JOHANNES 8:12-36

JOHANNES 8:12-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.” Toe vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie. Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het toe gesê: “Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?” Toe sê Hy vir hulle: “Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.” Hulle vra Hom toe: “Wie is jy?” Jesus het hulle geantwoord: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle? Ek kan baie dinge oor julle sê en 'n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.” Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.” Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom. Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?” Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees.

JOHANNES 8:12-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Verder, by ’n ander geleentheid, het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs het toe vir Hom gesê: “Jy getuig oor jouself; daarom is jou getuienis nie geldig nie.” Jesus het reageer: “As Ek oor Myself getuig, is my getuienis geldig omdat Ek weet waarvandaan Ek gekom het en waarheen Ek teruggaan. Julle weet egter nie waarvandaan Ek kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. As Ek egter oordeel, is my oordeel geldig omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. In julle wet is dit opgeskryf dat die getuienis van twee persone geldig is. Dit is Ek wat oor Myself getuig, asook die Vader wat My gestuur het, wat oor My getuig.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Waar is jou vader?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” Jesus het hierdie stellings gemaak in die skatkamer van die tempel terwyl Hy besig was om in die tempel te onderrig. Niemand het Hom egter gearresteer nie omdat sy tyd nog nie aangebreek het nie. Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde doodgaan. Waarheen Ek gaan, kan julle nie nou kom nie.” Die Jode het reageer: “Hy gaan tog nie homself om die lewe bring nie – omdat hy sê: ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie’?” Toe het Hy vir hulle gesê: “Julle is van hieronder. Ek is van daarbo. Julle het julle oorsprong uit hierdie wêreld; Ek het my oorsprong nie uit hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê dat julle sal sterf in julle sondes, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes doodgaan.” Hulle vra Hom: “Wie is jy nou eintlik?” Jesus se antwoord was: “Wat het Ek vir julle gesê van die heel begin af? Ek het baie oor julle te sê, en ’n oordeel oor julle uit te spreek, maar Hy wat My gestuur het, is eg en wat Ek by Hom gehoor het, dit deel Ek aan die wêreld mee.” Hulle het nie verstaan dat Hy besig was om die Vader met hulle te bespreek nie. Jesus het daarop vir hulle gesê: “Eers as julle My, die Seun van die Mens, verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is; en dat Ek uit my eie niks doen nie, maar net praat soos die Vader My onderrig het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie verlaat nie omdat Ek altyd die dinge doen waarvan Hy hou.” Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het daar baie mense in Hom begin glo. Toe het Jesus vir die Jode wat tot geloof in Hom gekom het, gesê: “As julle in ’n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die afstammelinge van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe sê jy dan: ‘Julle sal bevry word’?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat aanhou sonde doen, is ’n slaaf van die sonde. Die slaaf bly tog nie vir altyd in die huis nie; die seun bly wel vir altyd. As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.

JOHANNES 8:12-36 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het weer met die mense gepraat. Hy het gesê: “Ek is die lig vir die mense van die wêreld. Elkeen wat My volg, sal nie in die donker loop nie. Hy sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Jy praat oor jouself. Ons kan nie glo wat jy oor jouself sê nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Ja, Ek praat oor Myself, maar wat Ek oor Myself sê, is waar, want Ek weet van waar Ek kom en waarnatoe Ek gaan. Julle weet nie van waar Ek kom of waarnatoe Ek gaan nie. Julle kyk na mense se buitekant en dan oordeel julle die mense. Ek oordeel niemand nie. Wanneer Ek mense oordeel, dan oordeel Ek reg, want dit is nie Ek alleen wat oordeel nie. Dit is Ek en die Vader wat oordeel, die Vader wat My na die wêreld gestuur het. In julle wette is daar geskryf dat wanneer twee mense dieselfde sê oor iemand, dan is dit waar. En daar is twee wat dieselfde dinge sê oor My: Dit is Ek en die Vader wat My na die wêreld gestuur het.” Die mense vra toe vir Jesus: “Waar is jou vader?” Jesus het gesê: “Julle ken My nie. Julle ken ook nie my Vader nie. Omdat julle My nie ken nie, ken julle ook nie my Vader nie.” Jesus het dit alles gesê toe Hy vir die mense by die dankoffer-kis in die tempel geleer het. Niemand het Hom gevang nie, want dit was nog nie sy tyd nie. Jesus het weer met die Jode gepraat. Hy het gesê: “Ek gaan weg. Julle sal My soek, maar julle sal My nie kry nie. Julle is sondaars, en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het gesê: “Hy sê ons kan nie kom waar hy gaan nie. Wil hy homself doodmaak? Ons dink nie hy sal dit doen nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle kom van die aarde, maar Ek kom van die hemel. Ja, julle is mense van hierdie wêreld, maar Ek is nie van hierdie wêreld nie. Ek het vir julle gesê julle is sondaars en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. As julle nie glo dat Ek God is nie, dan sal julle nog sondaars wees wanneer julle sterf.” Die Jode vra toe vir Hom: “Wie is jy?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek kan met julle praat, maar dit sal nie help nie. Ek kan nog baie ander dinge oor julle sê en Ek kan julle oordeel. Hy wat My na die wêreld gestuur het, doen reg. Ek vertel vir die mense van die wêreld alles wat Ek by Hom gehoor het.” Die Jode het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader in die hemel praat nie. Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle My, die Seun van die mens, aan die kruis opgehang het, dan sal julle besef dat Ek ook God is. Dan sal julle weet Ek, die Seun, doen nie self dinge nie. Nee, Ek sê net wat die Vader vir My geleer het. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelos nie, want Ek doen altyd die dinge waarvan Hy hou.” Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het baie Jode in Hom begin glo. Jesus het vir die Jode wat in Hom glo, gesê: “As julle glo en doen wat Ek sê, dan sal julle regtig my dissipels wees. Dan sal julle weet wat die waarheid is, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle sê toe vir Jesus: “Ons is die nageslag van Abraham. Ons was nog nooit iemand se slawe nie. Hoekom sê jy ons sal vry word?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As 'n mens sonde doen, dan is hy 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie altyd by die familie nie, maar 'n seun bly altyd een van die familie. As Ek, die Seun, julle vrymaak, dan sal julle regtig vry wees.

JOHANNES 8:12-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. Toe sê die Fariseërs vir Hom: U getuig van Uself; u getuienis is nie waar nie. Jesus antwoord en sê vir hulle: Al getuig Ek ook van Myself, my getuienis is waar, omdat Ek weet van waar Ek gekom het en waarheen Ek gaan. Maar julle weet nie van waar Ek kom en waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, my oordeel is waar, omdat Ek nie alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. En dit is ook in julle wet geskrywe dat die getuienis van twee mense waar is. Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. Hulle sê toe vir Hom: Waar is u Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. Hierdie woorde het Jesus gespreek by die skatkis terwyl Hy in die tempel geleer het. En niemand het Hom gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie. En Jesus het weer vir hulle gesê: Ek gaan weg, en julle sal My soek en in julle sonde sterwe. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. Toe sê die Jode: Hy sal Homself tog nie om die lewe bring nie, omdat Hy sê: Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie? En Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie. Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe. Toe sê hulle vir Hom: Wie is U dan? En Jesus antwoord hulle: Net dit wat Ek vir julle sê. Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig; en Ek, wat Ek van Hom gehoor het, dit spreek Ek tot die wêreld. Hulle het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader gespreek het nie. En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is. Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo. En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Hulle antwoord Hom: Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word? Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, 'n dienskneg van die sonde is. En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd. As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.

JOHANNES 8:12-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Die •Fariseërs het toe vir Hom gesê: “U getuig van uself; u getuienis is nie geloofwaardig nie.” Jesus het hulle geantwoord: “Selfs as Ek ook van Myself getuig, is my getuienis geloofwaardig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek gaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, is my oordeel geloofwaardig, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. En ook in julle Wet staan daar geskryf dat die getuienis van twee mense geloofwaardig is. Ek is die Een wat van Myself getuig, en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. ” Hulle vra Hom toe: “Waar is u vader?” Jesus antwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. ” Hierdie woorde het Hy gesê by die offergawekis terwyl Hy op die tempelterrein onderrig het. Niemand het Hom egter gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie. Jesus het toe weer vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, en in julle sonde sterf. Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het toe gesê: “Hy gaan homself tog nie doodmaak nie – omdat hy sê, ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie?’ ” Hy het vir hulle gesê: “Julle is van hier benede; Ek is van daarbo. Julle is van hierdie wêreld; Ek is nie van hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.” Hulle het toe vir Hom gevra: “Wie is u?” Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Ek van die begin af vir julle gesê? Ek het baie dinge om van julle te sê waaroor Ek julle kan oordeel; nogtans, Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en wat Ek by Hom gehoor het, dit sê Ek vir die wêreld. ” Hulle het nie begryp dat Hy met hulle oor die Vader gepraat het nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Wanneer julle die •Seun van die Mens verhoog het, dan sal julle begryp dat Ek Is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar hierdie dinge sê net soos die Vader My geleer het. En Hy wat My gestuur het, is met My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat vir Hom aanneemlik is.” Terwyl Hy hierdie dinge sê, het baie in Hom begin glo. Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie – hoe kan u sê, ‘Julle sal vry word?’ ” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. En die slaaf bly nie vir altyd in die huis nie, maar die seun bly vir altyd. As die •Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.

JOHANNES 8:12-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Jesus het toe weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig vir die wêreld; wie My volg, sal nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. Daarom sê die Fariseërs vir Hom: U getuig van Uself; jou rekord is nie waar nie. Jesus antwoord en sê vir hulle: Al getuig ek van myself, tog is my getuienis waar; want Ek weet vanwaar Ek gekom het en waarheen Ek gaan; maar julle kan nie sê waar ek vandaan kom en waarheen ek gaan nie. Julle oordeel na die vlees; Ek oordeel geen man nie. En as Ek oordeel, is my oordeel waar, want Ek is nie alleen nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. Daar is ook in u wet geskrywe dat die getuienis van twee manne waar is. Ek is een wat van Myself getuig, en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. Toe sê hulle vir hom: Waar is jou Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. Hierdie woorde het Jesus in die skatkis gespreek terwyl Hy in die tempel geleer het, en niemand het die hande aan Hom geslaan nie; want sy uur het nog nie gekom nie. Toe sê Jesus weer vir hulle: Ek gaan weg, en julle sal My soek en in julle sondes sterwe; waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. Toe sê die Jode: Sal hy homself doodmaak? want Hy sê: Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. En Hy sê vir hulle: Julle is van onder; Ek is van bo; julle is van hierdie wêreld; Ek is nie van hierdie wêreld nie. Ek het dan vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe. Toe sê hulle vir hom: Wie is jy? En Jesus sê vir hulle: Net soos Ek van die begin af vir julle gesê het. Ek het baie dinge om oor julle te sê en te oordeel, maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig; en Ek spreek tot die wêreld wat Ek van Hom gehoor het. Hulle het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. Toe sê Jesus vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is en dat Ek niks uit Myself doen nie; maar soos my Vader My geleer het, spreek Ek hierdie dinge. En Hy wat My gestuur het, is by My; die Vader het My nie alleen gelaat nie; want ek doen altyd die dinge wat hom behaag. Terwyl Hy hierdie woorde gespreek het, het baie in Hom geglo. Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, dan is julle waarlik my dissipels; En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Hulle antwoord hom: Ons is die nageslag van Abraham en was nooit aan iemand in slawerny nie; hoe sê jy: Julle sal vrygemaak word? Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat sonde doen, is die dienaar van die sonde. En die dienskneg bly nie vir ewig in die huis nie, maar die Seun bly vir altyd. As die Seun julle dan vry maak, sal julle waarlik vry wees.

JOHANNES 8:12-36 Die Boodskap (DB)

Jesus praat toe verder met die mense: “Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.” Die Fariseërs val Hom toe dadelik aan: “Jy praat darem baie oor jouself, nè? Dit is net ‘ek, ek’ die hele tyd. Iewers moet ’n skroef los wees! Al hierdie dinge wat jy sê, kan tog nie waar wees nie, want niemand anders sê dit nie, net jy.” “Al praat Ek ook oor Myself, kan julle maar glo wat Ek sê, want dit is die waarheid. Is dit regtig so dat iets ’n leuen is as iemand dit oor homself sê? Is dit nie baie belangriker om liewer te vra of ’n mens die persoon kan glo wat dit sê nie? Nou ja, julle kyk die Persoon mis. Julle besef glad nie wie Ek is nie. Julle het nie ’n idee waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Ek weet dit egter. Tipies mens kyk julle net deur menslike oë. Ek sien en beoordeel dinge anders. “As Ek egter dinge oor mense sê, kan julle maar weet: alles wat Ek sê, is waar. Selfs ’n regter in ’n hof sal dit moet toegee. Daar is immers twee van ons wat die waarheid daarvan waarborg. Daar is natuurlik Ek en my Vader wat My gestuur het. Julle eie wet sê mos dat as twee mense dieselfde sê, die regter dit ernstig moet opneem. Nou ja, Ek praat wel oor Myself, maar my Vader wat My gestuur het, bevestig dat alles waar is wat Ek sê.” “Nou toe, waar’s jou pa? Wys hom vir ons!” sê hulle toe. “Julle het nie ’n benul wat julle vra nie. Julle weet nie wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is. As julle geweet het wie Ek is, sou julle ook dadelik geweet het wie my Vader is,” kom dit toe van Jesus. Hierdie gesprek het plaasgevind by die plek waar mense hulle bydraes vir die tempel kom inbetaal het. Ten spyte van hulle wraakplanne het die Jode nie eens probeer om die polisie te roep om Hom te kom vang nie. God het besluit dat die tyd daarvoor nog nie ryp was nie. Jesus het verder op sy stelling uitgebrei. “Soos Ek gesê het, Ek gaan weg. Al probeer julle hoe hard, sal julle nie kan kom waar Ek heen gaan nie. En weet julle hoekom nie? Omdat julle te ongehoorsaam aan God is. Daarom sal julle sonder God doodgaan.” Die Jode vra toe onder mekaar: “Hierdie praatjies dat hy kwansuis na ’n plek toe gaan waar ons nie kan kom nie, klink maar verdag. Is hy dan van plan om selfmoord te pleeg?” “Julle is kinders van hierdie ou aarde. In hierdie wêreld is julle wortels ingeslaan. My wortels lê egter nie in hierdie wêreld ingeslaan nie. Nee, Ek kom uit die hemel. Daarom kan Ek vir julle sê dat julle besig is om God heeltemal mis te loop. Glo in My. Glo dat Ek is wie Ek sê Ek is. Anders gaan julle sonder God sterf. Elke sonde wat julle gedoen het, sal dan teen julle tel.” “Wie ís jy presies?” wou hulle toe weet. “Ai, moet Ek alles nou weer sê? Ek sê dit nog die hele tyd vir julle,” antwoord Jesus hulle toe. “As Ek darem vir julle moes sê wat Ek van julle dink, sou Ek julle nogal ’n rukkie kon besig hou. Maar daar is belangriker dinge. Ek praat liewer met julle oor die dinge wat Ek by my Vader gehoor het. Hy het My gestuur om dit te doen. En omdat Ek dit by Hom gehoor het, kan julle dit maar glo, want Hy is absoluut betroubaar.” (Dit het nie tot die Jode deurgedring dat Jesus van die hemelse Vader praat nie.) Jesus het aangegaan: “Wanneer Ek aan die kruis opgelig word, sal julle besef dat Ek werklik is wie Ek sê Ek is. Ek doen nie hierdie dinge uit my eie nie. Ek suig dit ook nie uit my duim nie. Ek sê slegs wat my Vader vir My gesê het. Die Vader laat My ook nie alleen nie. Hy het My gestuur en daarom bly Hy by My. Van my kant af probeer Ek altyd weer my uiterste bes vir Hom.” Hierdie argumente het baie mense oortuig. Hulle het Hom en sy boodskap begin aanvaar. Jesus sê toe vir hierdie Jode wat hulle vertroue in Hom begin stel: “Julle is regtig my volgelinge as julle glo wat Ek sê. Hou vas daaraan en leef daarvolgens. So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is. En hoe meer julle dit ontdek, hoe meer sal julle word wat God julle gemaak het, vry mense.” Die Jode kap toe vinnig terug: “Ons is die nageslag van Abraham. Niemand kon nog ooit ons vryheid van ons wegneem nie. Waar kom jy daaraan dat ons nou skielik vry moet word?” “Dis eenvoudig: as jy sonde doen, is jy tog ’n slaaf; die sonde se slaaf, nie waar nie?” sê Jesus. “’n Slaaf is nie ’n permanente lid van die familie nie. ’n Seun bly egter altyd ’n kind in die gesin. Die seun is dus die een wat vir altyd julle vryheid in die gesin kan waarborg, want hy is altyd daar. As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry.

JOHANNES 8:12-36

JOHANNES 8:12-36 AFR83JOHANNES 8:12-36 AFR83JOHANNES 8:12-36 AFR83