JOHANNES 8:34-36
JOHANNES 8:34-36 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As 'n mens sonde doen, dan is hy 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie altyd by die familie nie, maar 'n seun bly altyd een van die familie. As Ek, die Seun, julle vrymaak, dan sal julle regtig vry wees.
JOHANNES 8:34-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, 'n dienskneg van die sonde is. En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd. As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.
JOHANNES 8:34-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees.
JOHANNES 8:34-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. En die slaaf bly nie vir altyd in die huis nie, maar die seun bly vir altyd. As die •Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.
JOHANNES 8:34-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat sonde doen, is die dienaar van die sonde. En die dienskneg bly nie vir ewig in die huis nie, maar die Seun bly vir altyd. As die Seun julle dan vry maak, sal julle waarlik vry wees.
JOHANNES 8:34-36 Die Boodskap (DB)
“Dis eenvoudig: as jy sonde doen, is jy tog ’n slaaf; die sonde se slaaf, nie waar nie?” sê Jesus. “’n Slaaf is nie ’n permanente lid van die familie nie. ’n Seun bly egter altyd ’n kind in die gesin. Die seun is dus die een wat vir altyd julle vryheid in die gesin kan waarborg, want hy is altyd daar. As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry.
JOHANNES 8:34-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat aanhou sonde doen, is ’n slaaf van die sonde. Die slaaf bly tog nie vir altyd in die huis nie; die seun bly wel vir altyd. As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.