JOHANNES 7:1-52
JOHANNES 7:1-52 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het toe na baie plekke in die provinsie Galilea gegaan. Hy wou nie na die provinsie Judea gaan nie, want die Jode wou Hom daar doodmaak. Die Jode se Hutte-fees was naby. Jesus se broers het vir Hom gesê: “Jy moet hier weggaan en na Judea gaan. Dan kan jou dissipels die wonderwerke sien wat jy doen. Dit help nie 'n mens doen iets waar niemand dit kan sien nie, want dan moet jy nie dink almal sal weet van jou nie. Wanneer jy hierdie wonderwerke doen, moet jy dit só doen dat al die mense kan sien dit is jý wat dit doen.” Jesus se broers het nie in Hom geglo nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is nog nie my tyd nie. Julle doen met julle tyd wat julle wil. Die mense van die wêreld kan julle nie haat nie, maar hulle haat My, want Ek sê hulle doen slegte dinge. Julle kan na die fees gaan. Ek gaan nie na die fees nie, want dit is nog nie my tyd nie.” Nadat Jesus dit alles vir sy broers gesê het, het Hy in die provinsie Galilea gebly. Jesus se broers het na die fees gegaan. Later het Jesus self ook na die fees gegaan, maar die mense het dit nie geweet nie. Daar by die fees het die Jode na Jesus gesoek. Hulle het gevra: “Waar is daardie man?” Die mense het baie oor Jesus gepraat. Party mense het gesê: “Jesus is 'n goeie man.” Ander mense het gesê: “Nee, hy lieg vir die mense.” Die mense het nie hard gesê wat hulle van Jesus dink nie, hulle wou nie hê die Jode moet dit hoor nie, want hulle was bang vir die Jode. Op die vierde dag van die fees het Jesus na die tempel gegaan en Hy het vir die mense begin leer. Die Jode was verbaas. Hulle het gesê: “Niemand het vir hierdie man geleer nie. Hoe weet hy so baie dinge?” Jesus het vir hulle gesê: “Dit wat Ek vir julle leer, kom nie van My nie. Dit kom van God wat My na die wêreld gestuur het. Iemand wat doen wat God wil hê, sal weet of die dinge wat Ek vir julle leer, van God kom en of dit van Myself kom. Iemand wat vir ander mense dinge leer wat van homself kom, doen dit sodat die mense kan dink hy is belangrik. Ek doen dit nie. Ek wil hê dat die mense moet weet God is belangrik, God wat My na die wêreld gestuur het. Daarom kan die mense My glo. Ek is nie vals nie. Moses het vir julle wette gegee, maar nie een van julle doen wat die wette sê nie. Hoekom probeer julle My doodmaak?” Die mense het vir Jesus gesê: “Jy is mal, niemand probeer jou doodmaak nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Ek het net een wonderwerk gedoen, en julle is verbaas omdat Ek dit op die Sabbatdag gedoen het. Moses het vir julle geleer om julle seuns te besny. Maar dit was nie net Moses nie, julle voorvaders het dit ook gedoen. En julle besny ook partymaal seuns op die Sabbatdag. Julle besny iemand op die Sabbatdag om gehoorsaam te wees aan die Wette van Moses. Hoekom is julle nou kwaad vir My wanneer Ek 'n mens se hele liggaam op die Sabbatdag gesond maak? Julle moenie na iemand se buitekant kyk en dan sê hy doen verkeerd nie. Julle moet regverdig wees.” Party van die mense in Jerusalem het gesê: “Daar is die man, die mense wil hom doodmaak. Hier praat hy nou voor al die mense en niemand sê hy praat verkeerd nie. Miskien dink die leiers hy is die Christus. Maar hierdie man kan nie die Christus wees nie, want ons weet van waar hy kom. Wanneer die Christus kom, dan sal niemand weet van waar Hy kom nie.” Jesus het vir die mense in die tempel geleer en Hy het hard gesê: “Julle sê julle ken My en julle weet van waar Ek kom. Dit is nie waar nie. Ek het nie self besluit om na die wêreld te kom nie, God het My gestuur. Wat Hy doen, is reg. Maar julle ken Hom nie. Ek ken Hom, want Ek kom van Hom. Dit is Hy wat My gestuur het.” Toe het die mense probeer om Jesus te vang, maar niemand kon dit doen nie. Dit was nog nie sy tyd nie. Baie van die mense het in Hom geglo. Hulle het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy dan meer wondertekens doen as hierdie man? Nee.” Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Jesus sê. Daarom het die priesterleiers en die Fariseërs wagte gestuur om Jesus te vang. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal nog 'n kort tydjie by julle wees. Dan gaan Ek terug na God toe wat My na die wêreld gestuur het. Julle sal My soek, maar julle sal My nie kry nie. Julle sal nie kan gaan waar Ek sal wees nie.” Toe het die Jode vir mekaar gesê: “Waarnatoe sal hy gaan waar ons hom nie sal kry nie? Gaan hy miskien by die Grieke woon en vir hulle leer? Wat beteken dit wanneer hy sê: ‘Julle sal My soek en My nie kry nie,’ en ‘Julle sal nie kan gaan waar Ek sal wees nie’?” Die laaste dag van die fees was die belangrikste dag. Op daardie dag het Jesus opgestaan en hard gesê: “As iemand dors is en hy wil lewe, dan kan hy na My toe kom en water kom drink wat die ewige lewe gee. Dit sal wees soos daar in die Ou Testament geskryf is: “ As iemand in My glo, dan sal die water soos fonteine uit hom vloei, die water wat die ewige lewe gee.” Toe Jesus dit gesê het, het Hy van die Heilige Gees gepraat. Almal wat in Jesus geglo het, het later die Heilige Gees ontvang. God het eers vir hulle gewys dat Jesus ook God is, daarna het hulle die Gees ontvang. Toe party van die mense hoor wat Jesus sê, sê hulle: “Hierdie man is regtig die Profeet.” Party mense het gesê: “Hy is die Christus.” Maar ander mense het gesê: “Nee, die Christus sal nie kom nie uit die provinsie Galilea nie. In die Ou Testament is geskryf dat die Messias van die nageslag van Dawid kom. Daar is ook geskryf dat die Messias van Betlehem kom, die dorpie waar Dawid gewoon het.” Toe het die mense gestry oor Jesus. Party van hulle wou Hom vang, maar niemand kon dit doen nie. Die wagte het teruggegaan na die priesterleiers en die Fariseërs. Die priesterleiers en die Fariseërs het vir die wagte gevra: “Hoekom het julle nie vir Jesus gebring nie?” Die wagte het gesê: “Ons het nog nooit iemand hoor praat wat soos Jesus gepraat het nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Jesus het vir julle ook gelieg, en julle het dit geglo. Glo een van die leiers of die Fariseërs in Jesus? Nee, niemand nie! Maar hierdie mense wat in Jesus glo, ken nie die Ou Testament nie. God sal hulle straf.” Nikodemus wat vroeër in die nag na Jesus toe gekom het, was een van die Fariseërs. Hy sê toe vir die Fariseërs en die priesterleiers: “Ons wette sê ons moet eers na iemand luister en ons moet presies weet wat hy gedoen het, dan kan ons hom oordeel.” Die Fariseërs sê toe vir Nikodemus: “Jy praat nou soos iemand wat uit die provinsie Galilea kom. Gaan lees in die Ou Testament en jy sal sien dat 'n profeet nooit uit die provinsie Galilea kom nie.”
JOHANNES 7:1-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daarna het Jesus in Galiléa rondgegaan, want Hy wou nie in Judéa rondgaan nie, omdat die Jode probeer het om Hom dood te maak. En die fees van die Jode, die huttefees, was naby. Sy broers het toe vir Hom gesê: Vertrek hiervandaan en gaan na Judéa, sodat u dissipels ook u werke kan sien wat U doen. Want niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie. As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld. Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie. Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar. Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie. En nadat Hy dit aan hulle gesê het, het Hy in Galiléa gebly. MAAR nadat sy broers opgegaan het, toe het Hy ook opgegaan na die fees, nie openlik nie, maar in die geheim. En die Jode het Hom op die fees gesoek en gesê: Waar is Hy? En daar is baie oor Hom gemompel onder die skare. Sommige het gesê: Hy is goed. Ander weer het gesê: Nee, maar Hy mislei die skare. Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Jode. En toe dit al in die middel van die fees was, het Jesus opgegaan na die tempel en geleer. En die Jode het hulle verwonder en gesê: Hoe kom Hy aan die geleerdheid terwyl Hy geen onderwys ontvang het nie? Jesus antwoord hulle en sê: My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek. Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van dié Een wat Hom gestuur het, Hy is waaragtig en daar is geen ongeregtigheid in Hom nie. Het Moses julle nie die wet gegee nie? En niemand van julle hou die wet nie. Waarom wil julle My om die lewe bring? Die skare antwoord en sê: U is van die duiwel besete; wie wil U om die lewe bring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Een werk het Ek gedoen, en julle verwonder julle almal. Daarom het Moses julle die besnydenis gegee — nie dat dit van Moses is nie, maar van die vaders — en op die sabbat besny julle 'n mens. As 'n mens die besnydenis op die sabbat ontvang, sodat die wet van Moses nie verbreek mag word nie, is julle kwaad vir My, omdat Ek 'n mens op die sabbat heeltemal gesond gemaak het? Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel 'n regverdige oordeel. Daarop sê sommige van die inwoners van Jerusalem: Is dit nie Hy wat hulle soek om dood te maak nie? En kyk, Hy spreek openlik en hulle sê vir Hom niks nie! Sou die owerstes dan waarlik weet dat Hy werklik die Christus is? En hierdie man — ons weet van waar Hy is; maar die Christus, wanneer Hy kom, weet niemand van waar Hy is nie. Jesus roep toe uit, terwyl Hy in die tempel leer, en sê: Julle ken My en julle weet ook van waar Ek is; tog het Ek nie uit Myself gekom nie; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig, vir wie julle nie ken nie. Maar Ek ken Hom, omdat Ek van Hom kom en Hy My gestuur het. Toe probeer hulle om Hom gevange te neem; en niemand het die hand aan Hom geslaan nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie. Maar baie van die skare het in Hom geglo en gesê: Wanneer die Christus kom, sal Hy meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het? Die Fariseërs het gehoor dat die skare dit van Hom mompel, en die Fariseërs en die owerpriesters het dienaars gestuur om Hom gevange te neem. Toe sê Jesus vir hulle: Nog 'n klein tydjie is Ek by julle, en Ek gaan na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie. En die Jode sê onder mekaar: Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal vind nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie? Wat beteken hierdie woord wat Hy gesê het: Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie? En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet. Ander het gesê: Hy is die Christus. En ander het gesê: Kom die Christus dan uit Galiléa? Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was nie? Daar het toe verdeeldheid onder die skare gekom oor Hom. En sommige van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het die hand aan Hom geslaan nie. Die dienaars kom toe by die owerpriesters en die Fariseërs, en dié sê vir hulle: Waarom het julle Hom nie gebring nie? Die dienaars antwoord: Nooit het 'n mens so gespreek soos hierdie mens nie. En die Fariseërs antwoord hulle: Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek! Nikodémus — hy wat in die nag na Hom gegaan het, wat een van hulle was — sê vir hulle: Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen? Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is tog nie ook uit Galiléa nie? Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie.
JOHANNES 7:1-52 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. In Judea wou Hy dit nie doen nie, omdat die Jode daar Hom wou doodmaak. Maar die huttefees van die Jode was naby. Jesus se broers sê toe vir Hom: “Gaan 'n bietjie hiervandaan na Judea toe dat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen. 'n Mens wat oral bekend wil wees, doen nie iets in die geheim nie. Aangesien jy dan hierdie dinge doen, maak jou openlik aan die wêreld bekend.” Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. Jesus sê toe vir hulle: “Vir My het die tyd nog nie gekom nie, maar vir julle is enige tyd reg. Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is. Gaan julle maar fees toe. Ek gaan nie na hierdie fees toe nie, omdat die tyd vir My nog nie reg is nie.” Dit het Hy vir hulle gesê, en Hy het daar in Galilea gebly. Nadat Jesus se broers na die huttefees toe vertrek het, het Hy self tog ook gegaan, nie openlik nie maar onopvallend. Die Jode het toe by die fees na Hom gesoek en gevra: “Waar is hy?” Onder die feesmenigte is daar baie oor Hom gefluister. Party mense het gesê: “Hy is 'n goeie man.” Maar ander het gesê: “Nee, hy mislei die mense.” Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode. Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer. Die Jode was verbaas en het gesê: “Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!” Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat. Wie uit sy eie praat, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is geloofwaardig, en daar is niks oneerliks in Hom nie. Het Moses nie die wet vir julle gegee nie? En tog hou nie een van julle die wet nie. Waarom wil julle My dan doodmaak?” “Jy is van die duiwel besete!” het die mense uitgeroep. “Wie wil jou doodmaak?” Jesus het toe verder vir hulle gesê: “Julle is almal ontsteld oor een ding wat Ek gedoen het. Omdat Moses die besnydenis vir julle gegee het – en eintlik kom dit nie eens van Moses af nie, maar van die aartsvaders – besny julle ook op 'n sabbatdag. As iemand op 'n sabbatdag die besnydenis mag ontvang om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan vir My kwaad omdat Ek op 'n sabbatdag iemand se hele liggaam gesond gemaak het? Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.” Intussen het party van die inwoners van Jerusalem gesê: “Is dit nie die man vir wie hulle wil doodmaak nie? En hier praat hy nou in die openbaar, en hulle sê niks teen hom nie. Het die lede van die Joodse Raad miskien werklik tot die oortuiging gekom dat hy die Christus is? Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.” Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: “Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie. Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.” Hulle wou Hom toe gevange neem, en tog het niemand dit gedoen nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie. Maar baie van die mense het tot geloof in Hom gekom en het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?” Die Fariseërs het gehoor wat die mense oor Hom fluister, en hulle en die priesterhoofde het wagte gestuur om Hom gevange te neem. Jesus sê toe: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek terug na Hom toe wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie.” Toe sê die Jode vir mekaar: “Waarheen sou hy van plan wees om te gaan dat ons hom nie sal kry nie? Hy is tog nie van plan om na die Griekssprekende Jode in die buiteland te gaan en die Grieke daar te leer nie? Wat bedoel hy met die woorde: Julle sal My soek en My nie kry nie, want waar Ek dan is, kan julle nie kom nie?” Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie. Party van die mense wat hierdie woorde gehoor het, het gesê: “Hy is werklik die Profeet.” Party het gesê: “Hy is die Christus.” Maar party het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? Die Skrif sê mos die Christus kom uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was.” Daar het toe verdeeldheid oor Hom onder die mense gekom. Party van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het dit gedoen nie. Daarna het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Is julle tog nie ook mislei nie? Het een van die lede van die Joodse Raad miskien in hom geglo, of een van die Fariseërs? Nee, dit is net hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie!” Nikodemus, wat voorheen na Jesus toe gekom het en wat een van hulle was, sê toe vir hulle: “Volgens ons wet kan ons mos nie sommer iemand veroordeel sonder om eers sy kant van die saak te hoor en vas te stel wat hy doen nie.” Hulle sê toe vir hom: “Jy kom tog nie ook van Galilea af nie? Ondersoek die Skrif en jy sal sien dat God niemand wat uit Galilea kom, as profeet roep nie.”
JOHANNES 7:1-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. Hy wou nie in Judea rondgaan nie, omdat die Jode Hom wou doodmaak. En die Huttefees van die Jode was op hande. Sy broers het toe vir Hom gesê: “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea, sodat jou dissipels ook die dade wat jy verrig, kan sien. Want niemand doen iets in die geheim en wil dan tog in die openbaar bekend wees nie. Indien jy hierdie dinge wil doen, maak dan jouself aan die wêreld bekend.” Trouens, selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. Jesus sê toe vir hulle: “My bestemde tyd is nog nie hier nie, maar julle tyd is altyd op hande. Die wêreld kan julle nie haat nie, maar hy haat My, omdat Ek van hom getuig dat sy dade boos is. Gaan julle op na die fees. Ek gaan nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie aangebreek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy in Galilea gebly. Maar nadat sy broers na die fees opgegaan het, het Hy toe ook opgegaan – nie openlik nie, maar in die geheim. Die Jode het toe op die fees na Hom gesoek en gesê: “Waar is daardie man?” En daar was 'n groot geredekawel oor Hom onder die skare. Sommige het gesê: “Hy is 'n goeie mens.” Ander het weer gesê: “Nee, maar hy mislei die skare.” Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Jode. Toe die fees reeds halfpad verby was, het Jesus na die tempelterrein opgegaan en begin onderrig gee. Die Jode was verwonderd en het gesê: “Hoe ken hy die Skrifte sonder dat hy dit bestudeer het?” Jesus antwoord hulle toe: “Wat Ek leer, is nie my eie nie, maar kom van Hom wat My gestuur het. As iemand bereid is om sy wil te doen, sal hy, wat hierdie leer betref, weet of dit van God is en of Ek uit my eie praat. Hy wat uit sy eie praat, soek sy eie eer, maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het – Hy is geloofwaardig en daar is geen onreg in Hom nie. Het Moses nie vir julle die wet gegee nie? En nie een van julle voer die wet uit nie. Waarom probeer julle My dan doodmaak? ” Die skare het geantwoord: “Jy het 'n demoon! Wie probeer jou doodmaak?” Jesus het hulle geantwoord: “Een daad het Ek gedoen, en julle is almal verbaas. Omdat Moses vir julle die besnydenis gegee het – nie dat dit van Moses kom nie, maar van die vaders – besny julle iemand ook op die Sabbat. As iemand op die Sabbat die besnydenis ontvang, sodat die •Wet van Moses nie verbreek word nie, is julle dan vir My kwaad omdat Ek op die Sabbat 'n mens in sy geheel gesond gemaak het? Moenie op die oog af oordeel nie, maar oordeel regverdig. ” Daarop het sommige van Jerusalem se inwoners gesê: “Is hy nie die een wat hulle wil doodmaak nie? Kyk nou, hy praat openlik, en hulle sê niks teen hom nie. Die volksleiers het tog nie regtig ingesien dat hy die Christus is nie? Hierdie man – ons weet tog waar hy vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, weet niemand waarvandaan Hy is nie.” Jesus het toe, terwyl Hy op die tempelterrein onderrig gee, uitgeroep en gesê: “Julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. Tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar Hy wat My gestuur het, vir wie julle nie ken nie, is geloofwaardig. Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.” Hulle wou Hom arresteer; tog het niemand 'n hand op Hom gelê nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie. Maar baie uit die skare het in Hom begin glo en gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?” Die •Fariseërs het gehoor dat die skare hierdie dinge onderlangs oor Hom fluister, en hulle en die leierpriesters het die tempelwag gestuur om Hom te arresteer. Daarop het Jesus gesê: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie vind nie, en waar Ek is, kan julle nie kom nie. ” Toe het die Jode onder mekaar gesê: “Waarheen is hy van plan om te gaan dat ons hom nie sal vind nie? Hy is tog nie van plan om na die Diaspora onder die Grieke te gaan en die Grieke te leer nie? Wat beteken hierdie uitspraak wat hy gemaak het, ‘Julle sal My soek en My nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?’ ” En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ ” Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Sommige uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het toe gesê: “Hy is waarlik die Profeet.” Ander het gesê: “Hy is die Christus.” Nog ander het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? Het die Skrif nie gesê die Christus is uit die nageslag van Dawid en kom uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid nie?” Daar het toe oor Hom verdeeldheid onder die skare gekom. En sommige van hulle wou Hom arresteer, maar niemand het 'n hand op Hom gelê nie. Toe het die tempelwag teruggegaan na die leierpriesters en •Fariseërs, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Die tempelwag het geantwoord: “Nog nooit het 'n mens só gepraat nie.” Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? Nie een van die leierpriesters of van die Fariseërs het tog in hom geglo nie? Maar hierdie spul wat die wet nie ken nie, vervloek is hulle!” Nikodemus, die een wat voorheen na Hom gekom het, en een uit hulle geledere, sê toe vir hulle: “Ons wet oordeel tog nie 'n persoon tensy hy eers aangehoor is en daar verneem is wat hy doen nie?” Hulle het hom geantwoord: “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Gaan dit maar na, jy sal sien: Geen profeet is afkomstig uit Galilea nie! ”
JOHANNES 7:1-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ná hierdie dinge het Jesus in Galilea gewandel, want Hy wou nie in die Jodedom wandel nie, omdat die Jode probeer het om Hom dood te maak. En die Jode se huttefees was op hande. Sy broers sê toe vir hom: Gaan hiervandaan en gaan na Judéa, sodat u dissipels ook die werke kan sien wat U doen. Want daar is niemand wat iets in die geheim doen nie, en hy soek self om in die openbaar bekend te word. As jy hierdie dinge doen, toon jouself aan die wêreld. Want sy broers het ook nie in hom geglo nie. Toe sê Jesus vir hulle: My tyd het nog nie gekom nie, maar julle tyd is altyd gereed. Die wêreld kan jou nie haat nie; maar my haat hy, omdat ek daarvan getuig dat sy werke sleg is. Gaan op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie; want my tyd is nog nie vol nie. Toe Hy hierdie woorde aan hulle gesê het, het Hy nog in Galilea gebly. Maar toe sy broers opgegaan het, het hy ook opgegaan na die fees, nie openlik nie, maar asof in die geheim. Toe het die Jode hom op die fees gesoek en gesê: Waar is hy? En daar was baie gemurmureer oor hom onder die volk; want sommige het gesê: Hy is 'n goeie man; ander het gesê: Nee! maar Hy verlei die volk. Maar niemand het openlik van hom gepraat uit vrees vir die Jode nie. En omtrent in die middel van die fees het Jesus in die tempel opgegaan en geleer. En die Jode was verwonderd en sê: Hoe ken hierdie man letters, omdat hy nooit geleer het nie? Jesus antwoord hulle en sê: My leer is nie myne nie, maar syne wat My gestuur het. As iemand sy wil wil doen, sal hy van die leer weet of dit van God is, en of ek uit myself spreek. Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar hy wat sy eer soek wat Hom gestuur het, dit is waar, en geen ongeregtigheid is in hom nie. Het Moses nie vir julle die wet gegee nie, en tog onderhou niemand van julle die wet nie? Waarom gaan julle om my dood te maak? Die volk het geantwoord en gesê: Jy het 'n duiwel; wie gaan jou doodmaak? Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek het een werk gedoen, en julle is almal verwonderd. Moses het dan aan julle die besnydenis gegee; (nie omdat dit uit Moses is nie, maar uit die vaders;) en besny julle op die sabbatdag 'n man. As iemand op die sabbatdag besny word, sodat die wet van Moses nie verbreek mag word nie; Is julle kwaad vir My, omdat Ek 'n mens op die sabbatdag heeltemal gesond gemaak het? Moenie oordeel volgens die voorkoms nie, maar oordeel 'n regverdige oordeel. Toe sê sommige van die Jerusalem: Is dit nie hy wat hulle wil doodmaak nie? Maar kyk, Hy praat met vrymoedigheid, en hulle sê niks vir Hom nie. Weet die regeerders inderdaad dat dit die einste Christus is? Maar ons ken hierdie man waarvandaan hy is, maar wanneer Christus kom, weet niemand waar hy vandaan is nie. Toe het Jesus in die tempel uitgeroep terwyl Hy geleer het, en gesê: Julle ken My en weet ook waarvandaan Ek is; en Ek het nie uit Myself gekom nie, maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig, wie julle nie ken nie. Maar ek ken hom, want ek is van hom, en hy het my gestuur. Toe het hulle probeer om hom te neem, maar niemand het hom die hande opgelê nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie. En baie van die skare het in Hom geglo en gesê: Wanneer Christus kom, sal Hy meer wonderwerke doen as wat hierdie man gedoen het? Die Fariseërs het gehoor dat die volk sulke dinge oor Hom murmureer; en die Fariseërs en die owerpriesters het dienaars gestuur om Hom te neem. Toe sê Jesus vir hulle: Nog 'n klein rukkie is Ek by julle, en dan gaan Ek na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie vind nie; en waar Ek is, daar kan julle nie kom nie. Toe sê die Jode onder mekaar: Waarheen sal hy gaan, dat ons hom nie sal kry nie? sal hy na die verstrooides onder die heidene gaan en die heidene leer? Watter manier van sê is dit wat hy gesê het: Julle sal My soek en My nie vind nie; en waar Ek is, daarheen kan julle nie kom nie? Op die laaste dag, daardie groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink. Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy buik vloei. (Maar dit het Hy gespreek van die Gees, wat die wat in Hom glo, sou ontvang: want die Heilige Gees was nog nie gegee nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.) Baie van die volk het dan, toe hulle hierdie woord hoor, gesê: Dit is waarlik die profeet. Ander het gesê: Dit is die Christus. Maar sommige het gesê: Sal Christus uit Galilea kom? Sê die Skrif nie: Dat Christus uit die geslag van Dawid kom en uit die stad Betlehem waar Dawid was nie? Daar was dus verdeeldheid onder die volk oor hom. En sommige van hulle sou hom gevat het; maar niemand het hom die hande opgelê nie. Toe het die dienaars na die owerpriesters en Fariseërs gekom; en hulle sê vir hulle: Waarom het julle hom nie gebring nie? Die beamptes het geantwoord: Nooit het 'n mens soos hierdie man gepraat nie. Toe antwoord die Fariseërs vir hulle: Is julle ook mislei? Het enige van die owerstes of van die Fariseërs in Hom geglo? Maar hierdie volk wat die wet nie ken nie, is vervloek. Nikodemus sê vir hulle: Hy wat in die nag na Jesus gekom het, een van hulle, Veroordeel ons wet iemand voordat dit hom verhoor en weet wat hy doen? Hulle antwoord en sê vir Hom: Is jy ook van Galilea? Ondersoek en kyk, want uit Galilea het geen profeet opgestaan nie.
JOHANNES 7:1-52 Die Boodskap (DB)
Jesus is toe na Galilea toe. Hy het die plek platgestap. Uit Judea het Hy egter vir eers weggebly, want die Jode daar wou Hom mos doodmaak. Dit was Oktober en die fees van die tente was om die draai. Die Jode het elke jaar hierdie fees gehou. Dit het hulle herinner aan die tente waarin hulle voorouers moes bly toe hulle uit Egipte weg is. Terselfdertyd het hulle ook sommer vir die Here dankie gesê vir die goeie oeste. Dit was nou regtig ’n fees waarin die Jode se vrolikheid geen perke geken het nie. ’n Hele sewe dae lank het hulle fees gehou. Jesus se broers sê toe vir Hom: “Luister, vir wat sit jy hier? Gaan Judea toe en wys vir jou volgelinge wat jy kan doen. Wat van ’n paar wonders daar? As jy aandag wil trek, help dit nie jy kruip hier weg nie. As jy hierdie dinge dan nou moet doen, gaan doen dit ten minste daar waar al die mense jou kan sien.” Sy broers het so met Hom gepraat, want hulle kon nog nie aanvaar dat Hy werklik die Seun van God is nie. Jesus antwoord toe: “Moenie vir My sê wat Ek moet doen nie. Ek weet wanneer die tyd vir My ryp is om dinge te doen. Doen julle maar wat julle wil en los My uit. Julle hoef nie bekommerd te wees oor wanneer sekere dinge met julle gaan gebeur nie. Sondige mense word mos nie vir julle kwaad soos hulle vir My kwaad word nie. Ek sê mos reguit vir hulle dat hulle op die duiwel se pad is en daarvan hou hulle niks. Gaan julle maar. Gaan geniet julle fees. Ek bly net hier. Wanneer die tyd ryp is, sal Ek doen wat Ek moet doen.” Jesus het net daar in Galilea gebly. Jesus se broers is toe weg fees toe. So stil-stil is Jesus op sy eie ook soontoe, want Hy wou nie aandag trek nie. Toe die fees begin, het die Jode begin rondvra: “Waar is daardie vent?” Oral onder die mense is daar oor Jesus gepraat. “Ag nee wat,” het party gesê. “Hy is sommer ’n kansvatter!” “Hoe kan julle so sê?” het ander teruggekap. “Hy is ’n goeie en eerlike mens.” Niemand het dit egter gewaag om hierdie dinge baie hard te sê nie. Hulle was te bang vir die Joodse leiers. Die fees was omtrent al halfpad toe Jesus by die tempel opdaag. Daar het Hy met mense oor godsdiens en God begin praat. Die Jode het nie mooi geweet wat om daarvan te dink nie. “Hierdie man het tog nêrens gestudeer nie,” het hulle vir mekaar gesê. “Hoe is dit moontlik dat hy so baie weet?” Jesus sê toe: “Ek het nie self hierdie dinge opgemaak nie. Wat Ek hierdie mense leer, kom direk van God af. Hy het My gestuur om dit te kom doen. Die mense wat regtig ernstig is om aan God gehoorsaam te wees, sal dadelik hoor dat wat Ek sê van God af kom. Iemand wat sommer net ’n klomp idees uitdink en rondvertel, doen dit mos sodat mense kan sê: ‘O, kyk hoe slim is hy,’ nie waar nie? Dit doen Ek nie. Nee, Ek wil hê dat julle eerder moet raaksien hoe groot God werklik is. Kyk na Hom en nie na My nie. Dit moet mos al genoeg wees om julle van my goeie bedoelings te oortuig, asook daarvan dat Ek die waarheid praat. Het Moses nie vir julle die wet gegee nie? Dit is mos die wil van God. Maar julle steur julle nie daaraan nie. Julle breek die wet elke dag. Nou wil julle My doodmaak omdat Ek kamma die wet gebreek het toe Ek op die sabbat iemand gesond gemaak het. Verbeel jou!” Dit het die mense omgekrap. “Jy is van jou sinne beroof, man!” snou hulle Hom toe. “Wie wil jou nou skielik doodmaak?” Jesus het Hom nie laat afskrik nie. “Ek het een buitengewone ding ’n ruk gelede op die sabbat gedoen. En kyk na julle, julle is nog steeds hier aan die wonder of dit nou reg was of nie. Ek wil julle graag help om dit beter te verstaan. Moses het gesê dat julle julle seuntjies ’n sekere aantal dae na geboorte moet besny. (Eintlik het Moses dit nie begin nie, maar sy voorouers.) Omdat dit Moses is wat dit gesê het, doen julle dit, al moet julle dit ook op die sabbat doen. Nou wil Ek julle ’n vraag vra: julle sê dit is reg om op die sabbat iemand te besny. Moses het mos gesê julle moet dit doen. Sekere dinge ís dan mos belangriker as die sabbat. As dit so is, waarom raak julle dan so opgewonde as Ek nie net ’n deel van ’n mens nie, maar die hele mens op die sabbat gesond maak? Dink eers goed na voordat julle sommer sê iemand is verkeerd. Dan sal julle oordeel miskien meer in die kol wees.” Vir party van die mense in Jerusalem was hierdie gesprek nogal snaaks. “Is dit nie dieselfde man van wie die leiers so graag ontslae wou raak nie? Kyk nou net, hier staan hy tussen hulle en praat. En wat doen die leiers? Hulle staan soos lammetjies daar en maak nie ’n geluid nie. Ons wonder maar net: Besef hulle nie dalk dat hy regtig die Christus is nie? “Dit sal snaaks wees, want ons weet mos waar hierdie man grootgeword het en wie sy familie is. Met die Christus sal dit mos anders wees. Niemand sal weet waar Hy grootgeword of wie Hom grootgemaak het nie.” Jesus sê toe hard, sodat almal dit kan hoor: “Julle praat maklik, asof julle so seker is wie Ek is en waar Ek vandaan kom. Eintlik het julle geen idee nie! Ek het nie bloot uit My eie hier aangestap gekom nie. Die ware God self het My hierheen gestuur! Hom ken julle nie, maar Ek was by Hom en kom van Hom af. Daarom ken Ek Hom. Dit is juis Hy wat My na julle toe gestuur het.” Nou was die Jode eers vasberade om Jesus agter tralies te sien. Niemand het egter ’n vinger verroer nie. Volgens God se plan was die tyd daarvoor nog nie ryp nie. Nie almal wou egter vir Jesus in die tronk gooi nie. Daar was baie mense wat in Hom geglo het. Vas oortuig het hulle gesê: “Kyk net watter wonderlike dinge het Hy al gedoen. Wat meer wil julle hê voordat julle oortuig sal wees dat Hy die Messias is?” Al het die mense dit probeer stil hou, het die Fariseërs dit tog te hore gekom. Dit het hulle laat besluit om nou iets aan die saak te doen. Hulle het die invloedryke priesters daarvan gaan vertel en toe die polisie gestuur om Jesus te gaan vang. Jesus het gesien wat aangaan. Hy sê toe: “Ek sal nie meer lank hier by julle wees nie. Dan gaan Ek weer terug na my Vader toe wat My gestuur het. Wanneer Ek teruggaan, sal dit ook nie help dat julle My soek nie. Julle sal My nie kry nie, al soek julle hoe hard. En weet julle hoekom nie? Waar Ek dan sal wees, sal julle nie kan kom nie.” Die Jode bespiegel toe onder mekaar hieroor: “Waarheen sou hy kon gaan dat ons hom nie sal kan kry nie? Is hy tog nie van plan om land uit te vlug en vir die klomp ongelowiges daar te gaan preek nie?” het hulle gewonder. Ja-nee, Jesus se woorde dat Hy na ’n plek toe gaan waar hulle Hom nie sal kan uitsnuffel nie, het die Jode aan die raai gehou. Die laaste dag van die fees was die hoogtepunt en almal was daar. Jesus sê toe hard en duidelik: “As jy geestelik dors is, kom na My toe. Ek sal jou dors les. Glo in My en in wat Ek sê. “Dan sal jy soos ’n fontein word waaruit daar vars water borrel, om ’n voorbeeld uit die Skrif te gebruik. Dit sal nie gewone water wees nie, maar ‘water’ wat ’n mens vir ewig sal laat leef.” (Met hierdie beeld het Jesus die koms van die Heilige Gees in gedagte gehad. Elke Christen sal die Gees ontvang en dan sal hierdie dinge van hom waar word. Maar die Gees was toe nog nie aan die gelowiges gegee nie. Dit sou eers gebeur nadat Jesus teruggegaan het na sy Vader in die hemel toe.) Van die mense wat dit gehoor het, was nou meer as ooit oortuig: “Sowaar, Hy moet die belangrike Boodskapper van God wees op wie ons gewag het!” “Julle mag so dink, maar ons dink Hy is die Redder self,” het ander hulle opinie gelug. Daar was ook ’n paar beterweters: “Ja, maar Hy kom uit Galilea. Ons almal weet tog dat die Redder nie uit Galilea sal kom nie. Die Bybel self sê vir ons dat die Redder ’n agteragterkleinseun van Dawid sal wees. Dawid kom mos uit Betlehem en dit is baie ver van Galilea af! Hoe verklaar julle dit?” So het die mense met mekaar gestaan en stry. Daar was ook weer sterk sprake dat party Jesus in die tronk wou gooi, maar niemand het die moed gehad om dit regtig te doen nie. Die polisie het Jesus net daar gelos. Hulle gaan rapporteer toe by die Fariseërs en die priesters, wat dadelik wou weet: “Waar’s hy?” Die polisie sê toe: “Het julle hom miskien al gehoor praat? Ons het nog nooit so iets gehoor nie; dit was uit ’n ander wêreld!” Die Fariseërs vlieg hulle toe in: “Is julle ook nou heeltemal deurmekaar? Weet julle ook nou nie meer wat die verskil tussen reg en verkeerd is nie? Maak oop julle oë! Sien julle miskien een enkele Joodse leier of Fariseër wat dink hierdie man praat die waarheid? Nou toe! Al mense wat Hy kan beïndruk, is net die dom klomp daar buite. G’n wonder nie, want hulle weet niks van God se wil af nie.” Nikodemus (wat daardie een aand met Jesus kom praat het) was ook ’n Fariseër. Hy sê toe: “Nie so haastig nie. Ons wet sê mos dat iemand eers skuldig is as hy skuldig bevind word. Laat ons die saak eers verder ondersoek.” “Ja-nee, so ’n opmerking kan ’n mens ook net verwag van iemand wat uit Galilea kom,” kap die ander terug. “Gaan lees jou Bybel mooi. Dan sal jy sien dat Galilea nie ’n plek is waar profete nou juis vandaan kom nie.”
JOHANNES 7:1-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierna het Jesus in Galilea rondbeweeg. Hy wou nie in Judea rondgaan nie omdat die Jode Hom daar gesoek het om Hom dood te maak. Die Joodse Huttefees was op hande. Jesus se broers het toe vir Hom gesê: “Gaan tog ’n slag hiervandaan na Judea toe sodat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen. Niemand wat op die voorgrond wil wees, doen enigiets in die geheim nie. As jy dan hierdie dinge doen, gaan maak jou openlik voor al die mense bekend.” Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. Jesus sê toe vir hulle: “My regte geleentheid het nog nie gekom nie, maar julle geleentheid is altyd voor hande. Die mensdom kan julle nie haat nie, maar hy haat My omdat Ek openlik oor hom getuig het dat sy optredes boos is. Gaan julle gerus fees toe. Ek gaan beslis nog nie na hierdie fees toe nie omdat my regte geleentheid nog nie gekom het nie.” Jesus het hulle hierdie dinge meegedeel en Hy het in Galilea agtergebly. Jesus se broers het na die fees toe gegaan. Hy het toe later ook self gegaan, nie openlik nie, maar in die geheim. Die Jode het by die fees na Jesus gesoek en gevra: “Waar is daardie man?” Daar was onder die skare sommer baie bespiegeling oor Jesus. Sommige het gesê dat Hy ’n goeie mens is. Ander het nie saamgestem nie, maar gesê dat Hy die skare mislei. Niemand het egter openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Joodse leiers. Halfpad deur die feesvierings het Jesus na die tempel toe gegaan en mense onderrig. Die Joodse leiers was erg ontsteld en het gesê: “Hoe is dit dat hierdie man soveel geleerdheid het alhoewel hy nie studeer het nie?” As antwoord het Jesus gesê: “My onderrig is nie my eie nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om God se wil te doen, sal hy weet of dié onderrig van God afkomstig is en of Ek uit my eie praat. Wie uit sy eie praat, strewe na sy eie eerbetoning; maar Hy wat die eerbetoning nastreef van God wat Hom gestuur het, Hy is eg en in Hom is geen valsheid nie. Het Moses dan nie die wet aan julle gegee nie? En tog voer niemand onder julle die wet uit nie. Waarom soek julle ’n geleentheid om My dood te maak?” Die skare het geantwoord: “Jy is in die mag van ’n bose gees! Wie soek ’n geleentheid om jou dood te maak?” Jesus het daarop reageer: “Ek het net een ding gedoen en julle almal is ontsteld. Vanweë die feit dat Moses aan julle die besnydenis gegee het – eintlik is dit nie van Moses afkomstig nie, maar van die voorvaders – besny julle selfs op ’n Sabbat ’n mens. As iemand op ’n Sabbat die besnydenis ontvang met die doel om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan oor My ontstoke omdat Ek op ’n Sabbat ’n hele mens gesond gemaak het? Hou op oordeel net op wat julle sien; oordeel billik.” Sommige van die inwoners van Jerusalem het opgemerk: “Is hy nie die persoon wat hulle soek om dood te maak nie? Kyk net, hy is besig om in die openbaar te praat en hulle sê niks teen hom nie. Het die leiers nie miskien tereg tot die besef gekom dat hy die Messias is nie? Maar hoe is dit moontlik? Ons weet mos waar hierdie man vandaan kom; wanneer die Messias ook al kom, weet niemand waarvandaan Hy kom nie.” Terwyl Jesus besig was om in die tempel onderrig te gee, het Hy uitgeroep en gesê: “Julle ken My en julle weet waarvandaan Ek kom! Tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware Een wat My gestuur het. Hom herken julle nie. Ek ken Hom omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.” Hulle het toe pogings aangewend om Hom te arresteer, maar niemand het ’n hand op Hom gelê nie omdat sy tyd nog nie gekom het nie. Baie mense uit die skare het in Hom begin glo en ge-sê: “Wanneer die Messias ook al kom, sal Hy sekerlik nie méér wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie.” Die Fariseërs het gehoor dat die skare so oor Hom bespiegel. Hulle en die priesterhoofde het toe wagte gestuur om Hom te arresteer. Jesus het egter reageer: “Ek is net vir ’n kort tydjie nog by julle; dan gaan Ek terug na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en My nie kry nie, en waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie.” Toe het die Joodse leiers vir mekaar gesê: “Waarheen beplan hierdie man om te gaan dat ons hom nie sou kry nie? Hy beplan tog nie om na die verstrooide Jode onder die Griekssprekendes te gaan en om daar die Grieke te gaan onderrig nie? Wat beteken die uitdrukking as hy sê: ‘Julle sal My soek, maar nie kry nie, want waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie’?” Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As jy dors is, kom dan na My toe en drink. Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’” Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang. Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Die mense uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het opgemerk: “Hierdie man is regtig die Profeet.” Ander het gesê: “Hierdie man is die Messias.” En nog ander het gesê: “Die Messias kom tog nie uit Galilea nie? Het die Skrif dan nie gesê dat die Messias uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid, sou kom nie?” Onder die skare het daar toe verdeeldheid oor Jesus gekom. Sommige van die mense het Hom selfs probeer arresteer, maar niemand het aan Hom geraak nie. Gevolglik het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan en dié het vir hulle gesê: “Waarom het julle hom nie saamgebring nie?” Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het ’n mens só gepraat soos hierdie man nie.” Die Fariseërs antwoord hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die geledere van die leiers of uit die Fariseërs miskien tot geloof in hom gekom? Nee, dit is net hierdie skare mense wat nie vertroud is met die wet nie; vervloek is hulle!” Nikodemus, wat Jesus vroeër opgesoek het, een uit hulle kring, sê toe vir hulle: “Ons wet veroordeel nie ’n mens as ons nie eers na hom geluister het en agtergekom het wat hy doen nie.” Hulle het dadelik reageer: “Jy kom tog nie ook uit Galilea nie? Gaan doen navorsing en jy sal sien dat daar geen profeet uit Galilea na vore tree nie.”