julle: Ek kom van daardie selfde God af. En Ek het nie sommer op my eie hier aangestap gekom nie. Nee, God self het My gestuur! Laat Ek vir julle sê waarom die dinge wat Ek sê nie vir julle sin maak nie. Julle is soos dowe mense. Nie ’n woord sink by julle in nie, want julle wil nie behoorlik luister na wat Ek sê nie. En daar is ’n goeie rede voor. Die duiwel is julle pa! Al wat julle wil doen, is om na julle pa te luister. Wat hy sê, doen julle. Die duiwel stel net daarin belang om mense se lewe te vernietig en hulle dood te maak. Hy was nog altyd so. Hy gee ook niks om vir die waarheid nie. Al waarin hy belangstel, is om te lieg en te bedrieg. Dit is hoe hy is. As hy sy mond oopmaak, lieg hy. ’n Mens kan niks glo wat hy sê nie. Ja-nee, hy is die oorsaak van al die bedrog en leuens in hierdie wêreld. Maar kyk nou wat gebeur met My. Ek kom praat die waarheid met julle, maar julle sê Ek lieg. Dit wys julle net! Ek daag julle uit! Bewys dat Ek een voet verkeerd gesit het, ja, dat Ek iets gedoen het waarvan God nie sal hou nie. Toe, kan julle? Nou goed, as Ek dan die waarheid praat, waarom wil julle nie aanvaar wat Ek sê nie? Ek kan maar net aan een rede dink: ’n kind van God sal mos graag na God luister. Julle wil nie na My luister nie, wat maar net kan beteken dat julle nie kinders van God is nie.”