JOHANNES 8:1-59

JOHANNES 8:1-59 Bybel vir almal (ABA)

maar Jesus het na die Olyf-berg gegaan. Vroeg die volgende oggend het Hy weer na die tempel gegaan. Al die mense het na Jesus toe gekom. Hy het gaan sit en Hy het vir hulle geleer. Iemand het gesien 'n vrou pleeg egbreuk. Hy het dit vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs vertel. Hulle het die vrou na Jesus toe gebring en hulle het haar laat staan waar almal haar kon sien. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, iemand het gesien hierdie vrou pleeg egbreuk. Die Wette van Moses sê ons moet vroue wat dit doen, doodgooi met klippe. Wat sê jy, wat moet ons doen?” Hulle het dit vir Jesus gevra, want hulle wou hê Hy moes iets sê wat verkeerd is, dan kon hulle Hom daaroor beskuldig by die Joodse Raad. Maar Jesus het gebuk en Hy het met sy vinger op die grond geskryf. Hulle het aangehou om vir Jesus te vra wat Hy dink hulle moet doen. Toe het Jesus opgestaan en Hy het vir hulle gesê: “As daar een van julle is wat nog nooit sonde gedoen het nie, dan moet hy haar eerste met 'n klip gooi!” Jesus het weer gebuk en Hy het op die grond geskryf. Toe die mense hoor wat Jesus sê, het hulle almal weggegaan. Die leiers het eerste weggegaan, en toe het die ander mense begin weggaan. Net Jesus het daar gebly en die vrou het nog voor Hom gestaan. Jesus het regop gestaan en Hy het vir die vrou gevra: “Mevrou, waar is die mense wat jou beskuldig het? Het iemand gesê die mense moet jou doodgooi met klippe?” Sy het gesê: “Nee, niemand nie, Here.” Jesus het vir haar gesê: “Ek doen dit ook nie. Jy mag gaan, maar jy moenie weer die sonde doen nie.”] Jesus het weer met die mense gepraat. Hy het gesê: “Ek is die lig vir die mense van die wêreld. Elkeen wat My volg, sal nie in die donker loop nie. Hy sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Jy praat oor jouself. Ons kan nie glo wat jy oor jouself sê nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Ja, Ek praat oor Myself, maar wat Ek oor Myself sê, is waar, want Ek weet van waar Ek kom en waarnatoe Ek gaan. Julle weet nie van waar Ek kom of waarnatoe Ek gaan nie. Julle kyk na mense se buitekant en dan oordeel julle die mense. Ek oordeel niemand nie. Wanneer Ek mense oordeel, dan oordeel Ek reg, want dit is nie Ek alleen wat oordeel nie. Dit is Ek en die Vader wat oordeel, die Vader wat My na die wêreld gestuur het. In julle wette is daar geskryf dat wanneer twee mense dieselfde sê oor iemand, dan is dit waar. En daar is twee wat dieselfde dinge sê oor My: Dit is Ek en die Vader wat My na die wêreld gestuur het.” Die mense vra toe vir Jesus: “Waar is jou vader?” Jesus het gesê: “Julle ken My nie. Julle ken ook nie my Vader nie. Omdat julle My nie ken nie, ken julle ook nie my Vader nie.” Jesus het dit alles gesê toe Hy vir die mense by die dankoffer-kis in die tempel geleer het. Niemand het Hom gevang nie, want dit was nog nie sy tyd nie. Jesus het weer met die Jode gepraat. Hy het gesê: “Ek gaan weg. Julle sal My soek, maar julle sal My nie kry nie. Julle is sondaars, en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het gesê: “Hy sê ons kan nie kom waar hy gaan nie. Wil hy homself doodmaak? Ons dink nie hy sal dit doen nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle kom van die aarde, maar Ek kom van die hemel. Ja, julle is mense van hierdie wêreld, maar Ek is nie van hierdie wêreld nie. Ek het vir julle gesê julle is sondaars en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. As julle nie glo dat Ek God is nie, dan sal julle nog sondaars wees wanneer julle sterf.” Die Jode vra toe vir Hom: “Wie is jy?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek kan met julle praat, maar dit sal nie help nie. Ek kan nog baie ander dinge oor julle sê en Ek kan julle oordeel. Hy wat My na die wêreld gestuur het, doen reg. Ek vertel vir die mense van die wêreld alles wat Ek by Hom gehoor het.” Die Jode het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader in die hemel praat nie. Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle My, die Seun van die mens, aan die kruis opgehang het, dan sal julle besef dat Ek ook God is. Dan sal julle weet Ek, die Seun, doen nie self dinge nie. Nee, Ek sê net wat die Vader vir My geleer het. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelos nie, want Ek doen altyd die dinge waarvan Hy hou.” Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het baie Jode in Hom begin glo. Jesus het vir die Jode wat in Hom glo, gesê: “As julle glo en doen wat Ek sê, dan sal julle regtig my dissipels wees. Dan sal julle weet wat die waarheid is, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle sê toe vir Jesus: “Ons is die nageslag van Abraham. Ons was nog nooit iemand se slawe nie. Hoekom sê jy ons sal vry word?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As 'n mens sonde doen, dan is hy 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie altyd by die familie nie, maar 'n seun bly altyd een van die familie. As Ek, die Seun, julle vrymaak, dan sal julle regtig vry wees. Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat julle nie wil glo wat Ek sê nie. Ek sê vir julle wat Ek by mý Vader gesien het. Julle doen wat julle by júlle vader gehoor het.” Die Jode het vir Jesus gesê: “Abraham is ons vader.” Jesus sê vir hulle: “As julle kinders van Abraham is, dan sal julle doen wat Abraham gedoen het. Maar nou wil julle My doodmaak, en dit is Ek wat vir julle die waarheid vertel het wat Ek by God gehoor het. Abraham het nie dit gedoen nie. Nee, julle doen dinge wat julle vader doen.” Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons is nie buite-egtelike kinders nie. Ons het net een Vader. Dit is God!” Jesus het vir hulle gesê: “God is nie julle Vader nie, want julle is nie lief vir My nie. Ek het van God gekom en Ek is nou hier by julle. Ek het nie self besluit om te kom nie. Nee, God het My na die wêreld gestuur. Hoekom verstaan julle nie wat Ek vir julle sê nie? Dit is omdat julle nie regtig wil luister na wat Ek sê nie. Die duiwel is julle vader en julle wil doen wat hy wil hê julle moet doen. Van die begin van die wêreld maak die duiwel mense dood. Hy praat nie die waarheid nie, want hy weet niks van die waarheid nie. Die duiwel lieg altyd, hy kan niks anders doen nie. Hy lieg en hy laat mense lieg. Julle glo My nie, want Ek praat die waarheid. Kan een van julle bewys dat Ek 'n sondaar is? Nee, julle kan nie. Hoekom glo julle My nie wanneer Ek die waarheid praat nie? Iemand wat aan God behoort, luister na wat God sê. Julle luister nie na wat Hy sê nie, want julle behoort nie aan God nie.” Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons is reg wanneer ons sê jy is 'n Samaritaan en dit is 'n duiwel wat jou so laat praat.” Jesus het gesê: “Nee, dit is nie 'n duiwel wat My so laat praat nie. Ek eer my Vader, maar julle eer My nie. Dit is nie Ek wat wil hê julle moet sê Ek is belangrik nie. Dit is my Vader wat wil hê julle moet sê Ek is belangrik. Dit is Hý wat mense oordeel. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand doen wat Ek sê, dan sal hy nooit sterf nie.” Toe sê die Jode vir Jesus: “Nou weet ons dit is 'n duiwel wat jou so laat praat. Abraham het gesterf en die profete het gesterf. Maar nou sê jy as iemand doen wat jy sê, dan sal hy nooit sterf nie. Jy is nie belangriker as Abraham nie, en hy het gesterf. Jy is ook nie belangriker as die profete nie, en hulle het gesterf. Moenie dink jy is so belangrik nie!” Jesus het gesê: “Ek sê nie self Ek is belangrik nie, want as Ek dit sê, dan beteken my woorde niks. Die Vader sê Ek is belangrik, dié Vader vir wie julle sê: ‘Ons God.’ Maar julle ken nie die Vader nie. Ek ken Hom. Ek kan nie sê dat Ek Hom nie ken nie. As Ek sê Ek ken Hom nie, dan praat Ek nie die waarheid nie, soos julle. Nee, Ek ken die Vader en Ek doen wat Hy sê. Julle vader Abraham was baie bly toe hy gesien het dat Ek sal kom. Hy het dit gesien en hy was baie bly.” Die Jode het vir Jesus gesê: “Dit is nie waar nie. Jy het nie vir Abraham gesien nie. Jy is nog jonk, jy is nog nie 50 jaar oud nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is God, ook voordat Abraham gelewe het.” Toe het die Jode klippe opgetel om Jesus dood te gooi, maar Hy het stilletjies weggegaan uit die tempel.

JOHANNES 8:1-59 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR Jesus het na die Olyfberg gegaan. En vroeg in die môre het Hy weer in die tempel gegaan, en al die mense het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle geleer. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het 'n vrou wat in egbreuk betrap was, na Hom gebring. En toe hulle haar tussen hulle in laat staan het, sê hulle vir Hom: Meester, hierdie vrou is op 'n daad van egbreuk betrap; en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U? En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig; maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe. Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi. En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe. En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het. En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie. EN Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. Toe sê die Fariseërs vir Hom: U getuig van Uself; u getuienis is nie waar nie. Jesus antwoord en sê vir hulle: Al getuig Ek ook van Myself, my getuienis is waar, omdat Ek weet van waar Ek gekom het en waarheen Ek gaan. Maar julle weet nie van waar Ek kom en waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, my oordeel is waar, omdat Ek nie alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. En dit is ook in julle wet geskrywe dat die getuienis van twee mense waar is. Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. Hulle sê toe vir Hom: Waar is u Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. Hierdie woorde het Jesus gespreek by die skatkis terwyl Hy in die tempel geleer het. En niemand het Hom gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie. En Jesus het weer vir hulle gesê: Ek gaan weg, en julle sal My soek en in julle sonde sterwe. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. Toe sê die Jode: Hy sal Homself tog nie om die lewe bring nie, omdat Hy sê: Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie? En Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie. Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe. Toe sê hulle vir Hom: Wie is U dan? En Jesus antwoord hulle: Net dit wat Ek vir julle sê. Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig; en Ek, wat Ek van Hom gehoor het, dit spreek Ek tot die wêreld. Hulle het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader gespreek het nie. En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is. Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo. En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Hulle antwoord Hom: Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word? Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, 'n dienskneg van die sonde is. En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd. As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees. Ek weet dat julle die geslag van Abraham is; maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie. Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen ook wat julle by jul vader gesien het. Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie. Julle doen die werke van jul vader. Toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God. En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie. Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie? Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie. Die Jode antwoord toe en sê vir Hom: Sê ons nie met reg dat U 'n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie? Jesus antwoord: Ek is nie van die duiwel besete nie; maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. En Ek soek nie my eer nie; daar is Een wat dit soek en wat oordeel. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie. Toe sê die Jode vir Hom: Nou weet ons dat U van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete, en U sê: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie. Is U dan groter as ons vader Abraham wat gesterf het? En die profete het gesterwe. Vir wie gee U Uself uit? Jesus antwoord: As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is. En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en bewaar sy woord. Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly. Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien? Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.

JOHANNES 8:1-59 Afrikaans 1983 (AFR83)

maar Jesus het na die Olyfberg toe gegaan. Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi.” Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” “Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.” Toe vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie. Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het toe gesê: “Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?” Toe sê Hy vir hulle: “Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.” Hulle vra Hom toe: “Wie is jy?” Jesus het hulle geantwoord: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle? Ek kan baie dinge oor julle sê en 'n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.” Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.” Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom. Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?” Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees. Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat my woorde nie ingang by julle vind nie. Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.” Hulle het vir Hom gesê: “Ons vader is Abraham.” Daarop sê Jesus vir hulle: “As julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. Maar nou wil julle My doodmaak, vir My wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle verkondig. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. Julle doen wat julle vader gedoen het.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God.” Maar Jesus sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom, en hier is Ek nou. Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hý het My gestuur. Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my boodskap nie kán verstaan nie! Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen. En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie. Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie? Wie 'n kind van God is, luister na die woorde van God. Juis daarom luister julle nie, omdat julle nie kinders van God is nie.” Die Jode het toe vir Hom gesê: “Ons het mos gesê jy is 'n Samaritaan en van die duiwel besete!” Jesus het geantwoord: “Ek is nie van die duiwel besete nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. Ek soek egter nie na eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter. Dít verseker Ek julle: As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.” Die Jode sê toe vir Hom: “Nou is ons seker dat jy van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete ook, en tog sê jy: ‘As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.’ Jy is tog nie groter as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterwe. Wie verbeel jy jou is jy?” Maar Jesus antwoord: “As Ek Myself verheerlik, beteken my heerlikheid niks. Dit is my Vader wat My verheerlik. Julle sê: ‘Hy is ons God,’ en tog ken julle Hom nie. Maar Ek ken Hom. As Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek neem sy woorde ter harte. Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.” Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie eens vyftig jaar oud nie, en het jy vir Abraham gesien?” Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.” Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Maar Jesus het gaan skuil en van die tempel af weggegaan.

JOHANNES 8:1-59 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

maar Jesus het na die Olyfberg gegaan. Vroeg die oggend het Hy weer by die tempelterrein aangekom. Die hele volk het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle geleer. Die skrifkenners en die •Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel staan. Hulle sê toe vir Hom: “Meester, hierdie vrou is op heterdaad betrap terwyl sy owerspel pleeg. In die •wet het Moses ons beveel om sulke vroue te stenig. Maar u, wat sê u?” Dit het hulle gesê om Hom te toets, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. Toe hulle egter volhou met hulle vrae aan Hom, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste 'n klip na haar gooi.” Hy het weer afgebuk en op die grond geskryf. Dié wat dit gehoor het, het een vir een, van die oudste af, weggegaan – net Hy het oorgebly, en die vrou daar in die middel. Jesus het toe regop gekom en vir haar gevra: “Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?” Sy antwoord: “Niemand nie, meneer. ” Jesus sê toe: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie. ” Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Die •Fariseërs het toe vir Hom gesê: “U getuig van uself; u getuienis is nie geloofwaardig nie.” Jesus het hulle geantwoord: “Selfs as Ek ook van Myself getuig, is my getuienis geloofwaardig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek gaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, is my oordeel geloofwaardig, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. En ook in julle Wet staan daar geskryf dat die getuienis van twee mense geloofwaardig is. Ek is die Een wat van Myself getuig, en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. ” Hulle vra Hom toe: “Waar is u vader?” Jesus antwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. ” Hierdie woorde het Hy gesê by die offergawekis terwyl Hy op die tempelterrein onderrig het. Niemand het Hom egter gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie. Jesus het toe weer vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, en in julle sonde sterf. Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.” Die Jode het toe gesê: “Hy gaan homself tog nie doodmaak nie – omdat hy sê, ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie?’ ” Hy het vir hulle gesê: “Julle is van hier benede; Ek is van daarbo. Julle is van hierdie wêreld; Ek is nie van hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.” Hulle het toe vir Hom gevra: “Wie is u?” Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Ek van die begin af vir julle gesê? Ek het baie dinge om van julle te sê waaroor Ek julle kan oordeel; nogtans, Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en wat Ek by Hom gehoor het, dit sê Ek vir die wêreld. ” Hulle het nie begryp dat Hy met hulle oor die Vader gepraat het nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Wanneer julle die •Seun van die Mens verhoog het, dan sal julle begryp dat Ek Is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar hierdie dinge sê net soos die Vader My geleer het. En Hy wat My gestuur het, is met My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat vir Hom aanneemlik is.” Terwyl Hy hierdie dinge sê, het baie in Hom begin glo. Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie – hoe kan u sê, ‘Julle sal vry word?’ ” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. En die slaaf bly nie vir altyd in die huis nie, maar die seun bly vir altyd. As die •Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees. Ek weet dat julle die nageslag van Abraham is, maar julle probeer My doodmaak, omdat julle geen ruimte vir my woord in julle laat nie. Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het, maar julle tree op volgens dit wat julle by julle vader gehoor het.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons vader is Abraham.” Jesus sê vir hulle: “As julle werklik kinders van Abraham was, sou julle die dade van Abraham gedoen het. Maar nou probeer julle My doodmaak – vir My, wat die waarheid wat Ek by God gehoor het aan julle verkondig. Dit het Abraham nie gedoen nie. Julle doen die dade van júlle vader.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Ons is nie uit hoerery gebore nie. Ons het een Vader, naamlik God. ” Jesus het vir hulle gesê: “As God julle Vader was, sou julle My liefgehad het, want Ek het van God af uitgegaan en nou is Ek hier. Ek het ook nie uit my eie gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my woorde nie werklik kan hoor nie. Julle kom van julle vader, die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af 'n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy 'n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar en die vader daarvan is. Maar omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie. Wie van julle kan sonde by My uitwys? As Ek die waarheid praat, waarom glo julle My nie? Hy wat uit God is, luister na die woorde van God. Dit is waarom julle nie luister nie, omdat julle nie uit God is nie.” Die Jode het Hom geantwoord: “Het ons nie met reg gesê dat jy 'n Samaritaan is en 'n demoon het nie? ” Daarop sê Jesus: “Ek het nie 'n demoon nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. Ek is nie op soek na eie verheerliking nie; daar is Een wat dit wel vereis, en Hy beslis daaroor. Amen, amen, Ek sê vir julle: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood tot in ewigheid nie sien nie.” Die Jode het toe vir Hom gesê: “Nou weet ons vir seker dat jy 'n demoon het. Abraham het gesterf en ook die profete, en tog sê jy, ‘As iemand my woord bewaar, sal hy die dood tot in ewigheid nie smaak nie. ’ Jy is tog nie belangriker as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterf. Vir wie gee jy jou uit?” Jesus het geantwoord: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks werd nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, Hy van wie julle sê, ‘Hy is ons God.’ Julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom. En as Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek bewaar sy woord. Abraham, julle vader, het daaroor gejubel dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.” Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie vyftig jaar oud nie, en jy het Abraham gesien?” Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle, Ek Is al van voordat Abraham gebore is. ” Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig, maar Jesus het hulle ontduik en die tempelterrein verlaat.

JOHANNES 8:1-59 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Jesus het na die Olyfberg gegaan. En die môre vroeg het hy weer in die tempel gekom, en die hele volk het na hom gekom; en hy het gaan sit en hulle geleer. En die skrifgeleerdes en Fariseërs het 'n vrou na Hom gebring wat op owerspel betrap is; en toe hulle haar in die middel gestel het, Hulle sê vir Hom: Meester, hierdie vrou is op 'n daad op owerspel gevang. En Moses het ons in die wet beveel dat sulkes gestenig moet word; maar wat sê jy? Dit het hulle gesê om hom te versoek, sodat hulle hom kon aankla. Maar Jesus het vooroor gebuk en met sy vinger op die grond geskryf asof Hy dit nie hoor nie. En toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy homself opgehef en vir hulle gesê: Wie onder julle sonder sonde is, laat hom eers 'n klip op haar gooi. En hy het weer gebuk en op die grond geskryf. En die wat dit gehoor het, deur hulle eie gewete oortuig, het een vir een uitgegaan, begin by die oudste tot die laaste toe; Toe Jesus homself opgehef het en niemand anders as die vrou sien nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie aanklaers van jou? het niemand jou veroordeel nie? Sy het gesê: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie; gaan en sondig nie meer nie. Jesus het toe weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig vir die wêreld; wie My volg, sal nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. Daarom sê die Fariseërs vir Hom: U getuig van Uself; jou rekord is nie waar nie. Jesus antwoord en sê vir hulle: Al getuig ek van myself, tog is my getuienis waar; want Ek weet vanwaar Ek gekom het en waarheen Ek gaan; maar julle kan nie sê waar ek vandaan kom en waarheen ek gaan nie. Julle oordeel na die vlees; Ek oordeel geen man nie. En as Ek oordeel, is my oordeel waar, want Ek is nie alleen nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. Daar is ook in u wet geskrywe dat die getuienis van twee manne waar is. Ek is een wat van Myself getuig, en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. Toe sê hulle vir hom: Waar is jou Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. Hierdie woorde het Jesus in die skatkis gespreek terwyl Hy in die tempel geleer het, en niemand het die hande aan Hom geslaan nie; want sy uur het nog nie gekom nie. Toe sê Jesus weer vir hulle: Ek gaan weg, en julle sal My soek en in julle sondes sterwe; waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. Toe sê die Jode: Sal hy homself doodmaak? want Hy sê: Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie. En Hy sê vir hulle: Julle is van onder; Ek is van bo; julle is van hierdie wêreld; Ek is nie van hierdie wêreld nie. Ek het dan vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe. Toe sê hulle vir hom: Wie is jy? En Jesus sê vir hulle: Net soos Ek van die begin af vir julle gesê het. Ek het baie dinge om oor julle te sê en te oordeel, maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig; en Ek spreek tot die wêreld wat Ek van Hom gehoor het. Hulle het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. Toe sê Jesus vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is en dat Ek niks uit Myself doen nie; maar soos my Vader My geleer het, spreek Ek hierdie dinge. En Hy wat My gestuur het, is by My; die Vader het My nie alleen gelaat nie; want ek doen altyd die dinge wat hom behaag. Terwyl Hy hierdie woorde gespreek het, het baie in Hom geglo. Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, dan is julle waarlik my dissipels; En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Hulle antwoord hom: Ons is die nageslag van Abraham en was nooit aan iemand in slawerny nie; hoe sê jy: Julle sal vrygemaak word? Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat sonde doen, is die dienaar van die sonde. En die dienskneg bly nie vir ewig in die huis nie, maar die Seun bly vir altyd. As die Seun julle dan vry maak, sal julle waarlik vry wees. Ek weet dat julle die nageslag van Abraham is; maar julle probeer om My dood te maak, want my woord het geen plek in julle nie. Ek spreek wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen wat julle by julle vader gesien het. Hulle antwoord en sê vir hom: Abraham is ons vader. Jesus sê vir hulle: As julle Abraham se kinders was, sou julle die werke van Abraham doen. Maar nou soek julle om My dood te maak, 'n man wat vir julle die waarheid vertel het wat ek van God gehoor het; dit het Abraham nie gedoen nie. Julle doen die werke van julle vader. Toe sê hulle vir hom: Ons is nie uit hoerery gebore nie; ons het een Vader, naamlik God. Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uitgegaan en van God gekom; en ek het nie uit myself gekom nie, maar Hy het my gestuur. Waarom verstaan julle nie my spraak nie? selfs omdat julle my woord nie kan hoor nie. Julle is van julle vader, die duiwel, en die begeerlikhede van julle vader sal julle doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar en het nie in die waarheid gebly nie, want daar is geen waarheid in hom nie. As hy 'n leuen praat, praat hy uit sy eie, want hy is 'n leuenaar en die vader daarvan. En omdat Ek julle die waarheid vertel, glo julle My nie. Wie van julle oortuig my van sonde? En as ek die waarheid sê, waarom glo julle My nie? Hy wat uit God is, luister na die woorde van God; Toe antwoord die Jode en sê vir hom: Sê ons nie goed dat jy 'n Samaritaan is en 'n duiwel het nie? Jesus antwoord: Ek het geen duiwel nie; maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. En ek soek nie my eie eer nie; daar is een wat soek en oordeel. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy nooit die dood sien nie. Toe sê die Jode vir hom: Nou weet ons dat jy 'n duiwel het. Abraham is dood, en die profete; en jy sê: As iemand my woord bewaar, sal hy nooit die dood smaak nie. Is jy groter as ons vader Abraham, wat dood is? en die profete is dood. Wie maak Uself? Jesus antwoord: As Ek Myself eer, is my eer niks; dit is my Vader wat My eer; van wie julle sê dat Hy julle God is. Maar julle het Hom nie geken nie; maar ek ken hom; en as ek sê: Ek ken hom nie, sal ek 'n leuenaar wees soos jy; maar ek ken hom en bewaar sy woord. Jou vader Abraham was bly om my dag te sien, en hy het dit gesien en was bly. Toe sê die Jode vir hom: Jy is nog nie vyftig jaar oud nie, en het jy Abraham gesien? Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. Toe het hulle klippe opgetel om na Hom te gooi; maar Jesus het Hom weggesteek en uit die tempel gegaan en tussen hulle deur gegaan en so verbygegaan.

JOHANNES 8:1-59 Die Boodskap (DB)

Jesus is intussen Olyfberg toe, maar nie vir lank nie. Teen sonop was Hy al weer in die omgewing van die tempel. Daar het die mense om Hom saamgedrom. Oudergewoonte het Hy met hulle oor God gesels. Die Joodse geleerdes en die Fariseërs kom toe met ’n vrou daar aan. Sy is gevang toe sy seksueel ontrou was aan haar man. Hulle laat haar toe tussen die mense staan sodat almal haar kon sien. Hulle sê toe vir Jesus: “Jy is mos die hele tyd besig om mense te vertel wat hulle moet doen. Nou ja, ons het hierdie vrou op heterdaad betrap toe sy by ’n man geslaap het wat nie haar eie is nie. Moses se wet vertel vir ons presies wat ons met so ’n vrou moet maak: sy moet dood! Met klippe moet ons die laaste asem uit haar uitgooi. Maar sê jy nou ’n bietjie vir ons: Wat dink jy moet ons met die vrou maak?” Die Joodse geleerdes wou egter nie regtig hoor wat Jesus dink nie. Hulle het Hom dit maar net gevra om Hom in die moeilikheid te probeer bring. Hulle het gehoop Hy sou sy mond verbypraat en iets sê waaroor hulle Hom voor die hof kon sleep. Maar Jesus was te uitgeslape vir hulle. Net daar waar Hy gesit het, het Hy vooroor gebuig en met sy vinger iets in die grond geskryf. Die Joodse geleerdes het egter aangehou neul. Uiteindelik kyk Jesus op en sê vir hulle: “Nou goed, gaan maar aan. Julle weet skynbaar wat om te doen. Maar daar is een voorwaarde: die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem. Hy moet eerste ’n klip optel en haar daarmee gooi.”Weer het Jesus vooroor gebuig en iets in die grond geskryf. Daar staan die Joodse geleerdes toe met ’n mond vol tande. Hulle het nie geweet wat om te doen of te sê nie. Een vir een het hulle toe maar weer tussen die mense in verdwyn. Die belangrikstes het eerste gemaak dat hulle wegkom. Hulle het die vrou net daar by Jesus gelos. Jesus kyk toe weer op en sê vir haar: “En nou? Waar is al daardie mense? Kon niemand so ver kom om ’n klip op jou te gooi nie?” “Nie eens een nie, Here,” kom die antwoord. Jesus sê toe: “Ek gaan ook nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar ’n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense ’n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef.” Jesus praat toe verder met die mense: “Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.” Die Fariseërs val Hom toe dadelik aan: “Jy praat darem baie oor jouself, nè? Dit is net ‘ek, ek’ die hele tyd. Iewers moet ’n skroef los wees! Al hierdie dinge wat jy sê, kan tog nie waar wees nie, want niemand anders sê dit nie, net jy.” “Al praat Ek ook oor Myself, kan julle maar glo wat Ek sê, want dit is die waarheid. Is dit regtig so dat iets ’n leuen is as iemand dit oor homself sê? Is dit nie baie belangriker om liewer te vra of ’n mens die persoon kan glo wat dit sê nie? Nou ja, julle kyk die Persoon mis. Julle besef glad nie wie Ek is nie. Julle het nie ’n idee waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Ek weet dit egter. Tipies mens kyk julle net deur menslike oë. Ek sien en beoordeel dinge anders. “As Ek egter dinge oor mense sê, kan julle maar weet: alles wat Ek sê, is waar. Selfs ’n regter in ’n hof sal dit moet toegee. Daar is immers twee van ons wat die waarheid daarvan waarborg. Daar is natuurlik Ek en my Vader wat My gestuur het. Julle eie wet sê mos dat as twee mense dieselfde sê, die regter dit ernstig moet opneem. Nou ja, Ek praat wel oor Myself, maar my Vader wat My gestuur het, bevestig dat alles waar is wat Ek sê.” “Nou toe, waar’s jou pa? Wys hom vir ons!” sê hulle toe. “Julle het nie ’n benul wat julle vra nie. Julle weet nie wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is. As julle geweet het wie Ek is, sou julle ook dadelik geweet het wie my Vader is,” kom dit toe van Jesus. Hierdie gesprek het plaasgevind by die plek waar mense hulle bydraes vir die tempel kom inbetaal het. Ten spyte van hulle wraakplanne het die Jode nie eens probeer om die polisie te roep om Hom te kom vang nie. God het besluit dat die tyd daarvoor nog nie ryp was nie. Jesus het verder op sy stelling uitgebrei. “Soos Ek gesê het, Ek gaan weg. Al probeer julle hoe hard, sal julle nie kan kom waar Ek heen gaan nie. En weet julle hoekom nie? Omdat julle te ongehoorsaam aan God is. Daarom sal julle sonder God doodgaan.” Die Jode vra toe onder mekaar: “Hierdie praatjies dat hy kwansuis na ’n plek toe gaan waar ons nie kan kom nie, klink maar verdag. Is hy dan van plan om selfmoord te pleeg?” “Julle is kinders van hierdie ou aarde. In hierdie wêreld is julle wortels ingeslaan. My wortels lê egter nie in hierdie wêreld ingeslaan nie. Nee, Ek kom uit die hemel. Daarom kan Ek vir julle sê dat julle besig is om God heeltemal mis te loop. Glo in My. Glo dat Ek is wie Ek sê Ek is. Anders gaan julle sonder God sterf. Elke sonde wat julle gedoen het, sal dan teen julle tel.” “Wie ís jy presies?” wou hulle toe weet. “Ai, moet Ek alles nou weer sê? Ek sê dit nog die hele tyd vir julle,” antwoord Jesus hulle toe. “As Ek darem vir julle moes sê wat Ek van julle dink, sou Ek julle nogal ’n rukkie kon besig hou. Maar daar is belangriker dinge. Ek praat liewer met julle oor die dinge wat Ek by my Vader gehoor het. Hy het My gestuur om dit te doen. En omdat Ek dit by Hom gehoor het, kan julle dit maar glo, want Hy is absoluut betroubaar.” (Dit het nie tot die Jode deurgedring dat Jesus van die hemelse Vader praat nie.) Jesus het aangegaan: “Wanneer Ek aan die kruis opgelig word, sal julle besef dat Ek werklik is wie Ek sê Ek is. Ek doen nie hierdie dinge uit my eie nie. Ek suig dit ook nie uit my duim nie. Ek sê slegs wat my Vader vir My gesê het. Die Vader laat My ook nie alleen nie. Hy het My gestuur en daarom bly Hy by My. Van my kant af probeer Ek altyd weer my uiterste bes vir Hom.” Hierdie argumente het baie mense oortuig. Hulle het Hom en sy boodskap begin aanvaar. Jesus sê toe vir hierdie Jode wat hulle vertroue in Hom begin stel: “Julle is regtig my volgelinge as julle glo wat Ek sê. Hou vas daaraan en leef daarvolgens. So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is. En hoe meer julle dit ontdek, hoe meer sal julle word wat God julle gemaak het, vry mense.” Die Jode kap toe vinnig terug: “Ons is die nageslag van Abraham. Niemand kon nog ooit ons vryheid van ons wegneem nie. Waar kom jy daaraan dat ons nou skielik vry moet word?” “Dis eenvoudig: as jy sonde doen, is jy tog ’n slaaf; die sonde se slaaf, nie waar nie?” sê Jesus. “’n Slaaf is nie ’n permanente lid van die familie nie. ’n Seun bly egter altyd ’n kind in die gesin. Die seun is dus die een wat vir altyd julle vryheid in die gesin kan waarborg, want hy is altyd daar. As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry. Natuurlik weet Ek dat julle biologies die nageslag van Abraham is. Wie weet dit nou nie? Maar tog wil julle My doodmaak. Dit sê iets van julle geestelike vader. Julle wil mos nie aanvaar wat Ek vir julle sê nie. Intussen vertel Ek julle net wat Ek by die hemelse Vader gesien het. Julle moordgedagtes bewys egter alte duidelik dat Satan julle vader is. ’n Kind luister mos na wat sy pa vir hom sê.” Die Jode sê toe weer: “Abraham is ons pa!” “Die werklike nageslag van Abraham sal beslis die voorbeeld volg wat Abraham gestel het. Maar julle wil My sommer doodmaak omdat Ek eerlik is en vir julle die waarheid vertel. En dit is nogal die waarheid wat Ek by God self gehoor het. Abraham sou nooit soos julle gemaak het nie. “Maar julle tree presies op soos julle regte pa sou optree,” sê Jesus. Hulle snap toe waarop Jesus eintlik sinspeel: “Ons is g’n buite-egtelike kinders nie! Ons het net een Vader en dit is God self.” Daarop antwoord Jesus toe: “As God julle Vader was, sou julle lojaal teenoor My wees en My liefhê. Kyk, hier staan Ek voor julle: Ek kom van daardie selfde God af. En Ek het nie sommer op my eie hier aangestap gekom nie. Nee, God self het My gestuur! Laat Ek vir julle sê waarom die dinge wat Ek sê nie vir julle sin maak nie. Julle is soos dowe mense. Nie ’n woord sink by julle in nie, want julle wil nie behoorlik luister na wat Ek sê nie. En daar is ’n goeie rede voor. Die duiwel is julle pa! Al wat julle wil doen, is om na julle pa te luister. Wat hy sê, doen julle. Die duiwel stel net daarin belang om mense se lewe te vernietig en hulle dood te maak. Hy was nog altyd so. Hy gee ook niks om vir die waarheid nie. Al waarin hy belangstel, is om te lieg en te bedrieg. Dit is hoe hy is. As hy sy mond oopmaak, lieg hy. ’n Mens kan niks glo wat hy sê nie. Ja-nee, hy is die oorsaak van al die bedrog en leuens in hierdie wêreld. Maar kyk nou wat gebeur met My. Ek kom praat die waarheid met julle, maar julle sê Ek lieg. Dit wys julle net! Ek daag julle uit! Bewys dat Ek een voet verkeerd gesit het, ja, dat Ek iets gedoen het waarvan God nie sal hou nie. Toe, kan julle? Nou goed, as Ek dan die waarheid praat, waarom wil julle nie aanvaar wat Ek sê nie? Ek kan maar net aan een rede dink: ’n kind van God sal mos graag na God luister. Julle wil nie na My luister nie, wat maar net kan beteken dat julle nie kinders van God is nie.” Daarvan het die Jode niks gehou nie. “Dit bewys net weer hoe reg ons nog altyd oor jou was. Jy is van jou sinne beroof en nog dom ook!” “Ek is allesbehalwe van my sinne beroof,” sê Jesus. “Dit is ’n kwessie van wie vir jou belangrik is. Vir My is my Vader belangrik en Ek steek dit nie weg nie. Maar al wat julle kan doen, is om My te beledig. Dit ontstel My egter nie. Dit is nie Ek wat graag in die kalklig wil staan nie. Dit is God wat wil hê dat mense moet dink Ek is belangrik. En Hy is die Een wat besluit wat reg of verkeerd is. Nou wil Ek regtig vir julle iets belangriks sê: as iemand dit wat Ek sê so ernstig opneem dat dit die enigste manier word waarop hy dink en optree, sal hy nooit, maar nooit, geestelik doodgaan nie.” Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Nou wonder ons nie meer of jy van jou sinne beroof is nie, ons weet dit! Jy raak sommer goed kwyt soos dat die een wat jou woorde ernstig opneem, nooit geestelik sal doodgaan nie. Weet jy dan nie dat Abraham gesterf het nie? En weet jy nie dat God se boodskappers van ouds almal dood is nie? Wil jy nou probeer sê dat hulle nie God se boodskap geken het nie? Wat ’n vermetelheid! Dink jy miskien jy is belangriker as ons vader Abraham of as die boodskappers van God? Hulle het gesterf, maar jy sal kamma nie sterf nie! Wie dink jy nou eintlik is jy?” “Kyk, Ek probeer nie voorgee dat Ek belangriker is as wat Ek regtig is nie. Dit sou niks help nie,” sê Jesus. “Dit is my Vader wat wil hê dat julle moet sien hoe belangrik Ek regtig is. En weet julle wie is my Vader? Dit is niemand anders as die Een wat julle julle God noem nie. Julle herken Hom natuurlik nie in wat Ek sê of doen nie, maar Ek weet dit is Hy. Ek ken Hom en Ek doen wat Hy sê. Ek moet dit vir julle sê. As Ek maak asof dit nie so is nie, is Ek ook net nog ’n leuenaar. Dit het julle vader Abraham baie opgewonde gemaak om hom net voor te stel hoe dit sou wees as Ek kom. Hy het nie daaraan getwyfel dat Ek sou kom nie en hy was bly daaroor.” Die Jode sê toe vir Hom: “Sjoe, dis darem ’n mond vol! Jy sê jy het Abraham gesien, maar jy’s nog nie eens 50 nie.” Jesus sê toe: “Luister hierna: Abraham was nog nie eens gebore nie, toe was Ek al daar.” Dit was vir die Jode die laaste strooi. Hulle het klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Voor hulle hulle egter kom kry, is Jesus daar weg, die tempel uit.

JOHANNES 8:1-59 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het egter na die Olyfberg toe gegaan. Teen dagbreek die volgende oggend het Jesus weer na die tempel toe gekom en die hele volk het na Hom toe gestroom. Hy het toe gaan sit en hulle onderrig. Die skrifkenners en die Fariseërs bring toe ’n vrou wat op die daad van owerspel betrap is, en laat haar tussen hulle staan. Hulle sê vir Hom: “Leermeester, hierdie vrou is betrap terwyl sy besig was met ’n daad van owerspel. Moses het in die wet aan ons die opdrag gegee om sulke vroue te stenig, maar wat sê u daaroor?” Dit het hulle net gesê om Hom te toets sodat hulle iets kon kry om Hom oor aan te kla. Jesus het egter afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: “Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ’n klip na haar gooi.” Daarna het Jesus weer gehurk en op die grond geskryf. Nadat hulle dit gehoor het, het hulle een vir een begin weggaan, eerste die familiehoofde. Jesus is alleen agtergelaat terwyl die vrou nog in hulle midde staan. Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: “Vrou, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?” Sy het geantwoord: “Niemand nie, Meneer.” Jesus sê toe vir haar: “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Verder, by ’n ander geleentheid, het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs het toe vir Hom gesê: “Jy getuig oor jouself; daarom is jou getuienis nie geldig nie.” Jesus het reageer: “As Ek oor Myself getuig, is my getuienis geldig omdat Ek weet waarvandaan Ek gekom het en waarheen Ek teruggaan. Julle weet egter nie waarvandaan Ek kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. As Ek egter oordeel, is my oordeel geldig omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. In julle wet is dit opgeskryf dat die getuienis van twee persone geldig is. Dit is Ek wat oor Myself getuig, asook die Vader wat My gestuur het, wat oor My getuig.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Waar is jou vader?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” Jesus het hierdie stellings gemaak in die skatkamer van die tempel terwyl Hy besig was om in die tempel te onderrig. Niemand het Hom egter gearresteer nie omdat sy tyd nog nie aangebreek het nie. Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde doodgaan. Waarheen Ek gaan, kan julle nie nou kom nie.” Die Jode het reageer: “Hy gaan tog nie homself om die lewe bring nie – omdat hy sê: ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie’?” Toe het Hy vir hulle gesê: “Julle is van hieronder. Ek is van daarbo. Julle het julle oorsprong uit hierdie wêreld; Ek het my oorsprong nie uit hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê dat julle sal sterf in julle sondes, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes doodgaan.” Hulle vra Hom: “Wie is jy nou eintlik?” Jesus se antwoord was: “Wat het Ek vir julle gesê van die heel begin af? Ek het baie oor julle te sê, en ’n oordeel oor julle uit te spreek, maar Hy wat My gestuur het, is eg en wat Ek by Hom gehoor het, dit deel Ek aan die wêreld mee.” Hulle het nie verstaan dat Hy besig was om die Vader met hulle te bespreek nie. Jesus het daarop vir hulle gesê: “Eers as julle My, die Seun van die Mens, verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is; en dat Ek uit my eie niks doen nie, maar net praat soos die Vader My onderrig het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie verlaat nie omdat Ek altyd die dinge doen waarvan Hy hou.” Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het daar baie mense in Hom begin glo. Toe het Jesus vir die Jode wat tot geloof in Hom gekom het, gesê: “As julle in ’n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die afstammelinge van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe sê jy dan: ‘Julle sal bevry word’?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat aanhou sonde doen, is ’n slaaf van die sonde. Die slaaf bly tog nie vir altyd in die huis nie; die seun bly wel vir altyd. As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees. Ek is daarvan bewus dat julle die afstammelinge van Abraham is. En tog beywer julle julle om My dood te maak omdat julle nie my boodskap wil aanvaar nie. Ek praat oor wat Ek by mý Vader gesien het; en julle doen wat julle by júlle pa gehoor het.” Hulle het daarop reageer: “Abraham is ons pa.” Jesus antwoord hulle: “As julle ware kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het. En nou wil julle My doodmaak – die Een wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle kom meedeel. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie. Julle doen net wat júlle pa gedoen het.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net een Vader, en dit is God.” Jesus het geantwoord: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom en is nou hier. Ek het beslis ook nie uit my eie hierheen gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom verstaan julle nie my boodskap nie? Omdat julle nie kan luister na my boodskap nie. Julle is uit die duiwel as julle pa gebore, en julle wil net doen wat hy as pa van julle verwag. Hy was van die heel begin af ’n mensemoordenaar. En hy is nie in die waarheid nie omdat die waarheid nie in hom is nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ’n leuenaar en ook die vader daarvan is. Omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie. Wie onder julle kan My aankla van sonde? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle My nie? Wie van God afkomstig is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie omdat julle nie van God afkomstig is nie.” Die Jode het teruggekap: “Het ons nie tereg gesê dat jy ’n Samaritaan en in die mag van ’n bose gees is nie?” Jesus het geantwoord: “Ek het nie ’n bose gees nie, en Ek eer my Vader, maar julle onteer My. Ek soek nie my eie eer nie; daar is Iemand wat my eer soek. Laat Hý hieroor beslis. Ek verseker julle, as iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.” Die Jode se reaksie was: “Nou weet ons verseker dat jy in die mag van ’n bose gees is. Abraham en die profete het reeds gesterf; nietemin sê jy: ‘As iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.’ Jy is tog nie groter as ons vader Abraham wat reeds gesterf het nie? En die profete is ook reeds dood. As wie bied jy jouself aan?” Jesus het geantwoord: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks werd nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, oor Wie julle sê: ‘Hy is ons God,’ maar julle ken Hom nie. Ek ken Hom. As Ek sê: ‘Ek ken Hom nie,’ sal Ek net soos julle ’n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en Ek gehoorsaam sy woorde. Abraham, julle voorvader, het met uitbundige blydskap uitgesien na my dag; en hy het dit gesien en was verheug.” Die Jode het toe reageer: “Jy is nog nie eers 50 jaar oud nie en jy het Abraham gesien?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, nog voordat Abraham bestaan het, was Ek al wat Ek is.” Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee dood te gooi. Jesus het hulle egter ontwyk en uit die tempelgebied padgegee.