JOHANNES 8:21-30
JOHANNES 8:21-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het toe gesê: “Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?” Toe sê Hy vir hulle: “Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.” Hulle vra Hom toe: “Wie is jy?” Jesus het hulle geantwoord: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle? Ek kan baie dinge oor julle sê en 'n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.” Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.” Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom.
JOHANNES 8:21-30 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het weer met die Jode gepraat. Hy het gesê: “Ek gaan weg. Julle sal My soek, maar julle sal My nie kry nie. Julle is sondaars, en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het gesê: “Hy sê ons kan nie kom waar hy gaan nie. Wil hy homself doodmaak? Ons dink nie hy sal dit doen nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle kom van die aarde, maar Ek kom van die hemel. Ja, julle is mense van hierdie wêreld, maar Ek is nie van hierdie wêreld nie. Ek het vir julle gesê julle is sondaars en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. As julle nie glo dat Ek God is nie, dan sal julle nog sondaars wees wanneer julle sterf.” Die Jode vra toe vir Hom: “Wie is jy?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek kan met julle praat, maar dit sal nie help nie. Ek kan nog baie ander dinge oor julle sê en Ek kan julle oordeel. Hy wat My na die wêreld gestuur het, doen reg. Ek vertel vir die mense van die wêreld alles wat Ek by Hom gehoor het.” Die Jode het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader in die hemel praat nie. Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle My, die Seun van die mens, aan die kruis opgehang het, dan sal julle besef dat Ek ook God is. Dan sal julle weet Ek, die Seun, doen nie self dinge nie. Nee, Ek sê net wat die Vader vir My geleer het. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelos nie, want Ek doen altyd die dinge waarvan Hy hou.” Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het baie Jode in Hom begin glo.
JOHANNES 8:21-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Jesus het weer vir hulle gesê: Ek gaan weg, en julle sal My soek en in julle sonde sterwe. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. Toe sê die Jode: Hy sal Homself tog nie om die lewe bring nie, omdat Hy sê: Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie? En Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie. Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe. Toe sê hulle vir Hom: Wie is U dan? En Jesus antwoord hulle: Net dit wat Ek vir julle sê. Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig; en Ek, wat Ek van Hom gehoor het, dit spreek Ek tot die wêreld. Hulle het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader gespreek het nie. En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is. Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo.
JOHANNES 8:21-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het toe weer vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, en in julle sonde sterf. Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het toe gesê: “Hy gaan homself tog nie doodmaak nie – omdat hy sê, ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie?’ ” Hy het vir hulle gesê: “Julle is van hier benede; Ek is van daarbo. Julle is van hierdie wêreld; Ek is nie van hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.” Hulle het toe vir Hom gevra: “Wie is u?” Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Ek van die begin af vir julle gesê? Ek het baie dinge om van julle te sê waaroor Ek julle kan oordeel; nogtans, Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en wat Ek by Hom gehoor het, dit sê Ek vir die wêreld. ” Hulle het nie begryp dat Hy met hulle oor die Vader gepraat het nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Wanneer julle die •Seun van die Mens verhoog het, dan sal julle begryp dat Ek Is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar hierdie dinge sê net soos die Vader My geleer het. En Hy wat My gestuur het, is met My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat vir Hom aanneemlik is.” Terwyl Hy hierdie dinge sê, het baie in Hom begin glo.
JOHANNES 8:21-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Jesus weer vir hulle: Ek gaan weg, en julle sal My soek en in julle sondes sterwe; waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. Toe sê die Jode: Sal hy homself doodmaak? want Hy sê: Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. En Hy sê vir hulle: Julle is van onder; Ek is van bo; julle is van hierdie wêreld; Ek is nie van hierdie wêreld nie. Ek het dan vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe. Toe sê hulle vir hom: Wie is jy? En Jesus sê vir hulle: Net soos Ek van die begin af vir julle gesê het. Ek het baie dinge om oor julle te sê en te oordeel, maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig; en Ek spreek tot die wêreld wat Ek van Hom gehoor het. Hulle het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. Toe sê Jesus vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is en dat Ek niks uit Myself doen nie; maar soos my Vader My geleer het, spreek Ek hierdie dinge. En Hy wat My gestuur het, is by My; die Vader het My nie alleen gelaat nie; want ek doen altyd die dinge wat hom behaag. Terwyl Hy hierdie woorde gespreek het, het baie in Hom geglo.
JOHANNES 8:21-30 Die Boodskap (DB)
Jesus het verder op sy stelling uitgebrei. “Soos Ek gesê het, Ek gaan weg. Al probeer julle hoe hard, sal julle nie kan kom waar Ek heen gaan nie. En weet julle hoekom nie? Omdat julle te ongehoorsaam aan God is. Daarom sal julle sonder God doodgaan.” Die Jode vra toe onder mekaar: “Hierdie praatjies dat hy kwansuis na ’n plek toe gaan waar ons nie kan kom nie, klink maar verdag. Is hy dan van plan om selfmoord te pleeg?” “Julle is kinders van hierdie ou aarde. In hierdie wêreld is julle wortels ingeslaan. My wortels lê egter nie in hierdie wêreld ingeslaan nie. Nee, Ek kom uit die hemel. Daarom kan Ek vir julle sê dat julle besig is om God heeltemal mis te loop. Glo in My. Glo dat Ek is wie Ek sê Ek is. Anders gaan julle sonder God sterf. Elke sonde wat julle gedoen het, sal dan teen julle tel.” “Wie ís jy presies?” wou hulle toe weet. “Ai, moet Ek alles nou weer sê? Ek sê dit nog die hele tyd vir julle,” antwoord Jesus hulle toe. “As Ek darem vir julle moes sê wat Ek van julle dink, sou Ek julle nogal ’n rukkie kon besig hou. Maar daar is belangriker dinge. Ek praat liewer met julle oor die dinge wat Ek by my Vader gehoor het. Hy het My gestuur om dit te doen. En omdat Ek dit by Hom gehoor het, kan julle dit maar glo, want Hy is absoluut betroubaar.” (Dit het nie tot die Jode deurgedring dat Jesus van die hemelse Vader praat nie.) Jesus het aangegaan: “Wanneer Ek aan die kruis opgelig word, sal julle besef dat Ek werklik is wie Ek sê Ek is. Ek doen nie hierdie dinge uit my eie nie. Ek suig dit ook nie uit my duim nie. Ek sê slegs wat my Vader vir My gesê het. Die Vader laat My ook nie alleen nie. Hy het My gestuur en daarom bly Hy by My. Van my kant af probeer Ek altyd weer my uiterste bes vir Hom.” Hierdie argumente het baie mense oortuig. Hulle het Hom en sy boodskap begin aanvaar.
JOHANNES 8:21-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde doodgaan. Waarheen Ek gaan, kan julle nie nou kom nie.” Die Jode het reageer: “Hy gaan tog nie homself om die lewe bring nie – omdat hy sê: ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie’?” Toe het Hy vir hulle gesê: “Julle is van hieronder. Ek is van daarbo. Julle het julle oorsprong uit hierdie wêreld; Ek het my oorsprong nie uit hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê dat julle sal sterf in julle sondes, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes doodgaan.” Hulle vra Hom: “Wie is jy nou eintlik?” Jesus se antwoord was: “Wat het Ek vir julle gesê van die heel begin af? Ek het baie oor julle te sê, en ’n oordeel oor julle uit te spreek, maar Hy wat My gestuur het, is eg en wat Ek by Hom gehoor het, dit deel Ek aan die wêreld mee.” Hulle het nie verstaan dat Hy besig was om die Vader met hulle te bespreek nie. Jesus het daarop vir hulle gesê: “Eers as julle My, die Seun van die Mens, verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is; en dat Ek uit my eie niks doen nie, maar net praat soos die Vader My onderrig het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie verlaat nie omdat Ek altyd die dinge doen waarvan Hy hou.” Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het daar baie mense in Hom begin glo.